Eleanor Baker

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)


Скачать книгу

      “Sorg net lat jy dit terugbring,” het Johanna gesê. “Dis my enigste blinkding.”

      Natuurlik het ek die ruiker gevang al het Kara, wat ’n beter netbalspeelster was as ek, my byna onderstebo gespring. Almal het die verwagte opmerkings gemaak al kon ek sien Kara reken ek staan nie ’n kat se kans om voor haar te trou nie. Ek was geneig om met haar saam te stem; sy was ouer en mooier en tot ek ’n Eduard, St. John of Richard raakloop, was ek nie van plan dat enige Riekie of Hannes my in katoenonderklere kansel toe sleep nie.

      Dit klink miskien in hierdie stadium asof ek deur my susters geleef het, of in reaksie teen hulle, maar dit was nie die geval nie. Ek het hulle fyn dopgehou, hulle lewens geëvalueer en dit as ’n teoretiese oefening gesien om vas te stel hoe ek in ’n soortgelyke situasie sou optree. En ongesiens, sonder dat ek dit regtig agtergekom het – en vir seker sonder dat hulle dit besef het – het ek grootgeword, klaargemaak met skool, universiteit toe gegaan. My dramas was onbenullig teen hulle s’n en selfs as daar ooreenkomste was, het almal teruggesit met ’n gevoel van déjà-vu. Hulle was al een keer daardeur en het nie krag gehad vir ’n herhaling nie. En die ergste: elke keer dat ek deur ’n krisis of interessante stadium gegaan het, was my susters my voor, het hulle die kalklig gesteel deur iets meer dramaties te doen. Soos die keer toe ek Riekie wou afsê en Kara ’n non wou word.

      In my finale jaar het ek deur ’n eksistensiële periode gegaan. Ek het my lang hare stomp afgesny, los jurke gedra, ’n swaar donkerraambril aangeskaf en plat toerygskoene aangetrek. Ek het nooit gelag nie en smiddae laat deur die tuin geloop en tob oor die sin van die wêreld en my plek in die groter bestel. Niemand het eens opgekyk nie, want Elsa was swanger. Onbeplan en onvoorsien.

      “Hoe kon dit gebeur het?” het sy gehyg en soos ’n tierwyfie deur ons sitkamer gewoed.

      Ma het op die bank gesit en werk aan ’n stuk borduursel, ek het gesit en brei aan ’n swart trui vir myself. Nie een van ons het geweet wat om te sê nie.

      “Seker maar op die gewone manier,” het Ma dit gewaag.

      “Ma! Ek het mos voorsorg getref.”

      Ma het geglimlag soos iemand wat van beter weet. “Glipsies gebeur, darling. Iris was ’n glips.”

      Ek het wakker geskrik. Dis vernietigend om te hoor jy was ’n glips terwyl jy midde-in jou eksistensiële krisis is. “Wat het Ma gesê?” het ek uitgeroep.

      “Wag eers, Iris,” het Elsa kortaf gemaan. “Ons praat nie nou oor jou nie.”

      “’n Glips?” het ek gefluister. “’n Fout? Ek was nooit veronderstel om te leef nie?”

      Ma het vir my geglimlag en ’n roosblaar in donkerbruin wol begin borduur. “Natuurlik was jy,” het sy my verseker. “’n Glips is nie noodwendig onwelkom nie. Ons was baie plesierig oor die nuus.”

      “Tog,” het ek gesê, onwennig om vertroos te word.

      “Iris!” het Elsa geknor. “Gee jy om as ek klaar praat?”

      “Ons sal jou help brei,” het Ma haar probeer troos en op haar vingers begin tel. “Hoe ver is jy nou – April, Mei, Junie – o aarde, dit gaan ’n winterbaba wees. Julle sal ’n verwarmer moet kry vir die babakamer.”

      “Ons het nie ’n babakamer nie en Ma weet ek glo nie aan verwarmers nie; dis ongesond.”

      “Julle sal ’n groter woonstel moet kry.”

      “Wat van Hannes?”

      “Hannes sal moet gaan werk.” Ma was beslis.

      “En sy studie los?”

      “Sy studie los, ja. Hy is tog amper klaar. Sy verhandeling kan hy maar saans skryf, ná werk.”

      “O, o, o!” het Elsa gekreun en haar hande teen haar bors geslaan. Sy moes dit blykbaar nie gedoen het nie, want sy het gegil van pyn.

      “Wat makeer, darling?” Ma het haar naaldwerk laat val.

      “My boesems is so seer!”

      Ma het verlig geknik. “Ja, dis gewoonlik die eerste teken. Dit word mettertyd beter.”

      “Maar ek wil nie nou verwag nie,” het sy gesê en in ’n stoel neergesink.

      “Jy het geen keuse nie,” het ek haar ingelig. “As denkende mens, as lid van ’n spesie wat die verband tussen oorsaak en gevolg kan bepaal en in ’n mate beheer, is jy verantwoordelik vir jou dade en moet jy dus . . .”

      Elsa het verward na Ma gekyk. “Waarvan praat die kind?”

      “Sy sê jy moet begin brei.”

      “En ek is nie ’n kind nie,” het ek vinnig gesê, my breiwerk bymekaargemaak en die vertrek verlaat.

      Hoe Elsa mettertyd berus het, weet ek nie, maar sy het. Hannes het ’n assistentskap by die universiteit gekry en hulle het na ’n groter woonstel getrek. Ma het een aand aan tafel vir Pa gevra of hy nie vir hulle ’n huis wil koop nie en hy het onomwonde nee gesê.

      “Ek het drie dogters,” het hy gemor. “Die idee is dat hulle moet trou sodat ander mans na hulle kan kyk. Ek het genoeg rokke en kouse en haarlinte gekoop om ’n strik om die aardbol te bind en ek gaan wragtig nie vir hulle huise ook koop nie.”

      “Ek het net gedink . . .” het Ma gemymer. “As die kleintjie eers begin loop, is ’n tuin tog handig.”

      “Dan moet sy pa vir hom ’n tuin koop.”

      “Elsa lyk grotesk,” het Kara vir my gesê toe ek een aand by haar en haar woonstelmaat gaan eet het. Kara kon nie kook of naaldwerk doen nie en haar woonstelmaat ook nie eintlik nie, maar ek was tevrede met die bak slaai, bestaande uit boontjiespruite, sampioene, tamaties en bokmelkkaas. Die woonstelmaat het ’n growwemeelbruinbrood gebak wat heerlik was, maar gevaarlik vir mens se tande en stopsels. “Glad nie soos ’n Madonna nie. Ek help tans met die restourasie van ’n Middeleeuse triptiek en die Madonna daarop het ’n engelagtige uitdrukking op haar gesig en ’n kwalik geswelde ronde magie.”

      “Kuns is interpretatief,” het haar woonstelmaat haar herinner. “En subjektief. Dit hang alles af van hoe die kunstenaar voel oor sy onderwerp. Jy vind swangerskap grotesk en sal dit dus anders weergee.”

      “Jy’s reg,” het Kara gesê. “As iemand my vra om Elsa te teken, sal ek ’n groot sirkel trek met ’n klein koppie boaan en twee stokarmpies en -beentjies. Dis al wat ’n mens sien: maag.”

      “Wil jy nie eendag kinders hê nie?” het ek gevra.

      “Nee.”

      “En gestel jou man wil?”

      “Dan kry ons ’n surrogaatmoeder om die drawerk te doen. Maklik. Ek is nie ’n broeikas nie. My lyf behoort aan my.”

      Ons het die ete afgesluit met ’n ongesonde sjokolademousse, gemaak en geskenk deur een van Kara se bewonderaars. Blomme was blykbaar ontoereikend om te sê wat hy wou sê, en wat die mousse moes sê, kon geeneen van ons drie besluit nie. Was hy soet, ryk en romerig of was dit sy? Of was dit wat hy van die verhouding verwag (of vereis) het?

      Op pad terug huis toe in Pa se kar het ek weer aan Elsa gedink en so is ’n nuwe storie gebore. Die oues, met Richard in die hoofrol, was uitgewas en prikkelloos.

      Met die eerste oogopslag het swangerskap my nie eintlik getref as iets romanties nie, maar ek het darem geglo dat ’n mens niks durf verwerp tot jy dit nie self probeer het nie. Ek was nie van plan om “in die moeilikheid” te beland nie, daarvoor was ek te nugter, maar in my verhaal sou ek verwagtings, babas en geboorte omskep tot ’n fantasie.

      Dit het een van my meer uitgebreide verbeeldingsvlugte geword en het my maande lank besig gehou. Deur vervelige lesings, tydens motor- of busritte, terwyl ek my onderklere gewas het of as ek Polder na die park geneem het, het ek daaraan gewerk. Tussen bevele soos “Nee, Polder, niet bijten!” en “Kom, Polder, wij moeten naar huis,” het my storie en