Eleanor Baker

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)


Скачать книгу

veroorsaak meer as genoeg moeilikheid. Aan jou stuiwer het ons nie nou ’n behoefte nie.”

      “Moeilikheid?” het Elsa gevra en dit was asof haar kosmeties verskuilde sproete deurslaan, rooier as ooit vantevore. “Ek dag julle hou van Hannes?”

      “Natuurlik, darling,” het Ma gepaai. “Maar trou?”

      “Die man studeer nog,” het Pa gesê. “Dis buite die kwessie.”

      “Hy wil aanhou studeer,” het Elsa gesê. “Ons sal leef op my inkomste.”

      Dit het vir my romanties geklink, maar ek het geweet romanse het ’n klein, indien enige, rol gespeel in Elsa se besluit. Sy was ’n nugter soort van mens, meer geïnteresseerd in haar bankbalans as in die Richards van die wêreld. Voor ek haar as voorbeeld gesien het, het ek geglo dat jong meisies, soos opgeskote voëltjies, die nes verlaat nes hulle afgestudeer of volwasse is. Elsa het nooit enige teken van so ’n behoefte getoon nie. Of sy vir Ma-hulle huur of onderhoud betaal het, sal ek nie weet nie, sulke dinge was nog nie deel van my ervaringsveld nie. Ek was wel van tyd tot tyd toegelaat om die kis in haar kamer uit te pak en glo my vry, sy was reg vir trou. Vandat sy haar eerste salaristjek ontvang het, het sy op uitverkopings verby die rokke en skoene geloop en lakens en handdoeke teen weggooipryse aangeskaf. Ek het gedag net meisies in die ou boereromans wat ons in standerd agt moes lees, het nog uitset bymekaargemaak, maar Elsa het my verkeerd bewys. Sy was soos iemand wat bang was vir ’n beleg.

      Later, toe ek self op universiteit was, het ek gelees dis ’n verskynsel wat dikwels onder weeskinders voorkom wat nooit hulle eie goed gehad het nie. Die eekhoringsindroom, het my lektor dit genoem. Ongelukkig was Elsa teen daardie tyd klaar getroud en het nie belanggestel in my ontleding van haar gebrek nie.

      “Ek het genoeg lakens, het ek nie?” het sy kortaf gevra. “En nog teen die ou pryse daarby.”

      Ek sou dit so aanvaar het, was dit nie dat sy nog steeds huisgoed versamel het nie. Vir elke rasper in gebruik was daar ’n ekstra een in die kas, vir elke laken op ’n bed, twee nuwes in die linnekas.

      As iemand my ooit van trou laat afsien het, was dit Elsa en Hannes. Selfs op die troue, toe sy ten minste na ’n wasige bruid gelyk het, was sy prakties en onemosioneel.

      “Het jy die motor parkeer waar ek gesê het?” het sy in die konsistorie gevra. “Ek wil nie dat dit gekrap en bemors word deur jou verspotte studentemaats nie.”

      Ek, as blosende strooimeisie, het gewens sy wil stilbly. ’n Bruid moes haar mond hou en verlief lyk, het ek gevoel. En moes ook nie ’n horlosie dra en uitreken hoe lank die onthaal behoort te duur nie omdat die hotelbesprekings gemaak was en sy nie wou hê hulle planne moet verkeerd loop nie. Die dae toe sy gebloos het omdat Hannes haar tweehonderd en sewe sproete getel het, was verby. Sy was broodwinner en baas van die plaas.

      Riekie was vanselfsprekend strooijonker, iets wat my koud gelaat het. Ek het hom te goed geken om opgewonde te raak. Terwyl die dominee se stem oor ons koppe gedreun het en later tydens die toesprake op die onthaal, het ek sit en borduur aan die storie in my kop. Daarvolgens was die strooijonker totaal onbekend, ’n peetoom of so iets van Hannes. ’n Ouer man (maar nie te oud nie) wat oorsee, verkieslik in Frankryk, gewoon en afgevlieg het vir die troue omdat hy Hannes as kind laas gesien het. Nie Hannes of Elsa het daaraan gedink om ons vooraf aan mekaar voor te stel nie; ek het hom die eerste keer gesien toe ek uit die motor klim voor die kerk en hy op die trappies vir my staan en wag. Hy het nie “Haai,” gesê nie; hy het diep oor my hand gebuig en dit gesoen. Sy oë was donker en intens, hy het Engels gepraat met ’n bekoorlike aksent. Sy naam moes iets wees soos Eduard of St. John. Ek het die grootste gedeelte van die diens bestee aan sy naam en was so weggevoer dat Elsa moes sis toe ek die ruiker by haar moes vat sodat Hannes die trouring aan haar vinger kon glip.

      Tydens die toesprake – en veral ’n ellelange een deur Hannes se regte peetpa, wat vertel het hoe Hannes hom natgemaak het toe hy hom die eerste keer op sy skoot hou – het ek ons verhouding uitgebrei. Eduard (St. John is geskrap omdat dit te Engels is vir ’n Fransman) was van plan om dadelik terug te vlieg omdat sy sakebelange dit vereis het, maar hy het aangekondig dat hy ’n paar dae gaan bly om ons mooi land te sien. Ek het natuurlik geweet sy besluit het niks met die land uit te waai nie, hy wou my beter leer ken.

      “Hoekom eet jy nie?” het Riekie my gedagtes onderbreek.

      “Senuwees,” het ek gesê.

      “Nonsens, kyk na Elsa, en sy’s die bruid.”

      Dit was pynlik om Elsa te sien. Sy het weggelê aan haar bord kos asof sy ’n nuwe beleg verwag. Sy het nie sjampanje gedrink nie maar sodawater. (“Ek sal seker moet bestuur,” het sy vir my gesê. “Hannes het al twee glase sjampanje en drie glase wyn gedrink. Dis meer as die voorgeskrewe minimum vir veilige bestuur.”) Ek het my blik weggedwing van die vraatsige bruid en na die blomme voor my op die tafel getuur terwyl ek Eduard herroep en ons verhouding laat ontwikkel. Omdat ons net ’n paar dae tot ons beskikking gehad het, was hy haastig. Hy wou my liefhê. Hierdie deel van my droom was uit die aard van die saak vaag omdat ek toe nog ’n maagd was en moes staatmaak op wat ek gehoor, gelees of in die bioskoop gesien het. Ek moes maar konsentreer op sy sensitiwiteit en die pragtige goed wat hy vir my gefluister het tydens ons paar kosbare nagte van passie. Teen daardie tyd was die onthaal verby en Elsa het my saamgejaag na die kamer waar ek haar moes help ontklee.

      Ek was geskok toe ek die trourok oor haar kop trek en op die bed neersit en sy voor my staan in die mees voorstedelike stel onderklere wat ek nog gesien het.

      “Jy gaan tog nie so by die hotel aankom nie?” het ek gevra.

      “Wat bedoel jy met so?” het sy gevra en in ’n linnelangbroek geklim. Sy het die rits met mening toegetrek asof sy ’n deur sluit en haar hand uitgehou na die sybloese wat langs my oor die stoel gehang het.

      “So ordinêr,” het ek gekla. “Kon jy nie iets meer kanterigs gekry het nie? Dink aan Hannes, hoe gaan hy nie voel as hy moet vaskyk teen daardie ordentlike spul katoen nie?”

      “Jy’s laf,” het sy gesê en haar kop afgebuig terwyl sy haar hare van kant tot kant skud dat ek dog sy kry een of ander aanval. “Is daar nog konfetti in my hare?”

      “’n Paar.” Ek het die bont vlekkies uitgepik. “Maar hulle gaan julle weer gooi wanneer julle ry.”

      Sy het regop gestaan en haar hare hard geborsel. Ten spyte van haar onromantiese houding was sy baie, baie mooi. Ek het in verwondering gestaan en kyk hoe haar rooi hare knetter en glans asof elke haar deur ’n elektriese transformator opgewek word.

      “Hoe voel jy oor vanaand?” het ek skamerig gevra.

      Sy het na my gekyk asof sy nie weet waarvan ek praat nie. “Soos oor enige ander aand, natuurlik. Moeg. Ek is van plan om vroeg te gaan slaap.”

      “Is jy nie effens skrikkerig nie?”

      Sy het gelag en haar wit satynskoene uitgeskop. “Haai, sussie, ek sien swarigheid vir jou as jy nie gou van jou romantiese drogbeelde ontslae raak nie.”

      “Drogbeelde?” Ek kon stik. “Jy noem dit drogbeelde?” Ek is in die rede geval deur ’n klop aan die deur.

      Dit was nie my ma nie maar Johanna ons huishulp, wat ’n smaakvoller uitrusting aangehad het as baie van my tantes. “Elsa,” het sy streng gesê. “Wat draai julle so? Jou ma het my gestuur om te kom kyk waar julle bly.” (Lank voor dit die aanbevole ding was om te doen, het sy ons op ons name genoem. Toe ek haar eenkeer gevra het waarom my maats se huishoudsters hulle “kleinmies” noem, het sy gesnork en gesê: “’n Snotkind soos jy ‘kleinmies’ noem?” Ek kon nie stry nie, sy het ’n punt gehad.)

      “Ons kom,” het Elsa gesê en haar handsak gegryp.

      “Wat van ’n kraletjie om die nek?” het Johanna gevra. “Of ’n ou serpie?”

      “Dis te warm.”

      Johanna het gesnuif en die string nagemaakte pêrels om haar eie nek losgemaak en om Elsa se nek gehang. “Something borrowed, something blue . . .”