Eleanor Baker

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)


Скачать книгу

      “Dit wys jou net hoe jou ouma gefaal het,” het hy gesê en die vysel met amalgaam by my gevat. “Pleks dat sy minder met die Engel gefoeter het en jou ma die feite van die lewe vertel het.”

      Mevrou Buys het haar oë gepynig toegemaak.

      Alhoewel dokter Anders reeds wettiglik geskei was, het dit nie sy vrou verhoed om hom te kom spreek nie. In ’n professionele hoedanigheid. As eggenoot het hy te kort geskiet, maar haar tande het sy aan niemand anders toevertrou nie. Niemand kon ’n wortelkanaal so pynloos behandel soos hy nie, het sy my vertel.

      Sy was ’n mooi vrou in haar middeljare, ’n kop langer as haar man, en ’n geselser. Terwyl sy in die wagkamer gesit het, het sy die tydskrifte in netjiese hope gepak, die potplante se blare met ’n sakdoek skoongevee en met my gesels as ek daar verbygeloop het.

      “Ek het gister bang geword,” het sy vertel. “Toe ek oor die wasbak gebuk staan, het ek myself meteens voel versink in tandelose bejaardheid. Ek kon dit voel. My bene het hulle vet en spiere verloor, spatare het in die wit vel om my enkels uitgebult. Ek was skielik alleen op die wêreld.”

      “Ja?” het ek gesê en bly staan. Ek het altyd tyd gehad om na mense se fantasieë te luister.

      “Ek was alleen op die wêreld, almal het van my vergeet en hulle eie selfsugtige lewe gelei. Die woonstel was al wat ek gehad het. Ek het heen en weer geslof op my uitgetrapte pantoffels om my oorblywende besittinkies skoon te hou. Dit was ’n droewe tafereel.”

      “Inderdaad,” het ek saamgestem.

      “Dis waarom ek vanoggend hier is. ’n Mens mag nie jou tande verwaarloos nie.”

      “Dis wat u man altyd sê.”

      “Hy’s nie meer my man nie.”

      “Nee.” Ek het my verskoon om haar gewese man te gaan help.

      Dit klink miskien asof ek alles gedoen het en dis nie heeltemal korrek nie. Daar was ’n ander meisie, Dina, wat veronderstel was om die ontvangstoonbank en telefoon te beman, maar sy was selde daar. Hoe minder hulp ek van haar gekry het, hoe vinniger het ek leer werk sodat ek ons albei se take kon afhandel sonder om die een of die ander af te skeep.

      “Wie’s volgende?” het dokter Anders my gevra toe ek weer langs hom staan.

      “Jou vrou.”

      “Wat wil sy hê?” Hy was besig om sy spierwit hande te skrop.

      “Sy gaan deur ’n krisis.”

      “Stuur haar in,” het hy gesug. “Sy kan ten minste nie praat terwyl ek die boor in haar mond het nie.”

      Hy was verkeerd. Haar tande was in ’n uitstekende toestand en die boor was nooit nodig nie. Sy kon praat en waaroor sy gepraat het, was sy huidige lewenstyl. Ek het met groot belangstelling geluister, want soos baie ander pasiënte het sy geglo ek bestaan nie of indien ek wel bestaan, dat ek doof was. ’n Tandarts moes dikwels diens doen as psigiater en wanneer dit gebeur het, het ek verdwyn. Nie fisiek nie, maar in die oë van die pasiënt.

      “Ek hoor by Ans-hulle dat jy by elke geleentheid opdaag met ’n ander meisie aan die arm,” het mevrou Anders gesê.

      Hy het gegrinnik en begin krap aan haar plaak.

      “Ek het geweet mans gaan deur so ’n stadium, maar ek het dit nooit van jou verwag nie.”

      Ek het op my hoë stoeltjie gaan sit en my baas met nuwe oë bestudeer. Hy was seker aantreklik as ’n mens gehou het van korter, bleswordende mans in hulle middeljare.

      “Ek veronderstel jy sleep hulle almal saam na jou nuwe woonstel wat ek nog nie eens gesien het nie,” het sy voortgegaan toe haar tong ’n pad tussen sy vingers kon kry.

      “Soms,” het hy toegegee.

      “Dis vieslik,” het sy gesê en my raakgesien toe ek vorentoe beweeg om ’n instrument aan te gee. “Iris. Vind jy dit nie vieslik nie?”

      “Nee, mevrou.”

      “Ek veronderstel jy was ook al daar?”

      “Nee, mevrou.”

      Sy moes ’n paar sekondes stilbly terwyl hy aan ’n kiestand gekrap het.

      “Jy kan ook nie oordeel nie,” het sy toe gesug en toegelaat dat ek haar mond uitspoel en leegsuig. “Jy’s te jonk en julle sedes is anders.” Sy het haar tong tussen haar lip en tandvleis deur getrek om te voel of haar tande skoon genoeg was.

      “Jy moet vir jou ook ’n kêrel kry, Dora,” het dokter Anders voorgestel en sy hande vir die hoeveelste keer gewas.

      “Ek?” het sy gekreet. “Iris. Hoor jy dit? Waar moet ek op my ouderdom ’n kêrel kry?”

      “Hou op om vir Iris te vra,” het hy gesê. “Sy stel nie in mans belang nie.”

      “Hoe weet jy dit? Iris, hoe weet hy dit?”

      “Hy raai maar, mevrou.”

      Sy het opgestaan en haar rok reggetrek. Ek het nader gestaan en die borslap losgemaak.

      “Dis bitter,” het sy gesê. “’n Vrou van my ouderdom wat alleen is.”

      “Dis jy wat wou skei, Dora,” het hy gesê terwyl hy haar kaart ingevul het. “Ek sien jou weer oor ses maande. Pas jou tande op, jy kan nog baie jare plesier uit hulle kry. Wie’s volgende, Iris?”

      Lank voor Eduard en Greta uitvind hulle is lief vir mekaar, was ek moeg vir hulle. Die besoeke aan die hospitaal, die besluit oor ’n naam vir die kind (hy kry die familienaam wat nog ’n kraak maak in Eduard se verweer) en die ontplooiing van Eduard se gevoel vir Greta het my lank besig gehou, maar teen die tyd dat hy haar vra om met hom te trou sodat hulle saam vir die erfgenaam ’n tuiste kan bied, was ek uitgekuier met hulle en hulle baba. Ek kon Eduard nie meer duidelik sien nie en het die hele storie uitgegooi en begin rondtas na ’n nuwe een.

      Elsa in die hospitaal, rosig ná die geboorte van Johan, voldaan en selfversekerd in haar nuwe rol as Die Moeder, was die saad waaruit die storie ontkiem het, maar teen die tyd dat die kind twee jaar oud was, kon ek min romanse in die situasie sien. Dat die kleintjie oulik was, het ek nie betwyfel nie, maar dat hy ’n handvol was wat gelei het tot ergerlikheid en ’n rondskuif van verantwoordelikheid, was ewe waar. Ek kon eenvoudig nie sien hoe Eduard en Greta sielvol in mekaar se oë kon kyk terwyl hulle kind die antieke Venesiese glas van die tafel trek of op Greta se skouer opbring omdat hy te veel en te vinnig geëet het nie.

      Boonop het Kara weer ons vreedsame gesinslewe deurmekaargemaak. Ek was vier en twintig jaar oud en sy dus dertig toe sy weer van ’n oorsese reis terugkom en aankondig dat sy die man van haar drome ontmoet het.

      “Hoog tyd,” het Johanna gesê. “Sy was aan die uitdroë.”

      Ma, en veral Pa, was skepties.

      “’n Buitelander?” het Pa gevra. “Wat is verkeerd met ons eie mans?”

      “Sal ons met hom kan praat?” het Ma gevra.

      Sy en Hannes het mekaar ontdek toe hy en Elsa ’n huis gekoop het. Dit was ’n nuwe huis, gebou soos ’n trein, met ’n lang gang en al die kompartemente aan die een kant. Die huis het Ma koud gelaat, maar Hannes het haar raad gevra in verband met die bar tuin en dis daar waar hulle mekaar gevind het.

      Aanvanklik het net bourommel en ’n paar opslagmadeliefies op die erf gegroei, maar terwyl Elsa boeke nagesien en Johan die telefoongids verskeur het, het Ma en Hannes die tuin beplant. Haar kennis van plantname was ewe vaag as haar kennis van die meeste goed, maar sy kon goed verduidelik.

      “Hier het jy daardie bos met die pienk trosse nodig,” sou sy sê. “Dit groei by ons langs die lukwartboom. Hy’s nie lief vir te veel son nie.” Aangesien die tuin net son gekry het, het sy betaal en ’n firma gekry om ’n vragmotor vol opgeskote boompies te kom aflewer.

      Kara het net geglimlag oor al die vrae. Sy het ’n nuwe