die see,” het Ma gesê.
“Sy somervakansie.”
Ma het ontsteld gelyk. “Dan is dit so lelik hier by ons.”
“Hy kom nie na die tuin kyk nie, hy kom by my kuier,” het Kara gesê.
Al wat ons verder van hom geweet het, was dat hy van Martinique afkomstig was, Franssprekend was, maar darem op ’n manier Engels kon praat.
“Dit gaan lol,” het Pa gesug en Ma gehelp soek in my ou skoolatlas. Hulle het Martinique gekry, maar nie veel wyser geword nie. Gelukkig was hy bloot daar gebore en het hy nou in Frankryk gewoon waar hy ’n lektor was by ’n klein kollege.
Die dag voor hy aangekom het, was ek en Ma besig om die gastekamer reg te kry. Hy sou by ons moes bly omdat Kara se woonstel te klein was. Dit was ná werk en sy het gou by ons aangery om te sien of alles onder beheer was. Haar oë het geblink soos kerse en ek het my voorkeure geskommel en besluit sy is tog mooier as Elsa.
Later het ons om die verwarmer in die sitkamer gesit en koffie drink. Kara het die kleur van haar koffie bestudeer en nog ’n bietjie melk bygegooi.
“Ek wil nou nie hê julle moet môre julle tonge insluk nie,” het sy gesê. “Claude is nie wit nie.”
“Hoe bedoel jy, darling?” het Ma gevra.
“Hy’s nie wit nie. Dis al.”
Pa het gefrons. “Wat is hy dan, swart?”
Kara het haar koppie gelig en skuins gehou. Omdat sy nog niks gedrink het nie, het die meeste uitgestort in die piering. “Nee, só. Soos my koffie.”
Daar was ’n paar sekondes stilte. “Weet hy van apartheid, darling?” het Ma eindelik gevra. (Dit het my verras; ek het nie geweet sy weet daarvan nie.)
Kara het gegiggel, ’n vreemde geluid in die stilte. “O ja, maar toe hy hoor waar ons woon, was hy gerusgestel. Hy het gedink apartheid is ’n stad.”
Ek het my verskoon en kombuis toe gegaan. Johanna het voor die stoof gestaan en roer aan haar boontjiesop.
“Wag tot jy dit hoor,” het ek vir haar gesê. “Kara se kêrel is bruin.”
Johanna het onverstoord aangehou roer. “Ek dag julle loop en vertel hy’s ’n Frenchie.”
“Hy is.”
Sy het ’n skielike kekkellaggie gegee, die lepel neergesit en haar arms gevou oor haar maag. “Dan sal ek hom mos verstaan.”
“Nee, jy sal nie. Hy praat eintlik net Frans.”
“En hy lyk soos ek?”
Ek het haar velkleur probeer vergelyk met Kara se koffie. “Min of meer, ja. Soos ek dit verstaan.”
Sy het teruggedraai na die stoof. “Miskien is hy familie.”
“Nee.” So maklik het ek nie dat sy vir Claude opeis nie. “Hy kom van ver af.”
“My oupa was ’n seevaarder,” het sy my herinner asof ek dit al ooit vergeet het.
“Maar hy kon wragtig nie op elke kontinent of obskure klein eilandjie kinders gemaak het nie!”
“Ek sal weet as ek hom sien,” het sy kripties gesê. “Sal ek nou vir die klong koffie in die bed moet aandra?”
“Johanna! Hy’s nie ’n klong nie en jy’s ’n rassis.”
Sy het haar heupe wulps geswaai. “Maar ’n mooi een.” Toe het sy begin lag dat haar hele lyf geskud het.
As Kara gedink het Claude se aankoms, teenwoordigheid of velkleur gaan ’n rimpeling veroorsaak, het sy dit mis gehad. Vanaf die oomblik dat hy oor ons drumpel getree het, het hy ons in die olyfkleurige palm van sy elegante, skraal hand gehad. Hy het ons hande gelig tot ongeveer een sentimeter van sy lippe en “Enchanté” geprewel. Ek kon Ma se knieë hoor swik en ek self het besef Eduard was meer as net ’n fiktiewe maaksel. Pa het min gesê, maar sy stilte was nie vyandig nie. Johanna het klong uit haar woordeskat geskrap.
Ek dink Ma en Claude het so goed klaargekom omdat hulle ’n eenderse uitkyk op die lewe gehad het. Sy was geen Pollyanna nie; sy het nie blindelings en teen alle bewyse in geglo dat die wêreld ’n goeie plek is en mense almal edel van inbors nie; dit was bloot dat sy die lewe vir haarself vereenvoudig het. Wat sy nie kon begryp of verander nie, het nie bestaan nie. Moordenaars en psigopate was oor dieselfde kam geskeer as verspotte wette en regulasies en het in die wêreld, soos sy dit ervaar het, geen bestaansreg gehad nie.
Toe ek nog op skool was, het Pa een wintervakansie gaan jag en was ons alleen. Ma het in die middel van die nag wakker geword van ’n geluid in die sitkamer en toe sy daar kom, was ’n inbreker besig om die platespeler te diskonnekteer.
“Nee, nee,” het sy gesê. “As jy dit doen, sal dit nie meer speel nie. My dogters sal baie omgekrap wees.” Onder haar besorgde oë het hy die drade teruggesit waar dit moes wees, sy leë tas opgetel en geloop. Ma en die stertkwispelende Polder, toe nog ’n jong hond, het saamgestap en die hekkie agter hom toegemaak.
Toe ek in die sitkamer kom, wakker gemaak deur die ongewone gedruis van stemme, was sy besig om vir Polder ’n lesing te gee. “Dat mag niet,” het sy vir hom gesê en na die deur gewys wat deur die inbreker oopgebreek is. Die slot het slap eenkant toe gehang en die hout was versplinter.
Polder het intelligent na haar gekyk en haar hand gelek.
“Hij was een boef,” het sy voortgegaan. “Doe so: woef, woef!”
Polder het instemmend geblaf en na my gedraf om my kaal tone by te kom.
Pa was minder tegemoetkomend toe hy terugkom en die storie hoor. Hy het beter slotte laat insit en sy bonusgeld bestee aan ’n gesofistikeerde alarmstelsel wat Ma so dikwels per abuis laat afgaan het dat die polisie ons as ’n gesin met ’n hoë irritasiewaarde aangestip het.
Maar ek dwaal af.
Johanna het ook voor Claude geswik en Ma gevra om ’n Franse kookboek te koop sodat sy vir die man beter kos kan maak. Sy het ook teenoor my erken dat sy nie dink hy is familie nie.
“My mense is ronder van gesig,” het sy gesê. “En korter in die lyf.”
Elsa en Hannes was die enigste wat nie meegesleur was nie al het Claude sjarmant deur die tuin gestap met klein Johan aan die hand.
“Dit kan nooit werk nie,” het Elsa verklaar. “Die kultuurverskil is te groot.”
“Nie regtig nie,” het ek gesê. “Sy vak is kunsgeskiedenis en dis hulle al twee se passie.”
“Dis nie wat ek bedoel nie,” het sy kortaf gesê.
“Hulle kan skaars met mekaar konverseer,” het Hannes gesê. (Hy het gehou van woorde soos konverseer, al het dit die res van ons hoendervleis gegee.) “Kara ken twee woorde Frans en hy drie woorde Engels.”
“Die liefde ken geen taal nie,” het ek teatraal aangehaal.
“Bly stil, Iris,” het Elsa gesnou. “Jy is te jonk om saam te praat.”
“Hulle geniet mekaar,” was Ma se kalm siening. “Niemand het nog van trou gepraat nie.”
Pa het onthuts opgekyk. “Trou!”
“Waar sal hulle bly?” wou Elsa weet. Sy het haar mooi hare korter geknip en dit het haar strenger laat lyk.
Ek en Ma het gaan tee maak. Daar was tye dat ons Elsa ’n handvol gevind het.
Claude en Kara het hulle aan niemand gesteur nie. Ek het een middag gesit en kyk hoe ’n stringetjie miere teen Claude se skoen en broekspyp opmarsjeer, op pad na die konfytkrummels van Johanna se tert. Ek het na my eie been geklap en Claude se aandag gekry, maar hy het net vir my geglimlag en voortgegaan met blaai deur ons fotoalbum. Kara as sesjarige, in vlegsels en boepmagie, was vir hom belangriker. Hy het die hooigetrapte, wit gerypte grasperk misgekyk en ekstaties geraak oor die