stem, en weet dat haar selfbeheersing yl word.
“Riaan sou nooit gesê het dat jy agter hom aangery het nie. Hy het jou lief!” verklaar Wilhelm driftig.
“Ag, hy het tog,” kom dit vermakerig van Bartel. Hy skrik toe Wilhelm ’n ysige blik op hom rig en kruip agter Erika weg. “Dis waar, oom Wilhelm,” hou hy vol en loer versigtig om Erika. “Hy het gesê tannie Erika kan bly wees dat hy vir haar ’n ring wil koop, maar tannie Erika wou niks hê nie, nie eens ’n groot diamantring nie. Ek sou ook liewer ’n nuwe fiets gevat het, maar oom Riaan het my nie gevra nie. Tannie Erika, is die eerste pannekoek nog nie klaar nie?”
“As dit waar is . . .” Wilhelm huiwer.
“Wat maak die waarheid saak?” blits Erika, ineens onredelik kwaad vir die groot man wat sy so onvoorwaardelik liefhet, maar wat nie eens bereid is om haar woord te aanvaar nie. “Jy wil my nie glo nie, maar jy sien kans om Bartel se stories te aanvaar? Glo wat jy wil, Wilhelm, maar . . . gee net pad uit my kombuis uit!”
Sy swaai terug en skrik vir ’n enkele traan wat oor haar wang loop en sissend op die warm stoof spat.
“Nou huil tannie Erika,” kom dit besorg van Bartel. “Oom Wilhelm, jy moet liewer draf, want as tant Sophia nou hier inkom, klap sy jou ore warm. Sy het gesê sy sal my hard klap as ek weer vir Jackie laat huil, want jongetjies laat nie meisiekinders huil nie. Tannie, moet ek vir jou ’n doos snesies bring? Gaan jy baie huil?”
“Gee vir haar my sakdoek, Bartel, en sê vir haar ek is baie jammer dat ek haar laat huil het,” sê Wilhelm ernstig, druk sy sakdoek in Bartel se hand en stap die kombuis vinnig uit.
“Hier, vat die sakdoek, Tannie. Het Tannie gehoor wat sê oom Wilhelm? Nou waarom huil Tannie so verskriklik? Ek sal maar vir tant Sophia moet sê sy moet die ou grondbaron hard klap,” verklaar Bartel bedruk en staar verlangend na die halfgaar pannekoek in die pan langs die warm stoofplaat, terwyl Erika hardop in die sakdoek snik.
Is dit reeds meer as twee weke gelede dat Wilhelm onverwags op ’n sakereis Kaapstad toe vertrek het? mymer Erika. Sy kom orent op haar bed en trek haar kamerjas nader.
Sy kan tog nie slaap nie, maar dalk sal ’n glas warm melk en heuning haar lomerig maak. Môre is weer ’n lang dag. Elke dag is ’n lang dag, want Wilhelm is weg sonder om haar te groet, en hoewel hy gereeld bel om te hoor hoe dit met Riaan gaan, vra hy nooit om met haar te praat nie.
Waarom sal hy? Almal weet Amalia kuier ook in die Kaap.
Sy stap tydsaam kombuis toe, skakel die voorste plaat van die elektriese stoof – wat ’n entjie van die groot koolstoof af staan – aan en plaas ’n kastrolletjie melk op die plaat. Sy loop na die agterdeur toe, maak dit oop en luister na die stil, klam nag. Dis koud, maar die wind waai nie en sy tree op die stoeptrappie uit.
“Karen!” roep ’n stem langs haar en dan word haar hand vasgegryp en word sy van die trappie afgepluk. “Ek het geweet jy sal kom, my poppie. Waarom het jy –?”
“Nee!” krys Erika toe hy haar in sy arms trek.
“Sjuut, vroumens!” snou Kallie, klap sy linkerhand oor haar mond en stoot haar voor hom uit na die hoek van die huis.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.