haar gelaat terwyl sy hom aanstaar. Is dit sy besittings wat hom so onweerstaanbaar maak vir vroue? Of dalk sy sterk, fisieke uiterlike: sy donker, half mistieke voorkoms met sy ysblou oë wat soms staalhard en dan weer vol warmte en lag kan wees? Of is dit die diep, ryk klank van sy stem wat aan hom so ’n besondere magnetisme gee?
“Is daar ’n roepstem op my gesig?” vra Wilhelm bedees, helder lag soos spatsels sonlig in sy oë.
Erika voel haar gesig verkleur toe sy besef hy praat met haar. Sy trek haar asem skerp in en staar stip na die koppie tee in haar hande.
“Nee, maar dit is moeilik om mense met grootkoppe mis te kyk,” antwoord sy met dieselfde onskuld in haar stem en voel byna spyt toe Riaan en Amalia uitbars van die lag.
“Jy het daarna gesoek, Wilhelm, want jy maak jouself nie juis onopsigtelik nie,” spot Riaan.
“Hy is die moeite werd om na te kyk,” sê Amalia met ’n koketterige glimlaggie.
“Jy was nog altyd ’n voor op die wa kind, Amalia,” sê Sophia terwyl sy met ’n koppie tee in haar hand nader kom. “In my jong dae het die jongetjies die meisies gekomplimenteer, maar jy gebruik die heuningkwas asof jy veronderstel is om die mans die hof te maak. Het jy dan g’n skaamte nie?” vra sy misnoeg.
“Die Groot Trek het in die negentiende eeu plaasgevind, Tannie, en die Eerste en die Tweede Wêreldoorloë is ook al vergete . . . Dis net Tannie wat dit nie kan vergeet nie,” antwoord Amalia met ’n glimlag wat verraai dat sy gewoond is om deur Sophia gekapittel te word.
“Ek is liewer uit die oude doos as skaamteloos,” sê Sophia streng en bly voor Riaan staan. “Hier, boetie, maak jou mond oop en sluk.”
“Tant Sophia!” ’n Donker gloed van verleentheid kruip oor Riaan se gelaat. “Ek verkies om nie ’n vertoning van my hulpeloosheid te maak nie. Ek is nie nou dors nie.”
“Maar hier is tog nie vreemdes by ons nie, Riaan,” redeneer Sophia. “Jy het saam met Amalia grootgeword en Erika –”
“Laat my toe om Riaan te help, Tannie,” val Amalia haar in die rede en spring op uit haar stoel. “Riaan was van kleins af my pasiënt, want ek wou mos altyd ’n verpleegster geword het.”
“Jy het tog gehoor die seun sê hy is nie dors nie, Amalia,” sê Sophia ongeduldig en neem op die stoel regs van die rusbank plaas. “En moet maar liewer nie na jou dae as verpleegster verwys nie, want ons weet almal jy kon net twee maande uithou, en toe is jy terug op die plaas en op jou perd se rug.”
“Ek het nie daarna verwys nie, maar aangesien Tannie dit opgehaal het . . .” Amalia neem op die armleuning van die rusbank plaas en sit haar linkerarm om Riaan se nek. “Ek was darem twee maande lank ’n verpleegster, Riaan. Dink jy nie jy sal my graag as jou privaat verpleegster in diens wil neem nie? Erika is ’n huishoudster, nie ’n verpleegster nie, en soos jy sê: sy is voortdurend in die kombuis besig.”
Amalia is besig met ’n fyn beplande spel om een broer teen die ander af te speel, besef Erika, maar hou haar gelaat uitdrukkingloos toe sy Wilhelm se blik op haar voel. Gaan Riaan instem dat Amalia hom verpleeg, of sal Wilhelm ’n stokkie daarvoor steek?
“Sulke skaamtelose stuitigheid!” blaas Sophia, haar gelaat donkerrooi van drif en ontsteltenis. “Amalia, jy is ’n ongetroude meisie en met ’n ongetroude jong man het jy niks te make nie. Boonop is ek hier om die seun te verpleeg en ek was darem op my dag ’n gekwalifiseerde verpleegsuster en hospitaalsuster. Nee a, dis sommer pure verspottigheid van jou om Riaan se verpleegster te wil speel. Wilhelm, as jy klaar is, bring jou leë koppie en vat die meisiekind sitkamer toe, want Riaan en Erika wil ’n bietjie alleen gesels.”
“Ek kan nie wag dat Erika voorstel om my privaat verpleegster te word nie,” spot Riaan, sy blik op die fronsende Amalia.
“Kry eers die jawoord, maat,” sê Wilhelm en volg Sophia en Amalia die studeerkamer uit.
En nou begin haar rol as motiverende meisie in Riaan se lewe, dink Erika sinies, terwyl sy luister na die toeklik van die deur agter Wilhelm. Wat het haar besiel om in te stem met Wilhelm se versoek? Sy het geen gevoel vir Riaan nie; as sy eerlik moet wees, hou sy nie eens baie van hom nie, veral nie ná sy geniepsige aanmerkings oor Wilhelm nie.
“Ek het nie gedink ek sal ’n hulpelose baba wees wanneer ek jou eindelik weer sien nie,” merk Riaan somber langs haar op, ’n lustelose uitdrukking op sy gelaat, terwyl hy in die vlamme staar.
Riaan se sprankel het saam met Amalia verdwyn, besef Erika. Sy kyk hom skerp aan. Wie probeer Riaan bedrieg? Homself? Vir haar en Wilhelm? Dis tog duidelik dat hy vir Amalia omgee, of sien sy iets raak wat nie bestaan nie, net omdat sy self nie in hom belang stel nie?
“Wanneer sal die gips kan afkom?” vra Erika met gedwonge belangstelling.
“Oor twee of drie weke. Moontlik sal my regterhand eerste genees, want dis minder beseer, daarom sal my dokter die gips dalk gouer afhaal. Maar dis die belangrikste: my regterhand. Hoe kan ek ’n prokureur wees as ek nie meer die gebruik van my hande het nie?” vra hy verbitterd.
“Tant Sophia het my vertel jy het ’n negentig persent kans om die volle gebruik van albei jou hande terug te kry, as jy nou geduldig is en glad nie jou hande gebruik of jou vingers onnodig beweeg nie. Die wonde het tyd nodig om te genees en as jy nou te haastig raak, kan jy onherstelbare skade aan jou hande kry. Wees maar net geduldig, Riaan, en alles sal regkom,” sê sy bemoedigend.
“Met jou aan my sy, Erika . . .” begin hy, lê ’n gipshand op hare en neem dit dadelik weer weg. “Sien jy nou? Ek kan waaragtig nie eens die meisie wat ek liefhet se hand vat en haar van my liefde vertel nie! Dis wat my so magteloos, so volkome nutteloos laat voel!”
“Is daar enige rede vir so ’n groot haas?” vra Erika gelykmatig.
“Nie vir jou nie, maar ek is ’n halwe mens, ’n halwe man, daarom het ek nóú jou liefde en bystand nodig. Ek wil weet daar is iemand wat nog aan my glo, wat bereid is om my te aanvaar, selfs al sou ek nie die gebruik van my hande herwin nie. Kan jy dit verstaan, Erika? Begryp jy waarom ek jou liefde so nodig het?” Hy swyg kortasem, sy gelaat strak en bleek van ontsteltenis, en hy lê ’n swaar gipshand op haar skouer. “Jy het tog gesê jy hou van my; dat jy glo dat jy my moontlik later sal kan liefkry. Onthou jy, Erika? Jy het ’n belofte aan my gemaak daar in Durban.”
“Nee, Riaan, ek het nie. Ek het gesê ek dink jy is ’n gawe vriend, maar dat ek niks meer as vriendskap vir jou voel nie,” antwoord sy beslis. “Ek het geen beloftes gemaak nie – en ek sien nie kans om nou ’n belofte te maak wat ek dalk sal moet verbreek nie.”
“Maar jy het Bergvallei toe gekom, agter my aan! Toe ek in die begin huiwerig was om Drie Eike aan Henno te verkoop, het hy my verseker jy kan nie wag om my weer te sien nie; dat jy agtergekom het jy gee om vir my. Dis die hoofrede waarom ek die ou huis aan hom verkoop het!” vaar hy ontsteld teenoor haar uit.
Slim Henno om sy suster te gebruik om sy sin te kry! dink Erika met teësinnige bewondering. Maar sy sal Henno so spoedig moontlik onder vier oë spreek oor ’n leuen wat haar in ’n onbenydenswaardige situasie laat beland het.
“Nee, Riaan, dit was Henno se storie om jou te oorreed om Drie Eike aan hom te verkoop, maar dis toevallig nie mý woorde nie. Ek sê weer ek is bereid om jou vriendin te wees, om . . . e . . . jou vriendskap te hou, maar in hierdie stadium . . .” protesteer sy halfhartig, haar belofte aan Wilhelm om Riaan te help soos die stem van haar gewete in haar.
“Jy bedoel ons moet maatjie-maatjie speel?” vra hy en lag smalend. “My liewe meisie, jy het al die pad van Johannesburg af agter my aangery, daarom kan jy gerus ophou met jou rol van onskuldige vriendinnetjie. Wees dankbaar dat ek jou met ope arms ontvang en selfs bereid is om aan jou verloof te raak, maar hou op om jou as iemand voor te doen wat jy nie is nie.”
Woede ontplof soos ’n witwarm vuur agter haar oë en ’n oomblik lank verg dit al haar selfbeheersing om hom nie met al haar krag deur sy gesig te klap nie, maar sy hou haar hande styf saam op haar skoot gebal en sluit haar oë om die onsmaaklike