toe Wilhelm begin praat.
“Gaan jy nie vir Riaan help dat hy sy koffie kan drink nie? Hy is nie in staat om ’n koppie vas te hou nie, daarom moet hy gehelp word.”
“En wat skort met mý ou hande?” vra Sophia geraak. “Nee a, ek het darem mos al die jare vir Riaan help grootmaak, en nou is ek weer hier om die seun te verpleeg en by te staan. Wilhelm, jy was te lank oorsee, daarom weet jy nie meer wat is ’n ordentlike meisie nie. Erika is nog ’n skaam kind, goedgemanierd en op haar plek, en sy weet dis nie haar plig om ’n jong man aan wie sy nie eens verloof is, te verpleeg nie,” vervolg sy teregwysend.
Erika sug verlig en glimlag vermakerig toe haar oë dié van Wilhelm vang.
“Riaan het op pad huis toe gepraat van planne om Saterdagaand –” begin Wilhelm en sien hoe vinnig Erika se glimlag op die vlug slaan.
“Ek kan my eie praatwerk doen, Wilhelm,” val Riaan hom onvergenoeg in die rede. “Dankie, tant Sophia, ek sal nie nou koffie drink nie. Ek is moeg van die rit. Sal Tannie my help om my nagklere aan te trek? Dis tog al laat en dit het reeds weer begin reën.”
“Ek sal jou help,” bied Wilhelm aan, staan op en stap saam met Riaan die vertrek uit.
“Dis hoe dit was toe hulle nog seuns saam in die huis was,” vertel tant Sophia. “Wilhelm had altyd die jonger Riaan beskerm, en met verloop van tyd het Riaan begin dink hy kan maar doen wat hy wil, want sy ouboet sou altyd regmaak wat hy verbrou het. Soos nou met Drie Eike ook. Riaan het maar alte goed geweet hy doen nie die regte ding nie, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Nee, hy wou ’n boot koop, en julle geld was goed genoeg daarvoor.”
“Ons sal maar wag totdat Riaan weer heeltemal gesond is voordat ons oor Drie Eike praat,” sê Erika. “Wilhelm wil nie hê ons moet Riaan ontstel nie.”
“Riaan raak net ontsteld wanneer dit hom pas – soos nou, toe hy besluit het hy wil jou hê. Jy moes sy praatjies in die motor gehoor het; ek was sommer lus en klap die mannetjie se ore warm, want soos hy te kere gaan, het hy klaar al kaart en transport vir jou ook, ou dingetjie. Maar dis nie vir hóm wat jy liefhet nie?” vra Sophia, haar blik deurdringend op die blosende Erika.
“E . . . e . . . dink nog nie aan trou nie, Tannie,” verweer sy halfhartig.
“Natuurlik nie, want ons weet nog nie wat Wilhelm wil doen nie.” Sophia skud haar kop meewarig. “Tsk, tsk, jy het kwaai kompetisie, ou diertjie. Daar is die vryerige Amalia wat my alte veel aan ’n klimop of ’n rankpampoen herinner, want sy rank mos ’n man toe as sy besluit sy is verlief op hom; en dan is daar Minette du Toit wat nou weer in die huweliksmark is.”
“Dink Tannie Wilhelm sal met Minette trou?” vra Erika gelykmatig.
“Hô-hô-hô,” lag Bartel met sy kamma basstem en loer saam met Jackie met haar maskergesiggie oor die rugleuning van die rusbank waarop Sophia sit.
“Hiert, jou satanskind!” krys Sophia en laat haar halfleë koppie op haar piering omkantel. “Ou dingetjie, help gou hier. Kyk nou net hoe bemors ek myself, en dit net oor ’n duiwelse jongetjieskind! Kom hô-hô-hô jy net weer een keer in my ore, Bartel, en ek klap jou sitvlak vuurwarm!” raas Sophia, haar lippe nog trillend van skrik.
“Tannie kan darem hard skree en vloek, amper net so goed soos my ouma Esmé. Maar my ouma sê nie net Satan en duiwel nie, weet Tannie? Sy sê ook –” vertel hy gretig.
“Bartel!” Erika kyk hom berispend aan terwyl sy Sophia se koppie en piering op die koffiewaentjie neersit. “Ons wil nie hoor wat jou ouma Esmé sê nie, maar ons sal graag wil weet waarom kruip jy en Jackie agter die rusbank weg. Luister julle grootmense se geselskap af?” vra sy streng.
“Tannie Erika, man, het Tannie hom nie gesien nie? Hy het sulke lang, geel tande en ’n swart baard en swart oë gehad, en . . . en hy het ’n blink, skerp mes tussen sy tande vasgebyt en ’n handgranaat in sy linkerhand en ’n swaard in sy regterhand gehad, en toe –” beskryf Bartel sy denkbeeldige vyand geesdriftig.
“Die waarheid, Bartel. Dis nie nou storietyd nie,” val Erika hom ferm in die rede.
Hy sug oorwonne en haal sy skouers op.
“Dan moet Jackie maar vertel, want ek skaam my morsdood as ek dit moet sê. Maar dit was Jackie se plan, want net meisiekinders kan aan sulke lawwe speletjies dink,” sê hy vies en bloos verleë.
“Dis nie ’n speletjie nie, dis ’n liedjie,” sê Jackie geraak. “Ek het vir Bartel gesê ons moet vir oom Riaan ‘Welkom, Omie, welkom, Tannie’ sing, en toe sê hy ja. Maar toe almal in die sitkamer sit en praat, toe kry ons skaam en vergeet van die liedjie. Daar was nie eens ’n man met geel tande en ’n swart baard nie, nè, Bartel?”
“Ag, man, dis mos net ’n storie!” Hy gluur haar vies aan en kyk nuuskierig na Sophia. “Tant Sofie –”
“Nie Sofie nie, kind, Sophia met ’n ph!” val Sophia hom streng in die rede. “Ek kan my so vervies as iemand my Sofie of Soufie noem, so asof ek nie ’n doopnaam het nie. Ja, Bartel, wat wil jy nou weer hê?”
“As my ma nou met oom Wilhelm trou, is ek dan sy swaer?” vra hy belangstellend.
“Red nou ’n volk . . .” kom dit oorbluf van Sophia terwyl Erika vergeefs ’n proeslaggie probeer smoor. “Bartel, vergeet jy nou maar van die grootmensdinge en gaan speel liewer. Ek dink tog jy het nou lank genoeg op Drie Eike gekuier, want jou ouma Esmé bel my elke oggend om te hoor of ons jou nog nie mishandel het nie. Jy moet môre terug huis toe, verstaan?”
Dis asof die kinders dit afgespreek het, want albei bars gelyktydig in trane uit, skuif om die rusbank en kom kniel weerskante van Erika se stoel. Sy tel die jonger Jackie op haar skoot en voel die wit masker klam word teen haar nek terwyl Jackie se hele liggaampie onbedaarlik ruk.
“Seblief, tannie Erika, ek wil nie weggaan nie!” huil Bartel skaamteloos en klou Erika se linkerarm vas, sy oë pleitend op haar gesig. “Wat van my mooi boek, Tannie? Ouma Esmé sal nooit my mooi stories neerskryf nie. Sy sê net altyd ek jok en die duiwel gaan my vang . . . sy weet niks van stories nie! Moenie dat tant Sophia my wegjaag nie!”
“Haai, ou dingetjie, waar skaam ek my morsdood vir my groot mond,” kom dit oorstelp van Sophia. “Bartel, boetie, ek het sowaar nie geweet jy kuier so lekker by ons nie . . . en dat Erika jou so mooi met jou stories help nie. En klein Jackie ook . . . Ag, my hart, wat huil die kinders dan so verdrietig?”
“Hy is my . . . maatjie,” snik Jackie in Erika se nek. “Hy vertel my . . . baie stories!”
“Nou ja, dan bly jy hier, Bartel.” Sophia kyk ongemaklik na Erika. “En jy sal ook moet bly, ou kindjie, want ek sal al my aandag aan Riaan moet gee tot tyd en wyl hy weer gesond is. Jy sal bly en met die kleintjies help, Erika?”
“Ek sal ook bly en tannie Erika met Jackie help,” bied Bartel hulpvaardig aan, sy trane vergete. “Ek pas haar darem baie mooi op, nè, Tannie? Dalk gee die polisie vir my ’n medalje omdat ek Jackie so mooi oppas . . . Het ek al vir Tannie vertel ek het ’n medalje gekry toe ek ses rowers met my een hand –”
“Ja, Bartel, jy het, en dit was ’n baie mooi storie. Toe, gaan skink jy vir julle elkeen ’n glas druiwesap en elkeen mag twee koekies uit die koekieblik kry, want dis byna tyd vir aandete. Reg?” vra Erika.
“Ek sal die koekies tel, Tannie,” sê Jackie en klim van haar skoot af. “Partykeer sukkel Bartel om te tel, en dan vat hy sommer ses koekies.”
“Dit was seker net ’n ongeluk, want ek weet Bartel kan goed tel,” sê Erika ernstig, haar blik op Bartel.
“Ek verstaan dit nie,” kom dit verwonderd van Sophia. “Ou Esmé dreig om die kind koshuis toe te stuur, want sy sê hy jok wanneer hy sy mond oopmaak en hy steek haar heeldag en aldag in die skande. Maar hier by ons is die kind anders. Kyk hoe mooi pas hy klein Jackie op en hy is altyd fluks om vir my ’n werkie te doen. Dis jý, nè, Erika? Jy had hom geleer dat jok net stories is wat ’n mens neerskryf, maar dat ’n mens die waarheid