is dol oor geselskap, wanneer ek ure lank beentjies moet soek. Kom binne,” nooi sy laggend.
Sy hou van Morné, van sy warm glimlag en aantreklike uiterlike. Hoe oud is hy? Sy skat hom in sy vroeë dertigs . . . Dalk is hy dieselfde ouderdom as Wilhelm. Het hy dalk ook op Bergvallei grootgeword? wonder sy.
“Dankie,” sê hy, stoot die onderdeur van die kombuis oop en kom die ruim vertrek binne. Hy neem aan die punt van die tafel skuins langs haar plaas en hou haar bedrywige hande dop. “Wat eet ons vanaand? Boontjiebredie?” raai hy.
“Waterblommetjiebredie,” antwoord sy en sit die knyper waarmee sy die bene uit die warm vleis haal, ’n oomblik lank neer.
“Dis een dis wat my ma altyd gemaak het, selfs nadat ons getrek het. Sal ek vir ons koffie maak?”
“Nie nou dadelik nie, dankie. Dis seker voorbarig van my om ongenooi weer te kom kuier, maar ek ken jou langer as wat jy dink. Jou pa was mos oom Henk Marais wat jare gelede die apteek hier op Bergvallei gehad het?” vra hy.
’n Glimlag verhelder haar gelaat.
“Dan het jy hom geken?” vra sy verras.
“Ja, my pa was ’n plaasbestuurder op een van die ou grondbaron se plase. Ek was al klaar met skool en besig met my studie aan die universiteit, maar ek onthou nog die skaam dogtertjie met die engelgesiggie wat soms by oom Henk gekuier het,” antwoord hy.
“Bartel lyk soos ’n engeltjie, maar hy is ’n klein derduiwel. Hy lyk na sy pa, nie waar nie?” vra sy belangstellend, merk dan hoe sy uitdrukking ineens verstroef en wonder wat sy verkeerd gesê het.
“Ja, hy lyk na die Kloppers.” Hy pers sy lippe saam en vra dan vinnig, half ongeduldig: “As jy een aand vry is, wil jy nie saam met my in Kaapstad gaan eet nie? Ek ken ’n oulike plekkie naby die hawe . . . of eet huishoudsters net hulle eie disse?”
“O, ek sal graag saam met jou gaan eet, Morné, want ’n mens word beslis moeg vir jou eie brousels. Ek is Saterdagaand vry, as dit jou dalk pas,” willig sy gretig in en weet dat sy op vlug geslaan het vir haar gevoel vir Wilhelm, maar wil nie daaroor dink nie.
“Dan is dit afgespreek,” sê Morné ingenome.
“Nee, Morné,” sê Wilhelm in die gangdeur, sy stem so koud en onverbiddelik soos sy gelaat. “Riaan en Erika raak Saterdagaand verloof, maar ons sal onthou om jou na die verlowingspartytjie uit te nooi.”
6
Erika kom vinnig orent langs die kombuistafel, skok en drif afwisselend op haar gelaat terwyl sy Wilhelm in verbysterde stilte aanstaar.
“Jy en Riaan, Erika?” Morné klink verbaas. “Snaaks, hy het niks aan my gesê nie en ons sien mekaar nogal dikwels.”
“Sommige dinge bespreek ’n man nie eens met sy beste vriende nie,” sê Wilhelm bruusk en draai sy kop na die gang toe hy stemme hoor. “Hier kom hulle nou . . . Riaan en tant Sophia,” waarsku hy gedemp, sy blik op Erika.
Sy hoor Sophia se besorgde stem, luister na Riaan se helder lag en weifel nie langer nie.
“Kom, Morné! Ek vergesel jou na jou motor,” sê sy gejaag, gryp sy hand en trek hom agter haar aan na die agterdeur terwyl sy dringend oor haar skouer fluister: “Maak net gou, man! Toe, hardloop, Morné!”
Morné lag gedemp, klap die agterdeur agter hom dig en draf hand aan hand saam met Erika na waar sy geel bakkie onder ’n blaarlose eikeboom geparkeer staan. Hulle bereik die bakkie, hyg na hulle asem, kyk in mekaar se oë en skaterlag soos twee sorgelose kinders. Dan versober hulle en hy druk haar hand en los dit dan vinnig, asof hy bang is hy oortree.
“Ons afspraak vir Saterdagaand: ’n ete in ’n hawekafeetjie, of ’n verlowingspartytjie op Drie Eike?” vra hy en kyk haar in die oë.
“Ek wens ek kon sommer net ja gesê het,” antwoord sy en weet sy hardloop weer, vlug nog altyd van haar liefde vir die donker man in die huis agter haar.
“Wie kan jou keer?” vra hy misnoeg, frons en kyk haar dringend aan. “Of is dit Riaan? Is dit waarom jy en Henno hierheen gekom het en Drie Eike gekoop het?”
“Dan weet jy ons het die ou plek gekoop?” vra sy verwonderd.
“Almal weet, want Riaan het dit nie geheim gehou nie. Dis waarom die hele dorp gis oor wat nou gaan gebeur, want die grondbaron het teruggekeer om te eis wat eintlik sy geboortereg is: die oorspronklike opstal op Drie Eike. Is julle bereid om aan hom te verkoop?”
Sy glimlag bedroë.
“Ons het nie ’n keuse nie, want Riaan het tien jaar gelede die opsie om Drie Eike te koop, aan Wilhelm gegee – teen ’n prys, as ek tant Sophia moet glo. Destyds was Riaan pas agtien en klaar met matriek en hy het ’n splinternuwe sportmotor van Wilhelm geëis in ruil vir die eerste opsie op Drie Eike, en hy het dit gekry,” vertel sy.
“Maar dis mos bedrog! Wat het Riaan besiel om die plek aan julle te verkoop?” vra Morné onthuts.
“Ek sal nie kan sê nie.” Sy glimlag halfhartig. “En vir tyd en wyl sal ons van die ete in die hawekafeetjie moet vergeet, want Riaan is terug.”
“En julle raak Saterdagaand verloof?” vra hy, ’n tikkie vyandigheid in sy stem.
“Beslis nie. Ek het Riaan tydens die April-vakansie in Durban ontmoet, maar daar was geen sprake van ’n liefdesverhouding nie. Nou is daar skielik, maar sonder my toestemming. Ek . . . e . . . het net ingestem om Riaan te help en by te staan terwyl hy aansterk, maar ek is nie van plan om aan hom verloof te raak nie,” vertel sy. Sy wonder of sy te veel sê, maar weet intuïtief dat sy vriendskap van ’n onbevooroordeelde man soos Morné in die toekoms nodig sal kry.
“Ek ken Riaan my lewe lank, daarom weet ek hoe hy sal redeneer: speel net siek en kry sy sin.” Hy glimlag skeef. “Dié keer is hy toevallig siek, want ek het hom in die hospitaal besoek. Sê vir hom ek wou nie ’n vyfde wiel aan die wa wees met sy tuiskoms nie, maar ek sal weer kom kuier.”
“Koe-ie! Koe-ie, ou dingetjie, waar draai jy so lank? Ek het al klaar koffie gemaak,” roep Sophia uit die agterdeur.
“Dan ry ek eers. Sien jou, Erika,” groet Morné en klim in sy bakkie.
Erika bly staan om sy bakkie agterna te kyk, gretig om haar ontmoeting met Riaan nog ’n rukkie langer uit te stel, maar Sophia laat weer ’n dringende “Koe-ie!” uit die agterdeur hoor, en sy draai met ’n moedelose sug om en stap huis toe.
Riaan is skraler, maar sy hare is nog ’n donker rooibruin, sy oë groenbruin, wat hom so sterk na Karen laat lyk, en sy gelaatstrekke reëlmatig en aangenaam om na te kyk. Sy het nie gedurende die vakansie gemerk dat sy druipende lippe hom ’n uitdrukking van onvergenoegdheid gee nie, maar moontlik het daar niks in Durban gebeur wat hom rede tot ontevredenheid gegee het nie, dink Erika terwyl sy die voorste sitkamer binnestap en in die deur bly staan.
“Erika!” Riaan kom vinnig orent uit sy stoel, sy glimlag verwelkomend, maar met ’n tikkie onsekerheid in sy oë, asof hy weet hy het nie die volle waarheid oor hulle verhouding vertel nie en nou twyfel aan die ontvangs wat hy sal kry. “Dis wonderlik om jou weer te sien, Erika.”
“Hallo, Riaan. Ek was jammer om te hoor van die ongeluk, maar ek kan sien dit gaan al stukke beter,” antwoord sy en glimlag gewoon, maar gaan nie na hom toe nie, omdat sy tog nie sy hand kan skud nie. Sy stap tot by die koffiewaentjie. “Is dié koppie myne, tant Sophia?” vra sy, intens bewus van Wilhelm wat oorkant haar sit en haar met die konsentrasie van ’n roofvoël dophou.
“Ja, hartjie, maar as dit dalk koud is, skink vir jou ’n ander koppie in. Ek het nie geweet Morné het by jou kom kuier nie,” sê tant Sophia onskuldig.
“Morné? Dan kuier hy hier? Hoe lank ken julle mekaar?” vra Riaan skerp.
“Sedert my aankoms op Drie Eike toe hy na Amalia kom soek het,” antwoord sy kortaf, sien Riaan selfbewus bloos en kyk vas in Wilhelm se koue, berispende oë.