Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 10


Скачать книгу

Eike gelyk het nie . . . Dis hoe dit gebeur het. Vra maar vir Henno as jy my woord in twyfel trek.”

      “Henno sit gerieflik in my hut in die berge, daarom kan ek hom nie vra nie,” antwoord hy en sy kan onmiddellik aan sy stem hoor dat hy haar nie glo nie. “As jy werklik nie vir Riaan omgegee het nie, hoekom het jy verkies om ’n huis op Bergvallei te koop? Daar is tog honderde ander klein dorpies met groot huise wat in losieshuise omskep kan word. Hoekom erken jy nie liewer dat jy Riaan liefgekry het en daarom jou so maklik laat oorreed het om uit jou pos as onderwyseres te bedank nie?”

      “Omdat dit nie waar is nie!” skree sy, oortuig daarvan dat hy nie van plan is om haar te glo nie.

      “Jou stem, Erika,” sê hy vermanend en skud sy kop. “Het jy ooit so op Riaan geskree?” vra hy, ’n lagduiweltjie dansend in sy oë.

      “Waarom sou ek? Hy was nie . . .” Sy skrik die res van haar woorde weg toe sy besef wat sy wou gesê het: Riaan was nie belangrik genoeg om haar kwaad te maak nie. En Wilhelm dan? Is hý belangrik genoeg? Hy is! fluister haar hart. Hy is die belangrikste man in haar hele lewe. O nee, dis die belaglikste gedagte wat sy nog gehad het, want dit sal beteken sy het Wilhelm van Vollenhoven lief.

      Sy draai stadig na hom, haar oë nog groot van skrik en ongeloof. Sy sien die wonder in sy blik terwyl hy haar in stilte betrag, en draai weg van die venster.

      Dit reën. Sy druk haar neus teen die ruit en kyk na die grou, koue skadureën van ’n winterdag.

      Dom meisie, dwase meisie, om die onmoontlike lief te kry! Wilhelm het tien jaar gelede sy liefde aan Minette du Toit verpag, en sy is nou vry om syne te wees. Daarom het hy teruggekom, praat haar verstand met ’n harde stem wat sy nie kan ignoreer nie.

      En daar is Amalia . . . Die meisies staan in ’n ry om syne te word – gaan sý ook in die tou wag? Nooit nie. Sy was nog altyd nugter en prakties en in staat om haar emosies met haar verstand te beheer. Sy weier om hom lief te hê; sy het hom nie lief nie; dis alles haar verbeelding. En tog . . . waarom wil sy dan huil?

      “Erika?” Sy stem praat digby haar en sy ril onwillekeurig, maar dwing haarself om roerloos te bly staan, om nie op te kyk na hom en die werklikheid van haar liefde vir hom bloot te lê nie. “Het jy intussen iemand anders ontmoet wat jy liefgekry het? Is dit waarom jy nie meer vir Riaan omgee nie?”

      Ja, dwase man, ek het jou lief! roep haar hart, maar haar gelaat is ’n masker van uitdrukkingloosheid toe sy antwoord: “Ek het nog nooit genoeg vir Riaan omgegee om hom lief te hê of aan hom verloof te raak nie.”

      Hy sug diep.

      “As jy so sê . . .” sê hy skouerophalend.

      Sy weet hy glo haar nie en sy draai met blitsende oë om na hom, haat hom omdat hy haar kan laat lê terwyl hy nie eens bewus is van haar pyn nie.

      “Ek het jou reeds gesê: gaan vra vir Henno! Ek en my broer deel al ons geheime, daarom sal hy weet. Ek het niks verder oor Riaan en ons kamtige verlowing te sê nie!” sê sy driftig. Sy wil wegstap, maar sy groot hand sluit om haar boarm en hou haar teë.

      “Asseblief, Erika?” pleit hy.

      Sy kyk op in sy oë en wens sy kan huil.

      “Wat moet ek doen?” vra sy oorwonne.

      “Help Riaan, selfs al voel jy dat jy hom op die oomblik nie lief genoeg het om met hom te trou nie. Dwing jouself om hom lief te hê, speel toneel, maar moenie dat hy voel jy verwerp hom weens die moontlikheid dat hy die gebruik van sy hande sal verloor nie. Op die oomblik is sy geestesgesteldheid van die allergrootste belang en daarby moet hy rustig bly, geduldig wees en wag dat sy hande genees. As hy te gou probeer om sy vingers te gebruik, kan hy die senuwees en spiere permanent beskadig en dan sal hy moontlik vir die res van sy lewe ’n hulpelose invalide wees, want hy sal nie eens homself kan voer nie.”

      “Is dit . . . so ernstig?” vra sy bekommerd.

      “Dit is, daarom pleit ek by jou. Ek wens Henno was hier om hom ook te verwelkom, maar met die reën wat weer begin val het en seker weer ’n week of wat sal aanhou . . . Die gebied waar die berghut is, is moerasagtig en kan net te perd bereik word.”

      “Maar Henno is in sy motor hier weg,” onthou sy en kyk bekommerd na hom.

      Hy glimlag gerusstellend.

      “Hy het tot op Klein Bergvallei, een van my plase, gery en daarna te perd sy reis na die berghut voltooi. As ek van hier af te perd sou ry, sal dit nie meer as tien kilometer wees nie, maar hy moes my voorman op Klein Bergvallei vra om hom te help om al sy skilderbenodigdhede te vervoer, daarom het ek hom eers plaas toe gestuur. Solank dit reën, is hy as ’t ware ’n kluisenaar in sy berghut.”

      “Maar as hy sou siek word? As hy homself dalk sou beseer?” vra sy ontsteld.

      “Oom Sias van Klein Bergvallei sal gereeld ’n draai by die berghut gaan maak, en boonop sal Henno ’n perd by hom hou, want dis ’n voorsorgmaatreël waarop ek aandring. Moenie jou bekommer nie,” sê hy paaiend, huiwer en vra uitnodigend: “Kan jy perdry? Sodra die son weer skyn, kan ons dalk eendag by hom gaan kuier, net om jou gerus te stel.”

      “Ek kan perdry,” antwoord sy effens kortasem, intens bewus van die warmte van sy glimlag en die aanraking van sy hand op haar arm.

      “Dan is dit afgespreek,” sê hy, frons omdat sy hom nie in die oë kyk nie, en dwing haar ken op met sy duim en wysvinger. “En jy sal Riaan gelukkig maak? Jy sal vir hom ’n inspirasie wees en hom die nodige motivering gee om geduld te beoefen?”

      “Maar . . . as ek hom nie lief kan hê nie?” vra sy wanhopig.

      “Ek vra jou hulp net totdat sy hande weer genees het. Daarna . . .” Hy kyk haar aan asof hy haar optrede nie kan verstaan nie en vra dringend: “Kan ek op jou staatmaak?”

      “Ja,” antwoord sy onwillig en beur weg van hom sodat hy verplig is om haar te laat gaan. Dis byna tyd vir aandete. Verskoon my, asseblief.”

      “Dankie, Erika!” roep hy haar agterna, maar sy hoor hom nouliks, want die geklop van haar hart is soos ’n tromgedreun in haar ore.

      Dit gebeur net in die Kaap: een oomblik grou reën wat nimmereindigend neersif op ’n fluweelgroen grastapyt, en dan skielik ’n blou, helder hemel, spatsels wit wolke, en die goue son wat op diamantreëndruppels weerkaats, dink Erika waar sy in die oop voordeur van Drie Eike staan.

      “Tannie! Tannie Erika, as my ouma Esmé weer bel, sê vir haar ek is dood!” roep Bartel uit die gang, storm deur die voorportaal met die gemaskerde Jackie kort op sy hakke, en kom voor Erika staan.

      “Dood?” Erika staar hom oorbluf aan. “Maar hoekom wil jy dood wees?”

      “Omdat my ouma wil hê ek moet teruggaan huis toe, want sy sê ek is ’n verleentheid vir haar. En ek is nie! Ek was nog nooit ’n verleentheid nie, want ek weet nie eens hoe ’n mens dit doen nie, want niemand het my gesê nie. Ek is net haar kleinseun en ek kuier by julle en ek pas Jackie op. Nè, Jackie, ek pas jou mos op?” vra hy aan die dogtertjie wat styf teen Erika aangekruip het en haar hand vashou.

      “Ja, elke nag as ek so baie huil,” beaam Jackie sy woorde.

      “Huil jy snags, my poplap?” vra Erika en neem Jackie in haar arms.

      “Sy tjank nes ’n baba, want sy verlang na haar pa en haar ma . . . maar die meeste na haar ma, want sy is mos dood,” vertel Bartel met ’n minagtende kyk langs sy neus af. “Dan moet ek vir haar stories vertel, maar partykeer vertel ek die waarheid ook. Weet Tannie ek het al teen rowers geveg? En net met een hand, want hulle het my ander hand agter my rug vasgemaak. Maar ek skop hulle sommerso met ’n karate-skop bif! baf! boem! en daar trek hulle soos vrot velle deur die lug en val pardoems! in die see en verdrink! Nee . . .’n haai het hulle opgevreet en toe sien jy net bloed en –”

      “Ja, ja, Bartel, jy kan my anderdag vertel, want ek raak ’n bietjie naar van al die bloed en lyke,” val Erika hom haastig in die rede toe sy bewus word van Jackie se stokstywe liggaampie wat al hoe vaster