skuldig voel oor die stories wat hy eintlik maar vertel het om aandag te trek nie. ’n Mens doen wonderlike dinge om liefde te kry, want dis tog waarna Bartel soek,” antwoord sy mymerend en onthou: sy skree op Wilhelm. Skree sy omdat sy ook sy liefde soek?
“Nou ja, dan gaan bel ek maar vir ou Esmé en stel haar gerus. Dalk wil die ou mens ook êrens vir ’n dag of drie gaan kuier, en as sy weet Bartel is versorg, hoef sy haar nie te bekommer nie. Sal jy die koffiewaentjie kombuis toe neem, ou diertjie?” vra Sophia en kom orent.
“Ja, Tannie,” antwoord sy gewillig, haar blik op die stortende reën anderkant die vensterruite.
Sy staan op, stap na die venster en kyk hoe die eerste skemering die reën grys kleur en swart saamkoek onder bome en struike en in die vensters en deure van die oostelike vleuel. Sy sien ’n deur oopgaan op die eerste verdieping en hoe Wilhelm uitstap op die oop balkon.
Hy staan in die reën, sy gesig stroef en donker soos die komende nag, sy oë hemelwaarts gerig.
Sy hou hom dop en wonder wat hom uitgedryf het in die reën en donker. Maar dan voel sy asof sy oortree, draai weg van die venster en stoot die koffiewaentjie die sitkamer uit.
“Jy het hom nie lief nie.”
Erika byt op haar onderlip, laat haar blik sku oor Wilhelm se beskuldigende gelaat gly, en staar stip na die blommerangskikking wat sy oomblikke gelede op die koffietafel neergesit het.
“Ek was eerlik met jou,” antwoord sy gedemp. “Ek het jou gesê hoe ek oor hom voel.”
“Dis Morné, nè?” vra hy bars, en sy kyk verras op na hom en wonder oor die nouliks onderdrukte woede in sy stem. “Was dit liefde met die eerste oogopslag? Is hy die held op die wit perd op wie jy jou lewe lank al wag?”
Hy is kwaad omdat sy iemand bo Riaan verkies, nie omdat haar verraderlike hart onvoorwaardelik aan hom behoort nie, dink sy en krimp ineen voor die ironie van die situasie. Hy glo sy het Morné Venter liefgekry . . . daarom sal dit so moet wees, want sy het Morné se skans nodig waaragter sy haar liefde vir Wilhelm kan verskuil hou.
“Ek glo nie my en Morné se verhouding het in hierdie stadium enigiets met jou of Riaan te doen nie,” antwoord sy gelykmatig. “Ek het beloof om Riaan by te staan, maar daar is geen sprake van ’n verlowing tussen ons nie . . . Het hy gevra dat ek na hom toe moet gaan?”
“Hy vra sedert hy vanoggend wakker geword het dat jy hom moet besoek, maar jou werk as huishoudster is ’n goeie verskoning om hom te vermy. Hy is in die eerste sitkamer waar ons gistermiddag gesels het. Ek het hom belowe jy sal hom vanmiddag geselskap hou – of kom Morné weer kuier?” vra hy bytend.
Sy snedigheid trek haar ruggraat agteroor en haar ken lig uitdagend, haar oë vonkend in syne.
“As ek reg onthou, besit ek ’n vyftigpersentaandeel in Drie Eike, en die ander vyftig persent behoort aan Henno,” begin sy met grimmige nadruk. “Met ander woorde, Wilhelm, jy is op die oomblik mý kuiergas, nie my werkgewer nie. Wat jou broer betref: ek doen jou en hom ’n guns as ek vriendelik is met hom, want eintlik wil ek al my glimlaggies vir Morné bêre – of vir ander mense wat dit kan waardeer, soos tant Sophia en die kinders. En weet jy wat doen jy, Wilhelm? Jy maak asof jy my ook gekoop het, asof ek net nóg ’n stukkie wynland is wat jy tot jou eie voordeel kan gebruik. Jy, Wilhelm, is ’n ondraaglike, ondankbare ou duiwel!”
Sy druk haar neus in die lug, begin wegstap, hoog in haar skik dat sy hom so behoorlik op sy plek gesit het, en skrik haar asem weg toe hy haar aan die arm gryp, vinnig omswaai en in sy arms neem. Hy soen haar voordat sy tot verhaal kan kom en sy voel hoe haar weerstand verkrummel, want sy ervaar ’n ekstatiese genot waarvan sy tot dusver onbewus was. Realiteit duisel weg in eindelose dieptes terwyl sy toegee aan die roepstem van haar hart. Haar hande kruip om sy nek, dwing hom nader, terwyl ’n sagte kreun oor haar lippe stoot.
Die klank van haar stem ruk haar terug tot die werklikheid en haar liggaam verstok in sy arms. Dan spartel sy wild uit sy omhelsing.
Hy los haar skielik en glimlag sardonies, terwyl sy met bewende vingers haar klere regtrek en oor haar hare voel.
“Ons het net gesoen, Erika, nie rugby gespeel nie,” sê hy en sy oë is sterre van dansende lag. “Voortaan kan jy al jou glimlaggies vir Morné gee, maar bêre jou soene net vir my,” voeg hy treiterend by, draai om en stap die vertrek met lang, selfversekerde treë uit, sy koggelende lag in haar ore.
Sy soek na iets slim en gevat om te sê, maar haar tong is ineens dom en haar lippe prikkel nog ná die aanraking van sy lippe op hare.
“Hô-hô-hô!” lag Bartel uit die hoek agter die een rusbank en kom orent, ’n boek en ’n potlood in sy hand. “Dis nou ’n gril van die noodlot, nè, tannie Erika?”
“Bartel, jy is veels te klein om iets van die grille van die noodlot af te weet!” bars Erika uit, haar wange vlammend van die verleentheid omdat hy heel waarskynlik ’n ooggetuie van daardie bandelose soen was. “Wat soek jy al weer agter ’n rusbank?”
“Tannie kan darem vreeslik kwaai wees, en Tannie is nog so jonk,” sê hy verwytend. “My ouma Esmé is ook kwaai, maar sy is stokoud en sy het al lank geoefen. Sy sê dis ’n gril van die noodlot dat my ma nooit met die grondbaron getroud is nie, want die grondbaron sukkel nou al jare lank om ’n vrou te kry. En nou gril die noodlot weer, want hier is die grondbaron terug op die dorp, en waar sit my ma? Net die kabouters sal weet, want my lui ma sal nie haar hand lig om vir my arme ouma Esmé drie reëltjies te skryf nie. Dis wat my ouma Esmé sê.”
Mag die kabouters nooit vir Minette du Toit sê Wilhelm is terug op Bergvallei nie, hoop Erika vuriglik en wonder weer of Bartel gesien het toe Wilhelm haar soen.
“Wat soek jy agter die rusbank, Bartel? Is Jackie by jou?” vra sy ongeduldig.
“Dis my studeerkamer,” antwoord Bartel en beduie met sy hand wat die potlood vashou. “Gister het Tannie my uit die ander sitkamer gejaag, toe kom maak ek vir my hier ’n studeerkamer, want ek skryf nou my eie boek ook, sodat ek vanaand vir Jackie ’n storie kan lees. Mag ek nou nêrens vir my ’n studeerkamer maak nie, hè, Tannie? Tannie moet net sê as ek nie welkom is nie, want dan pak ek my tas en gaan bly by ons ouderling.”
“Julle ouderling?” vra Erika verslae.
“Ja, oom Hercules Otto. Hy het gesê ek kan maar by hom kom bly, want hy het nie kinders of kraaie nie, net ’n papegaai en ’n hond. En hy het ’n ogie op my ouma en ons plaas, La Rochelle, maar gelukkig weet my ouma Esmé dit, en nou hou sy hom aan ’n lyntjie sodat hy altyd vir haar los werkies in die tuin en die huis doen.”
“Genade . . . Bartel, met jou kennis behoort jy ’n treffer te skryf. Wat is jou storie se naam?” vra sy oorbluf.
“Die bloed loop oor die pad,” lees Bartel moeitevol sy eie handskrif, kyk op en merk Erika se uitdrukking van misnoeë, lag dan diep uit sy maag. “Hô-hô-hô! Ek het geweet Tannie sal gril!”
“Waar het jy daardie aaklige lag geleer, Bartel?” vra sy, geruster dat hy tog nie haar en Wilhelm se soen gesien het nie, want hy maak geen melding daarvan nie.
“Dis my geheime lag,” antwoord Bartel, geensins van stryk gebring nie. “As die rowers my in die donker in ’n hoekie vaskeer, dan lag ek net so: hô-hô-hô! en dan dink hulle ek is ’n groot sterk reus wat hulle sommer met een hou so kadoef! onderstebo sal klap. Hoor, Tannie, ek klink nes ons ouderling: hô-hô-hô!”
“Uitmuntend,” sê sy met die nodige bewondering en draai na die deur toe. “Gaan skryf maar solank jou storie verder, want ek gaan nou met oom Riaan gesels.”
Erika frons verwonderd toe sy by die eerste sitkamer inloer, die kaggelvuur gesellig sien brand, maar geen teken van Riaan gewaar nie. Sy draai om om na hom te gaan soek, maar bly staan toe sy harde stemme op die voorstoep hoor. Sy herken Karen en Kallie se stemme en stap vinnig na die voordeur toe en maak dit oop.
“. . . word nou soos hulle!” smaal Kallie wat met sy rug na die voordeur gekeer staan. “Is dit die grondbaron wat jou skielik