hy agter sy woorde aan die kombuis binne, met ’n lang, skraal jong man op sy hakke. “Daar staan sy, Oom. Dis sy wat met haar perd by ons kom kuier het,” vervolg Bartel en beduie met sy hand na Amalia.
“Hallo, Amalia,” groet die jong man, kyk na Erika en glimlag met onverbloemde bewondering vir haar. “Kallie Brink van die garage het my vertel Wilhelm het vir hom ’n stukkie porselein vir sy kombuis gekoop, maar ou Kallie het seker nie genoeg woorde gehad om jou te beskryf nie, juffroutjie. Ek is Morné Venter van La Rochelle. Jy is mos juffrou Marais, Henno se suster?”
“Haar naam is Erika en sy is nie van porselein of glas gemaak nie,” kom dit onverwags van Amalia. “Wat makeer jou vandag, Morné? Jy is skielik vreeslik vleiend en spraaksaam.”
“Bly te kenne, Morné,” sê Erika vinnig, bewus van Morné se blosende ongemak. “Amalia, jy het my meer as genoeg gehelp. Baie dankie.”
“Ek dink self so – die kos was nie soveel werd nie,” sê Amalia kwetsend en droog haar hande aan die kombuishanddoek af. “Kom, Morné. Ek het Christa en Gert beloof ons sal nie later as halfdrie by hulle wees om tennis te speel nie.
“Ons sien mekaar hopelik weer, Erika,” sê Morné en glimlag in haar oë. “Tot siens.”
“Tot siens,” groet Erika werktuiglik en droog dieselfde bord oor en oor af.
Morné is donkerblond met diepblou oë en sterk, egalige gelaatstrekke. Morné is ’n mooi man – die absolute teenstelling van Wilhelm met sy ruwe, gebeitelde gelaatstrekke, brons gelaatskleur, swart hare en glimmende, ysblou oë. Hy lyk soos die duiwel en tog is hy soveel aantrekliker as die mooi Morné vir haar, besef sy. Sy skrik vir haar eie gedagtes en draai dankbaar na Bartel wat ’n storie oor ’n leeu in die voortuin vertel.
Sy het laas so senuagtig en onseker van haarself gevoel toe sy op die eerste dag van haar onderwysloopbaan na die skoolhoof se kantoor ontbied is, dink Erika toe sy in die lang gang af loop en voor Wilhelm se studeerkamerdeur bly staan. Sy klop aan, hoor hom roep dat sy mag binnekom en maak die deur oop.
Sy sien eerste die skildery van ’n man wat Wilhelm kon gewees het, wat bokant die kaggelvuur hang. Sy raai dat dit die eerste grondbaron moet wees en blik dan vraend na Wilhelm wat met sy regterarm op die skoorsteenmantel leun en haar streng, byna vyandig betrag.
“Waarom het jy nie eerder aan my gesê jy en Riaan is verloof nie?” vra hy stroef en kom stadig op haar afgestap.
5
Dis ’n grap, ’n vreeslike groot grap, behalwe dat sy nie lus voel om te lag nie, dink Erika en soek vergeefs na enige teken van humor op Wilhelm se strak gelaat. Hy kom tydsaam nader, sy blik ysig op haar, en sy hande val swaar op haar skouers en laat haar soos ’n gevangene voel.
“Riaan het geen geheim van julle verlowing gemaak nie – waarom het jý?” vra hy en weer eens hoor sy die streng afkeer in sy stem.
“Gie-gie,” giggel sy gespanne, weet dis nie wat sy wou doen nie en frons dan hewig om hom van haar erns te oortuig. “Dis ’n misverstand, Wilhelm. Riaan sou nooit so iets gesê het nie, want dis nie waar nie.”
Sy kyk hom reguit in die oë, sien die uitdrukking van twyfel op sy gelaat en lag halfhartig.
“Riaan het jou net geterg . . . Hy wou net ’n grappie maak . . . Dis sommer ’n storie,” probeer sy verduidelik, maar besef sy klink elke oomblik minder oortuigend.
“Nee, Erika. Ek kan nie daarop aanspraak maak dat ek Riaan baie goed ken nie, want hy was maar ’n seun van agtien toe ek buiteland toe is, maar hy het intussen ’n man geword. Vir hom is julle verlowing, julle liefde vir mekaar, julle komende troue, van die allergrootste erns,” sê hy.
“O, nee!” Erika skud haar kop heen en weer, voel haar hare teen haar wange flap en hou dan dadelik haar kop stil. “Ek gaan nie trou nie . . . rêrig nie. Nie met Riaan nie. Om die waarheid te sê, ek voel nie eens verlief of verloof nie. Ek voel maar net soos ek.”
Sy praat te veel en sy weet dit, maar Wilhelm van Vollenhoven sal enige meisie se senuwees op hol jaag – veral as hy haar skouers vashou en in haar oë kyk asof hy na ’n verlore waarheid soek.
Hy is glad nie so lelik soos wat sy gedink het nie, besef sy, kyk op en raak verlore in die koel, lokkende dieptes van sy oë. En sy lippe is fyn afgeëts, selfs al is sy mond ferm, en as hy haar dalk sou soen . . .
“E . . . e . . . los my. My voet jeuk,” maak sy lomp verskoning, duik onder sy hande uit, neem op die naaste stoel plaas en vryf oor albei haar enkels en voetbrûe om heeltemal oortuigend te wees.
“Voete,” sê hy, en kyk op. Sy sien hom weer teen die skoorsteenmantel aanleun, maar soek vergeefs na ’n vonkie lag in sy oë. Hy kyk na haar, so vreemd en deurdringend, dat ’n diep blos van verleentheid haar wange rooi vlek en sy haar kop haastig laat sak.
“Vertel my wat gedurende julle vakansie in Durban gebeur het,” versoek hy, sy stemtoon ’n bevel.
“O . . . sommer niks nie,” antwoord sy, merk sy frons en vervolg haastig: “Niks besonders nie. Henno was mondig in Maart en ons het besluit om sy mondigwording en die feit dat hy toe sy erfenis uit my pa se boedel ontvang het, met ’n vakansie in Durban te vier. Ons hou nog al die jare saam vakansie, ek en Henno, want ons het eintlik net mekaar.”
“Tant Sophia sê jou moeder is weer getroud,” merk hy op.
Dan skinder Sophia agter haar rug saam met Wilhelm oor haar, dink Erika en voel veronreg, maar praat met ’n neutrale stemtoon voort. “Ja, my ma is weer getroud en ons het ’n gawe stiefpa en ’n spul – drie – stiefbroers en ’n stiefsuster. Hulle is almal al getroud, selfs my stiefsuster, en die hele huis is altyd vol stiefkinders en skoonkinders en kleinkinders en . . .” Sy swyg moedeloos en wonder of hy sal verstaan. “Daar is net te veel van hulle, daarom voel ek en Henno altyd oorbodig.”
“En in Durban ontmoet julle toe vir Riaan?” vra hy en laat haar voel haar verduideliking was onnodig.
“Ja, op die strand. Ons het maats geword en saans saam gaan eet en gedans en . . . so aan,” vertel sy onwillig.
“En toe vra Riaan jou om met hom te trou en jy sê ja, jy sal, want jy is nog altyd lief vir Bergvallei waar jy die eerste tien jaar van jou lewe deurgebring het. Dis so, nie waar nie?” vra hy en klink ergerlik.
“Nee, dis nie waar nie!” Sy gluur hom onthuts aan. “Is dit nodig dat jy alles weet? Ek is jou huishoudster omdat ek op die oomblik geen ander heenkome het nie, maar jy het my nie werklik gehuur nie en jy betaal my ook nie ’n salaris nie, Wilhelm. Wat laat jou dink jy het die reg om my oor my vakansie of my verhouding met jou broer uit te vra?” vra sy geraak, kom orent en staan uitdagend voor hom.
“Omdat Riaan my broer en ’n siek man is,” antwoord hy bruusk en vra ru: “Het jy hom al in die hospitaal besoek?”
“Hoe kon ek? Ek het gistermiddag eers hier aangekom.”
“Dan sal jy nie weet in watter geestelike toestand Riaan is ná die motorongeluk nie. Hy het klaarblyklik sy hande gebruik om sy gesig te beskerm, maar in die proses het hy sy hande erg beseer. Albei hande is in gips en die moontlikheid dat hy permanente skade het aan die senuwees en spiere wat die vingers beheer, is nie uitgesluit nie. Met ander woorde, ons weet nie in watter mate sy hande sal herstel nie en of hy dalk die res van sy lewe nie die gebruik van sy hande sal terugkry nie,” vertel hy, sy stem donker van erns.
“Ek . . . het nie besef die ongeluk was so ernstig nie,” kom dit ontsteld van Erika.
“Nee, maar nou weet jy. En nou sal jy ook besef waarom dit van die allergrootste belang is dat jy niks doen om Riaan verder te ontstel of ’n terugslag te gee nie. Hy het jou lief, Erika, en hy het my verseker dat julle verloof is, hoewel hy nog nie saam met jou ’n ring kon gaan kies nie. Dis tog die waarheid?”
“Nee!” Haar blik rus met hulpelose onmag op hom. “Riaan het my gevra om aan hom verloof te raak, maar ek het hom uitgelag . . . vir hom gesê hy is veels te haastig, dat ons mekaar