Bartel, wanneer ek weer tyd het om jou stories neer te skryf?” sê sy paaiend en voel buitensporig dankbaar toe sy Kallie Brink op sy motorfiets in die rylaan sien aankom. “Dit lyk my ons kry besoek,” vervolg sy en stap uit op die stoep.
Bartel wag net totdat Kallie sy motorfiets staan maak, prop dan sy hande in sy broeksakke en stap Kallie, wat die stoeptrap opklim, tegemoet.
“Jongie, jy mors net jou petrol, want Karen mag tog nie weer saam met jou rondflenter op jou motorfiets nie,” lig Bartel hom leedvermakerig in. “En jy kan bly wees die grondbaron is nie hier nie, want tant Sophia sê hy sal so ’n oliekannetjie soos jy sommer aan jou broek se sitvlak by die deur uitsmyt!”
“Bartel!” sê Erika berispend, bewus van Kallie se nouliks beheerde woede wat in ’n donker gloed oor sy gelaat sprei en smeulend in sy oë glim. “Goeiemiddag, meneer Brink. Kan ek help?” vra sy hoflik.
“Hoekom sê jy vir hom meneer, Tannie? Is hy dan ’n onderwyser?” vra Bartel vroom, wag totdat Kallie met moord in sy oë hom aangluur, en lag dan met ’n kamma basstem: “Hô-hô-hô! Ou Kallie was te lui om matriek te maak, toe word hy ’n ghriesbobbejaan! Hô-hô-hô!”
“Jou vervloekte . . .!” grom Kallie, maar Bartel storm by Erika verby die huis binne en klap die voordeur in Kallie se gesig toe.
“Ek is verskriklik jammer,” maak Erika ongemaklik verskoning. “Hy is net ’n kuiergas en eintlik het ek geen gesag oor hom nie.”
“Almal weet wie hy is: Minette du Toit se kind wat sy nie wil hê nie, en ou Esmé steur haar ook nie aan hom nie. Maar die grondbesitters kan mos doen wat hulle wil . . .” Hy kyk Erika in die oë, sy uitdrukking hard en verbitterd. “Ek sou ’n plaas geërf het, maar toe kom hy, die grondbaron, en dryf ons van ons plaas af. Nou werk ek in ’n garage en hy gee voor hy is die adel van die volk.”
“Maar hoe kon hy? Meneer Van Vollenhoven was tien jaar lank oorsee en al wou hy, kon hy seker tog nie jou pa dwing om sy plaas te verkoop nie?” vra Erika partydig en merk in die daglig dat Kallie, ten spyte van sy onvergenoegde uitdrukking, ’n aantreklike jong man is.
Hy het haar gesoen, onthou sy, en voel haar ore warm gloei. Sy hare is lank en is lank laas gewas, maar dis digte, swart hare met ’n natuurlike krul. Sy oë is swartbruin en omraam deur digte ooghare, en sy neus is kort en reguit, sy lippe vol. Sy ken is effens swak, maar as hy daaraan dink om ’n kenbaard te groei, sal hy ’n besonder aantreklike man wees.
“Jy ken nie die Van Vollenhovens nie?” vra hy, wag nie op ’n antwoord nie, maar vervolg: “Dit het met óú Wilhelm, die eerste grondbaron, begin. Hy wou net alles hê, elke sentimeter grond besit, want grond was vir hom belangriker as goed. Toe kom sy seun, die jong Wilhelm, en hy word ’n prokureur. Hulle sê die ou baron het byna ’n toeval gekry en baie het gehoop hy sou, maar hy het bly leef. Sy kleinseun is gebore, jong Wim, en toe word hy óók ’n prokureur, en weer het die ou grondbaron byna gesterf.”
“Wim was Wilhelm en Riaan se pa?” vra Erika, gretig om meer van die Van Vollenhovens se geskiedenis te hoor.
“Ja, oom Wim. Hy was lank hier op Bergvallei prokureur gewees, maar drie jaar gelede is hy ’n tweede keer getroud en sedertdien woon hy êrens in die Noordelike Provinsie. Ek het niks teen hom nie, maar dis die tweede grondbaron . . . Ek weet hy is Kaapstad toe, want hy het daar by ons garage brandstof gekoop en met my pa gesels.” Hy pers sy lippe op mekaar, sy oë geskreef terwyl hy oor die tuin uitstaar. “My pa het ook g’n trots nie, want hy is kruiperig vriendelik teenoor die grondbaron.”
“Maar die plase . . . al die grond, behoort dit nie aan Wilhelm en Riaan se pa nie? Hy leef tog nog,” sê sy verwonderd.
“As dit maar so was, want dan sou ek nou ons plaas kon teruggekoop het,” antwoord hy grimmig. “Nee, die eerste, ou grondbaron het selfs die dood uitoorlê, want hy was sewe-en-negentig toe hy dood is, en dit was lank genoeg sodat hy voor sy dood geweet het dat Wilhelm die tweede grondbaron sou wees. Wilhelm was agtien toe hy al sy oupagrootjie se plase geërf het – behalwe Drie Eike, want dié het na oom Wim gegaan, en hy het die plek aan sy jongste seun, Riaan, gegee.”
En Riaan het Drie Eike aan haar en Henno verkoop, dink sy, maar Wilhelm kon dit nie aanvaar nie. Wilhelm het ’n groot liefde vir die grond, maar sy kan nie glo dat hy enigiemand sal dwing om sy plaas te verkoop nie.
“Jy glo my nie?” vra Kallie asof hy haar gedagtes kan lees. “Wilhelm het sy lakeie en ou Naas Davel is in bevel van die spul skelms. Dit het goed gegaan met ons, maar toe skielik brand ons opstal en ’n groot deel van ons wingerd af . . . sommerso onverklaarbaar. My pa het probeer lenings kry, maar die deure was plotseling almal gesluit vir hom, en toe kom oom Naas Davel met sy aanbod om ons plaas te koop . . . tja!”
“ ’n Goeie aanbod?” vra Erika ingehoue.
“Niks is goed genoeg om vir ’n man se erfgrond te betaal nie!” snerp hy, merk hoe sy terugdeins en verkleur selfbewus. “Ek is jammer ek het geskree, maar dis net so onregverdig . . . Gelukkig is Karen nie soos haar hoogmoedige broers nie. Waar is sy? Ek het eintlik by haar kom kuier om ’n afspraak te maak.”
“Wilhelm het jou belet om Karen weer op jou motorfiets uit te neem,” herinner sy hom.
“Ek neem háár uit, nie hom nie, en as sý nie omgee nie . . . Toe, gaan roep haar,” sê hy bot.
“Ek kan nie, want sy het gaan perdry saam met Amalia Davel. Maar ek sal vir haar ’n boodskap gee,” belowe Erika.
Hy kyk na haar asof hy haar tog nie volkome vertrou nie, ’n broeiende lig in sy donker oë wat haar bedreig laat voel. Hy draai skielik weg.
“Sy moet net nie dink sy kan my aan ’n lyntjie hou nie – nie sy of een van die Van Vollenhovens nie, want ek sal weet hoe om hard terug te slaan,” sê hy, draai om en stap weg na sy motorfiets toe sonder om te groet.
“Gaan die oom vir Karen seermaak?” vra Jackie wat met haar arms styf om Erika roerloos na haar en Kallie se gesprek geluister het.
“Ek dink Kallie praat maar net groot, my poplap,” antwoord Erika terwyl sy Kallie se motorfiets agternastaar, maar sy kan ’n gevoel van tobbende onrus in haar binneste nie volkome ignoreer nie.
“Oom Wilhelm sê sy boetie, oom Riaan, het maskers aan sy hande. Is dit waar, Tannie?” vra Jackie langs haar.
Erika glimlag en gee haar ’n speelse drukkie.
“Ek dink ’n mens kan so sê, want sy hande is in gips. Maar ek wou jou nog iets gesê het: as jy weer in die nag na jou mamma verlang, kan jy na my toe kom. Ek wil nie hê jy moet hartseer en alleen wees nie.”
“Ek kan nie, want ek haal my masker af en dan . . . dan . . . Het tant Sophia vir Tannie vertel hoe vreeslik lelik ek is? Eers was my kop so groot en vet opgeswel, maar nou lyk dit al beter . . . Tant Sophia sê so. Sy sê ek is mooi vir haar, maar dalk kan sy nie so goed sien nie, want haar hare is al amper wit,” vertel Jackie, maar verlange om werklik weer mooi te wees, maak haar stemmetjie yl.
“As dit donker is, sal ek jou nie mooi kan sien nie en ek sal onthou om nie my lig aan te skakel nie,” beloof Erika.
“Sowaar, Tannie?” Jackie se blou oë blink deur die loergaatjies van haar masker. “Dan sal ek kom, want Bartel se stories maak my baie bang.”
“Bartel hou maar net van grillerige stories omdat hy ’n seun is,” sê sy paaiend en stap saam met Jackie weer die huis binne. Sy wens dat Sophia daar was sodat sy haar kon uitvra wat werklik op die Brinks se plaas gebeur het, maar sy hoop terselfdertyd dat Sophia en Wilhelm nie gou sal terugkeer van Kaapstad af nie, want dalk kom Riaan vandag saam terug huis toe.
Erika het waterblommetjiebredie vir aandete gekook, net ingeval Riaan wel huis toe kom, want Sophia het haar laat verstaan dis sy geliefkoosde dis. Erika sit langs die groot kombuistafel en haal geduldig elke skerp beentjie en stukkie kraakbeen uit die skaaprib wat sy vooraf gaargemaak het, gooi dit in ’n leë bak, en roer die vleis opnuut deur om verdere bene te ontbloot.
“Flukse