dra!”
“Verskoon my, asseblief,” sê Erika met uiterlike kalmte en staan op. “Dis tyd dat ek met die aandete begin.”
“Maar . . .” Riaan is onmiddellik op sy voete, sy gelaat ’n toonbeeld van verdwasing. “Wat dan van ons verlowing, Erika?”
“Wat daarvan, Riaan?” vra sy bedaard.
“Is jy nie bly nie? Wanneer gaan ons jou ring koop? Gaan jy my nie soen nie?” vra hy verward.
“Nee, Riaan, want ek is nie bly nie; ek wil nie saam met jou ’n ring gaan koop nie, en ek gaan jou beslis nie soen nie.” Sy merk sy verbystering en ongeloof en glimlag liefies. “Om die waarheid te sê, jy maak my oneindig siek, Riaan . . . sieker as wat selfs jý is. Verskoon my, asseblief.”
Sy wag nie op sy reaksie nie, stap die studeerkamer vinnig uit en trek die deur agter haar toe met ’n gevoel dat sy ’n einde aan ’n onsmaaklike episode in haar lewe gemaak het.
Erika voel die drif oor Riaan se vernederende woorde stadig uit haar vloei toe sy die ruim kombuis binnestap en die groot koolstoof warm sien gloei. Dis ’n middag vir pannekoek, pypkaneel en suiker, want dis winter en ’n grou reëndag, wat deur ’n pannekoek-herinnering oor twintig jaar nog as ’n sonskyndag onthou sal word, dink sy en haal meel en bakpoeier uit die kombuiskas.
“Sjoe, maar dis koud en nat, Tannie,” praat Bartel uit die agterdeur en kom met Sophia se natgereënde geblomde voorskoot oor sy kop by die agterdeur ingestap. Hy klap die deur agter hom toe en stamp water en modder van sy skoene af. “Het Tannie al gehoor ’n kat sê sies met sy pootjies as hy nat word? Ek voel net so: sies, ek is nat!”
“Waar op aarde kom jy vandaan, aspatat?” vra Erika, bewus van die stukkie warmte wat Bartel se teenwoordigheid in haar binneste bring.
“E . . . ek het gaan . . . jag, Tannie. Sien, Tannie, dit reën mos nou al dae en dae aaneen, en toe ek netnou nog so lekker saam met Jackie speel, toe hoor ek so sjoep-sjoep! hier buite die huis, en toe weet ek: dis ’n walvis en ek moet hom gaan jag,” vertel hy met dodelike erns.
“En waar kom die walvis vandaan, Bartel?” vra Erika met dieselfde erns as hy.
“Uit die see, natuurlik. Tannie kan mos dink die see het al voller en voller geword van al die reën, en nou kom die see al hier tot by ons op Bergvallei!” Bartel frons nadenkend. “Ek wonder of al die mense in Kaapstad verdrink het? Die haaie sal darem lekker piekniek hou!”
“Jêg.” Erika staar hom verwytend aan. “Kan jy nie een storie sonder bloed en lyke vertel nie, Bartel?”
“Ek kan, maar ek bêre hulle vir ou Jackie, want sy tjank so maklik. Gaan Tannie vir ons pannekoek bak? Kan ek die eerste een kry? Kan ek sommer een vir Jackie kry en nog een vir my, hè, Tannie?” pleit Bartel en stamp byna vir Erika voor die stoof weg in sy gretigheid om te sien wat sy doen.
“Vertel my eers waarom is jy so deurnat, Bartel, en waarom het jy nie jou reënjas en reënstewels aangetrek toe jy buitentoe is nie,” hou sy vol.
“E . . . daar was ’n reus . . .” begin hy, kyk hoopvol na haar en sug hard en moedeloos toe Erika haar kop aanhoudend skud. “Wil Tannie nie ’n mooi storie hoor nie? Ek ken baie mooi stories . . . sommer troppe stories.”
“Nee, Bartel, dié keer wil ek die waarheid hoor,” sê sy met finaliteit.
“Foei tog, Tannie, ek sal vir Bartel help,” sê Jackie agter Erika en kruip onder die groot kombuistafel tussen die stoelpote uit, ’n ou, verbleikte teddiebeer met ’n groot mansakdoek om sy kop en gesig onder haar een arm. “Bartel het voor die studeerkamervenster gaan sit en luister wat al die grootmense gesels, sodat hy my kan vertel, want dan skinder ons lekker.”
“Oor die grootmense?” vra Erika sonder om ’n gesigspier te vertrek.
“Ja, Tannie.” Jackie knik. “Ons skinder en skinder en kies van wie ons die meeste hou.”
“Tannie hoef haar nie te glo nie,” sê Bartel ongemaklik en probeer dapper om te glimlag. “Sy is nog maar klein, nè, Tannie? En partykeer . . . e . . . droom sy dinge.”
“Maar ek het mos nie nou geslaap nie, Bartel,” maak Jackie gegrief beswaar.
“Jy het dus in die reën voor die studeerkamervenster gesit en ons . . .” begin Erika kwaai, maar swyg toe sy swaar, haastige voetstappe in die gang hoor nader kom en Wilhelm hoor praat nog voordat hy die kombuis binnekom.
“Is jy hier, Erika? Ek moet dringend met jou gesels.”
Wilhelm is kwaad, besef sy, draai om en sien hoe Bartel en Jackie onder die kombuistafel in verdwyn juis toe Wilhelm die kombuis binnekom.
“Ek kan nie my onverdeelde aandag aan jou skenk nie, want ek is besig om pannekoek te bak, maar gaan maar voort,” antwoord sy, voel ’n krieweling langs haar ruggraat afglip en draai vinnig terug na die stoof.
“Jy het belowe, Erika.” Sy hoor die beskuldiging in sy stem en hou haar gelaat afgewend. “Riaan is in ’n verskriklike toestand. Gelukkig is Amalia nou by hom om hom te troos.”
“Hoera vir Riaan,” sê sy oënskynlik gevoelloos.
“Ekskuus?” Wilhelm klink asof hy sy eie ore nie kan glo nie.
“Sy het gesê hoera vir Riaan, oom Wilhelm,” help Bartel hom reg en kruip onder die tafel uit. “Oom het seker wasproppe in Oom se ore, daarom kan Oom nie so goed hoor nie. As Oom dokter toe gaan, sal hy –”
“Bartel, kruip terug onder die tafel in,” val Erika hom pleitend in die rede.
“Goed, Tannie, maar oom Wilhelm moet sy wasproppe laat uitspuit, anders word hy so doof soos ’n pampoen,” maan Bartel en kruip onder die tafel in.
“ ’n Kwartel, Bartel,” sê Erika werktuiglik. “Oom Wilhelm is so doof soos ’n kwartel.”
“Tannie moet dit liewer nie sê nie, want dit lyk my hy wil Tannie klap,” waarsku Bartel tussen die stoelpote uit en verdwyn dan buite sig.
“Erika, ek kan nie met jou praat in die teenwoordigheid van ’n gehoor nie, selfs al is hulle onsigbaar. Kan die pannekoek nie ’n oomblik lank wag nie?” vra Wilhelm met nouliks bedekte woede in sy stem.
“Moenie jou kwel nie, Wilhelm. Bartel ken die hele storie, want hy het buite in die blombedding na my en Riaan se gesprek gesit en luister, en tant Sophia hou altyd die vensters op ’n skrefie oop, selfs in die winter. Jy wou sê?”
“Waarom het jy geweier om aan Riaan verloof te raak?” vra hy bruusk.
“Omdat sy hom naar op haar maag maak,” vertel Bartel en kruip ’n tweede keer onder die tafel uit. “Ek het self gehoor, oom Wilhelm. Tannie Erika het vir oom Riaan gesê hy maak haar siek, en sy wil nie sy ring hê nie en sy sal hom nie soen nie. Sy soen my elke aand nag, maar dis seker omdat ek mooier as oom Riaan is.”
“En dis die volle waarheid,” sê Erika, waag ’n vinnige kyk na Wilhelm wat tronend langs haar staan, en knyp dan haar oë toe asof sy vir sy gesig geskrik het.
Hy is kwaad, woedend, besef sy, want sy oë is twee splete, sy gelaat ’n granietharde masker van drif. Dalk gee hy haar en Henno se geld terug en steek haar in die pad, want per slot van rekening het sy hom beloof om Riaan te pamperlang, dink sy en byt op haar onderlip.
Miskien moes sy haar trots gesluk en Riaan sy sin gegee het, maar sy selfvoldane houding, sy minagting omdat hy glo sy het agter hom aangeloop . . .
Sy skuif die pan van die voorste plaat af en kyk Wilhelm vol in die gesig.
“Jy het dit al geïnsinueer en vandag het Riaan dit in my gesig gesê: ek het agter hom aangery, daarom moet ek dankbaar wees dat hy my met ope arms ontvang en bereid is om aan my verloof te raak. Ek gee nie om aan watter siekte – aansteeklik of andersins – jou broer ly nie, Wilhelm, maar géén man sê so iets aan my nie. Ek en Henno het net een ding gesoek: ’n eie dak oor ons kop. Ons huis. Net ons s’n. Soos