tant Elsa haar oor jou begin bekommer.”
“Moenie jok nie, Wouter,” kap sy dadelik terug. “Dis glad nie oor tant Elsa se sogenaamde bekommernis dat jy haastig is om terug te gaan nie. Ek begin die rit nou eers werklik geniet, en nou wil jy al weer teruggaan.”
“Môre is nog ’n dag,” herinner hy haar. “ ’n Mens moenie hierdie soort ding op een dag oordryf nie. Ek is darem bly om te sien dat jy nie meer vir Lady bang is nie. Ons kan die perde se pas effens versnel as jy daarvoor kans sien.”
“Wel, ek het darem nog nie een keer afgeval nie, dus kan ons die pas maar ’n bietjie versnel,” stem sy geredelik in.
Lecia voel nou heeltemal op haar gemak in die saal. Trouens, sy is nou glad nie spyt dat Wouter haar gedwing het om te leer perdry nie. Dis heerlik om die veld so oop en wyd om jou te sien.
“Lady is ’n mak perdjie,” sê Wouter. “Sy sal jou nooit afgooi nie, behalwe as sy skrik, natuurlik. Maar dan sal jy sommer self afval as jy jou sit nie ken nie. In elk geval, ry voor, ek wil kyk of jy darem al jou sit ken.”
Hm, hy moet seker dink ek is ’n bobbejaan, dink sy gesteurd, maar voldoen nietemin aan sy versoek.
Daar is goedkeuring in Wouter se blik toe hy haar agterna staar. Sy sit nie sleg nie, gesels hy in sy gedagtes met homself. Sy het net oefening nodig. Ja-nee, die klein rissie van ’n Brank sit glad nie sleg nie . . .
Wouter sit nog ewe ingenome met homself en gesels, toe sien hy hoe ’n swerm tarentale lawaaierig vlak voor Lady opvlieg en die swart perd verskrik agteruit laat steier. Hy versnel dadelik Blits se pas, want dit is vir hom baie duidelik dat Lady nou senuweeagtig is, en dit met die ongeskoolde Lecia op haar rug. Maar voordat hy Lady kan bereik, val Lecia van die perd af en rol eenkant toe, weg van die verbouereerde dier af.
Nou gaan die duiwel los wees, dink hy. Hy ken mos die klomp Branks – hierdie een het net so ’n slegte humeur soos al die ander. Hy hoop net Lecia is nie ernstig beseer nie, maar so op die oog af lyk dit darem nie of sy haar bewusteloos geval het nie, en dis al ’n seën op sigself.
Blits het nog nie eens behoorlik tot stilstand gekom nie, toe is Wouter al uit die saal. Hy bind die toom haastig aan die naaste bos vas en gaan kniel besorg langs die rooikop wat nou stadig regop sit. Haar gesig is opmerklik bleek, met ’n yslike stofstreep oor die een wang.
Wouter bedwing ’n glimlag met groot moeite. Lecia lyk vir hom op die oomblik soos ’n verwaarloosde meisietjie wat lanklaas met water en seep kennis gemaak het, maar haar twee opstandige groen oë, wat soos smaragde blink, is beslis nie dié van ’n weerlose weeskindjie nie. Sy lyk inderdaad omgekrap en uit haar humeur.
“Het jy seergekry?” vra hy besorg, sy blik ondersoekend op haar bleek gesig.
“Natuurlik het ek seergekry!” antwoord sy ongeduldig. “Of dink jy ek het op ’n verebed geval?”
“Ek praat nie van daardie soort seer nie,” help hy haar geduldig reg. “Ek wil weet of jy ’n arm of ’n been gebreek of dalk ’n enkel of ’n gewrig verstuit het.”
Sy kyk hom ietwat beteuterd aan. “Ek weet nie, Wouter,” antwoord sy gelate. “Dit voel asof alles gebreek is, behalwe my nek. Maar dis mos al waaroor jy besorg is . . . ek bedoel nou, dat my nek heel en in een stuk moet bly.”
Wouter voel nou werklik bekommerd. Miskien is dit omdat sy so beteuterd lyk en haar stem so gelate klink. Hy ken haar nie so nie.
“Kan jy darem jou arms en bene beweeg?” vra hy onrustig.
“Ja, man, ek kan alles beweeg,” kom dit nou weer effens ongeduldig, “maar ek sê jou, ek is verbaas dat ek my nie stukkend geval en bene gebreek het nie. Ek kon dood gewees het! Ek het my skoon bepieries geskrik toe Lady so gevaarlik agteruit steier en . . . Waar is sy, Wouter?”
“Hier staan sy agter jou, maar sy is baie senuweeagtig en verbouereerd. Ek sal haar eers moet kalmeer voordat jy weer in die saal kan klim.”
“Wouter,” vra sy na ’n rukkie, nou blykbaar oor die ergste skok van haar val, “watse ellendige voëls is dit wat Lady so laat skrik het?”
Lecia se skerp, reguit blik wat nou op Wouter rus, lewer duidelik bewys dat sy al weer haar val vergeet het, of altans, dat dit momenteel van minder belang is. Sy stel nou in die voëls belang, en is wyle oom Isak in lewende lywe. Dié was net so. Hy het altyd met ’n doel in ’n ding belanggestel.
“Dit was tarentale,” antwoord hy. “Die goed is vervuil hier in die veld.”
“Wel, hulle gaan nie meer lank vervuil wees nie, dit verseker ek jou,” kom dit ernstig en vasberade van Lecia waar sy sit met haar arms gemaklik om haar knieë gevou en Wouter met die blik van ’n diep denker beskou. “Ek gaan vir my ’n vuurwapen koop, Wouter, en jy gaan my leer om te skiet. Ek wil al hierdie ellendige voëls kom uitroei.”
Wouter kyk haar aan en glimlag verlig. Hy is bly dat sy nie baie seergekry het nie. Hy het verwag dat sy hom van ’n kant af sou uittrap omdat hy haar feitlik gedwing het om te leer perdry. Maar weer eens het sy bewys dat sy ’n volbloed-Brank is en haar nie maklik laat afskrik nie. Oom Isak het haar beslis nie verkeerd opgesom nie.
“Dis nie nodig om ’n vuurwapen te koop nie, kleinding. Ek het ’n ligte haelgeweertjie by die huis waarmee ek jou sal leer skiet,” bied hy aan.
“Sal ek die tarentale daarmee kan uitroei?” Sy kyk hom met ’n ernstige gesiggie aan.
“Met daardie geweertjie sal jy skoonskip maak van die hele tarentaalgeslag, my hartjie,” verseker hy haar, maar dan frons hy meteens. “Sê nou eers vir my waarom jy so maklik van jou perd afgeval het. As jy stewig in die stiebeuels vasgetrap en jou behoorlik gebalanseer het, sou jy nie afgeval het nie, weet jy?”
“O, dis daardie vervlakste Arrie se skuld,” sê sy, nou weer duidelik onthuts. “Maar sy velle gaan waai sodra ek tuis kom. As ek nie na hom geluister het nie, sou ek miskien nie eens afgeval het nie –”
“Wat bedoel jy, as jy nie na hom geluister het nie?” val Wouter haar in die rede. Sy stem is sag, maar daar is ’n gevaarlike uitdrukking in sy blou oë.
“Nee,” sê sy, “hy het geweet te vertel dat ek my voete uit die stiebeuels moet skop sodra dit voel asof ek wil val. Nou ja, toe Lady so agteruit steier, skop ek mos my voete uit die stiebeuels. En dis net waar ek die fout gemaak het, want toe sy na links swenk, het ek geen vastrapplek gehad om my te balanseer nie. Dis dié dat ek aan die ander kant afgetuimel het. Arrie gaan verjaar sodra ek tuis kom en dis nie altemit nie.”
“Nee, los hom maar vir my. Ek sal sy sake vir hom werk,” keer Wouter. Hy kyk Lecia besorg aan en vra sag: “Hoe lyk dit, sien jy kans om huis toe te ry, of voel jy nou skrikkerig vir Lady?”
Lecia lag saggies terwyl sy hom ondeund aankyk.
“Al voel ek ook hóé skrikkerig,” sê sy na ’n rukkie, “sal jy my tog op die ou end in die saal dwing, Wouter. Jy kla oor my humeur, maar jý is ’n eiegeregtige, oorheersende vent en soms absoluut ondraaglik.”
Hierdie eerlike beskrywing van hom laat Wouter geamuseer glimlag.
“Ons twee is nogal nie ’n slegte kombinasie nie,” sê hy. “Ons sal Blouberg met ’n ysterhand regeer.”
“Jy bedoel, jy sal regeer en ek sal maar op alles ja en amen moet sê,” merk sy ondeund op. “Ek ken jou soort.”
“Rissie,” sê hy met ’n skewe glimlag en kom sonder meer orent. “Kom, laat ek jou ophelp. Dis tyd dat ek aandag aan Lady gee.”
“Sê eers vir my, Wouter, sal jy my môre al leer skiet?” vra sy met ’n verleidelike glimlaggie en ’n stroopsoet stem. Dis ’n kunsie wat sy kleintyd al geleer het en dikwels op haar pa toegepas het, veral as sy hom ’n groot guns wou vra.
Ook Wouter is op die oomblik vatbaar vir hierdie beproefde tegniek van haar. Miskien is dit haar vuil gesiggie wat so ’n teer snaar in hom roer en hom laat voel dat hy haar altyd naby aan hom wil hê om haar