het toe hy sy testament opgestel het.”
“Vlieg maan toe met oom Isak se testament en al, Wouter, en bly daar!” is al wat Lecia hom in haar drif kan toevoeg. Sy kan nie begryp hoe dit moontlik is dat ’n geleerde man soos Wouter met tye so onnosel kan wees nie. Dit sal mos ’n groot bate vir Dennevlei wees as sy ’n paar kinders se musiektalent kan ontwikkel.
Maar sy het al agtergekom dat Wouter soms so steeks soos ’n donkie kan wees, en wanneer hy in so ’n steekse luim verkeer, baat dit ’n mens absoluut niks om met hom te redeneer nie. Derhalwe besluit sy om hierdie onderwerp liewer weer by ’n ander geleentheid aan te roer.
Na die ete gaan Lecia na haar musiekkamer toe, waar sy haar musiekboeke en ander goed uitpak. Daarna neem sy ’n tydskrif en gaan sit op die voorstoep. Sy sou graag voor die deur onder die seringboom op die tuinbankie wou gaan sit, maar sy voel nog te lugtig vir tant Elsa se ou bokram wat so vry op die werf rondloop.
Sy blaai stadig deur die tydskrif, maar haar gedagtes is glad nie by die inhoud daarvan nie. Sy dink aan haar val vanoggend en aan die tarentale wat sy wil gaan jag. Wouter moet haar net leer om sekuur te skiet.
Nou dink sy weer aan die bepalings van wyle oom Isak se testament, en die feit dat sy, ’n stadsmeisie, moet leer om te boer. Sy wonder hoe boer ’n mens. Sy weet dat ’n land eers omgeploeg moet word voordat ’n mens kan saai, maar dit is ’n kleinigheid, meen sy. As ’n mens ’n motor kan bestuur, sal ’n trekker sommer kinderspeletjies wees.
Nee wat, besluit sy, om te boer is bepaald nie die ergste wat met haar kan gebeur nie. Wat is nou daaraan om ’n ou landjie met ’n trekker om te ploeg? Die trekker doen mos al die werk, nie sy nie. En wat die kookkuns betref . . . Nou ja, tant Emma het gesê ’n mens kan sonder moeite uit ’n resepteboek leer bak en brou. Dus sal die lewe hier op Blouberg tog nie so moeilik wees soos wat sy aanvanklik gedink het nie. Dit sal in elk geval net ’n jaar wees. Daarna sal sy haar deel van die plaas aan Wouter verkoop en kan sy weer na Johannesburg en die beskawing teruggaan.
So sit Lecia die res van die middag op die stoep en prakseer, totdat dit haas tyd is vir aandete. Hier op Blouberg word aandete gewoonlik vroeg opgedien.
Die donderende geklap van hoewe laat haar vlugtig opkyk, net betyds om Wouter en Blits in die rigting van die stalle te sien verdwyn.
“Kragtie, maar dis warm,” begroet hy haar ’n rukkie later toe hy binnekom en op ’n stoel regoor haar plaasneem. Hy vee die sweet met sy sakdoek van sy voorkop af en leun gemaklik terug in die rottangstoel. “Jy lyk net so koel soos ’n blom waarop die môredou nog blink,” glimlag hy haar toe. “Het jy geswem?”
“Nee, waar swem ’n mens in hierdie geweste?” Sy kyk hom vraend aan en wonder of hy verwag dat sy hier agter die huis in die eende se modderdam moet swem. Vir die rivier met sy krappe voel sy bra skrikkerig.
Wouter verras haar egter toe hy sê: “ ’n Mens swem hier bo in die bergpoel. Sodra jy goed kan perdry, sal ek jou gaan wys waar die plek is. Intussen moet jy maar hier onder in die rivier swem.”
“Nee, dankie,” sê sy vinnig, “ek is allergies vir Blouberg se krappe. Ek sal wag totdat jy my die bergpoel gaan wys.”
Terwyl Lecia praat, dwaal Wouter se blik na haar lang, ligpienk vingernaels en ewe pienk toonnaels wat guitig by die sandale uitloer. Die meisiekind is vir hom inderdaad oulik en fyntjies, met haar vroulike kurwes presies op die regte plekke. Sy blik dwaal na haar hartvormige gesiggie in ’n raamwerk van blink, rooibruin krulle. Stadig skuif sy blik na haar donker wenkbroue en lang wimpers, haar groot, smaraggroen oë waarvan die kleur verander na gelang van haar emosies, die fynbesnede neus, sensitiewe mond en parmantige ken.
“Waar is die familiekerkhof, Wouter?” vra sy.
“Wil jy na oom Isak se graf gaan kyk?”
Daar is ’n terglustige trek in sy oë en Lecia vererg haar oor sy onnodige vraag. Hy weet tog hoe sy oor wyle oom Isak voel.
“Ek stel nie in ’n mal Brank belang nie,” antwoord sy snedig. “Ek koester ook hoegenaamd geen planne om die ou skelm se graf te besoek nie. Ek het jou die vraag gestel omdat ek graag my voorouers se grafte wil sien.”
“Jy is ’n ondankbare mens, Lecia,” sê hy ernstig. “Nadat oom Isak die helfte van Blouberg aan jou bemaak het, skel jy hom uit vir ’n skelm en –”
“Dink jy miskien dat hy my ’n guns daardeur bewys het?” maak sy hom vinnig stil.
“Natuurlik het oom Isak jou ’n guns bewys. Hy het derduisende rande se waarde aan jou bemaak,” herinner hy haar.
“Derduisende . . . inderdaad! Jy yl, man. Laat ek jou dit vertel: oom Isak het dit nie uit die goedheid van sy hart gedoen nie, want daar wás nooit goedheid in sy hart nie. Die helfte van Blouberg het my pa toegekom, en die ou skelm van ’n oom Isak het dit al die jare geweet . . . Nee, moet jou nie met dié ou heiden vergis nie. Dis maar net my pa se erfdeel wat aan my bemaak is.”
Wouter skud sy kop en glimlag onderlangs. Hy ken die hele geskiedenis van die emosionele en roekelose Brank-geslag van Blouberg, vandat die eerste Brank hom driehonderd jaar gelede hier op Blouberg kom vestig het. Elkeen se geskiedenis is geboekstaaf, en oom Isak het hom, Wouter, die taak opgelê om met Lecia se geskiedenis voort te gaan van waar hy ’n paar dae voor sy dood opgehou het.
Hy wonder of Lecia ooit weet dat hul van oorspronklik Branco was en dat dit met die verloop van jare na Brank verander het. Hy wonder of sy weet dat hul stamvader van drie honderd jaar gelede, Isaco Branco, ’n Spaanse seerowerkaptein was wie se skip langs die suidkus gestrand het. Hy wonder ook of sy weet dat Isaco Branco se vrou ’n Franse edeldame was, wat hy ná sy laaste seegeveg as buit geneem het.
Dis waar, die Branks van Blouberg het slegte bloed sowel as adellike bloed in hul are. Hy moet Lecia tog aanmoedig om die geskiedenis van haar roekelose voorvaders te lees. Moontlik sal sy dan ook besef dat haar pa, nadat hy Blouberg vir goed verlaat het, sy erfdeel deur sy eie optrede verbeur het.
“Wanneer wil jy kerkhof toe gaan?” vra hy. Sy blou oë neem haar noukeurig waar. Al wat sy van haar voorvaders geërf het, is haar vurige temperament, haar rooibruin hare, groen oë en daardie skerp, reguit blik wanneer sy kwaad is. Haar fyn gelaatstrekke is nie dié van haar voorvaders nie.
“Aangesien jy my môreoggend moet leer om met ’n geweer te skiet, kan ons môreaand ’n draai by die begraafplaas maak,” sê Lecia. ’n Ondeunde uitdrukking verskyn meteens in haar oë toe sy vervolg: “Ek hoor Katrien sê dit spook in die kerkhof. Maar wie van die klomp Branks is nou eintlik die kêrel wat so gesellig daar spook, Wouter? Is dit oom Isak?”
Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlag aan. “Ek sal nie kan sê nie, kleinding. Die mense sê daar is baie spoke in Blouberg se kerkhof.”
“Wel, ’n mens kan eintlik niks beters van so ’n klomp verwag nie, nè?” Sy begin meteens saggies lag en kyk Wouter met blink oë aan. “Ek sou geen spook aanraai om hier in die huis te kom spook nie, want dan gaan hy met my te doen kry. Ek is nie bang vir spoke nie – allermins vir ’n Brank-spook. Ek sal sy fortuin vir hom so padlangs vertel, hy sal wens dat hy liewer elders gaan spook het. Maar sê my, wie is die ou klomp geraamde baardmanne wat die sitkamer se mure so kwistig versier?”
Wouter lag lank en lekker.
“Daardie geraamde baardmanne is almal jou voorvaders – behalwe oom Isak, natuurlik – en elkeen het diep spore hier op Blouberg getrap,” vertel hy nadat sy lagbui bedaar het. “Jul ou stamvader is ook tussen die indrukwekkende groep baardmanne.”
“Indrukwekkend!” Sy kyk hom snaaks aan, so asof daar iets met sy verstand skort. “Hm, hulle lyk vir my bra wild met daardie baarde en snorbaarde. As hulle nie so bebaard was nie, sou hulle stellig aantreklike mans gewees het soos my pappie. Maar wat ek eintlik wou sê, jy moet my tog wys wie die stamvader van die klomp is, Wouter. Ek vermoed dis die oubaas met die spits baard en weglêsnor, die een wie se hare in ’n vlegsel agter sy nek hang. ’n Mens kan sommer sien sy kleredrag dateer van die jaar nul.”
Wouter kom