kleinding,” belowe hy plegtig, “ek sal jou môre leer skiet. Jy moet net nie mense gaan staan en doodskiet as hulle jou die duiwel in maak, of dalk jou skietkuns op tant Elsa se pluimvee en varke beoefen nie. Jy moet net die tarentale vir ons kom skiet.”
“Maar ek het mos gesê ek wil die ellendige tarentale kom uitroei, Wouter. Of het jy my nie mooi gehoor nie?”
“O, ek het jou gehoor. Gee my jou hand sodat ek jou op jou voete kan help. Ons het nou lank genoeg hier gesit en klets. Ek het nog baie werk wat vandag afgehandel moet word,” herinner hy haar.
Met die vaardigheid van ’n dierekenner neem dit Wouter nie lank om Lady te kalmeer nie. Intussen stof Lecia haar klere af. Dit lyk asof sy in ’n geveg betrokke was, maar sy is blykbaar onbewus daarvan dat haar gesig vuil is. Wouter haal sy sakdoek uit, lig haar gesig op en vee die stofstreep saggies van haar wang af.
Met haar fynbesnede gesiggie nog steeds in sy hand, kyk hulle etlike sekondes lank diep in mekaar se oë. Toe is dit meteens asof ’n elektriese stroom deur hulle spoel en hulle intens van mekaar bewus raak – nie soos ’n aangenome neef en niggie nie, maar soos twee mense wat diep tot mekaar aangetrokke voel.
Net soos Wouter, is Lecia bewus van iets vreemds wat in haar roer, iets wat sy nog nooit voorheen ervaar het en wat sy glad nie kan peil nie. Al wat sy weet, is dat sy van hierdie groot, bedaarde man hou en dat sy aanraking haar nie in die minste afstoot nie. Maar dan begin Blits skielik uitbundig runnik, en dis asof albei tot verhaal kom.
“So ja,” sê Wouter en steek sy sakdoek ongeërg in sy sak. “Jou gesig is nou weer skoon, dus kan ons maar gaan.”
Nadat hy Lecia in die saal gehelp het, klim hy op die wit hings se rug en neem die terugtog ’n aanvang.
Lecia voel aanvanklik skrikkerig vir Lady, maar toe sy sien dat die swart perd geen tekens van senuweeagtigheid toon nie, begin sy die rit weer terdeë geniet. Sy en Wouter gesels ewe gemeensaam. Hy vertel haar van sy kinderjare hier op Blouberg, en sy luister aandagtig en belangstellend. Daarna vertel sy hom van die twee jaar wat sy in die buiteland deurgebring het.
4
In ’n gemoedelike stemming hou hulle later voor die agterdeur van Blouberg se woonhuis stil. Voordat Wouter haar kan bystaan, klim Lecia behendig van die perd af. ’n Opgeskote seuntjie is dadelik by om die teuels te neem.
“Ek sal Arrie aanstons onder hande gaan neem –” begin Wouter, maar Lecia skud haar kop heftig.
“Ek dink ons moet hom maar laat begaan, Wouter,” sê sy bedaard. “Hy het dit bepaald goed bedoel toe hy aanbeveel het dat ek my voete op ’n kritieke oomblik uit die stiebeuels moet skop. Ek dink die fout lê by my. Ek het my voete op die verkeerde oomblik uit die stiebeuels geskop.”
“Jy praat maklik, jy kon dood gewees het.”
“Vergeet dit, ek is nié dood nie. Trouens, ek het nog nooit meer lewe in my gehad as op hierdie oomblik nie. Kom, laat ons vir tant Elsa gaan sê ons is terug. Miskien kry ons koffie.”
Wouter glimlag net skeef, maar sê niks nie.
Tant Elsa is die ene besorgdheid toe sy hoor dat Lecia van die perd afgeval het.
“Ag, kind,” teem sy, “so kon jy ook vandag dood gewees het, en ons het maar nou die dag vir arme Isak aan die dood afgegee.” Sy sug soos iemand wat swaar laste dra. “Ja,” gaan sy temerig voort, “die grond op sy graf is nog klam, en amper moes ons al weer . . .”
“Ag, nee wat, tant Elsa, hoe is tante dan nou so swaarmoedig?” werp Lecia ernstig teë. ’n Honderd tergduiweltjies verskyn meteens in haar oë toe sy vervolg: “Lady sal my nie doodkry nie, tante. Vra gerus vir my tant Emma. Sy sal vir tante sê dat ek vir die galg gebore is . . .”
Wouter se hartlike lagbui maak ’n einde aan wat Lecia nog alles wou kwytraak.
“Sy sal dit nie vir mý sê nie, Lesie,” kom dit baie verontwaardig van tant Elsa. “Wat weet jou ta’ Emma tog van die Branks van Blouberg af? Ek ken die Branks al baie jare, van die tyd van die groot runnerpes af toe jou oupa so ’n wilde penkop was. Ag, kind, daar was met hom geen huis te hou nie. Hy het nie ’n bang haar op sy kop gehad nie . . .” Sy bly meteens stil asof sy totaal vergeet het wat die onderwerp van bespreking was en vervolg ewe bedagsaam: “Maar wag, laat ek eers vir julle koffie maak.”
Lecia bedwing die glimlag wat aan die een hoek van haar mond pluk, maar sy voel dat dit ’n sonde sal wees om vir tant Elsa te lag.
“Hierdie klein Lecia, tant Elsa . . .” sê Wouter terwyl hy sy pyp met groot konsentrasie stop. “Dit lyk my sy het óók nie ’n bang haar op haar kop nie. Sy wil mos nou leer skiet. O ja, ek moet haar môre leer skiet sodat sy die tarentale kan gaan uitroei.”
Hierteen het tant Elsa geen beswaar nie, want volgens haar behoort ’n boervrou ook ’n goeie skut te wees. Sy was trouens self ’n goeie skut op haar dag, en sy het dit nooit berou nie . . . Nee, dit is goed dat Lesie leer om met ’n geweer te skiet, meen sy.
Terwyl hulle in die kombuis sit en koffie drink, vra Lecia belangstellend: “Wouter, hoe ver is Dennevlei van Blouberg af? Is dit darem ’n behoorlike dorp?”
“Maar jy moet tog die plek gesien het – jy het dan gister deur die dorp gery!” antwoord hy.
“O,” sê sy, “dan is dit natuurlik daardie ou dorpie waar die joggie by die vulstasie vir my gesê het Blouberg is net hier agter die bult toe ek vir hom gevra het hoe ver Blouberg van daardie dooie plek af is.”
Wouter kan nie ’n glimlag bedwing nie. “Jou tong gaan jou nog baie vyande besorg. Glo my, die dorpenaars sal nie daarvan hou dat jy hul dorpie as ’n dooie plek bestempel nie.”
“Ek is altyd eerlik en reguit, Wouter, en as hulle nie daarvan hou nie, is dit hulle –”
“Luister hier, meisiekind,” val hy haar waarskuwend in die rede, “as ek een ongunstige woord oor jou gedrag hoor, looi ek jou.”
“Wat, my uitlooi? Jy is van jou sinne beroof, Wouter Fouché,” laat sy verontwaardig hoor. “Laat ek jou dit vertel – as ék een ongunstige woord oor my van die Dennevleiers hoor, sal die vonke spat.”
Die erns op haar gesig laat Wouter breed glimlag.
“Ek glo jou, kleinding, en ek bejammer die persoon wat so iets waag,” sê hy met ’n geamuseerde lig in sy oë. “Jy oortuig my elke keer meer en meer dat jy in elke opsig na wyle oom Isak aard. Ja-nee, jy is deur en deur ’n Brank, en as die mense so dom wil wees om nou, na al die jare, met ’n Brank te lol, moet hulle maar die gevolge dra. Ek sal hulle in elk geval vroegtydig in kennis stel dat oom Isak nog steeds lewe in die skone persoon van Lecia Brank en dat hulle vir haar maar baie lig moet loop.”
“Jy spot nou, Wouter, en ek is ernstig,” verwyt sy.
“Ek spot glad nie, my hartjie,” verseker hy haar met groot erns. “Ek is vasbeslote om ’n paar mense na die middagete te bel en te waarsku om liewer nie met jou oorhoops te lê nie. Dis mos waarom ek jou voog is – om na jou belange om te sien en jou te beskerm.”
So onder die gesels deur het tant Elsa vir Katrien aangesê om tafel te dek. Wouter het ook net sy koffie gedrink en toe gesê hy wil eers sy hande gaan was voordat hulle eet.
Lecia volg sy voorbeeld en verklee haar terselfdertyd in ’n vrolike somerrokkie en fyn laehaksandale. Sy borsel haar hare, knap haar grimering op, en nou lyk sy weer soos ’n egte stadsdametjie. Dat sy ’n besonder aanvallige meisie is, sien sy nie eens raak nie. Sy is gewoond aan haar eie beeld, wat vir haar maar doodgewoon en alledaags lyk.
Aan tafel spreek sy terloops die gedagte uit dat sy graag ’n musiekskool in Dennevlei wil open vir kinders wat klavier- of orrellesse wil neem. Sy is ook heeltemal bereid om gevorderde lesse te gee aan dié wat dit nie kan bekostig om elders verder te studeer nie.
Maar hiervoor is Wouter nie te vinde nie. Hy maak dit ook baie duidelik toe hy nadruklik sê: “Volstrek nie. Jy kan onmoontlik heeldag voor jou musiekinstrumente