kinders sal nog steeds Isaco Branco se bloed in hul are hê, my hartjie,” help Wouter haar glimlaggend reg. “Die van sal wel met jou uitsterf, maar nie die geslag nie.”
Sy trek haar skouers liggies op.
“Ek sal maar net moet sorg dat ek nooit ’n kind het nie,” sê sy. “Isaco Branco is beslis nie ’n stamvader om op trots te wees nie . . . Nee, dis beter dat sy geslag uitsterf.” Sy kyk hom ernstig aan. “Hoe het die ou vrybuiter destyds hier beland, Wouter? Wat het van sy roofskip geword?”
“Sy skip, die See-Arend, het naby Algoabaai op die rotse geloop nadat hy in ’n hewige seegeveg betrokke was met twee Britse handelskepe. Net Isaco en vier van sy bemanningslede het die skipbreuk oorleef . . . en jou stammoeder, natuurlik.”
“Wat, was die ou satanskind tóé al getroud?”
“Nee, hy was nie,” glimlag Wouter geamuseer. “Jou stammoeder was ’n Franse edeldame wat op een van die Britse handelskepe gereis het. Sy was deel van die buit wat hy van die handelskepe geneem het voordat hy albei skepe gekelder het. Hy het dus vir hom ’n vrou geskaak!”
“So ’n ou skelm en moordenaar!” roep sy verontwaardig uit. “Ek had dus heeltemal reg toe ek vanmiddag gesê het die ou baardman had ’n wrede streep. Hy was ’n moordenaar en ’n barbaar . . .”
“Hy is jou stamvader, kleinding, en hierdie dinge het driehonderd jaar gelede gebeur,” probeer Wouter vir die afgestorwene in die bresse tree. “Volgens die geskiedenis was hy glo ’n besonder aantreklike man, altyd netjies op sy persoon en ook baie hoflik teenoor die skoner geslag.”
“Dit sê niks nie,” hou sy ergerlik vol. “Hy was ’n wrede moordenaar en ek het geen respek vir hom nie. Ek wil hom ook nie eens meer in my musiekkamer hê nie. Jy kan maar daardie portret op die vullishoop gooi, Wouter.”
“Gits, nee, jy kan dit nooit doen nie, meisiekind,” keer Wouter ernstig. “Daardie oubaas is ’n geskiedkundige figuur. As jy hom nie in jou musiekkamer wil hê nie, bly hulle almal hier in die sitkamer.”
“O nee, hulle trap almal uit die sitkamer uit. Ek wil nie een van hulle daar sien nie,” hou sy beslis vol.
“Dan moet jy hulle na jou musiekkamer toe skuif,” kom dit ferm van Wouter, en Lecia besef dat hy nou die laaste woorde daaroor gesê het.
“O, nou goed,” stem sy onwillig in, “laat die ou hekseketel dan maar in my musiekkamer hang. Maar die duiwel haal hom as sy arendsoë my weer oral in die vertrek volg. Regtig, Wouter, ek hou niks van die blik in sy oë nie. Hulle lyk so koud en deurdringend.”
“Toemaar, moet jou nie aan sy oë steur nie, jong,” glimlag hy gerusstellend. “Daardie ou is meer as twee eeue gelede al dood en vergaan, en al het hy ook gelewe, sou hy jou geen leed aangedoen het nie. Hy sou te trots op jou gewees het, en op die feit dat jou hare en oë na al die eeue nog lyk soos wat syne gelyk het.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor Isaco Branco se aankoms in die Kaap, toe kondig tant Elsa aan dat Katrien die tafel wil afdek.
“Ja, dit begin al donker word en die arme vrou moet by die kerkhof verbyloop,” sê Lecia ondeund. “Vanaand jaag ou Isaco haar met ’n kapmes. Ek dink ek en jy moet liewer saam met haar loop, Wouter.”
“Is jy nie bang vir ou Isaco se spook nie?” terg Wouter.
“Ek glo nie aan spoke nie. Sodra ek self een gesien het, sal ek weet of ek bang is of nie . . . nie dat ek weet waarom ek vir die ou klomp Branks bang moet wees nie. Ek sou ou Isaco en oom Isak graag voor stok wou kry oor baie dinge . . .”
Wouter se hartlike lagbui maak terstond ’n einde aan Lecia se relaas. Hulle staan van die tafel af op en gaan sit op die voorstoep, waar Wouter sy pyp tydsaam stop en aansteek.
“Wil jy regtig hê ons moet Katrien verby die kerkhof vergesel, kleinding?” vra hy toe sy pyp eindelik goed brand.
“Ja, ek het dit bedoel,” antwoord sy. “Die arme mens is so bang, en dis ons geselsery aan tafel wat haar opgehou het. As ek die pad geken het, sou ek haar met my motor tot by haar huis geneem het.”
“Dis nie nodig nie. Ons kan saam met haar stap tot anderkant die kerkhof. Gaan sê net vir haar, anders bekommer sy haar siek,” doen Wouter aan die hand.
“Nou goed, ek sal haar gaan gerusstel. Rook solank jou pyp, ek sal jou kom sê wanneer sy gereed is om te loop.”
Later, toe hulle saam met Katrien stap, haak Lecia ewe gemeensaam by Wouter in. Dis ’n warm aand, die sterre skitter blink aan die swart hemelruim en die maan hang soos ’n groot vuurbal bokant die oosterkim. Ook die gesang van die paddas en die krieke duur nog steeds voort. Die paadjie waarin hulle loop, was jare gelede ’n wapad, maar nou is dit vol slote en gate waarin Lecia telkens struikel.
“Jy moet kyk waar jy loop, kleinding,” vermaan Wouter haar besorg. “Netnou breek jy ’n been of ’n enkel, en hoe gaan jy dan die tarentale jag?”
“Waarom dink jy hang ek so aan jou? Beslis nie uit liefde nie, maar wel om te verhoed dat ek ’n been of ’n enkel breek,” terg sy lighartig.
“Toemaar, ek weet jy doen dit nie uit liefde nie, my hartjie,” glimlag Wouter in die flou lig van die maan. “Ek wonder of jy al ooit ’n man liefgehad het.”
“Ag, baiekeer al,” antwoord sy goedig. “Ek was al op die tere ouderdom van ses jaar met ons bure se sewejarige seuntjie gekys, maar na ’n paar dae het hy my gelos. Ek het hom glo te veel afgeknou. Daarna het ek baie outjies gehad, maar daar was net een wat ek so op ’n manier liewer gehad het.”
“En wat het van hom geword?” wil Wouter belangstellend weet.
“Ag, hy het iemand anders liefgehad en my nie eens raakgesien nie,” vertel sy. “Dis toe dat ek besluit het om al my tyd en aandag aan my musiek te bestee en my nie meer aan ouens te steur nie.”
“Hoe oud was jy toe, kleinding?”
“Ek was twaalf jaar oud,” antwoord sy, “en sedertdien het ek my nog nie weer deur die liefde laat vang nie . . . nie dat ek hom nou nog liefhet nie. Ek het later besef dat dit kalwerliefde was, maar ek gaan nog steeds nie toelaat dat die noodlot my weer so ’n streep trek nie.”
“O, jy sal weer verlief raak,” voorspel hy, “en hierdie keer sal dit op die regte man wees . . . Toemaar, jy skud verniet jou kop. Liefde is ’n emosie waaroor ’n mens geen beheer het nie. Dit oorwin jou nog voordat jy weet jy word aangeval.”
“Praat jy nou uit eie ondervinding, Wouter?” Sy kyk hom met groen, ondeunde oë aan.
“Maar natuurlik praat ek uit eie ondervinding, my hartjie. Ek gee nooit raad tensy ek ’n grondige kennis van die onderwerp het nie, en ek herhaal: jy sal weer verlief raak.”
“Het die liefde jou bekruip en oorwin nog voordat jy van sy aanval bewus was, Wouter?” vra sy met iets soos onsekerheid in haar stem. Hy lyk vir haar so sterk en standvastig, so asof hy te alle tye meester van elke situasie is. Hy lyk nie vir haar na ’n man wat sal toelaat dat die liefde sy lewe beheer nie.
Maar dan hoor sy hom sag en bedaard sê: “Dit is presies hoe die liefde my oorval het – ongevraag en onverwags.”
Hulle gesels so ernstig oor die liefde dat hulle by die kerkhof verbystap sonder om dit eens op te merk. Eers toe hulle die werkers se huise nader, tref dit Wouter dat hulle verder gestap het as wat hy aanvanklik bedoel het. Katrien loop ’n paar treë agter hulle. Sy het ’n kombers oor haar kop en net haar neus en oë steek uit.
“Ons draai hier om,” voeg Wouter die huishulp toe. “Jy behoort nou alleen reg te kom.”
“Ja, hier is nie spoke wat jou lastig sal val nie. Ten minste, ek het nie een gesien nie,” werp Lecia ook haar stuiwer in die armbeurs.
Die vrou bedank hulle verlig, sê nag en verdwyn vinnig in die rigting van die huise.
Terwyl hulle terugstap, dink Lecia aan hul gesprek van