Susanna M. Lingua

Susanna M Lingua Gunstelinge 2


Скачать книгу

uit.”

      Sy dink aan die skaap wat in die kattebak lê. Nou wonder sy of die riempie nog hou en of sy die dier nie al langs die pad verloor het nie. Dis so stil, sy hoor nie ’n geluid van die kattebak se kant af nie.

      Sy sug byna hardop van verligting toe sy eindelik voor dokter Frans le Roux se huis stilhou. Sy klim uit en stap haastig na die voorstoep toe waar ’n lang, skraal, blonde man met ’n wit oorjas aan gesellig met ’n paar songebruinde, middeljarige mans staan en gesels.

      “Goeiemôre,” sê sy en draai na die man met die wit oorjas aan. “Is jy dokter Le Roux?”

      Almal beantwoord haar môregroet, en dan sê die man met die wit oorjas: “Dit is ek, juffrou . . . e . . .”

      “Ek is Lecia Brank van Blouberg, dokter, en ek het ’n paar ongevalle in my motor wat mediese behandeling dringend nodig het.”

      “Wat het die diere oorgekom, juffrou Brank?” vra die veearts belangstellend. Hy het nooit kon droom dat wyle oom Isak so ’n aanvallige broerskind het nie.

      “Wel, Boel – dis nou Wouter se hond – het ek per ongeluk in die boud geskiet terwyl Wouter besig was om my te leer skiet,” verduidelik sy. “En op pad hierheen het ek een van sy onnosele skape raak gery. Ek weet nie of hy al van die ongeluk weet nie. Ek het die skaapwagter gestuur om hom van die skaap se lot te verwittig, maar die ou was asvaal geskrik. In elk geval, die hond is voor in die motor, dokter, en die skaap is agter in die kattebak . . . dis te sê as ek hom nie al langs die pad verloor het nie.”

      “Maar dan moet ons gaan kyk of die skaap nog in die motor is, juffrou,” stel die veearts met ’n geamuseerde glimlag voor.

      “Ons sal die diere vir jou na die agterplaas toe vat, Frans,” bied een van die mans hulpvaardig aan.

      Die veearts bedank hom vriendelik. Dan stap almal na Lecia se motor toe.

      “Julle menere moet asseblief versigtig werk met die skaap,” vermaan sy besorg. “Die motor se buffer het hom teen die regterblad getref en ek weet nie of sy blad af is nie. Ek hoop in elk geval hy leef nog, dis te sê as ek hom nie langs die pad verloor het nie.”

      “Ons sal versigtig wees, juffrou,” verseker ’n gesette man haar. “Ons is almal boere wat vandag sake hier op die dorp kom doen het.” Hy stel homself en sy vier vriende aan haar voor. Toe bereik hulle die voertuig en die spreker, wat homself Ben Viljoen noem, begin die riempie aan die kattebak losmaak.

      “Goeie genade!” roep Ben Viljoen geskok uit toe die kattebak eindelik oop is. “Dis daardie stoetram wat Wouter ’n paar maande gelede gekoop het.” Hy draai na Lecia en vervolg met ’n sagte laggie: “Juffrou Brank, ek dink Wouter gaan jou ophang as hierdie ram vrek.”

      “Ek sal dit nie betwis nie, meneer Viljoen,” glimlag sy terug. “Hy het vanoggend al gedreig om my nek om te draai as sy hond vrek. En nou sê jy hierdie ellendige skaap is iets om mee rekening te hou . . . Ek dink daar gaan vandag oorlog wees op Blouberg.”

      “Wel, ek moet sê jy lyk nie juis bang nie, juffrou,” terg die veearts terwyl hy die ram se beseerde blad met vaardige vingers ondersoek.

      “Ons Branks van Blouberg is nie bang mense nie, dokter . . .Nee, ek is nie vir Wouter se gramskap bang nie. Ek weet hy gaan ’n oorval kry omdat ek sy skaap raak gery het, maar dis die skaap se eie skuld dat hy seergekry het.” Die geklap van ’n motordeur laat Lecia vinnig opkyk. “Praat van die duiwel, dan trap jy op sy stert,” glimlag sy vir Frans le Roux.

      Lank, breed en netjies geklee kom Wouter na hulle toe aangestap. Daar is ’n stroewe trek om sy mond en sy gesigsuitdrukking verraai dat hy bitter ontstoke is.

      Hy groet die ses mans met ’n kortaf: “Môre, mense,” en draai dan na Lecia. “Wat de duiwel het jy aangevang dat jy my stoet­ram raak gery het? Eers vermink jy my hond, en nou is dit weer my spogram. As jy so aangaan, sal jy my heeltemal uitroei –”

      “Ek het nie jou ellendige skaap opsetlik raak gery nie, Wouter Fouché!” val sy hom driftig in die rede. “Ek weet ook nie waarom jy so ’n kabaal opskop oor so ’n liederlike dierasie nie. Die ding se neus is so verplooi, dit lyk kompleet of hy ’n honderd jaar oud is. ’n Skaap is ook glad nie so ’n vreeslike duur ding nie. As hierdie een die gees gee, sal ek vir jou ’n ander een in sy plek koop.”

      “Vir daardie ram wat jy ’n liederlike dierasie noem, het ek ’n yslike klomp geld betaal . . .”

      “Is dit my skuld dat jy so onnosel is om ’n yslike klomp geld vir ’n simpel skaap te betaal? Gits, in Johannesburg betaal ons glad nie so baie vir ’n halwe skaap nie . . .”

      Die mans lag hartlik en Lecia swyg verleë, maar sy kyk hulle hooghartig aan. Sy sien geen grap in die hele onsmaaklike affêre nie.

      “Hoe lyk dit, dokter?” vra Wouter.

      “Die ram is gelukkig nie ernstig beseer nie, en daar is ook geen bene gebreek nie,” sê Frans le Roux. “Jy kan hom oor ’n dag of twee kom haal. Ek sal maar eers die hond binnetoe neem.”

      Verligting spoel soos ’n golf oor Lecia. Sy kry dit selfs reg om te glimlag toe sy sê: “Wel, noudat Wouter se skapie nie meer op die gevaarlys is nie, gaan ek ’n restaurant soek wat ordentlike koffie –”

      “Jy gaan nêrens heen nie, jou klein gifangel, jy bly net hier,” val Wouter haar streng in die rede. “As jy dink ek gaan jou toelaat om hier op die dorp moleste te maak, wag daar ’n groot ontnugtering op jou. Jy bly hier waar ek ’n oog oor jou kan hou.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Kom, ek wil gaan kyk of die winkel hier langsaan al my ploegskare gekry het.”

      “Wat, noem jy hierdie smouserasie ’n winkel?” Sy kyk Wouter verbaas aan.

      “Ek glo nie meneer Lavinsky sal daarvan hou dat jy sy winkel ’n smouserasie noem nie,” tik Wouter haar streng op die vingers. “Dis die enigste winkel op Dennevlei waar ’n mens plaasbenodigdhede kan koop.”

      “Wel, vir my lyk dit nie soos ’n winkel nie. Trouens, ek het nog nooit in Johannesburg so ’n . . . ’n winkel gesien nie. Al daardie droë velle op die stoep wat so opeengestapel is, sakke vol goed, hoenders in hokkies en die joos weet wat nog alles. Dis maar ’n bont spul . . .”

      “Kom, jy is gans te puntenerig,” maak hy haar ongeërg stil. “As jy dors is, kan jy ’n koeldrank hier in die winkel drink.”

      Lecia kyk hom onthuts aan en gee ’n tree van hom af weg. “Jy moet van jou wysie af wees as jy dink ek sal iets in daardie . . . daardie smerige plek drink. Ek gaan nou ’n koppie koffie in ’n ordentlike restaurant geniet, en jy kan na jou peetjie gaan as jy nie daarvan hou nie. Ek laat my nie van jou of enigiemand anders voorskryf nie –”

      “Bly stil, rissie, hier kom dominee Snyders aan,” sê Wouter onderlangs met ’n kwaai frons.

      Maar Lecia het nou heeltemal genoeg van Wouter se gram­skap en oorheersing gehad.

      “Na die duiwel met jou en die predikant,” snou sy hom onthuts toe. Sy draai om en stap met ’n hooghartige houding weg, onbewus daarvan dat die predikant haar kwaai woorde gehoor het.

      Daar speel ’n geamuseerde glimlaggie om die ouerige man se mond toe hy die groep mans groet. Hy verneem belangstellend na almal se gesondheid en vervolg dan met ’n breë glimlag: “Wie is die dametjie wat jou en my so pas na die duiwel gestuur het, Wouter?”

      “Dominee, ek is seker u kan raai wie sy is,” glimlag Wouter terug. “Herinner daardie rooi hare en groen oë u nie aan ’n baie bekende persoon nie?”

      “Dis waar, sy lyk op ’n haar na wyle Isak Brank,” lag die ander man goedig. “Is sy . . .?”

      “Sy lýk nie net soos oom Isak nie, dominee, sy áárd ook na hom,” lig Wouter hom met ’n ondeunde glimlaggie in. “Oom Isak was haar oom. Ek dink ek moet liewer nou gaan kyk waar daardie klein rooikop haar bevind en wat sy aanvang. Ek het al agtergekom: as sy nie moeilikheid soek nie, soek die moeilikheid háár. Dus sê ek dan maar