Susanna M. Lingua

Susanna M Lingua Gunstelinge 2


Скачать книгу

party ten einde geloop het, is dit asof almal skielik besef dat dit middernag is en tyd om huis toe te gaan. Teresa word deur almal bedank vir die genoeglike aand, en na ’n rukkie begin die gaste groet en vertrek.

      Lecia en Frans is van die eerstes wat vertrek. En nou, terwyl hulle op pad is na Blouberg, kom sy eers agter hoe moeg en vaak sy werklik is. Frans het haar ook net tuis besorg, toe sê sy dat sy doodmoeg is en maar liewer wil gaan slaap.

      “Nou goed, ek sal jou nie langer uit die slaap hou nie, meisie. Ek sal môre bel om te hoor of jy darem van my gedroom het,” skerts Frans.

      Hierna sê hy nag en vertrek.

      6

      Die volgende oggend verslaap Lecia haar. Dit is al ver oor tienuur toe sy eindelik haar verskyning in die eetkamer maak. Sy merk op dat Wouter en tant Elsa lankal geëet het. Sy voel ’n bietjie skuldig omdat sy so laat geslaap het, maar sy onderdruk dit gou. Dis Sondag, en sy sien geen rede waarom ’n mens op ’n Sondagoggend vroeg moet opstaan nie.

      Sy is net besig om haar koffie te drink, toe Wouter die eetkamer binnestap. Hy is in ’n ligbruin broek en wit sporthemp geklee, dus is hy ook nie van plan om kerk toe te gaan nie.

      “O, jy het toe darem opgestaan,” sê hy onverskillig.

      Sy kyk hom met opgetrekte wenkbroue aan. “Het jy dan verwag dat ek heeldag in die bed gaan bly?”

      Hy neem langs die tafel plaas en antwoord ernstig: “Ek gee nie om hoe laat jy Saterdae en Sondae slaap nie, maar weeksdae moet jy asseblief sorg dat jy vroeg opstaan. Môreoggend net na ontbyt sal ek jou gaan wys hoe om ’n trekker te bestuur. Daar is ’n stukkie grond wat jy vir ons kan braak. Terloops, Frans het jou flussies gebel, en dit is nóg iets waaroor ek met jou wil praat.” Hy kyk haar skerp en deurdringend aan. “Ek hoop nie jy is so laf om op Frans verlief te raak nie, want ek sal beslis nie my toestemming gee dat jy met hom mag trou nie.”

      Lecia stik byna aan ’n mond vol koffie van skone verbasing. Genugtig, waar kom die man daaraan dat sy sulke planne het? Frans is bloot ’n vriend, en hy sal vir haar nooit meer as dit kan wees nie. Dink Wouter miskien sy is die soort meisie wat op elke broekdraer verlief raak?

      Lecia voel hoe haar humeur stadig begin vlam vat. Uit skone wrewel besluit sy om hom nie reg te help nie. Laat hom dink wat hy wil. Maar dan besluit sy om darem ook nie stil te bly nie.

      “As ek besluit om met Frans te trou, sal ek nie jou toestemming nodig hê nie, Wouter. Jou gesag oor my is net ’n jaar geldig. Maar wat het jy nou eintlik teen Frans?”

      “As vriend het ek niks teen hom nie, maar as huweliksmaat vir jou sal hy nie deug nie, want hy het geen kennis van boerdery nie.”

      “Hy kan darem Blouberg se diere in ’n puik toestand hou –”

      “Verskoon my, Blouberg se diere was nog altyd in ’n puik toestand sonder sy hulp,” val hy haar effens verontwaardig in die rede. “Jy kan Frans maar vergeet. Die man wat met jou trou, sal eers moet bewys dat hy kan boer, en dit sal geen stadsjapie met sagte, wit handjies wees nie,” verseker hy haar.

      Die gelui van die telefoon maak meteens ’n einde aan die gesprek. Wouter verlaat die eetkamer om die oproep te beantwoord, en Lecia stap na die stalle toe met ’n paar suikerklon-tjies vir Lady. Sy het die afgelope week lief geword vir die swart perd.

      Die stal se bodeur staan oop, en Lady begin saggies runnik toe sy die rooikop sien aankom.

      “Toemaar, ek het jou nie vergeet nie, Lady,” glimlag sy en streel met haar hand oor die dier se nek. Sy skater soos sy lag toe Lady met haar neus in haar digte, rooibruin hare begin vroetel, en die volgende oomblik hoor sy Wouter agter haar praat.

      “Die telefoonoproep is van Goeiehoop af,” sê hy. “Teresa wil weet of ek en jy vanmiddag by haar wil kom koffie drink. Ek het vir haar gesê sy moet ’n rukkie aanhou, ek wil eers hoor of jy nie dalk ’n ander afspraak het nie.”

      “Sal daar ander gaste ook wees?” vra sy met haar blik op Lady wat besig is om die suikerklontjies uit haar hand te eet.

      “Ek dink sy is alleen. Haar ouers is glo dorp toe,” sê Wouter.

      “As dit die geval is, moet jy maar alleen gaan,” sê sy sonder om na hom te kyk. “Ek het werklik nie lus om die hele middag te sit en kyk hoe Teresa aan jou hang en hoe julle handjies vashou nie. Ek sal dit meer geniet om op Lady te gaan ry.”

      ’n Kort rukkie heers daar ’n doodse stilte. “Nou goed,” sê Wouter, “ek sal vir haar sê jy het ’n ander afspraak.” Hy draai om en stap haastig terug huis toe.

      Lecia is nog besig om Lady te streel en met haar te gesels, toe sy voetstappe in haar rigting hoor aankom. Sy kyk oor haar skouer en merk op dat dit weer Wouter is. Sy draai om, leun met haar rug teen die stal se onderdeur en plaas haar een arm om Lady se nek. Die dier begin weer dadelik met haar neus in die rooibruin hare vroetel.

      “Jou nooi is bly om jou die hele middag vir haarself te hê,” sê sy toe Wouter skuins voor haar kom staan en sy hand saggies oor Lady se kop trek.

      Hy kyk af na haar en die beweging van sy hand op Lady se kop word meteens stil. ’n Kort oomblik kyk hy vas in haar oë. Toe sê hy bedaard: “Frans het ook gebel. Hy wou weet of hy vanmiddag vir jou kan kom kuier.”

      “O, maar dis gaaf,” sê sy. “As jy vir hom ’n perd sal leen, kan ons twee ’n entjie gaan –”

      “Ek is jammer om jou teleur te stel,” val hy haar bedaard in die rede. “Ek het vir hom gesê dat ek en jy vanmiddag ’n sake-afspraak het.”

      Sy kyk hom met ’n ligte frons aan. “Maar dis nie waar nie! Waarom het jy vir hom ’n leuen vertel, Wouter?”

      “Omdat ek ook nie lus het om die hele middag te sit en kyk hoe julle aan mekaar hang en handjies vashou nie,” sê hy ongeërg onderwyl hy Lady se kop streel.

      “Ek dink jy is van jou wysie af,” vaar sy teen hom uit. “Ek het nog nie een keer aan Frans gehang of met hom handjies gehou nie.”

      “Het jy nie?” Sy oë boor in hare, en sy hand word stil op Lady se kop.

      “Jy weet ek het nie,” sê sy driftig. “Jy was gisteraand die hele tyd in my en Frans se teenwoordigheid.”

      “Ek was nie saam met julle in Frans se motor toe hy jou huis toe gebring het nie,” herinner hy haar. “Dus kan ek niks bevestig wat jy hier sê nie. Maar soos wat ek Frans ken, sal hy nie ’n mooi meisie tuis besorg sonder ’n afskeidsoen nie.”

      “Wel, hy het my tuis besorg sonder ’n afskeidsoen,” sê Lecia uitdagend. “Ek laat my nie so maklik soen soos jou geliefde Teresa nie. My ouers het my geleer dat ’n meisie haar altyd waardig moet gedra en dat so ’n geklou en gesoen allermins waardig is. ’n Mens soen ook nie iemand so in die openbaar nie. Jy maak net ’n skouspel van jouself, en ek dink dis goedkoop.”

      “Het jy nou klaar gepraat?” Sy oë meet haar hele lengte. Hy kyk na haar klein voetjies en dan weer na haar rooi kop wat nou gemaklik teen Lady aanleun.

      “Ja, ek het klaar gepraat,” snou sy hom half toe.

      “Nou ja,” sê hy bedaard, “Teresa is nie goedkoop nie. Ons twee het feitlik saam grootgeword, daarom het sy die vrymoedigheid om in geselskap by my in te haak. Sy het dit nog al die jare gedoen. Ek sal jou katterigheid maar oorsien, want dis vir my duidelik dat jy nie van Teresa hou nie. Nie dat ek weet wat sy aan jou gedoen het nie, maar jy het gisteraand kwalik tien woorde met haar gewissel.”

      “Jy bedoel sy het kwalik tien woorde met mý gewissel. In elk geval, ek kyk mense deur sonder om baie woorde met hulle te wissel, en jy het gelyk, ek hou nie vreeslik baie van jou meisie nie. As gasvrou was sy vervlaks ongesellig,” sê sy nou reguit, want Wouter se beskuldiging dat sy katterig is, het haar seerder gemaak as wat hy ooit sal kan raai. “As Frans hom nie oor my ontferm het nie, sou ek die hele aand ontuis en onwelkom gevoel het. Jou beskuldiging dat ek katterig is, is dus heeltemal onvanpas. Dis jou meisie wat nie die vaagste benul