kom dit van Kas Groenewald. “Nee, Ben, ek glo nie daar is ’n man wat daardie rooikop sal kan tem nie. Die Branks van Blouberg was nog altyd ontembaar.”
“Ek is geneig om met Ben saam te stem,” sê Andries Kleinhans. “Wouter is feitlik self ’n Brank, en net ’n Brank sal weet hoe om ’n ander Brank te tem . . . Nee, ek dink daardie rooikop gaan haar moses in Wouter teëkom.”
Onderwyl die groep mans oor die jongste en laaste lid van die Branks van Blouberg bespiegel, tref Wouter haar in die dorp se enigste restaurant aan. Hy kom langs haar staan en vra sag: “Het jy al vir jou iets te drinke bestel, kleinding?”
Sy kyk hom behoedsaam aan, maar merk dadelik op dat hy nou weer in ’n gemoedelike stemming verkeer.
“Nee,” sê sy vriendelik, “ek het nog geen kelner met ’n oog gesien nie. Die bediening in hierdie plek is maar swak . . .”
“Ek sal ons bestelling by die toonbank gaan plaas,” sê hy voordat sy nog meer kritiek oor die plek en sy bediening kan kwytraak. Hy ken die Branks as uitgesproke mense wat nie altyd omgee of hulle ander mense te na kom nie, en as hy dit kan verhelp, sal Lecia nie in die voetspoor van haar voorvaders volg nie. Sy is so ’n aantreklike en aangename meisie – hy sal graag wil hê dat sy deur die gemeenskap bemin word vir haarself en nie vir haar posisie as mede-eienaar van Blouberg nie.
Terwyl Wouter hul bestelling plaas, beskou Lecia hom met goedkeuring. Hy is vir haar die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy kyk na die keurige snit van die grys langbroek wat hy aanhet, die wit hemp, mooi das en netjiese swart skoene. Dan wonder sy waarom hy op vier en dertigjarige leeftyd nog ongetroud is. Hy is so vervlaks aantreklik . . . Sy wonder wie die meisie is wat sy hart in die holte van haar hand hou.
Toe Wouter van die toonbank af wegdraai, kyk Lecia haastig weg. Sy wil nie hê hy moet weet dat sy na hom gesit en kyk het nie. Hy is gans te skerpsinnig na haar sin.
Wouter neem teenoor haar plaas. Hy kyk haar ernstig aan en sê bedaard: “Jy het my nog nie vertel hoe die ongeluk plaasgevind het nie. Ek bedoel nou, toe jy daardie duur stoetram van my raak gery het.”
“Wouter, dit was regtig nie my skuld nie. Ek het dit ook nie opsetlik gedoen nie –”
“Jy het dit al gesê, en ek glo jou, Lecia,” val hy haar gerusstellend in die rede. “Ek glo dat jy my enigiets sal aandoen, maar ek glo nie dat jy vir my leuens sal vertel om jouself te regverdig nie.”
“Dankie, Wouter, dit is nie my gewoonte om agter leuens te skuil nie. Laat ek jou vertel wat gebeur het . . .” Sy vertel hom hoe die ongeluk plaasgevind het en sluit met ’n ongelukkige uitdrukking in haar oë af: “Ek weet werklik nie waarom hierdie dinge nou juis met my moet gebeur nie. Jy het gelyk – as dit so aangaan, sal ek jou heeltemal uitroei en . . . Wel, ek wil nie graag hê dat so iets met jou moet gebeur nie. Dan sal dit veel beter wees dat ek jou liewer in vrede laat en teruggaan Johannesburg toe.”
“Jy is ’n Brank, my hartjie, en jou plek is op Blouberg, nie in Johannesburg nie. Onthou dit altyd.”
“Maar wat van al die skade wat ek jou aandoen, Wouter?” hou sy ernstig vol. “Wie sê ek gaan jou nie nog meer skade berokken as daardie skaap waarvoor jy baie rande betaal het nie?”
“Van die ram kan jy maar vergeet,” troos hy sag. “Jy het self gehoor Frans sê die dier is nie ernstig beseer nie.”
“Die skaap kan dalk inwendig beseer wees,” hou sy vol. “Dokter Le Roux het hom met my aankoms net vlugtig ondersoek. As hy doodgaan, sal ek jou betaal sodat jy vir jou ’n ander een in sy plek kan koop.”
“Wel, ek moet sê dit klink of jy baie geld het, meisietjie,” terg hy met ’n sweem van ’n glimlag.
Sy skud haar kop. “Nee, ek het nie,” sê sy ernstig. “Ek glo nie ek het meer as ’n paar honderd rand in die bank nie, maar ek is bereid om my motor te verkoop om jou vir die verlies van die skaap te vergoed.”
“Lecia, dink jy ek sal toelaat dat jy jou motor verkoop om my vir die ram te vergoed? Dink jy regtig dat ek dit sal toelaat?” Sy blou oë kyk diep en ernstig in hare.
“Dis die enigste manier waarop ek jou sal kan vergoed –”
“Hier is die kelner nou met ons bestelling,” val hy haar sag in die rede. “Drink nou jou koffie en vergeet die ram. Hy sal nie doodgaan nie. Terloops, oom Ben Viljoen se dogter, Teresa, het vanoggend gebel en ons na haar verjaardagparty genooi. Sy verjaar Saterdag.”
“Hoe oud is sy?”
“Laat ek sien . . . Sy is sewe jaar jonger as ek, dus moet sy nou sewe en twintig wees. Sy gee onderwys hier aan Dennevlei se laerskool.”
Terwyl hulle koffie en botterbroodjies geniet, vertel Wouter haar van die Viljoens wie se plaas Goeiehoop langs Blouberg lê, en dat die party in die vorm van ’n vleisbraaiery sal wees. Hierna gaan hulle terug na Frans se huis toe om te verneem hoe dit met die beseerde diere gaan.
Die jong veearts se gesig helder merkbaar op toe hy Lecia sien. Nadat hy Wouter verseker het dat albei sy diere buite gevaar is en dat hy Boel oor ’n week kan kom haal, is Wouter meteens haastig om na Blouberg terug te keer sodat hy met sy werk kan aangaan.
“Ons sien jou seker Saterdag op Goeiehoop, Frans?” sê-vra hy.
“Wel, as juffrou Brank Teresa se party met haar teenwoordigheid gaan vereer, sal ek beslis daar wees,” glimlag die dokter.
“Laat staan maar die gejuffrou, Frans. Haar naam is Lecia,” sê Wouter. Hy kyk na Lecia en vervolg: “Jy kan ons vriend gerus maar Frans noem, my hartjie. In hierdie geweste noem ons mekaar op die naam. In elk geval, ons moet nou ry.”
Hulle groet vir Frans, en ’n rukkie later is albei op pad Blouberg toe.
Op die plaas wag tant Elsa in spanning op hul tuiskoms. Sy voel bekommerd oor Lecia, want Wouter is ’n dwars man as hy die slag kwaad is, en hy was juis vanoggend in ’n vreeslike onweersluim toe hy hier weg is dorp toe. Sy kan Wouter se kant van die saak insien. Watter boer sal nou nie omgekrap voel as sy diere iets oorkom nie? Tog is haar simpatie by Lecia, want die arme kind het nie op ’n plaas grootgeword nie.
Tant Elsa is aangenaam verras toe Wouter en Lecia pas voor middagete ewe vriendelik en gemeensaam die huis binnestap asof hulle nog nooit ’n woordewisseling gehad het nie.
“Gaan dit goed met die hond en die ram, Wouter?” vra sy belangstellend.
“Ja, dankie, tante. Die ram is gelukkig nie ernstig beseer nie, en ek kan Boel oor ’n week gaan haal.”
“Nou ja, dan sal ek maar gaan opskep,” sê tant Elsa. “Julle is seker al dood van die honger.”
“Ons kan eet sodra ek my verklee het, tante, tensy Lecia so honger is dat sy nie kan wag nie.” Hy kyk die rooikop vraend aan.
“Toemaar, gaan trek maar eers daardie ou groot doodtrappers van jou aan,” sê sy met ’n sweem van ’n glimlaggie. “Ek kan wag.”
Daar is ’n geamuseerde uitdrukking in Wouter se oë toe hy met ’n sagte laggie sê: “Ek weet my groot voete hinder jou, kleinding, maar ek het hulle nie so bestel nie. Ek is darem nogal tevrede met hulle, want hulle pas by my liggaamsbou. Ek hou ook daarvan om groot spore te trap. Sulke groot voete laat ’n mens ten minste stewig en vas op die aarde staan.”
Hm, dink sy, trap maar jou groot spore, my vriend, solank jy hulle nie oor my hart kom trap nie.
“Jou groot voete hinder my nie in die minste nie, Wouter,” sê sy. “Dis jy wat met hulle oor die weg moet kom, nie ek nie.”
“Verskoon my, meisie, sodat ek my doodtrappers kan gaan aantrek,” sê hy effens spottend en stap na sy kamer toe.
Na die ete gaan beoefen Lecia die skietkuns langs die kerkhof se muur, waar geen dier in die nabyheid is nie, maar om vieruur die middag voel sy heeltemal opgewasse vir die tarentale. Sy moet nou nog net leer om die rykuns te bemeester, dan kan sy met die tarentale gaan afreken.