Susanna M. Lingua

Susanna M Lingua Gunstelinge 2


Скачать книгу

my mooimaak vir vanaand se doenigheid,” sê sy toe hulle van die ontbyttafel af opstaan. “Aangesien dit ’n vleisbraaiery is, sal ek ’n broekpak aantrek –”

      “O nee,” keer Wouter dadelik, “as jy saam met my gaan, dra jy asseblief ’n rok. Ek gee nie om dat jy hier op die plaas jou broekpakke dra nie, maar as ons iewers heen gaan, trek jy jou asseblief ordentlik aan.”

      “Maar broekpakke is in die mode, Wouter. In Johannesburg dra almal –”

      “My liewe mensie, jy is nie meer in Johannesburg nie, jy is nou op Blouberg, en ek herhaal: as jy saam met my gaan, trek jy jou aan soos wat dit ’n Brank betaam.” Hy val haar so kortaf in die rede dat haar humeur sommer weer opvlam.

      “Na die hoenders met die klomp Branks, ek trek aan wat ek wil! Wie is jy miskien om vir my voor te skryf wat ek moet aantrek?” kap sy terug. “Is dit ’n klousule in oom Isak se testament dat my kleredrag ook jou goedkeuring moet wegdra?”

      “Nee, die testament sê natuurlik niks in verband met jou kleredrag nie. Maak tog maar soos jy wil,” sê hy met ’n onverskillige houding en stap sonder meer uit die vertrek. Hy het nog nooit so ’n koppige meisiemens soos Lecia gesien nie. Hy neem hom nietemin voor om tydens haar verblyf hier op Blouberg van al haar nukke en eiesinnigheid skoonskip te maak . . . Ja, hy en Blouberg gaan haar nog tem.

      Soos Lecia gesê het, is sy wel in haar wit broekpak en sandale geklee toe Wouter vir haar kom sê dat hulle moet ry. Hy het ’n liggrys broek, wit hemp en grys sportbaadjie aan. Sy donkerbruin hare is netjies gekam, en sy swart skoene blink soos spieëls.

      Sedert vanoggend se woordewisseling oor Lecia se voorliefde vir broekpakke, behandel Wouter haar nog steeds koel en onverskillig. Selfs hier in sy motor, op pad na die Viljoens se plaas toe, is hy opmerklik stil en afsydig. Dit voel vir Lecia asof hy glad nie eens van haar teenwoordigheid bewus is nie. Sy was nou wel vanoggend vasberade om haar sin te kry, maar sy het nie bedoel dat dit onenigheid tussen hulle moes wek nie. Trouens, sy wil graag Wouter se vriendskap behou, want noudat sy hom beter ken, moet sy ruiterlik erken dat sy besonder baie van hom hou.

      Toe die stilte in die motor later vir haar te neerdrukkend word, draai sy na Wouter en vra met ’n koketterige glimlaggie: “Is jy nog vir my kwaad oor vanoggend se argument?”

      “Nee, ek is nie kwaad nie,” antwoord hy so onpersoonlik dat dit dadelik die glimlag van haar gesig afvee. “Ek is jammer dat ek my vanoggend met jou sake ingelaat het, maar ek het op daardie oomblik vergeet dat jy nie een van ons is nie. Ek kan jou die versekering gee dat dit nie weer sal gebeur nie. Ek sal my in die vervolg net by die taak bepaal wat oom Isak my opgelê het, naamlik om jou te leer boer. Om van jou ’n bekwame tuisteskepper te maak, is gelukkig tant Elsa se taak.”

      Hierop antwoord Lecia nie. Trouens, sy het niks te sê nie, want sy besef dat dit deur haar eie toedoen is dat Wouter haar nou soos ’n buitestaander behandel.

      Sy kry egter nie die geleentheid om langer oor hierdie toedrag van sake te peins nie, want hulle nader reeds Goeiehoop se plaashuis waar ’n twintigtal motors staan.

      ’n Lang, blonde meisie kom hulle tegemoet toe hulle uit die motor klim. Sy het ’n geblomde somerrok en wit sandale aan. Sy groet Wouter met ’n stralende glimlag terwyl haar oë elke lyn op sy gesig liefkoos.

      “Dis nou Teresa Viljoen, oom Ben Viljoen se dogter,” sê Wouter. ’n Wedersydse aangename kennismaking volg. Teresa kyk Lecia ’n kort oomblik opsommend, byna vyandig aan. Toe haak sy by Wouter in en begin sonder meer met hom gesels asof sy hom jare laas gesien het.

      Hierdie onverskillige ontvangs deur die gasvrou laat Lecia meteens ongemaklik en ontuis voel. Sy is nou bitter spyt dat sy ooit ingestem het om hierheen te kom. Het die meisie dan geen maniere nie, of weet sy maar net nie wat ’n gasvrou se pligte behels nie?

      Die manier waarop Teresa by Wouter inhaak en met hom gesels, toon baie duidelik dat die twee intiem bevriend moet wees en dat Wouter ’n besonder welkome en spesiale gas is. Dit lyk asof hy nie eens van Teresa se onvriendelikheid teenoor haar bewus is nie.

      Hulle stap om die huis na die agterplaas toe, waar oud en jonk skyn te wees en waar die vleisbraaivure reeds hoog brand. Op twee lang tafels is soutigheidjies, ’n verskeidenheid slaaie, keurige toebroodjies, terte, koeke, ’n stapel papierborde, messe, vurke, en ’n mag der menigte glase.

      Met Teresa se arm nog steeds deur syne gehaak, stel Wouter vir Lecia aan al die mense voor wat sy nog nie ontmoet het nie. Die blonde veearts, dokter Frans le Roux, kom met lang treë na hulle toe en steek met ’n breë glimlag voor Lecia vas. Sy oë liefkoos haar fyn figuur, en uit die hoek van haar oog merk Lecia op dat daar nou ’n gesteurde uitdrukking in Wouter se oë en om sy mond is.

      “Pragtig! Jy is vanaand die betowerendste onder al die skones, Lecia!” roep Frans met opregte warmte uit. “Jy lyk soos ’n roosknop, jy lyk –”

      “Gits, Frans, ek het nie geweet jy kan ook liries raak nie,” val Wouter hom laggend in die rede. “Wees versigtig, vriend, selfs die mooiste roos het geniepsige dorings. Moet jou dus nie met hierdie . . . e . . . roosknoppie vergis nie. Haar dorings is nog geniepsiger, hulle is soos angels.”

      Lecia kyk Wouter effens uit die hoogte aan en sê snipperig: “ ’n Roos se dorings vermink net dié wat dit met onverskillige hande aanraak en . . . e . . . olifante wat opsetlik teen die boompie kom staan en skuur.”

      Frans bars hartlik uit van die lag, maar Wouter se donkerblou oë kyk stil en skerp in hare.

      “Ek veronderstel ek is die olifant,” sê hy na ’n rukkie.

      “As die skoen jou pas . . .”

      “A, Wouter!” klink ’n vrolike manstem agter hulle op. “Jy is net die man wat ek graag wil sien.” ’n Skraal, donker man sluit hom by hulle aan. “Ek hoor oom Isak het uit die dode opgestaan en lewe nou weer in die vorm van ’n beeldskone jong dame.”

      “Verskoon my, meneer,” antwoord Lecia voordat Wouter ’n woord kan inkry, “ek weet nie wie jy is en wie jou sulke onsin vertel het nie, maar as jy na my verwys het as die ‘beeldskone jong dame’ in wie oom Isak weer lewe, wil ek jou sê dat die skepsel wat jou dié onsin vertel het, van sy wysie af is. Ek het niks met oom Isak uit te waai nie. Ek aard ook nie eens na oom Isak nie. Ek aard na my pa, Gerrit Brank.”

      “Juffrou Brank, het jou pa ook rooi hare en groen oë gehad?” wil die jong man met ’n geamuseerde glimlag weet, kompleet asof hy ’n grap geniet. Lecia voel baie lus en vee die grinnik met ’n warm klap van sy gesig af.

      “Verskoon my, meneer . . .” begin sy, haar oë nou vlammend op hom gerig.

      “Die naam is Deon Snyders,” stel hy homself voor. “My pa is die plaaslike leraar.”

      “Ek gee nie ’n flenter om wie en wat jou pa is nie,” voeg sy Deon ergerlik toe. “Die antwoord is nee, my pa het donker hare en oë gehad. Die kleur van my hare en oë het ek van my voorvaders geërf, nie van oom Isak nie.” Sy draai na Frans le Roux, plaas haar hand liggies op sy arm en vervolg ietwat onthuts: “Kom ons loop liewer, Frans, want ek voel ek gaan my nou liederlik vererg, en netnou beledig ek hom.”

      Lecia is nie bewus van Deon se breë glimlag en die vonkeling in sy oë toe sy en Frans in die rigting van die vleisbraaivure stap nie.

      “Maggies, maar die meisiekind is mooi as sy ’n mens met sulke vlammende oë aankyk, Wouter,” laat Deon met openlike bewondering hoor. “Sy is net so vurig soos ’n ongetemde jong perd . . . Inderdaad ’n uitdaging vir ’n man. Ek sou haar graag wou tem totdat sy soos klei in my hande is . . .”

      “My liewe vriend,” maak Wouter hom met ’n meerderwaardige glimlaggie stil, “Lecia is net so ontembaar soos al haar voorvaders. Volgens oom Rooi Gert van Diepvlei was Lecia se pa in sy jeugjare glo meer beduiweld as oom Isak. Wat het die ou mense nou weer gesê: aardjie na sy vaartjie?”

      “Jy bedoel die jonge dame sal haar nie laat tem nie?” sê-vra Deon.

      Wouter knik bevestigend. “Ek vrees julle sal haar