nie. Dis audi alteram partem in aksie: nodig, maar nie altyd regverdig nie.
’n Ander manier om na dieselfde idee te kyk, is om die probleem van regverdigheid en skuld onder die loep te neem. Vir Calviniste is dit dikwels moeilik om te verstaan dat daar iets verkeerd kan loop en dat jy selfs ’n vonnis teen iemand kan kry sonder dat iemand skuld het aan die hele besigheid. Eintlik is dit maklik om te verstaan, want behalwe in strafsake is die reg nie juis gemoeid met skuld soos wat die teologie dit verstaan nie. Maar by die alledaagse goed waaroor mense baklei, soos of daar ’n kontrak tussen twee mense was en wat die terme daarvan was, word skuld nie betrek nie.
Nou is dit so dat daar wel soms in die reg van skuld gepraat word, en wel in die konteks van die deliktereg. Kortliks gaan die deliktereg oor die skade wat gely word as gevolg van iemand se nalatigheid. Praat ons van nalatigheid, dan praat ons van skuld. Maar hiermee word nie noodwendig morele blaam op iemand geplaas nie. Nee, in ’n nalatigheidskonteks het iemand skuld as van die standaard van die “redelike persoon” afgewyk word. Ontstaan die vraag in ’n saak of iemand nalatig was, word telkens gevra hoe die denkbeeldige “redelike persoon” sou optree – daardie persoon wat in enige situasie “reg” sou optree. Sou die “redelike persoon” oor ’n stopstraat gery het? Sou die “redelike persoon” sy gelaaide geweer laat rondlê op ’n plek waar kinders daartoe toegang het? Sou die “redelike persoon” verwag het dat iemand met donker klere aan in die middel van ’n onverligte pad lê? As die antwoord op enige van hierdie vrae daarop dui dat jou gedrag van die redelike persoon s’n afgewyk het, al is dit net met een persent, is daar “skuld” in die vorm van nalatigheid aan jou kant.
’n Goeie manier om dit te illustreer is om na motorongelukke te kyk. Enigeen wat ’n bietjie nadink sal erken dat die meeste bestuurders die meeste van die tyd nie soos die “redelike” bestuurder bestuur nie: Ons praat of SMS op selfone, skeer, eet, raas met die kinders terwyl ons agtertoe kyk, bewonder mooi meisies in die karre langs ons of dagdroom sommer net oor die dag by die werk. Is ons “skuldig”? Wel, ja, as jy ons sou meet aan die standaard van ’n bomenslik “redelike” bestuurder, maar jou sin vir geregtigheid sê vir jou eerder dis maar hoe mense is, ons kan nie heeltyd perfek wees nie. Die pad deur die Karoo is lank, en die pad tussen die werk en die huis dikwels ook maar so. Maar maak jy nou ’n ongeluk, dan begin die regstelsel met sy vitterige ondersoek na jou gedrag om te bepaal of daar nalatigheid – skuld – was in die manier hoe jy die voertuig bestuur het. Hoekom? Omdat iemand skade gely het, en die vraag is wie gaan daarvoor betaal.
Maar is dit nou ’n ondersoek na wat “regverdig” of selfs “reg” is? In die meeste sake waarmee regsgeleerdes te make kry, is die antwoord nee; en selfs in die enkele gevalle waar daar wel so ’n ondersoek is, loop die soektog meesal lank, wyd en diep.
1.2 EN HOEKOM SO BAIE GROOT WOORDE?
Die regswetenskap is soos politiek en godsdiens in die opsig dat jy nie geleerdheid nodig het om ’n opinie daaroor te hê nie. Maar tog is dit redelik ontoeganklik vir selfs geleerde mense. ’n Goeie deel van die ontoeganklikheid is te wyte aan die moeilike taal waarteen jy jou vasloop die oomblik dat jy begin lees aan ’n regshandboek of selfs ’n regter se uitspraak. Ek het al dikwels gewonder of mens die taal nie eenvoudiger kan maak nie. Is al die Latyn en die hoogdrawende taal regtig nodig?
Wel, ja en nee. Eers die ja, en hieroor moet ’n mens ’n paar dinge sê. Die eerste is dat die reg eeue oud is. Die wortels van ons regstelsel strek so ver terug as die Romeinse Ryk. As jy probleme met jou buurman het, moet jy dikwels oplees oor regsbeginsels wat dateer van die Romeinse tye maar vandag nog geldig is. Dis waar die Latyn vandaan kom. Naas die Latyn kom jy dikwels Nederlands teë, want heelwat van ons regsbeginsels het ons by die Nederlanders geërf, en heelwat van hulle is ook vandag nog geldig.
Nou sou ’n mens kon aanvoer dat daar geen rede is hoekom hierdie frases nie vertaal kan word nie. As ontoeganklikheid al rede was, dan sou die argument seker geldig gewees het. Maar daar is ander belangrike redes hoekom regstaal so ingewikkeld is.
Seker die belangrikste hiervan is dat ons in ’n ingewikkelde samelewing woon wat by die dag meer ingewikkeld word. Mense se interaksies met mekaar is ingewikkeld, en die regstelsel wat hierdie interaksies moet reguleer, moet net so ingewikkeld wees om daarvoor voorsiening te maak. ’n Voorbeeld: As mense net met muntstukke koop en verkoop, is kontraktereg redelik eenvoudig. Maar sit papiergeld, kredietkaarte, finansiering, huurkooptransaksies en versekering by, dan word die prentjie sommer gou baie deurmekaar, en elkeen van hierdie verskynsels moet deur die regstelsel gereguleer word.
Die samelewing word ook voortdurend ingewikkelder en daarmee saam die regstelsel. Mense doen voortdurend nuwe dinge, en die pas van vernuwing versnel net. Laat ek nog ’n voorbeeld of twee gee: In 1910 het die lugvaartreg nie bestaan nie. In 1950 het niemand gewonder oor die regsimplikasies van rekenaars nie. In 1970 was niemand bekommerd oor laster op die internet nie. Vandag bekommer ons ons oor die kopiëring van die magnetiese inligting op kredietkaarte met spesiale toerusting – iets wat in 1990 ongehoord was. En ek is oortuig daarvan dat ons een van die dae gespesialiseerde wetgewing nodig gaan hê oor die kloning van menslike weefsel.
Van wetgewing gepraat – regerings maak meer en meer wette, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. ’n Mens sou daaroor kon stry of dit ’n goeie of slegte ding is, maar dis sonder twyfel ook die staat se reaksie op die toenemend komplekse omgewing wat hy moet bestuur.
Al hierdie faktore lei tot moeilike woorde en bosgasie-sinne wat dikwels amper onmoontlik is om te ontrafel – selfs vir regsgeleerdes. Daar was al talle sake wat net gegaan het oor die uitmekaar haal van ’n sin in ’n wet of ’n kontrak, of gedraai het om die verstaan en uitleg van ’n spesifieke woord, en ek moet bely dat ek soms groot moeite het om die uitsprake in dié sake te verstaan.
Kortom is die reg ’n moeilike wetenskap wat, soos alle wetenskappe, sy eie taal-in-die-kleine het. As mense met mekaar “regstaal” praat, dan dra hulle dikwels met ’n enkele woord baie ou en ingewikkelde begrippe aan mekaar oor – presies soos dokters ook maar maak. En hierdie begrippe is dikwels tongknopers soos “replikasie” en “Himalajaklousule” en “quantum meruit”. Die verskil tussen dokters se taal en regsgeleerdes se taal is dat groot dele van regstaal so “bekend” klink. Ons gebruik begrippe soos “redelik”, “aansoek” en “skuld”, wat eenvoudig klink maar iets heeltemal anders beteken as wat die gewone mens daaronder verstaan.
Dit was die “ja” van hoekom regstaal hogere woorde nodig het. Voor ons by die “nee” kom, eers ’n stertjie aan die ja: Net soos met die medisyne, kan ’n mens in die regte met die verstaan van relatief min woorde reeds lekker oor ’n spesifieke onderwerp begin saamgesels. Dis ’n verskynsel wat ek dikwels by die braaivleisvuur opmerk. Iemand vra ’n vraag oor ’n onderwerp; ek sê wat die belangrikste begrippe daaroor beteken, en die res is maar gesonde verstand.
Daarmee by die nee: Die reg is by uitstek ’n wetenskap waaroor elkeen iets móét weet, want dit raak ons almal, dikwels op maniere wat ons lewe verander. Dis hoekom die staat onlangs in die Gebruikersbeskermingswet beveel het dat kontrakte in eenvoudige taal moet wees, sodat die ekonomies magtige opstellers van kontrakte nie die ontvangers van daardie kontrakte sonder meer kan stoomroller met terme wat hulle nie verstaan nie. Dis ook hoekom ek hierdie boek geskrywe het, en hoekom ek sommer met die intrapslag – in die volgende afdeling, om die waarheid te sê – vir jou ’n woordelys gee van woorde wat jy moet verstaan as jy regstaal wil praat of verstaan.
1.3 MOEILIKE WOORDE MAKLIK GEMAAK
Hier is ’n lysie met terme wat jy nodig het vir die meeste gesprekke oor die reg. Nou weet ek die meeste mense hou nie van woordeboeke lees nie. Ek ook nie. Maar ek wil tog voorstel dat jy diep asemhaal en dit gou deurgaan, want dit gaan jou baie help om die res van die boek te verstaan. Of verwys terug na die lysie as jy iets in die boek teëkom wat jou tong of jou brein laat knoop.
aangeklaagde of beskuldigde – die persoon wat in ’n strafsaak van ’n misdaad aangekla word.
aansoek – een van twee maniere om ’n hofsaak te voer (die ander een is ’n aksie). In ’n aansoek word die