van ’n aansoek bestaan net uit argumente wat beperk word tot dit wat op die dokumente, wat “aansoekstukke” of kortweg “die stukke” genoem word, uiteengesit word. Aansoekstukke bestaan breedweg uit twee dele: ’n kennisgewing van mosie, waarin die een wat die aansoek bring, sê wat hy van die hof wil hê; en beëdigde verklarings, wat getuienis op papier is en waarin vertel word hoekom die een wat die aansoek bring, geregtig is op dit wat hy van die hof vra.
absolusie van die instansie – ’n hofbevel wat beteken dat iemand nie slaag met sy siviele saak nie omdat sy getuienis nie genoegsaam is nie. As absolusie beveel word, sou die eiser weer sy saak kon probeer bewys as hy beter getuienis sou kry – iets wat nie kan gebeur as ’n aksie afgewys word nie.
afgewys of van die hand gewys – ’n hofbevel wat sê dat die een wat ’n aansoek of ’n aksie gebring het onsuksesvol was. Dit verskil van absolusie van die instansie daarin dat as jou aansoek of aksie eers afgewys is, jy nie weer kan probeer nie. Sien ook toegestaan.
aksie – een van twee maniere om ’n siviele saak te voer (die ander een is ’n aansoek). ’n Aksie begin wanneer iemand in ’n dagvaarding sy saak in breë trekke uiteensit en ook sê watter bevel hy van die hof verlang, en die dagvaarding dan op die persoon teen wie die aksie gevoer gaan word, laat beteken. Hierdie dokument kry jy nie by ’n aansoek nie. Hierna word ’n verskeidenheid van dokumente tussen die partye uitgeruil sodat die dinge waaroor die opponente in die saak verskil, duidelik gemaak word en hulle oor en weer kennis kry van watter dokumente gebruik gaan word en of daar deskundiges getuig, en so aan. Die verhoor van ’n aksie bestaan uit die lewer van getuienis deur mense wat in ’n getuiebank staan en ondervra word terwyl hulle onder eed getuig – anders as by ’n aansoek.
appèl – wat gebeur wanneer een van die partye in ’n saak van mening is dat die hof se uitspraak verkeerd is en daarom ’n proses volg om die uitspraak verander te kry deur ’n hof met hoër gesag.
applikant(e) – die party(e), onder meer mense en regspersone, byvoorbeeld maatskappye, trusts en so aan, wat ’n aansoek begin.
balju – die bode van die hof wat prosesstukke beteken en hofbevele uitvoer.
beantwoordende verklaring(s) – die beëdigde verklaring(s) in ’n aansoek waarin die respondent die applikant se funderende verklaring(s) punt vir punt beantwoord en sy eie weergawe gee van wat gebeur het.
beëdigde verklaring(s) of verklaring(s) – ’n verklaring is die verkorte vorm van ’n beëdigde verklaring, wat bestaan uit getuienis op skrif. Getuienis is die weergee van feite onder eed. ’n Beëdigde verklaring moet deur ’n kommissaris van ede beëdig word, wat aan die persoon wat die verklaring aflê, moet vra of hy die inhoud van die verklaring ken en verstaan, of hy die eed as bindend op sy gewete beskou en of die inhoud van die verklaring waar is.
belet – wanneer die tyd vir die aflewer van ’n pleit in ’n aksie verbygegaan het sonder dat die verweerder gepleit het, kan die eiser aan die verweerder ’n kennisgewing stuur wat hom beveel om binne ’n sekere tyd te pleit, en as hy dit nie doen nie, word hy belet om te pleit en kan die eiser aansoek doen om ’n verstekvonnis.
beskuldigde – sien aangeklaagde.
besonderhede van vordering – daardie gedeelte van ’n dagvaarding waarin die eiser sê wat hy van die hof vra, en die redes hoekom hy dit vra. As jy in besit is van my motor, sal my besonderhede van vordering sê wie ek is, wie jy is, dat ek die eienaar van die motor is en dat jy in besit is daarvan. Ek sal dan ’n hofbevel vra wat jou beveel om my motor terug te gee en dat jy die koste van die hofsaak betaal.
beteken(ing) – die proses waardeur die balju ’n dokument by ’n persoon aflewer en daarna aan die persoon wat die opdrag gegee het vir die aflewering verslag doen oor hoe hy dit gedoen het. Dis die regstelsel se manier om seker te maak dat iemand ’n dokument kry.
betoog of argument of submissie – aan die einde van enige saak argumenteer die regsgeleerdes om die regter te probeer oortuig hoekom hulle kliënt moet wen. Hierdie argumente word “argument” of “betoog” genoem. Submissies is die boublokke van hierdie argumente. In ’n motorongeluksaak sal ek byvoorbeeld betoog dat my kliënt se getuienis geglo moet word eerder as die ander kant se getuienis. Vir hierdie submissie sal ek dan redes gee en dit saam met ander submissies gebruik om te argumenteer hoekom my kliënt sy saak moet wen.
betooghoofde – ’n dokument met ’n opsomming van die submissies wat in argument gemaak sal word. Betooghoofde word voor die betoog aan die regter en die opponent se regsverteenwoordiger gegee om hulle kans te gee om dit te oorweeg en te bedink. Ook betoogshoofde genoem.
bevel nisi – ’n hofbevel wat jou opponent oproep om op ’n later datum te kom sê hoekom ’n bevel in jou guns (’n “finale bevel” genoem) nie deur die hof gegee moet word nie.
bewyslas – sien onus.
blootlegging of blootlê – die proses waardeur kopieë van dokumente wat in die saak gebruik word aan die teenparty gegee word. Aanvanklik sê elke party in ’n beëdigde verklaring vir sy opponent watter dokumente hy het. Hierop kan sy opponent reageer deur te vra vir spesifieke dokumente wat nie blootgelê (openbaar gemaak) is nie. Blootlegging word gebruik om te keer dat jou opposisie verras word deur die gebruik van dokumente in die verhoor.
bo redelike twyfel – die manier waarop in ’n strafsaak besluit word of ’n beskuldigde skuldig is of nie, en terselfdertyd is dit die balkie waaroor die staat moet kom om sy saak teen ’n beskuldigde te bewys. Is daar redelike twyfel by die regter of die beskuldigde se weergawe dalk waar is en/of die beskuldigde dalk onskuldig is, word sy weergawe aanvaar en/of word hy vrygespreek. As ’n beskuldigde skuldig bevind word, word hy met ander woorde bo redelike twyfel skuldig bevind. Vergelyk dit met op ’n oorwig van waarskynlikhede, die maatstaf wat gebruik word by siviele sake.
dagvaarding – die dokument waardeur ’n aksie begin word. Dit bevat die besonderhede van die eiser(s) en die verweerder(s) en die besonderhede van vordering.
debiteur – ander woord vir skuldenaar, die een in ’n transaksie wat geld skuld.
delik – ’n daad of versuim waardeur skade vir iemand veroorsaak is en waarby daar, volgens die reg, skuld betrokke is en wat nie op die een of ander manier verskoonbaar is nie (oor laasgenoemde word gesê dat dit “onregmatig” is).
derde party – iemand wat nie aanvanklik by ’n saak betrokke was nie maar deur een van die partye daarby ingesleep word, omdat die geskil tussen een van die partye en die derde party min of meer dieselfde is as die geskil tussen die oorspronklike partye.
deskundige getuienis of ekspert getuienis – getuienis deur ’n spesialis wat menings bevat wat die hof kan help om ’n beslissing te bereik – oor iets waaroor die hof nie self deskundigheid het nie. Goeie voorbeelde is mediese deskundigheid oor die gevolge van liggaamlike beserings, en deskundiges oor snelheidsmeters by vervolgings vir spoedoortredings.
domicilium citandi et executandi – ’n frase wat ’n mens baie dikwels in kontrakte sien. Letterlik vertaal beteken dit “die blyplek waar die party gesiteer kan word en eksekusie gehef kan word”. In gewone taal is dit die adres waar kennisgewings en hofstukke afgelewer kan word. (Eksekusie kan enige plek gebeur waar die persoon teen wie ’n hofbevel gegee is hom bevind.)
eiser – die persoon of instansie wat ’n aksie begin.
eksekusie – die proses waardeur ’n hofbevel uitgevoer word. As ’n hofbevel byvoorbeeld vir die betaling van geld gegee word, sal eksekusie beteken dat die geld van die persoon wat dit skuld, verhaal word. Dit kan gebeur deur óf die geld self van die persoon te kry, óf die bates van die persoon te verkoop. Dit word altyd deur die balju gedoen.
eksepsie – ’n tegniese beswaar teen ’n eiser se besonderhede van vordering of teen ’n verweerder se pleit, omdat dit óf sonder behoorlike gronde is, óf vaag en verwarrend is.
ex parte – die bring van ’n aansoek sonder dat aan die persoon teen wie die aansoek gebring word, kennis gegee word dat die aansoek gebring gaan word. Dit word gedoen as die aansoek baie