vir die hofbevel wat uiteindelik gegee word.
verdediging aanteken – wanneer die verweerder in ’n aksie aandui dat hy die aksie gaan teenstaan.
verdere party – ’n party, soos ’n derde party of tussenbeitredende party, wat deel word van ’n aksie of aansoek.
verklarende bevel – wanneer twee partye onseker is oor wat hulle regte is, kan hulle die hof vra om uitsluitsel te gee oor wie se interpretasie van wat die regsposisie – en daarom hulle onderskeie regte – is, reg is.
verstekvonnis of vonnis by verstek – ’n vonnis wat in ’n aksie gegee word omdat die verweerder óf nie die aksie verdedig het nie, óf omdat hy nie betyds sy verweerskrif afgelewer het nie en onder belet geplaas is. By ’n verstekvonnis word die vonnis gegee asof die eiser sy saak sonder meer (dus sonder teenspraak) bewys het.
vervolging – die voer van ’n strafsaak deur die staat.
verweer – die rede(s) hoekom ’n verweerder dink ’n eiser in ’n aksie moenie suksesvol wees nie.
verweerder – die party teen wie ’n aksie gebring word.
vonnis (straf- en siviele) – by strafsake is ’n vonnis die straf wat deur die hof aan die beskuldigde opgelê word nadat hy skuldig bevind is, byvoorbeeld ’n boete of gevangenisstraf. By siviele sake is ’n vonnis die hofbevel van die hof ten gunste van die suksesvolle party en teen die onsuksesvolle party, wat nie ’n straf is soos by ’n strafsaak nie. ’n Hofbevel wat ’n eiser se eis van die hand wys met koste is ’n voorbeeld van ’n vonnis in ’n siviele saak.
vonnisskuldeiser – die party ten gunste van wie ’n vonnis gegee is en wat daarom die vonnisskuld kan opeis. Sien skuldeiser.
vonnisskuldenaar – die party teen wie ’n vonnis gegee is en daarom die vonnisskuld aan die vonnisskuldeiser verskuldig is. Sien skuldenaar.
voorlopige vonnis – ’n proses waardeur ’n aksie ten opsigte van dokumente waaruit die skuld van die verweerder onomwonde blyk, begin en gevoer word. Dit is ’n proses wat veronderstel is om die verloop van die aksie korter te maak.
voorverhoorkonferensie – ’n vergadering wat in ’n aksie voor die verhoor tussen die partye gehou word om volgens sekere vasgelegde reëls te probeer om die verhoor so kort as moontlik te hou en die geskilpunte tussen die partye te verminder.
vryspraak – as die staat in ’n strafsaak sy saak nie bo redelike twyfel bewys het nie, kry die beskuldigde ’n vryspraak. Ons sê die beskuldigde word vrygespreek en ontslaan.
waarskynlikhede – ’n oordeel oor getuienis wat aandui of dit in ooreenstemming is met algemene lewenservaring. Om te sê dat jy deur ’n blou hond met twee koppe aangeval is, is nie waarskynlik nie. Om te sê dat jou buurman se rottweiler jou hand verskeur het, is. Sien ook geloofwaardigheid.
wetlik – volgens die bepalings van ’n wet, ook “statutêr” genoem. Moenie verwar word met regtens nie. “Wetlik” is een van daardie woorde wat ’n regsgeleerde van ’n leek onderskei: Leke gebruik dit baie as hulle oor die reg praat, regsgeleerdes feitlik nooit.
wettig – ’n term wat dikwels verwarrend kan wees, omdat dit sowel ’n sinoniem vir wetlik kan wees as vir regmatig. Dit kan dus albei beteken, naamlik dat iets “volgens die bepalings van ’n wet” is, maar ook wyer strek en beteken dat iets “volgens die bepalings van die reg in die algemeen” is. ’n Mens moet maar kyk na die konteks waarin die woorde gebruik word as jy wil weet wat in ’n spesifieke geval bedoel word. En ja, slimmerd, as iets wettig is, is dit gewoonlik ook regmatig, maar nie noodwendig andersom nie.
wysiging – verandering, gewoonlik van ’n pleitstuk. Dit kan ook ’n verandering van ’n wet of ’n kontrak beteken, maar ek gebruik dit in hierdie boek net in die eersgenoemde sin.
1.4 DIE BASIESE GEREEDSKAP
Met die “regswoordeboek” agter die blad, is jou stryd halfpad gewonne. Maar jy sal nog meer van hierdie boek verstaan as jy sekere basiese regsidees en -begrippe onder die knie het. Kom ons begin dus by die begin: by die bronne van die reg. Daar is ten opsigte van elke feitestel ’n basiese regsposisie (of stel regsreëls) wat geld. Kom ons kyk sommer na ’n karongeluk. Kar A ry in kar B se agterkant vas. Nou is daar ’n basiese regsreël wat sê dat as jy agter in iemand vasry, dan het jy óf te vinnig gery, óf jy het nie jou oë behoorlik oopgehou nie, óf nie ’n behoorlike volgafstand gehandhaaf nie. Daarom is jy gewoonlik 100 persent nalatig as jy van agter af in iemand anders vasry. Dit beteken nie dat daar nie dikwels ’n area van onsekerheid is oor die regsposisie wat van toepassing is op ’n spesifieke feitestel nie, soos byvoorbeeld wat gebeur as jy nou op ’n mistige nag oor ’n bult kom en skielik staan hier ’n kar sonder enige ligte of waarskuwingstekens in die middel van die pad. Is jy nou nog 100 persent nalatig as jy nie betyds uitgeswaai kry nie?
Dis een van die redes hoekom mense hof toe gaan: omdat die twee partye albei dink dat húlle interpretasie van die regsposisie reg is. Waar kom die “basiese regsposisie” vandaan, en hoe word duidelikheid, of minstens rigting, verkry oor die area van onsekerheid? Regsgeleerdes gaan soek die antwoorde in die bronne van die reg.
Die eerste en oudste bron word die “gemenereg” genoem en dit bestaan uit daardie reg waarvan ek reeds hierbo gepraat het – die Romeinse reg soos wat dit deur die Hollanders toegepas is en hier aan die Kaap ingevoer is. Hierby is die Britse “common law” gevoeg, toe die Britte die Kaap oorgevat het en hulle stempel op die regstelsel begin afdruk het. Maar aan die Kaap het daar reeds verskeie regstelsels bestaan toe Van Riebeeck & Kie. hier aangekom het, byvoorbeeld die Xhosas se regstelsel, die Zoeloes se regstelsel, die Sotho’s se regstelsel, en so aan. Hierdie sisteme word saam gegroepeer en “inheemse reg” genoem, en dit het ook ’n eie geur aan ons regstelsel gegee. Dit is aangevul deur die destydse invoer van die Maleise slawe wat hulle eie, hoofsaaklik Islamitiese, regstelsel saam met hulle heerlike kos hier aangebring het.
Hierdie mengsel is mettertyd tot ’n eiesoortige bredie ontwikkel deur die interpretasie daarvan deur ons howe. Ons howe, anders as in die Amerikaanse regstelsel, werk met wat genoem word die “presedenteleer”, wat beteken dat howe gebind word deur die uitsprake wat vroeër deur ander howe oor ’n spesifieke onderwerp gelewer is.
Wetgewing speel ’n al hoe belangriker rol as ’n bron van die regsposisie oor onderwerpe. Van alle wette is die belangrikste een sekerlik die Grondwet, omdat dit deesdae die maatstaf is waaraan die geldigheid van alle wette gemeet word, maar ook waarvolgens die gemenereg geïnterpreteer en ontwikkel word.
Hierbenewens neem regters ook die regsposisie van ander lande in ag as dit verwant is aan die feitestel waarmee die regter aan die werk is, of lig kan werp op hoe die situasie hanteer behoort te word. Ten slotte kyk hulle ook na wat akademici oor ’n onderwerp te sê het. Maar laasgenoemde twee bronne is nie bindend vir ’n regter nie – die menings wat daarin uitgespreek is, kan net help om hom te oortuig.
Noudat jy weet waar ons reg sy oorsprong het, is dit tyd om te kyk na ’n paar onderskeide in die reg, want dit is geweldig belangrik om te weet oor watter deel van die reg jy aan die praat is as jy ’n probleem bespreek, amper om dieselfde rede as wat jy nie ’n skroef met ’n hamer moet probeer losdraai of kanker met kopseerpille moet probeer behandel nie.
1.4.1 Strafreg en siviele reg
Kom ons begin by ’n onderskeid wat leke seker die meeste misverstaan: dié tussen straf- en siviele reg. Strafreg het te make met daardie dade wat die staat verbied en waarvoor daar ’n strafsanksie is, met ander woorde waarvoor jy deur die staat gestraf (of gevonnis) kan word. Toe ek nog aanklaer was, het ek dikwels mense hoor sê “ek het ’n saak gemaak teen hom”, waarmee hulle bedoel het dat hulle ’n klag by die polisie ingedien het. Maar in ’n strafsaak is die geveg tussen die staat en die beskuldigde, want die doel van die strafreg is uiteindelik die behoud van die orde in die samelewing, nie om die griewe van die klaer uit die weg te ruim nie. Die klaer is niks meer as ’n getuie nie. Die strafreg is toegespits op ’n lys misdade en volg sy eie stel “spelreëls”. Dit kan op