“Jy jok vir my.”
“Nee, regtig. Sy sê hy is een van die briljantste sjirurge wat sy ken.”
“En oor die feit dat ons twee uitgaan?”
“Ek is bang jy raak kwaad as ek vir jou sê.”
“Ek kan raai, want ek is lankal bewus van die skinderstories oor ons wat by die hospitaal in omloop is. Sê maar, ek belowe ek sal nie kwaad raak nie.”
Riekie glimlag weer effens. “Miskien is Judy verkeerd. Maar sy sê sy kan nie verstaan dat so ’n mooi en oulike meisie soos jy jou met Chris bemoei nie, want hy is meer ontrou aan jou as wat hy getrou is. Ek ken hom natuurlik nie, so ek weet nie of dit waar is nie. Jy sal my kan sê of ek haar moet glo of nie.”
Amanda onderdruk haar ergerlikheid jeens suster Truter se geskinder toe sy daaraan dink dat daar destyds nooit geheime tussen haar en Riekie was nie. En dat geen mens beter begrip sal hê vir haar wipplankverhouding as juis Riekie nie.
“Wel, ek sal oneerlik wees as ek ontken dat Chris ’n dwalende oog het. Maar dis nie sy skuld alleen nie. Hy is ontsettend aantreklik – tall, dark and handsome. Die soort voorkoms wat enige meisie aanmoedig tot blatante uitlokking. En ’n man bly mos maar ’n man.”
“Hoe ernstig is jy oor hom?”
“As jy bedoel of ek hom liefhet, is die antwoord ja. Ek kan my nie indink hoe my lewe sonder hom sal wees nie. En ek glo hy het my ook lief, anders sal hy mos nie elke keer na my toe terugkom nie.”
“Het hy al met jou gepraat oor trou?”
“So een of twee keer,” sê Amanda vaag.
“Het hy jou in soveel woorde gevra?”
“Nee, nie regtig nie. Hy praat eintlik net van trou as ons rusie maak.”
“Maak julle dan dikwels rusie?”
“Ja, nogal taamlik gereeld.” Amanda sug diep. “Ag, ons ken mekaar mos, ek kan maar vir jou vertel wat die oorsaak van ons rusies is. Dis oor my outydse opvattings, soos hy dit noem. Jy onthou tog seker hoe ek daaroor voel dat ’n meisie sommer links en regs seksuele verhoudings aanknoop. Ek voel maar nog steeds so, en dis nie vir Chris aanvaarbaar nie. Dan vererg hy hom en gryp sy baadjie om sy drange elders te gaan uitwoed.”
“Maar hy behoort mos jou gevoelens te respekteer.”
Amanda lig haar skouers. “Hy sê ons leef nie meer in die Middeleeue nie, dis nou maar soos hy is. Ek weet jy sal dink ek is mal, dat ek hom na sy peetjie moet stuur. Maar dis ondenkbaar! Ek meen, ons kom darem al amper twee jaar saam.”
“Amanda, jy moet mooi dink. Mans soos hy los nie maklik hul streke nie. Jy moet ook nie dink ’n trouring gaan hom plotseling tot inkeer bring nie.”
“Dis waarvoor ek bang is. Maar dis nou genoeg van my liefdestameletjie. Jy het gepraat van ’n guns wat jy wil vra?”
“Gaan skakel eers die ketel aan. Net ’n halwe koppie flou swart tee vir my, anders bly dit nie binne nie.”
“Vertel nou wat ek vir jou kan doen,” sê Amanda toe sy ’n rukkie later terugkom met die tee.
“Ek wil jou vra om na Darlingsdrift te kom.”
“Wil jy hê ek moet by jou kom kuier?”
“Wel, nie heeltemal net kuier nie. Eintlik wil ek jou vra om Janus in die spreekkamer te kom help tot . . . My kragte neem by die dag af, ek sal nie veel langer vir hom van nut kan wees nie. Ons soek nou al vandat ek begin siek word het na iemand om ons te help, maar sonder welslae. Dokters wil nie op die platteland werk nie, veral nie op ’n plekkie soos Darlingsdrift nie. Dit het my laat wonder of jý nie sal belangstel nie. Al is dit net vir ’n paar maande totdat . . . Wel, totdat Janus weer sy lewe normaal kon hervat ná my dood. Of ander hulp kon kry.”
Amanda se oë rek. “Wat op aarde het jou aan my laat dink?”
“Wel, jy hét destyds in jou briewe genoem dat jy my beny, en dat jy self ook daaraan dink om eendag op die platteland te praktiseer. Weg van die stad se lawaai en dinge.”
“Ja, maar . . . Heng, Riekie, jy dryf my nou in ’n hoek. Ek weet nie eens mooi waar in die wêreld Darlingsdrift is nie!”
Riekie glimlag floutjies. “Taamlik in die boendoe, dis net koppies en vlaktes. Het jy al van Koffiefontein gehoor?”
“So vaagweg. Maar dit sê nog niks vir my nie.”
“As jy hier van Pretoria af ry, vat jy die pad na Petrusburg, en daarvandaan die pad na Koffiefontein. So ’n paar kilometer voor Koffiefontein draai jy regs af na Darlingsdrift, dan is dit nog so dertig kilometer grondpad tot op ons dorpie. Jou naaste groot dorpe is Kimberley en Bloemfontein. Albei is min of meer honderd kilometer van Darlingsdrift af.”
“Sjoe, dit klink regtig asof dit in die boendoe is.”
“Mag wees, maar Darlingsdrift klim gou in ’n mens se bloed. Die dorpie lê langs die Rietrivier. Dis nie ’n wafferse rivier nie, maar dit verleen darem groenigheid en maak dat ons pragtige groot bome langs die strate het. Dis tog jammer jy’t nog nooit vir ons kom kuier nie. Ek is seker jy sal van die plek hou.”
“Ek sal seker, maar . . .”
“Toe maar, ek verwag nie dadelik ’n antwoord nie,” sê Riekie. “Ek hoop maar net jy sal dit oorweeg. En moet asseblief nie teenoor Janus noem dat ek jou gevra het nie. Nie voordat jy ’n besluit geneem het nie. Ek wil nie hê hy moet onnodig opgewonde raak nie.”
“Ek weet regtig nie wat om te sê nie . . . Wat van Chris? Ek bedoel, hy gaan nie daarvan hou dat ek so ver van hom af weggaan nie.”
“Dis hoekom ek jou eers oor jou liefdeslewe uitgevra het. Maar ná wat jy my vertel het, glo ek dis een van die beste dinge wat jy kan doen. So ’n tydjie van verwydering behoort hom tot sy sinne te bring. Want soos dit vir my lyk, verkies hy op hierdie stadium sy brood aan albei kante gebotter, en sal jy vir hom wag totdat jy eendag met valstande en ’n kierie loop.”
Amanda glimlag ten spyte van die seer stekie wat dié opmerking meebring. “Dan sal hy my in elk geval nie meer wil hê nie.”
Riekie neem ’n slukkie tee. “Ek is radeloos, Amanda. Janus sal nooit die mas alleen opkom nie. Hy werk al klaar baie hard, want daar is dae dat ek net nie meer die krag het om agt ure in die spreekkamer deur te bring nie.”
“Vertel my meer van die plek,” sê Amanda ná ’n paar oomblikke van stilte. “Hoeveel pasiënte het julle?”
“Waar sal ek begin? Seker maar by die dorpie self. Darlingsdrift is ’n tipiese plattelandse dorpie – klein, maar sy distrik is groot. Ons het baie pasiënte. Heelwat ouer, afgetrede mense op die dorp, en dan die plaasmense en al hul werkers. Die dorpie het darem ’n hoërskool en ’n koshuis ook. Ons verdien genoeg om gemaklik te leef, maar werk ons nie elke dag dood nie. Soms gaan dit wel rof, maar dan kom daar weer tye dat dit stil is.”
“Het Janus dan werklik hulp nodig?”
“Ja, beslis. Onthou, ons was darem nog altyd twee. Wanneer hy die plase moet besoek, behartig ek die spreekkamer en hospitaal, of andersom. Daar is nie ander dokters op die dorp nie, en soos jy sal weet, is dit nie ’n grap om dag en nag aan diens te wees nie. By dit alles is daar ook nog sy kommer oor my. Jy kan dink hoe dit sal gaan wanneer ek heeltemal verswak.”
“Maar ek is so gevestig hier. My woonstel is hier en Chris . . . en al die dinge.”
“Ek besef ek vra baie, Amanda. Maar Janus . . . ek móét jou vra ter wille van hom. Jy is die enigste mens aan wie ek kon dink om te vra. Ons sal jou dieselfde salaris betaal as wat jy hier kry, dalk selfs ’n bietjie meer. Ons inkomste is werklik nie sleg nie.”
“Jy weet mos geld is nie ’n kwessie nie,” sê Amanda. “Jy weet tog van my erfporsie ná my ouers en grootouers se skielike dood destyds toe ons nog op universiteit was.”