as wat sy gehoop het. Sy weet nie presies wat sy te wagte was nie, seker maar dat hy berouvol sou raak en haar sou smeek om te bly. Presies die teenoorgestelde het egter gebeur: hy’t haar kwalik gegroet toe hy loop. Sê nou hy kom nie terug nie?
Daardie nag slaap sy min. Die hele nag is ’n worsteling. Aan die een kant is daar Chris, en aan die ander kant is daar Riekie se maer, bleek gesig met die donker kringe onder die oë. Ook suster Truter se woorde in die hyser, en Riekie se waarskuwing oor mans soos Chris . . .
Vir drie dae sien Amanda Chris glad nie. En toe hulle mekaar op die vierde dag in een van die hospitaalgange raakloop, knik hy net sy kop in ’n groet sonder om ’n woord te sê. Sy vererg haar só dat sy reguit na die superintendent se kantoor stap om haar bedanking in te dien.
Die maand wat sy nog moet werk voordat sy Darlingsdrift toe vertrek, is ’n marteling. Vir die eerste twee weke daarvan ignoreer Chris haar steeds. Toe begin hy versigtig toenadering soek, maar sy weier dat hy na haar woonstel kom. ’n Week voor haar vertrek daag hy egter ongenooid op, en daar is behoorlik donderweer op sy gesig toe sy vir hom sê sy gaan nie haar planne kanselleer nie.
“Ek het uitgevind, die plek is regtig in die boendoe! Jy sal krepeer daar! Dis nie ’n plek waar jy dit sal uithou nie!”
“Miskien, miskien nie. Ek sal nie weet voor ek daar was nie.”
“Vir hoe lank gaan jy weg wees?”
Sy lig haar skouers. “Ek weet nie.”
Hy kom nader en plaas sy hande op haar skouers. “Amanda, los hierdie onsinnige ding wat jy wil aanvang. As jy hier bly, belowe ek jou dat ek nooit weer na ’n ander meisie sal kyk nie. Toe, asseblief, belowe my dat jy sal bly.”
Sy gee ’n weemoedige suggie. “Ek kan nie nou meer kop uittrek nie, Chris, dis te laat. Riekie het al klaar verblyf vir my gereël en alles. Sy kan ook nie meer haar werk behoorlik doen nie. Haar kragte het al so afgeneem dat sy nog net in die oggende vir ’n paar uur in die spreekkamer kan help.”
Dis asof daar ’n verandering by hom is, kom sy in die laaste week agter. Hy respekteer skielik haar “outydse opvattings” en probeer haar nie meer aanhoudend oorrompel met mooipraatjies en liefkosings nie. Dis amper weer soos aan die begin van hul verhouding. Hy neem haar uit vir ete, dra blomme aan, nooi haar vir fliek en gaan kyk selfs een aand saam met haar ’n opvoering, iets waaraan hy nooit erg gehad het nie.
Sy het hul afskeid gevrees. Maar asof die voorsienigheid dit so beskik, word hy die laaste aand na die teater ontbied, om amper deurnag daar te werk. Die volgende oggend toe hy by haar woonstel kom, kan sy sien hy is doodmoeg. Te moeg om met haar te redekawel toe sy vir hom sê haar motor is klaar gelaai en sy is op die punt om te vertrek.
“Jy moet mooi ry en my bel as jy daar aankom,” is al wat hy sê voordat hy haar in sy arms neem.
Sy koester haar in sy warmte, die trane baie naby, maar sy glimlag moedig toe sy na hom kyk. “Dankie, Chris, vir alles wat jy vir my gedoen en beteken het. Ek is jammer ek kan jou nie eens ’n koppie koffie aanbied nie, maar wat ek nie kon inpak nie, het ek weggegee.”
“Moenie dit laat klink asof ons mekaar nooit weer gaan sien nie,” sê hy. “Ek weet jy gaan nie lank weg wees nie. Intussen sal ons mekaar mos darem gereeld bel.”
Haar oë is verblind deur trane toe sy wegry. Sy beeld lyk vaag en verwronge waar hy langs sy motor staan toe sy in die truspieëltjie kyk. Die oomblik toe hy buite sig is, hou sy eers stil sodat sy haar trane kan afdroog. Miskien is sy heeltemal gek, dink sy. Om Chris én haar gevestigde lewe hier te verruil vir ’n gans vreemde plek.
2
Toe Amanda uiteindelik Darlingsdrift se kerktoring, waarvan Riekie haar oor die telefoon vertel het, in die verte gewaar, hou sy stil. Sy klim moeg uit die motor. Dis versengend warm en honderde sonbesies sing in haar ore. Ten minste is daar bome by Darlingsdrift, dink sy toe die bloedige son haar vinnig laat terugklim in die motor om die laaste stuk van die stofpad aan te durf. ’n Vieslike pad vol gate en dwarrelende stofwolke.
Sy onderdruk haar teleurstelling toe sy Darlingsdrift binnery. Riekie het gesê dis ’n klein en eenvoudige plekkie, maar sy het nie gedink dit sal só treurig en verlate lyk nie. Bome is daar wel, maar die huisies langs die hoofstraat is vervalle. Sy rem vinnig toe daar asof vanuit die niet ’n varksog met agt kleintjies voor haar oor die stofstraat skarrel. Wat nog? Sy haal die papiertjie met Riekie se woonadres uit haar sak, en ry dan versigtig verder volgens die aanwysings.
Toe sy voor die huis stilhou, kom Riekie dadelik uit die spreekkamer gestap. Amanda se hart ruk toe sy sien hoeveel Riekie agteruitgegaan het sedert hulle mekaar ’n maand gelede in Pretoria gesien het. Die feit dat sy haar vriendin kan help, verdryf dadelik haar twyfel oor haar nuwe blyplek.
“My oë is al seer gekyk vir jou,” sê Riekie met ’n glimlaggie wat duidelik inspanning verg. “Ek was bang jou moed sou jou begewe wanneer jy die stofpad vat, en dat jy net daar sou omdraai Pretoria toe.”
Amanda strek haar stram lyf nadat hulle gegroet het en kyk nuuskierig rond. “Ten minste het júlle ’n oulike plek,” sê sy. “Boomryk en ’n grasgroen grasperk. Ek het begin dink die hele dorp gaan wees soos daar by die ingang. Huise wat lyk asof dit sommer net daar langs die pad neergeplak is om van te vergeet. En varke! Jy sal my nie glo nie, so ’n entjie hoër op het daar ’n vark met agt kleintjies voor my oor die straat gehardloop.”
Riekie lag. “Dis oom Jorrie se ou sog. Sy’t seker weer ontsnap uit die hok. En ja, dit lyk maar treurig daar by die dorp se ingang. Na die rivier se kant toe raak dit darem beter. Maar kom ons gaan in, jy is seker dors.”
Nadat hulle tee gedrink het, wys Riekie haar hul huis en die spreekkamer.
“Nou ja, nou moet jy my beduie hoe om by die gastehuis te kom,” sê Amanda nadat sy Janus gegroet het. “Daar is niks waarvoor ek nou meer lus is as vir ’n lekker stort nie.”
“Tant San is jou te wagte,” sê Riekie. “Sy voel baie vernaam dat sy nou ’n dokter as loseerder gaan hê. Jy moet onthou die gastehuis is nie regtig soos ’n gastehuis nie, dis meer ’n losieshuis. Tant San hou net twee kamers uit vir besoekers en reisigers. Al die ander kamers word deur permanente inwoners beset. Sy sit drie maaltye per dag voor. En die mense wat nie in die middag daar kan eet nie, kry toebroodjies werk toe. Ek glo jy gaan baie lekker daar bly.”
“Hoeveel permanente inwoners is daar?”
“Ek dink saam met jou sal julle sewe wees. Twee onderwysers, ’n rekenmeester, ’n weduwee met twee kinders, en twee hoërskooldogters wie se ouers hulle hierheen gestuur het om hulle weg te kry van verkeerde invloede in die stad.”
Riekie beduie die pad, en toe Amanda voor die gastehuis stilhou, skep sy darem nog ’n bietjie moed. Die klipgebou is bepaald nie nuut nie, maar dis groot en netjies. En daar is ’n tuin met groot bome en lowergroen grasperke wat op die oog af reg rondom die huis strek.
Die voordeur word oopgemaak nog voor sy die klokkie kan druk. Dit verg nie veel verbeelding om te weet dis tant San wat voor haar staan nie. ’n Goedige gesig met lewendige donker oë wat haar onbeskaamd van kop tot trone betrag, voorskoot om die ronde lyfie gebind.
“Jy is seker die doktertjie?”
“Dis reg, Amanda Strydom. En u is seker mevrou . . .?”
“Tant San, almal noem my so. Kom binne, dokter. Ek gaan wys jou sommer dadelik waar’s jou kamer, en dan sal ek een van die huishulpe stuur om jou te kom help aflaai.”
Dis ’n lekker ruim kamer met ’n eie badkamer én dit kyk uit oor die dorpie, merk Amanda dadelik op. Die huis sit teen ’n bult en die tuin strek tot amper onder in ’n klofie, met die dorp aan die oorkant. Sy kyk rond totdat sy Riekie-hulle se huis en spreekkamer sien. Dis sommer naby. As haar motor dalk breek of iets, sal sy deur die klofie kan stap tot daar. Die kamer is ook heerlik koel.
“Terwyl jy uitpak, stuur ek vir jou ’n glasie vrugtesap,” praat tant San agter haar. “Jy is seker dors, en dis nog