die rokery los nie.”
“Doktertjie, jy vra darem nou baie!”
“Ek weet dis nie maklik nie, maar daar is nie ’n ander uitweg nie. Rook is mos in elk geval nie só lekker nie. Jy maak dit net onaangenaam vir ander mense wat dit moet inasem, én vir jouself. Ek meen, die duurste parfuum kan nie eens die rookreuk verbloem nie.”
Tant Miems redeneer nie verder nie, sy bly net stil. En toe sy by die deur uitloop, merk Amanda dat haar rug stokstyf is.
Riekie lag net toe sy haar die middag ná werk van al die manewales in die spreekkamer vertel. “Hulle sal aanvanklik enigeen te lig bevind wat dit waag om hier op die dorp te kom werk. Of jy nou ’n dokter, ’n kafee-eienaar of ’n straatveër is. Maar seker nie al jou ondersoeke het so negatief verloop nie?”
“Nee, daar was darem ’n paar wat my goedgesind was. Maar ek het nie gedink hier woon soveel mense op die dorp nie!”
“Toe maar, dit sal net aanhou totdat almal se nuuskierigheid bevredig is. En jy hoef jou nie te bekommer dat oom Jorrie sal wegbly nie. Hy sal gou hoor jy beskik oor goeie deugde ook, en dan sal hy terugkom om te kyk of dit waar is.”
Hul geselsery word onderbreek deur Janus wat die sitkamer binnekom. “Hoe voel jy?” vra hy vir Riekie.
“Baie goed. Beter as in dae! Amanda se koms is ’n seën. Ek het lekker gerus vandag en ek voel soos ’n ander mens.”
Amanda sien hoe Janus se stroewe gesig verhelder.
“Ek is só bly, my liefling. Jy lyk sommer spanne beter.”
“Haai wag, ek beter nou ry,” sê Amanda, haar hart vol jammerte vir hierdie twee magtelose mense. “Ek wil gaan stort voor tant San se etensklok lui.”
Toe Amanda haar kamer binnegaan en die laai ooptrek om vir haar skoon onderklere uit te haal, merk sy dadelik op dat iemand in die laai gekrap het. Haar kamer was nie gesluit nie, want tant San het gesê sy moet dit ooplos sodat Johanna kan skoonmaak. Sy’t nog gesê haar werkers is betroubaar, só betroubaar dat hulle nie ’n sent van enigiemand sal steel nie.
Dit laat Amanda aan haar beursie dink. Sy trek die tweede laai oop en haal haar beursie uit. Die note is nog almal daar, maar daar is ongetwyfeld van die kleingeld weg. Hoeveel, sal sy nie weet nie, maar sy onthou dat die kleiner sakkie so gebult het dat sy kwalik die ritssluiter toegetrek kon kry, en nou is daar amper niks in nie. Afgesien van die kleingeld vermis sy egter niks.
Wat staan haar te doen? wonder sy terwyl sy stort. Moet sy vir tant San daarvan sê? Uiteindelik besluit sy om stil te bly. Dalk het sy tog maar self die een of ander tyd die kleingeld uit haar beursie gehaal, besluit sy teen haar beterwete.
Riekie was reg. Vir drie dae gaan dit taamlik woes, maar die vierde dag daag daar net ’n paar mense op. Teen drieuur sê Janus Amanda kan maar huis toe gaan.
“Dis Vrydag en die boere wat hul kinders by die koshuis kom haal het, is al almal terug na hul plase. Dit sal nou stil wees. Ek gaan ook huis toe. Die dorpsmense weet almal van die klokkie wat in die huis lui as hulle hier sou opdaag en die spreekkamer is toe. Ek sal jou bel as iets opduik wat ek nie alleen kan behartig nie.”
Toe Amanda by die gastehuis kom en haar kamerdeur oopmaak, betrap sy die dief op heterdaad. Pietertjie, die weduwee se jongste seuntjie, gooi haastig haar beursie en die geld wat hy in sy hand het terug in die laai. Sy gesiggie is die ene onskuld toe hy omdraai.
“Dokter het darem mooi goed in die kamer.”
“Soos wat?”
“Sommer . . .” Hy swaai met sy arm deur die lug. “Sommer alles.”
“Wat maak jy hier in my kamer?”
“Ek . . . Ek het net vir dokter kom sê my magie is vreeslik seer.”
Sy loop tot by die kind en kyk hom stip in die oë. “Hoekom jok jy vir my, Pietertjie?”
Sy blik wyk nie. “Ek jok nie.”
“Van wanneer af is jou maag seer?”
“E . . . van netnou af. Van so ’n rukkie terug af.”
“Nou kom ek wys jou hoe maak ek dit reg.”
“Hoe?”
Sy trek haar skoen uit. “Buk, dan wys ek jou.”
“Nee! Ek sal vir my ma gaan sê! Nee!”
“Ek wil hê jy moet vir jou ma gaan sê. Dan kan ek vir haar sê jy krap in my laaie en –”
“Wat gaan hier aan?” Toe Amanda omswaai, staan Welma agter haar. “Pietertjie, wat gaan hier aan?”
Die kind storm verby Amanda en kry sy ma om die bene beet. “Sy wil my slaan!”
“Hoekom?” vra Welma vir Amanda.
“Laat hy maar verduidelik wat hy hier in my kamer kom maak het,” sê Amanda vies.
“Wat het jy hier kom maak, Pietertjie?”
“Niks. Ek het net vir die tannie kom sê my magie is seer en toe wil sy my slaan.”
“Is dit hoe jy met kinders werk?” vra Welma kwaai. “My arme kind. Kom, Mamma sal self jou magie gesond maak.”
“Doen ook sommer iets aan sy vingertjies sodat hy dit uit ander mense se laaie hou,” sê Amanda bitsig.
“Probeer jy voorgee hy’t in jou laaie gekrap?”
“Dis presies wat ek bedoel. En as jy agterkom hy koop lekkers met geld wat hy nie by jou gekry het nie, vra hom waar hy daaraan gekom het.”
“Wil jy sê my kind is ’n dief?”
“Miskien nog nie. Maar ek stel voor jy dissiplineer hom voordat hy een word.”
Welma stamp die kind voor haar uit. “Laat ons liewer loop voor ek vir jou sê wat ek van jóú dink,” snou sy Amanda met ’n vernietigende blik toe.
Amanda lig haar skouers toe sy die kamerdeur toemaak. Net maar nog ’n flop, dink sy met ’n tikkie ironie. Nugter weet wat ’n mens sal moet doen om almal in dié dorp tevrede te stel.
Gaandeweg leer sy die gastehuis se bewoners beter ken. Sy is nie die enigste wat dink Pietertjie kry te veel liefde en te min slae van sy ma nie. Die twee skooldogters wens dikwels hardop hulle kan hom knip. Welma praat lankal nie meer met die twee onderwysers nie, want sy het met hulle ook ’n potjie geloop oor Pietertjie se onhebbelikhede. Pietertjie se broer is egter die teenoorgestelde, ’n soet, stil kind.
“Dis oor Pietertjie so bedorwe grootgeword het,” vertel tant San vir Amanda. “Sy pa is mos dood net drie dae ná sy geboorte. En omdat dié kind toe nes sy pa lyk, kan hy niks verkeerds doen in Welma se oë nie. Sy bederf hom behoorlik tot in die afgrond.”
“Maar dis verkeerd.”
“Ek weet, maar ek gaan nie die een wees wat dit vir haar sê nie. Welma se tong is so skerp soos ’n skeermeslemmetjie. Ek sien sy praat ook nie meer met jou nie.”
“Dit pla my min,” sê Amanda oënskynlik ongeërg. Maar diep in haar binneste pla dit haar tog. Dis nie lekker om so teenoor mekaar aan tafel te sit en eet sonder om ’n woord met mekaar te praat nie.
“Die twee onderwysers gaan albei met onderwyseresse uit,” lig tant San haar verder in. “En Elna en Ilse gee al weer moeilikheid. Dis elke keer se ding as hulle vir ’n naweek na hul ouers toe was, dwelms wat hulle daar in die stad koop,” fluister sy vertroulik. “Dan kan niemand met hulle huishou voor die goed opgeraak het nie.”
“En Paul?” vra Amanda nuuskierig. “Hoekom loop hy mank?”
“Was mos in ’n motorongeluk. By die dood omgedraai, arme mens.”
Amanda leer ook baie van die dorp se inwoners beter ken, maar dis asof Paul Sauerman in ’n waas van geheimsinnigheid gehul is. Niemand