weer destyds se gebeure in herinnering. “Dit was so hittete of hy’t my skoon van my voete af gehad. As dit nie was dat jy my gewaarsku het hy’s net agter my geld aan nie, het ek dalk in die strik getrap en met hom getrou!”
“Dit was ook maar toevallig dat ek daardie dag in die restaurant gehoor het hoe hy by sy vriende spog dat hy besig is om jou die hof te maak, en hoe dit hom uit sy geldelike verknorsing sal red as jy hom die jawoord gee.”
“En was hy nie in die verknorsing nie! Dit het mos toe uitgekom van die onderhoud vir sy buite-egtelike kind wat hy nooit betaal het nie. Sy motor wat teruggevat is, die skuld wat hy by al die winkels gehad het. Ek raak nou nog benoud as ek aan my noue ontkoming dink.”
“Hy was nogal ’n aansienlike man. Maar terloops, hoe voel Chris oor die feit dat jy so baie geld het? Laat dit hom nie minderwaardig voel nie?”
“Hy weet nie van my erfporsie nie – niemand weet daarvan nie. Ek het destyds ’n duur les geleer. Ek het toe al besluit dat die man wat eendag met my wil trou, my moet vat vir wie ek is, nie oor ek geld het nie. Chris weet wel dat ek hierdie woonstel gekoop het, maar hy dink ek betaal nog af daaraan. Maar ons dwaal af. Hoe groot is jul hospitaal?”
“Klein, dis eintlik maar net vir eenvoudige operasies en kraamgevalle. Die ernstiger gevalle verwys ons na Bloemfontein of Kimberley. Dit het al gebeur dat ons self met ’n pasiënt daarheen moes jaag, want Darlingsdrift het nie ’n ambulansdiens nie. Ook nie verkeersmanne nie. Ons het darem ’n kerk, ’n dominee en een brandstofpomp. Maar die mense van die dorp en die hele omgewing is wonderlik. Gasvry en opreg. Hulle slaan ’n dokter en ’n dominee nog as hoogs geërde persone aan.”
“En jul spreekkamer? Het julle toe vir julle ’n spreekkamer by jul huis laat aanbou soos jy destyds vir my geskryf het?”
“Ja, ons het. Die bestaande spreekkamertjie was darem net te klein en te ongerieflik. Ons het nou ’n ruim wagkamer en twee ondersoekkamers. Die pasiënte is tog te opgetoë daarmee, veral met die sagte stoele en tydskrifte waarmee hulle hulle kan besig hou terwyl hulle wag. Net so modern en mooi soos in die stad, het ek anderdag een van die tantes hoor sê.”
Amanda se blik val op Riekie se leë koppie. “Nog ’n bietjie tee?”
“Nee, dankie, niks meer vir my nie,” sê Riekie en kyk op haar horlosie. “Janus sal seker nou enige oomblik opdaag om my te kom haal. Ek kan jou natuurlik nie dwing om ons te kom help nie, maar ek vra jou weer mooi: oorweeg dit, asseblief.”
’n Klop aan die deur en Janus wat binnekom, maak dat hulle nie verder oor Riekie se versoek praat nie.
“Julle gaan tog seker nie vannag nog terugry Darlingsdrift toe nie?” vra Amanda toe sy agterkom Janus is haastig. “Julle kan mos hier by my oornag. My woonstel het ’n tweede slaapkamer.”
“Dankie, dis vriendelik van jou,” sê Janus. “Maar ons gaan ’n ent uit die stad by ’n tante van my oorslaap. Dit maak die pad môreoggend korter. Ons sal nie die spreekkamer vir nog ’n hele dag gesluit kan hou nie.”
Hulle vertrek dan ook dadelik, nadat Janus haastig ’n koppie koffie gedrink het. Daar is trane in albei meisies se oë toe hulle mekaar buite langs die motor omhels. En dis asof sy haarself deur ’n waas hoor toe Amanda vir Riekie fluister dat sy nie heeltemal sonder hoop moet wees om haar binnekort op Darlingsdrift te sien nie.
Hoe kon sy so iets doen? wonder Amanda toe die motor om die straathoek verdwyn. Hoe kon sy haar siek vriendin sulke vals hoop gee?
Sy gaan terug woonstel toe, dwaal doelloos deur die vertrekke. Miskien verstaan Riekie dit nie so nie, dalk glo sy haar bedoeling was dat sy op Darlingsdrift sal gaan kuier. Dít sal sy doen. Maar vir maande daarheen verhuis . . .
Chris se opwagting laat Amanda vir ’n wyle van Riekie en Janus vergeet. Haar hart tamboer in haar ore en haar knieë dreig om te swik toe hy haar dadelik in sy arms neem. Maar toe hy haar soen, kom Riekie se waarskuwende woorde by haar op: Mans soos hy los nie maklik hul streke nie. Jy moet ook nie dink ’n trouring gaan hom plotseling tot inkeer bring nie.
Dit maak dat sy hom wegstoot en agteruit tree.
“En nou?” vra hy verbaas.
“Nee, dis nie só maklik nie, Chris. Jy kan nie elke keer terugkom asof niks verkeerd is nie. Ons kan nie so voortploeter nie.”
“Hoe meen jy nou?” vra hy skynbaar verstom.
“Wat het verkeerd geloop tussen jou en suster Botha?”
“Jy’s tog nie jaloers nie?”
Sy wens sy het eerder haar tong afgebyt as om suster Botha op te haal toe sy sien hoe dit hom amuseer. “Nee, ek is nie jaloers op haar nie. Nie in die minste nie,” jok sy. “Maar ek het die gevoel dat jy besig is om met my te mors. En ek is nie langer daarvoor te vinde nie.”
“Jy weet tog dis vir jou wat ek liefhet. Jy weet ook wat dit was wat my na haar toe gedryf het.”
“Ja, ek weet. Dis dieselfde rede wat jou vantevore na daardie ontkleedanser en die boetiekeienaar gedryf het. Maar as jy nie my preutsheid en outydse opvattings in die toekoms gaan respekteer nie, kan jy nou maar dadelik loop.”
“Sjoe! Hoe lyk dit my jy het vanoggend met die verkeerde voet uit die bed geklim?”
“Nee, ek het net tot die slotsom gekom dat jy jou brood aan albei kante gebotter wil hê. Ek kan nie langer daarmee saamleef nie.”
“Is jy besig om my af te sê?”
Sy lig haar skouers kamma ongeërg. “Dis vir jou om te besluit wat jy wil doen.”
“Eintlik dreig jy my. Ons is nou weer presies by die punt waaroor ons elke keer rusie maak. En dít sonder dat ek nog aan jou geraak het.”
“Ja.”
“En as ek beloftes maak en nie daarby kan hou nie?”
“Dan loop ék.”
Hy lag. “Waarheen nogal?”
“Darlingsdrift toe.”
“Is dit ’n plek of ’n liefdesnessie in jou verbeelding?”
“Dis ’n plek. Ek vertrek in elk geval eersdaags om daar te gaan werk.”
Hy swyg ’n hele rukkie, en dan verskyn ’n bekommerde fronsie op sy gesig. “Jy lyk ernstig.”
“Ek ís ernstig.”
Sy vertel hom van Riekie en Janus se kuiertjie en Riekie se versoek.
“Ek onthou dat jy my vertel het julle was vriendinne op universiteit, maar om darem só iets te vra! Waar in die wêreld is Darlingsdrift?”
“Baie ver hiervandaan, iewers in die Wes-Vrystaat. Kimberley en Bloemfontein is die naaste groot dorpe, albei ongeveer honderd kilometer daarvandaan.”
“Jou vriendin kan gaan doppies blaas met haar siektetoestand en al! Vergeet daarvan, jy hoort hier by my!”
Amanda vererg haar gruwelik. Só moet hy nie van Riekie praat nie. Daar was vir baie jare ’n baie spesiale band tussen haar en Riekie. Boesemvriendinne, dis wat hulle was. Baie soet en suur wat hulle saam meegemaak het. Riekie was vir haar die suster wat sy nooit gehad het nie. Ná haar ouers se skielike motorongeluk was dit Riekie wat haar vertroos en ondersteun het. Wat haar raad gegee het met alles. Hoe durf hy so ongevoelig wees oor haar siekte!
“Wel, jy kan nou maar ’n koronêr skiet, of doen net wat jy wil,” sê sy ergerlik. “Ek gaan Darlingsdrift toe. Ten minste tot ná Riekie se dood, tot ek seker is dat Janus alleen die mas kan opkom. En dit sal van jou affairs met ander meisies afhang of ek terugkom of nie.”
Hulle stry lank oor die saak. Maar hoe meer hy tekere gaan, hoe meer vasberade raak sy. Sy kan agterkom hy verstaan nie haar koppigheid nie. Dit verwar hom beslis, want die vorige kere was sy mos maar te gewillig om hom sonder slag of stoot terug te vat. Juis dít gee haar die moed om te maak asof sy regtig ernstig is daaroor om