Francois Smith

Kamphoer


Скачать книгу

      Kamphoer

      Francois Smith

      Tafelberg

      Aan my ouers, Hendrik en Grietje Mor, wat Afrikaans én Sotho in my geplant het, en aan Nico Moolman, wat vir my met die skryf hiervan ’n indelible pencil gestuur het

      Hoofstuk 1

      Hy lê met sy rug na haar; sy kop is weggedraai na die vaal gordyne wat doodstil voor die venster hang. In die halflig sien sy net die profiel van agter af: die oor ’n donker flap aan die ewe donker homp van sy kop. As daar lig was, dink sy, sou sy oor rosig deurstraal en fyn beaard teen die helderte uitstaan, dalk effens skilferend aan die rand van die skulp se vleuelagtige kurwe. Dis waarvoor sy opgelei is, om lig en lewe te sien. Dit is waarvoor sy hier is. Maar in die skemer is alles anders as wat dit veronderstel is om te wees. Of dalk presies wat dit moet wees.

      Sy ruk haar blik weg van die oor na die skouer wat bokant die lakenrand uitsteek en die arm wat effens geknak op die kombers lê, die pajamamou opgetrek teen die arm. Die hand hang oor die heup af na voor, buite sig, maar die arm, die stukkie wat uitsteek, is dunner as wat sy verwag het. Wat het sy verwag? Kan sy dít onthou?

      Sy kyk vinnig na Hurst wat langs haar staan; hy staar stip en uitdrukkingloos na die pasiënt op die bed. Daar is geen uitkoms nie, sy móét kyk. Na die sagte, pluiserige plooie van die katoenmou by die elmboog, die kraag soos skutblare om die dun stingel van die nek.

      Dan weer na die oor.

      Sy voel nie verras nie. Dit is so bestem. Die oomblik dat sy in hierdie land voet aan wal gesit het, was die gevoel daar dat in hierdie wildvreemdheid iets oerbekends is, en dat daar iets – iemand – iewers agter ’n fasade, ’n deur, ’n heining op haar wag. En dit was nou asof dit presies daardie groeiende gewaarwording in haar was wat haar oë reguit na die oor gelei het. Dit is wat sy heel eerste gesien het, die oor. Die hap daarin soos die merk van ’n skaap. Waar jy die sagte stulping van die lel sou verwag, daar val die boog van die skulp stomp weg tot teen die neksening.

      Dit is háár merk.

      Haar tong kleef aan haar verhemelte, kom met ’n smakgeluidjie los. Sy draai om na die deur wat agter hulle toegeklik het. Sy trek haar asem diep in, hou dit lank binne voordat sy dit hortend uitlaat. Hoe het ek hier beland? dink sy.

      Dit is hoe dit gebeur het: Sy het voor die deur gestaan, voor daardie donker, onwrikbare houtvlak wat nou agter hulle is met sy digte naat teen die kosyn. Sy het voor daardie weerkaatsende blad gestaan met die verniskrakies soos die netvlies van ’n oog, die reuk van gepoleerde hout in haar neus, haar asem teen daardie ontoegeeflike vlak, met haar oë wat sy probeer wegdwing van die naam op die wit etiket in die metaalraampie, die naam wat sy nie kan sê nie.

      Majoor Hurst het agter haar gestaan, en sy het omgedraai, koponderstebo sodat hy nie haar ontsteltenis sou bemerk nie, haar vingerpunte agter haar teen die hout. Hurst het gepraat, maar wat het hy gesê? Hy het haar toe met die een hand liggies opsygestoot en met die ander hand die deur oopgemaak. Sy het hom die skemerte ingevolg, die gladgestrykte rug van sy uniform tussen haar en die man in die bed.

      Dit is hoe dit gebeur het.

      Dis doodstil in die kamer. Daar is net die stilte. Totdat Hurst praat. Hy het wel ook ’n tree of wat vorentoe gegee voordat hy gepraat het. Hy het die man op die bed se naam gesê. Daardie naam wat sy nie kan sê nie. En dit is asof sy met die noem van daardie naam opgeraap word – sy voel die rukking asof sy in die oog van ’n warrelwind staan – en neergesmyt word tussen ’n werpsel tente op ’n godverlate Vrystaatse vlakte.

      “Suster Nell?”

      Wat? Dis Hurst wat gepraat het. Hier by haar.

      Dit is waar sy is, saam met majoor Arthur Hurst in die Seale Hayne-hospitaal in Devon. Dit is waar sy moet wees, nêrens anders nie; sy moet haar wil tot die uiterste inspan om in hiérdie oomblik teenwoordig te bly. Hulle is in die private kamer van een van die koning se offisiere. Nee, nie die koning s’n nie: een van háár offisiere. Sy staan skuins agter majoor Hurst en kan die grootste gedeelte van die bed sien. Ook die spits van voete onder ’n laken. Sy knip haar oë om haar aandag te fokus. Die voete onder die laken ruk ’n slag senuagtig.

      Sestien jaar tevore het sy so in ’n skemer grot gelê en wag, gelê en kyk hoe die skadulyn stadig oor die grot se bek aanskuif, gelê en wag en wag en wag dat iets in haar bedaar.

      Hoofstuk 2

      Ek kan sien. My oë moet al lank oop gewees het voordat ek agtergekom het dat ek kan sien. Eers het die lig so wit om my gelê, en ek het gedink dit is nie lig nie, dit is nie lig nie. Ek weet nie wat ek gedink het dit is nie, maar dit was asof dit, die lig, ook so uit my mond uitloop en alles, alles om my word vol van hierdie suur, brandende naarheid wat in my is. Ek moenie meer kyk nie; ek wil nie weet wat dit is nie, ek wil dit nie voel nie, nee, ek wil nie. Ek wil nie. Alles moet weggaan. Ek moet liewer nie dink nie, want as ek dink dan druk my kop my vas, dan druk my gedagtes teen die been. Dis die dink wat dit laat oopkraak en so seer maak.

      Dit ruik na skaapkraal. Stof en mis en klip en wol. Ek dink ek is in ’n soort grot. Ek lê in die koelte, maar aan die voorkant is die son so blink ek kan nie daarna kyk nie. Blink strepe met spikkeltjies wat daarin dryf en agtertoe iets donkers soos mense wat buk en inkyk, of dalk is dit dassies wat in olienhoutbome sit. Ek weet nie ek kan nie dink nie my ore slaan toe en bokant my en aan die kant is tekeninge teen die klip van mense en diere en ek hoor die pote van duisende skape oor harde grond en dis hulle wat oor my geloop het almal met hul skerp kloutjies en my fyngetrap het my hele lyf in die grond in geboor het die vel van my wange af van my ribbes die harde horing in my oë ek kan nie dink nie ek kan nie dink nie.

      Nou weet ek wat ek gesien het. My eie gedagtes. Hoe dit bloederig uit my kop uitkom en borrel en spuit. Ek het al probeer skreeu so seer is dit, maar ek kan nie, want ek lê net hier. Dit is wat ek gesien het. Ek lê soos ’n afgeslagte skaap met daardie blou, sypelende are wat so bulterig staan oor die slymerige wit pens ’n lem wat girts, girts, ’n droë beskuit wat op die misvloer val en verkrummel waar my tone moet wees, my mond is volgeprop met skerp, harde krummels. Ek kan niks sê nie, want dit ruik na rook en skaapwol en stinksloot. Iemand het ’n lap in die stinksloot gegooi en ek moet liewer wegkyk weg weg want daar is bokke hier by my rooi soos grond en wit soos wolke hulle spring oormekaar en deurmekaar mense met kieries jaag hulle aan swart soos modder is die mense en die elande spring oor my, spring op, op, op. As ek net my oë styf genoeg kan toeknyp sodat alles kan weggaan.

      Hoofstuk 3

      Die trein tok-tok gedemp van Harwich af deur Devon se ryk mengsel van groen en bruin, waterverfkleure wat vervloei en aftraan teen die ruit. Maar haar gemoed is nog vol van die deinings van die grys see en die half gelate gewieg van die skip, en dit is asof haar gedagtes steeds in die diep koue water versonke is.

      Sy het byna heelpad op die bodek van die posboot na Harwich gestaan, een van net ’n handvol vroue tussen ’n klomp mans, hoofsaaklik bemanningslede, enkele amptenare, selfs ’n paar soldate, almal met spesiale vergunning om die oorlogswaters te betree, daarsonder kon jy nie. Die veerbootdiens is opgeskort en die posboot is deesdae die enigste manier om van Nederland na Brittanje te vaar.

      Sy was laas op ’n skip toe sy kort voor die einde van die Anglo-Boereoorlog uit Kaapstad weg is – ironies genoeg weg van ’n ander oorlog af. Die gedagte het by haar opgekom daar op die krakende dek van die posboot met sy nat stemme en seesproei: Dáárdie oorlog was myne, het sy gedink. Nie dié een nie. En terwyl die posboot voortgestu het deur die plat see en net soms log teen die deining ingekreun het, het dit haar opgeval hoe anders die Noordsee is as die silwer skittering van die Kaapse see wat sy onthou, die donderende, skuimende breek van branders teen die rotse by Drieankerbaai, by Seepunt. Vlugtig het sy toe iets van háár oorlog probeer herroep, die een van sestien jaar tevore. Sy was toe al byna so lank in Nederland as wat sy in Suid-Afrika was. Sy het die gedagtes byna ergerlik opsygestoot. Dit is verby, het sy gedink. My oorlog is verby.

      Waaraan sy wel af en toe nog dink, en soos altyd is dit asof sy nie net dink nie maar dit akuut beleef, is hoe jonk sy was in 1902 toe Kaapstad en Tafelberg besig was om agter haar buite sig te verdwyn. Miskien