pad dorpuit probeer sy hierdie versperring in haar kleinkry, hierdie verduistering van haar blik. Later het sy die rit probeer herroep, probeer onthou wat sy gesien het. Lae klipmuurtjies waarteen die blare ophoop; ’n vrou wat met uitgestrekte arm by ’n venster uitleun asof sy geld vra; bome wat in bykans ’n identiese nabootsing van daardie gebaar hul takke oor die pad steek. Een-een beelde.
Jacobs begin rem en beduie met sy kop na die gebou voor hulle in die pad, maar sy merk kwalik die hospitaal wat voor hulle lê. Sy sien wel die kasteelagtige poort, maar haar gedagtes bly karring om daardie wit skakelhuis, om en om soos ’n rat wat gly. Dit is ongewoon, sy is nie een wat wroet nie. Impulsief is sy, ja, dikwels selfs te voortvarend, maar sy val nie vas in dinge nie. Sy kan dus kwalik wag dat Jacobs sy wye draai voltooi en reg voor die ingang tot stilstand kom. Met die uitklim praat sy reeds. Hy is nog besig om die laaste proes van die enjin te bepeins, of doenig met een van daardie bestudeerde intimiteite wat tussen mans en hul masjiene bestaan, toe skreeu sy byna: “Hoekom het jy vir my daardie . . .” Sy sien hom onthuts opkyk, verloor onmiddellik stoom, maar haal diep asem en probeer weer: “Hoekom het jy vir my daardie huis gewys?”
Hy weet ooglopend nie waarvan sy praat nie. “Daardie huis?”
“Ja, daardie huis. Die generaal s’n. Hoekom?”
Hy haal stadig sy bril af, en dit is asof daardie lui, argelose gebaar al was wat nodig was om haar los te maak van haarself. Dis asof sy toe eers, en op ’n afstand, hoor wat sy gesê het en haarself daar sien staan, in ’n nuwe wêreld sien staan – vrou, man en masjien, en agter hulle die groot hospitaal.
“Toemaar,” sê sy en vat haar koffer by hom. “Toemaar.” En sy draai om en stap die hospitaal die heel eerste keer binne. Hoe kon ek? dink sy, en sy weet dat Jacobs haar agternastaar. Ek is heeltemal laf. Sy lig haar ken en stap vanuit die helder namiddag die hospitaal se skaduryke poort binne.
Hoofstuk 4
Dis die gemaklikste om op my sy te lê. My kop is darem op ’n opgevoude stuk sak of iets, en onder my is ’n swarterige kombers wat seker bo-oor geplukte gras uitgegooi is. My lyf ruk nie nou nie, nie nou nie, maar ek weet die rukkings kom en kom. Dis te seer om my kop te roer. My oë is ook nog so vol beskuitkrummels of iets.
My gedagtes kom nou makliker op, maar dit warrel die meeste van die tyd net weg. Soos die modder op die bodem van ’n rotspoel, as jy jou hand daarin steek dan maak dit sulke bruin wolke en jy kan niks vasvat nie.
As ek net iets kan kry vir hierdie verskriklike dors, maar hoe kan ek drink as my mond vol grond is? Wat sal ek drink?
Dit is seer. Dit stink. Daar is lig, ja, daar is lig. Ook geluide. ’n Rooivlerkspreeu. Tsoei-lie-tsoei-lie, dis hoe hulle maak. Dit onthou ek.
Klip. Bokant my en om my. Ek is in ’n grot, weet ek nou. Teen die klip die elande wat oor my spring, en tussen hulle swart mannetjies met kieries in hul hande. Ek weet ook wat dit is. Op Bosrand is daar ’n holkrans met Boesmantekeninge. Ja, Bosrand. Nou kom die dinge terug. Pa het ons dit gaan wys. Pa. Ma. Neels. Ek.
Daar was ook al ’n gesig voor my. Ek onthou nou. En die skrik. Hy het by my gehurk, en ek het eers die sandkorrels aan sy broek en aan sy hand gesien. Die hand was swart. Toe maak ek my oë toe. Net toe. Later het ek weer probeer dink waar ek is, maar ek sien net sulke modderwolke en al wat daar is, is die verskriklike bangheid.
Dis ook hy wat nou praat, daardie gesig. Dit is soos klippe wat van hoog af teen ’n berg afrol. Dis ’n geluid wat ek ken. Ek verstaan wat hy sê. Kgotso, Mofumahatsana, sê hy. Dis hoe hulle groet. Die goeies, húlle groet so. Maar hy wil my net laat dink dat hy een van die goeies is, want eintlik wil hy net ’n wit vrou hê en met haar maak soos hy wil.
Ek kan hom nou goed sien. Hy sit met sy knieë opgetrek en met ’n knopkierie wat hy tussen sy bene vashou. Sy kop is weggedraai van my, maar ek weet hy kyk uit die hoek van sy oë vir my. Metsi. Dit is wat ek moet sê. Water. Ek wil water hê. Hy moet vir my water gee, dis al wat ek wil hê, dan kan ek maar doodgaan. Hy moet my net vinnig doodmaak dat ek nie kan sien wat hy doen nie, of voel wat hy doen nie.
Hy sit die kierie neer en kom regop. Ek is so bang ek kan sterf. Maar hy kom druk net sy hand in ’n kalbas wat langs my staan – ek sien dit nou eers – en dan bring hy sy hand na my mond toe. So ’n tuithand.
As ek my tong uitsteek, kan ek darem die water voel. Hy laat dit afdrup. Ek probeer sluk, maar my tong is taai. Gelukkig drup daar nog, en nog. Die water is bitter, dit smaak na blare, iets soos aalwyn of wildeals. My hele gesig word nat en af oor my ken en keel.
Daar is iets om my kop gedraai, voel ek nou. Hoekom lê ek hier onder ’n kombers? Het ek klere aan? Wat het hierdie jong met my gemaak? Wat gaan hy met my doen?
O mang? dis wat ek moet sê. Wie is jy? Maar die woorde wil nie uitkom nie. Ek kan nie praat nie. Soos Ma, toe sy probeer bid het, maar nie die woorde kon kry nie en haar hande na my uitgesteek het. Here, behoede ons tog, laat u lig oor ons skyn.
My lippe kraak so as ek my mond oopmaak. Om te bid is al wat sal keer dat die donkerte oor die land kom. Ik ben de Alfa en de Omega, het Begin en het Einde, zegt de Heere. Daar is ’n dominee wat sy hande in die lug opsteek, pylreguit steek hy sy hande op na die wolke en hy kyk af na my, en ek kyk weg van sy verskriklike aangesig, weg van sy oë wat na my kyk soos ’n gloeiende oond en net die kwaad en ellende sien. Waar is die jong wat altyd hier by my sit, waar is hy?
Sy naam is Tiisetso. Hy sê nie nooi nie. Maar dan kyk hy weg van my en sê ke sôno. Dis ’n groot jammerte, sê hy. Hy sê ek moet slaap dat ek weer kan krag kry. Hy sê dat ek groot seergekry het daar by Balla Bosiu. Hy stamp met sy knopkierie op die grond tussen sy voete.
Balla Bosiu. Die kamp. Die plek waar hulle in die nag huil, dit is wat hulle dit noem. Dit kan ek ook onthou. Die kamp. Dit is waarvandaan ek kom. Ek weet dit nou. Maar as ek my oë toemaak en ek dink, dan is al wat in my kop kom die gevoel van ’n skaap se hakskeen in my hand, hoe dun en hard die been onder die vel is en hoe die wolhaartjies stekelrig is in my hand en die skaap skop so dat dit my arm tot in my potjie ruk. Dan sien ek ook hoe iemand die skaap se kop agteroortrek en vinnig ’n lem oor die keel trek en sny, sny, sny terwyl die bloed borrel en die gorrelpyp oopbars, en ek kan nie wegkyk nie al wil ek en die man wat slag, kyk vir my, sy neus is dun en krom en sy lippe is droog en dieselfde kleur as sy vel, nie rooi nie, en hy sê iets vir my, maar ek kan nie hoor wat hy sê nie.
Ek maak my oë liewer oop.
Maar hoe het ek hier gekom? Hierdie jong moet vir my sê. Wat gaan hy met my maak? As ek dit net kan vra. Wat gaan hy met my maak?
Hoofstuk 5
Daarna, eers lank daarna, het die gedagte by haar opgekom dat haar hele lewe en alles wat met haar gebeur het, uitgeloop het op daardie presiese moment, op daardie oomblik toe sy haar hand uitgesteek het na die deurhandvatsel, van onder die dooiegewig van tyd haar hand opgedwing het na die knop – dáárheen het alles afgewerwel, na daardie deur en wat daaragter gelê het.
Iets in haar moes egter eers tot bedaring kom voordat sy dit kon regkry om dit duidelik genoeg te sien: haar gestalte voor daardie deur en hoe sy tot daar gekom het. Vreemd genoeg het dit begin gebeur nadat sy lankal die sekerheid verloor het oor waar alles in die wêreld hoort, of hoe dit daar gekom het, of wat die rangorde van dinge is. Sy was toe reeds ’n volle vennoot van Reymaker Psychiatrie, en die gaping tussen wat sy teoreties geglo het en instinktief gedoen het, was uiteindelik klein genoeg dat sy spontaan, onbevange haar beroep kon uitleef. Wel met ’n soort Nederlandse ongeërgdheid, nee, seker eerder ’n haas permanente gebelgdheid, ’n ongeduld met beuselagtighede. Sy het inderdaad volledig geassimileerd geraak. Hoe dan anders, sy lyk dan so Nederlands: haar gesig oop en blakend, vosblonde hare wat sy dikwels agter die kop vaswoel sodat die ou litteken links aan haar voorkop sigbaar is, die dae dat sy dit so naarstig weggesteek het lankal verby. Daarby is sy lank en glad nie tenger nie, haar mond breed en vol – effens gulsig, dié mond van my, dink sy soms as sy haar toelaat om selfkrities te wees. Maar sy waak daarteen: te veel selfkritiek doen niemand goed nie, nie vir jou nie en ook nie die mense om jou nie. En as sy na haar oë kyk, vandag nog, weet sy: versigtig,