Francois Smith

Kamphoer


Скачать книгу

ook eerder ’n Nederlandse kenmerk. So, waar laat dit jou?

      Iets omtrent haarself waaroor sy wel baie seker is, is dat sy haar tuis voel in die saakliker sosiale omgang. Dis nou as sy dit vergelyk met sê nou maar dit waarmee sy grootgeword het, die geselsies en so. Ook in haar optrede teenoor pasiënte is sy reguit en op die man af. Sy sal byvoorbeeld ’n seurende pasiënt ferm stilmaak en sê: Kom ons skei die koring van die kaf. Die vrou aan wie sy nou dink, was tog so angstig dat dit háár melancholie, haar swartgalligheid en doodsbeheptheid was wat aanleiding gegee het tot die moord op haar man, dat sý dus die dood as’t ware getart het. Aan dié vrou sê sy toe: Jy durf nie so dink nie. Die wêreld staan heeltemal ongeërg teenoor jou; steur hom nie in die minste aan wat jy dink of doen nie, of wat met jou gebeur nie, of wat per slot van rekening met jou man gebeur het nie.

      Snaaks dat sy nou hieraan sit en dink. Dis vroegaand en die kantoor is al ’n hele rukkie stil. Haar hele lewe is trouens nou stiller. Die frenetiese gejaag is verby. Dit is nie soseer ’n kwessie van tanende energie nie, as bloot die behoefte aan stilte. As sy eerlik moet wees: Sy sien nou kans vir stilte. Nou eers. Dit gebeur dus meer en meer dat sy ná werk ’n ruk op kantoor agterbly. Stil by haar lessenaar, voor die oop, gladde blad. Sy verdra niks op haar lessenaar nie, nie ’n boek of selfs ’n leeslamp nie, haal ’n notaboek uit ’n laai indien nodig. Die kantoormure is ’n ander saak, dit is ’n deurmekaar, rafelrige tapisserie van boeke, ornamente, kunswerke: ’n rituele masker uit die Kongo, ’n geraamde afdruk van Da Vinci se Die dame met die hermelyn, ’n kleipot en ’n mat van biesies gevleg wat iemand vir haar uit Suid-Afrika saamgebring het. Dit is háár wêreld; die teenstrydighede daarvan is vir haar gerusstellend. Dit is hoe sy dit wil hê. En dis hier waar sy haarself voor daardie deur begin sien het, en agtergekom het hoe die wêreld, háár wêreld, heeltemal teen haar logika in en sonder dat sy daarvan bewus was die fatsoen, al die kontoere, van daardie toneel begin aanneem het. Asof die wêreld hom op ’n makabere manier bemoei met haar lewe.

      Lank was dit nie moontlik nie, maar nou sien sy kans vir waarheen dié gedagtegang lei, deesdae sien sy kans daarvoor. Vir die rit saam met Jacobs op die motorfiets met die syspan. Vir daardie kamer in daardie hospitaal. En een van die dae, dit weet sy, sal sy kans sien om terug te gaan na waar alles begin het.

      Die hospitaal is ’n fortagtige gebou van rooi baksteen afgewissel deur wit sierpleisterwerk; die ingang is ’n poort onder ’n burgtoring met kantele. Sy stap vanuit die skadu van die poort na ’n binnehof waar die lig vanoggend verblindend kaats van gryswit gruis op die grond en die rye vensters van die dubbelverdieping wat die hof omring. Sy loop met haar ken ingetrek sodat dit lyk asof sy haar letterlik heeltyd moet beteuel. Dit is nie ’n grasieuse stap nie, maar die beweging van die skouers, ritmies vorentoe en agtertoe, laat dit lyk asof sy loop en dink aan ’n dans, of dat sy selfs die marsbewegings van soldate in gedagte het. Ingedagte loop sy, sodat haar serene gesig die ingehoue energie van haar stap weerspreek.

      Gister het Jacobs vir haar gewys waar sy moet kom aanklop. Hurst, die hoof van die hospitaal, was toe nie beskikbaar nie, en Jacobs se versigtige klop is met stilte begroet. Die gange was wel vol hospitaalbedrywighede, ook vroue wat in verpleeguniform skarrel, enkeles wat ’n sydelingse blik na haar kon verwerdig. Vanuit een van die gangvensters het sy afgekyk op ’n ruie tuin. Tussen die struike het sy twee mans in uniform sien loop.

      Hierdie keer is daar ’n antwoord toe sy klop. Hy sit by ’n skryftafel na haar en kyk, en hy lyk asof hy van was gemaak is. ’n Oomblik lank is sy ook vas oortuig dat dit ’n wasbeeld is, al behoort sy teen dié tyd gewoond te wees aan hoe anders die Europese mans lyk as dié met wie sy grootgeword het. Hoe skóóngewas hulle lyk. Dokter Arthur Hurst is egter vir haar byna deursigtig, die hare blink teruggeolie, die bolip ’n gespanne snaar bokant die vlesige, beweeglike onderlip. Die onderlip en die oë, dink sy, dit is die enigste gedeeltes van sy gesig wat nié met ’n ragfyn kwassie op die blanko gelaat geskilder is nie. Die oogkasse en onderlip is ruweg tussen duim en voorvinger uit potklei gefatsoeneer, en jy moet veel, veel nader aan hom wees om te sien wat in daardie duimholtes geplaas is.

      Hy kom orent agter sy skryftafel, en praat van onder die boog van sy lyf. “Sien is glo,” sê hy met ’n stemtoon wat haar laat dink aan die argeloosheid van sommige van Jacobs se handgebare, en sy voel ’n bedugtheid in haar roer. “U is inderdaad ’n vrou.” Hy loop om na haar, sy hand half gelig vir die groet. “Ek het byna op my rug geval toe Rivers sê hy stuur . . .” Sy mond verstil, word weinig meer as ’n verleë plooitjie skuins oor sy ken.

      “Wou u eerder ’n man gehad het?” sê sy koelweg nadat sy sy hand geskud het. Dit is sy spontane verleentheid wat haar die selfvertroue gegee het, besef sy. Dáárin lê sy sjarme.

      “Vader, nee, moet my nie verkeerd verstaan nie …” Hy beduie na ’n regop kantoorstoel. “Sit asseblief.”

      Hy is in uniform. Nie die kakie wat sy in Suid-Afrika leer ken het nie, maar ’n olyfgroenerige duffelse materiaal. Die Sam Browne-belt met sy skouerband wat skuins oor die bors loop, ken sy wel, en die beenwindsels. Terwyl hy terugloop na sy stoel, herken sy ook die afgemete, berekende treë wat daardie windsels die draers daarvan laat gee.

      Sy is in haar Nederlandse verpleegstersuniform, en toe sy haar ken laat sak, voel sy die koel bakeliet van die knoetserige geel kruis aan haar hoë boordjie. Sy stryk die wit voorskootrok oor haar bobene plat, en is op hierdie oomblik, in hierdie kantoor en onder die blik van hierdie man, bewus van die enkele foto van haarself waarvan sy hou: haar gesig daarop hoekig en nie plat nie, haar breë mond met die geknypte hoeke wat so byna, byna minagtend opkrul. Haar gesig is weggedraai van die kamera sodat ’n skadu oor die linkerkant val, maar waarom sy die meeste van daardie foto hou, is die … nee, “minagting” is nie die woord daarvoor nie, dit is nie waartoe sy geneig is nie, maar daar is tog ’n soort uitdagendheid wat sy uitstraal. Of is dit bloot dat sy dit daar reggekry het om die kamera se attensies heeltemal te ignoreer?

      Toe Hurst weer praat, skrik sy half; sy was ’n oomblik heeltemal in gedagtes versonke. “Nee wat, jy is tog nie die enigste vrou hier nie,” sê hy, maar sonder enige skerpheid. “Die plek was bowendien nie lank terug nie – ag, ons is kwalik ’n jaar hier – die Women’s Land Army se hoofkwartier.”

      Hy hou op praat en hou haar afwagtend dop. Sy voel hoe sy onwillekeurig begin bloos, en ergerlik kyk sy af na haar hande, hoop dat hy dit nie merk nie. Maar toe sy weer opkyk na hom, het hy vooroor gekom in sy stoel, sy elmboë nou op die tafelblad. Haar reaksie was klaarblyklik aanvaarbaar, of ten minste nie verdag nie, want hy praat nou met ’n merkbare oplewing in sy stemtoon: “Ons stryders van die ploegskaar. Jy moet al van hulle gehoor het, dalk self van hulle teëgekom het. Hoe lank is jy nou al hier? Ag, maak nie saak nie, die feit is dat die plek eintlik ’n landboukollege is, ek bedoel wás, voordat die hoofkwartier besluit het dis belangriker om bomskok-soldate terug aan die front te kry as om vroue op te lei om hierdie mans se plek op die koninkryk se landerye in te neem.”

      A, sy weet van wie hy praat! Sy wonder ’n oomblik of hy sarkasties is, maar sy gesig verklap niks. Nou weet sy ook hoekom sy begin bloos het. Ja, sy weet: Toe sy en Jacobs vanoggend met die syspan onderweg was na die hospitaal, het hulle skielik die pad volgeloop, hierdie vroue. Sy het die kante van die syspan vasgegryp, gevoel hoe Jacobs die motorfiets rukkerig rem. Dit het haar ’n hele rukkie geneem om te begryp wat sy sien: die kort oorjasse, die hoog opgetrekte kniebroeke, lang grys kouse, blouerige truie by broeke ingesteek, die rubberstewels van sommiges, en dan byna as ’n nagedagte die skoffelpik oor die skouer. Maar onteenseglik die heupe en dye en hare en borste – dit was vroue!

      Die groep werkersvroue, boerinne, het vinnig maar heeltemal speels, uitbundig selfs, vir die motorfiets padgegee, Jacobs het versnel, verbygejaag en sy het probeer terugkyk na die joelende groep, maar Jacobs het iets bo die enjingeraas aan haar probeer skreeu en sy het haar kop teruggeruk en na hom oorgeleun. Hy moes die fiets byna tot stilstand bring voordat sy kon hoor wat hy sê en begryp wat sy kekkelende lag beteken, sy mond oopgesper en sy tong … ja, noudat sy daaraan dink, was dit nogal obseen, die manier waarop hy sy tong tussen sy ontblote tande laat flap het. Sy het vinnig van hom weggekyk, stip voor hulle in die pad, aan die kante van die syspan vasgeklou terwyl hulle heen en weer en stampend, ratelend voortjaag na die hospitaal. Skommelend en klouend het sy probeer sin maak van wat