Francois Smith

Kamphoer


Скачать книгу

van sy bewegings met die sereniteit van sy gesig, maar skarrel dan haastig om saam met hom deur die deur te kom. Hy is nie lank nie, sien sy nou; dalk selfs korter as sy.

      “Jy sou netsowel ook kon sê ons werk met dapperheid,” vervolg hy toe sy langs hom inval, “met die verwagtings wat dit skep, en gevolglik ook die teleurstellings. Daar is steeds diegene in die weermag en daarbuite wat dink ons behandel wanaangepastes, en dat dit mense wat ‘swak van gees’ is wat vatbaar is vir sulke ineenstortings. Maar die feit is dat die meeste van ons pasiënte offisiere is. Jy sal dalk vir my sê dis ’n klasseding, dat hulle uiteraard meer aandag en simpatie van die owerhede sal kry, maar die vernaamste rede is dat dit juis offisiere is wat nie hul emosies durf wys nie. Hulle is die ouens wat doodeenvoudig hul vrees móét verdring. En hier sien jy die hele kaboedel: ataktiese en histeriese gange, kontraksies en anestesie van die gesig, spierspasmas, knie- en enkelreflekse, paraplegie, oorlogsverwante hipertireose, amnesie, woordblindheid en woorddoofheid en dan nog algemene simptome wat jy uit die kliniese praktyk sal ken.”

      Hulle loop in ’n lang, skemerige gang met ’n glansend blink vloer. Sy is bewus van die flap van haar rok om haar bene, van die stamp van Hurst se swaar stewels. Hulle loop deur ’n vreemde, half boaardse flikkering van donker en lig – verby oop deure van waar elektriese lig byna verblindend helder oor die donker gangvloer val. En dit is asof hulle, sy en Hurst, hulself omhul met ’n dun membraan van moderne kennis, die jongste wetenskaplike terme, ’n fyn net van woorde, en in hierdie helder borrel dryf hulle rond op ’n oeroue see met om hulle ’n wemeling van rukkende liggame, krioelende ledemate en oë wat glasig ploep deur die sponsige oppervlak van die modder en slyk van die heel, heel begin. En dit is geleidelik asof iets van hierdie oersop begin deurlek na hul helderte toe, tussen die membraan se molekules deurpers en krake oopdwing waardeur figure, gesigte en geluide binnedring. Saam met Hurst se relaas is daar nou ook ’n ander stem in haar kop, een van die ou, ou stemme wat haar soms nog besoek, dié van dokter Molesworth in ’n donker koets onderweg na Bloemfontein: “Wat is dit wat jy gesien het, Perry?” En terwyl Hurst se stem die nuwe terrein vir haar ooplê, is dit asof ’n gedeelte van haar aandag voortdurend weggelei word na hierdie ander, ouer paaie – die paaie wat sy geloop het om hier, in hierdie hospitaal, uit te kom. “Dis die oorlog, nie waar nie?” hoor sy Reymaker praat, en sy sien sy geplooide bleek vinger sy kat se stertjie aai. “Jy is nie jou oorlog nie,” wil sy hom toesnou; sy wil sien hoe hy sy oë toeknyp en terugdeins, maar Hurst het skielik gaan staan.

      Nie dat dit onverwags was nie, dis net dat sy so in gedagtes versonke geraak het. Hurst het eintlik heelpad kort-kort gaan staan om eers iets te verduidelik. Hy huiwer byvoorbeeld eers ’n rukkie voordat hulle met ’n trap afgaan, of, het sy agtergekom, wanneer hulle buite hoorafstand is van personeellede wat hulle elke nou en dan in die gange teëkom. “Bomskok is ’n misleidende term,” sê hy dié keer. “Aanvanklik het medici gedink dit is senuskade as gevolg van ontploffings. Nee, korreksie, aanvanklik het hulle gedink dis die gekonkel van lafhartiges wat so van die front wou wegkom. Hulle is dus taamlik ru behandel. Eensame aanhouding. Dissiplinering. Jy kan jou indink wat dit behels het. Elektriese skokke. Emosionele manipulasie. Maar deesdae weet ons dat baie van dié soldate, diegene wat jy hier kan sien, nie eens naby ’n bom was nie, en dit is waarom ons eerder van ‘oorlogskok’ as ‘bomskok’ praat. Dit is in baie gevalle eerder ’n langdurige blootstelling aan vrees, aan spanning, en doodgewoon dae en weke en maande se gewag in ’n loopgraaf wat die skade berokken.”

      Hulle loop by sale in, verby rye beddens met vaal komberse, wit lakens en grys gesigte. Van die pasiënte sien hulle nie eens nie, kyk na die dak, by ’n venster uit. Die verpleegsters wat hulle in die sale teëkom, is meestal so besig dat hulle ook nie opkyk nie. Hurst buk soms by ’n bed om met die pasiënt te gesels, soms ontlok hy ’n glimlag, ’n paar woorde, maar meestal net ’n bekommerde, verwarde staar. Soms wil Susan iets vra, ’n opmerking maak, maar alles wat sy wil sê, kom vir haar ontoereikend voor. Dit is asof sy haar kliniese, afstandelike blik kwytgeraak het en net kan reageer met persoonlike indrukke of emosionele ontboesemings.

      Toe Hurst die soveelste saaldeur agter hulle toetrek, wil sy die geleentheid aangryp in die lugleegte voor die volgende deur, en iets sê wat heeltemal niks met haarself te make het nie. Sy lig ’n hand na hom toe om sy aandag te trek, maar net toe gaan die deur aan die oorkant van die gang oop en ’n verpleegster staan in die opening, haar gesig uitdrukkingloos. Susan sluk droog. Sy sluk letterlik haar woorde terug; haar hand kom stadig terug na haar sy. Oor die verpleegster se kop, in daardie breukdeel van ’n sekonde voordat die deur weer agter haar toegaan, sien sy ’n lyf wat wriemelend opkrul van ’n bed, asof die lakens ’n witwarm vlam is – dit was ’n mens.

      Die deur klik toe, en Susan en die vrou staan sprakeloos teenoor mekaar. Dit was ’n mens, dink Susan en voel die vertraagde skok van adrenalien in haar vingerpunte prik. Sy hoor Hurst skuins agter haar praat. “Anne,” sê Hurst vir die verpleegster, “sal jy vir suster Susan Nell ’n bietjie touwys maak?”

      Die vrou teenoor haar, Anne, se blou oë, haar hele gesig, is bewegingloos, net haar mond roer wanneer sy praat, en dan met so ’n byna siniese trek van die vol onderlip. Sy is Anne Maxwell, oënskynlik een van die senior verpleegsters in die hospitaal, maar presies waar sy in die hiërargie inpas, is nie seker nie. Sy blyk wel bewus te wees van “die Nederlander” se koms, maar sy luister uitdrukkingloos na Hurst se bondige bekendstelling, byna afwesig, soos wat hospitaalpersoneel gewoonlik iemand se polsslag neem. Sy kyk Hurst agterna toe hy wegstap, en toe hy buite hoorafstand is, sê sy, steeds agter sy rug aan: “Wat het hy jou al gewys? Een van sy wonderwerke?”

      Dit is ’n toonlose, effens verveelde stem, maar die blou oë flits na Susan se gesig en gluur dan nogal demonstratief na waar Hurst om ’n hoek verdwyn. Susan vermoed die vrou is besig met ’n parodie van die tipiese streng matrone. Sy is nie seker hoe sy daarop moet reageer nie. Is Anne Maxwell besig om met Hurst die gek te skeer? Sy ignoreer Anne se sydelingse blik en sê saggies: “Die mense wat ek gesien het, het maar oes gelyk.”

      Anne begin terstond aanstryk. “Kom,” sê sy, “kom ek gaan wys jou.” Toe Susan aan haar skouer loop, sê sy, steeds met haar blik strak voor haar gerig: “Die wat genees is, mirakelagtig genees is, of op die drumpel van genesing staan, sal jy in die biblioteek sien, of in die musiekkamer, of wandelend in die tuin.”

      Steeds weet Susan nie presies wat die vrou bedoel nie. Mirakelagtig … Sou sy sarkasties wees? Die gedagte is bloot ’n fladdering, want wat regtig op Susan se hart druk, is wat sy pas vlietend agter daardie deur gesien het. Sy rek dus haar treë so ’n bietjie sodat sy skuins voor Anne Maxwell loop, kyk haar oor haar skouer aan en vra: “Maar wat was dit in die saal daar agter, waar jy nou net was?”

      Anne se oë swaai na haar en weer terug, ’n vlietende gebaar, wat wat beteken? Was dit ’n bevestiging? ’n Waarskuwing? Maar voordat Susan nog iets kan vra, praat Anne. “Percy Meek,” sê sy, en dan: “Nog nie reg vir die biblioteek of tuinwandelings nie, nè.” Susan gaap haar aan. Waarvan práát die vrou? Anne gaan egter onverstoord voort: “Jy moes hom gesien het toe hy opgeneem is.” Sy stamp ’n deur met haar linkerhand oop en hulle is in ’n vertrek met ’n lang tafel en stoele, van iewers kombuisgeluide en die reuk van kos wat gaarstoom. “Die personeel se eetkamer,” sê Anne, gaan staan by die koppenent van die tafel, vou haar hande voor haar bors en vervolg sonder verposing met haar relaas: “Hy het nog gedink hy is in ’n loopgraaf toe hy hier aankom, net so opgekrul bly lê en koes vir bomme wat val, sy pupille so groot soos ’n kleinbordjie.” Sy kyk Susan die eerste keer vierkant aan, en dan sien Susan dit: Haar irisse het ’n donkerblou, byna pers rand. En onder daardie oë roer die lippe skaars merkbaar om die sarsies woorde uit te skiet: “Daar in sy bed, die ene spasmas, het hy gesweet soos ’n perd, sy pols honderd-en-veertig en sy kop, romp, bene, als ruk-ruk-ruk. Hy sien spoke,” sê sy, “die spoke van die Duitsers wat hy met die bajonet neergevel het. Hulle kom vir hom, hy hoor hulle koeëls langs hom vasslaan, hulle kom vir hom.”

      Steeds weet Susan nie hoe om te reageer nie. Onder Anne se strak uiterlike, haar ongeanimeerdheid en die toonloosheid van haar relaas, skemer daar ’n intelligensie en ’n berekendheid deur, die vertelling klink selfs gerepeteer, en die mond, merk Susan, ja, die mond is altyd net so ’n haarbreedte weg van ’n glimlag. Susan begin ’n