Francois Smith

Kamphoer


Скачать книгу

en swaai asof dit aan ’n wa bengel. Dadelik was die beklemming daar, en sy kon niks anders as hierdie warreling van beelde oproep nie. Eers later, sy was seker reeds terug in haar kamer, het die gewaarwording gekom dat dit dalk die probleem is, naamlik dat Engeland altyd vir haar net dít sal wees. Altyd maar terug na dáárdie toneel. ’n Toneel met sy eie agtergrondmusiek, eie beligting, eie woorde; die choreografie van daardie makabere dans onuitwisbaar vasgelê in haar.

      Maar dié wete het eers veel later gekom. Toe, daar in die kantoor, het Reymaker eers weer gepraat: “En Rivers? Wat jy van hom weet en wat jy van hom bewonder, het ék jou vertel. Ek dink wel hy gaan ’n bietjie ver met sy bewondering vir die primitiewe, dit het ek jou hoeveel keer al gesê. Die wilde, woeste man!” Reymaker het ’n buiklag in die kat se gesig ingedruk, maar plotseling versomber, asof hy skielik besef het hy gee die beeldjie aanstoot. “Hy voer sake ’n bietjie ver,” het hy peinsend vervolg. “Maar tja, hy kry resultate, nè? Hy krý resultate.” Hy het ’n bleek hand na die kat uitgesteek en versigtig oor die stert gestreel wat netjies, tipies kat, om die pote gekrul was. Hy het weer om die beeldjie na haar geloer, sy mond halfoop. “Dis die oorlog, nie waar nie?” het hy gesê. “Dis die oorlog wat jou trek.”

      Sy het stil na hom gekyk. Sy woorde geweeg, haar vingerpunte liggies op die stoel se leuning. Is dit die oorlog? Sy kyk na haar baas op sy troon met sy beeld van die godin van wysheid langs hom. Enigiemand anders sal uitbars van die lag vir die eksentrieke ou man, maar sy het al geleer om nie deur die karikatuur van stryk gebring te word nie. Om die waarheid te sê, dit is vir haar nogal gerusstellend. Dit sou vir haar moeiliker gewees het as hy ’n man was wat jy met volle erns moes bejeën. Maar is dit die oorlog wat haar trek? En as dit so is, waarom?

      Nee, het sy toe besluit. Sy is juis in hierdie beroep om te help genees; haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel. En sy gaan Engeland toe omdat daar nou sale vol mense lê wie se binneste ’n spelonk vol vlieënde bomskerwe geword het. “Dis die ménse in die oorlog wat my trek,” het sy gesê.

      Reymaker het haar nog ’n rukkie sit en betrag en toe na papiere op sy lessenaar begin soek. “Nou goed dan, nou goed,” het hy gemompel. Sy moes net help om ’n tydelike plaasvervanger te kry; hy het gehelp om vir haar ’n reisvergunning en ’n pos by een van Rivers se hospitale te kry. Nou wel nie by Rivers se eie hospitaal, die Craiglockhart-oorlogshospitaal in Edinburg nie, maar by die Seale Hayne-hospitaal in Devon. “Daar is ’n mannetjie daar wat net sulke goeie werk doen. Rivers reken hy is op die regte spoor, so dit kan net een ding beteken. Hurst is sy naam.”

      En hier sit sy regoor dokter Arthur Hurst. Majóór Hurst. ’n Britse soldaat, in uniform. Dit is nie ’n doodgewone situasie nie. Vir haar allermins. Maar dit is presies waarop haar lewenskeuse, haar keuse van ’n beroep, afgestuur het. Sy kon haar hele lewe lank weggehardloop het van dit wat sy is, van dit wat sy in Suid-Afrika geword het. Maar sy het lank gelede besluit dat daar vir haar net een manier is om te lewe, en dit is in regstreekse konfrontasie met daardie ding wat voortdurend aan haar deur sal kom klop. Maar so negatief hoef ’n mens ook nie daarna te kyk nie, want per slot van rekening is haar lewe ook gered daar in Suid-Afrika en sy het maar net besluit om daardie soort reddingswerk voort te sit, die genesing soos wat sy aan die hande van Tiisetso en Mamello in daardie grot ondervind het, dit sal sy voortsit. Dit is hoe Rivers in die prentjie gekom het. Sy sal nie toegee aan die behoefte om iemand te sien ly soos wat sy gely het nie. Die behoefte is soms nog daar. Akuut. Maar dis nie ’n grondslag vir ’n lewe nie.

      Hurst praat weer; sy konsentreer stip. “Maar jou belangstelling in die psigiatrie, dit is tog nie ’n voor die hand liggende keuse nie?” sê hy.

      Nie ’n verrassing nie. Sy moes die vraag al ’n paar keer in haar lewe beantwoord. In die verpleegkollege reeds. Dikwels. Daarna het Reymaker gevra … Maar lank tevore al moes sy dit ook aan haarself beantwoord. Dit is die feite waarmee sy sit: Sy was ’n bywonersdogter, ’n konsentrasiekampkind. Goed, kind was sy seker nie meer nie, maar die feit is dat haar skoolopvoeding volgens alle standaarde ’n gebrekkige een was. Hoe het dit dan gebeur dat iemand met haar agtergrond by psigiatriese verpleging beland het?

      Sy het ’n paar standaardantwoorde, maar hierdie keer, hier voor Hurst, besluit sy om die vraag heeltemal te ontwyk. “Ja, dit is seker so,” sê sy, “maar dit is om professionele redes dat ek gekom het.” Hy kyk ’n oomblik af na sy hand wat oor die tafelblad gestrek is, en dan weer na haar. Sy gaan voort: “In Nederland is daar ’n ruk gelede, so tien jaar gelede, aktief vroue gewerf vir die psigiatriese verpleging. Spesifiek deugdelike middelklasvroue.” Sy gee ’n ironiese laggie, ’n ingeoefende gebaar. “Die uitgangspunt was dat dié soort verpleging toegespits moes wees op die herintegrasie van pasiënte by die gemeenskap. Hulle moes dus in die eerste instansie goeie burgerlike waardes leer, en die Nederlandse owerhede het gedink middelklasvroue is ideaal geskik vir die taak om afgewekenes weer op die gebaande weë te bring.”

      “En dit is hoe jy in die beroep beland het, so per ongeluk?”

      Hy sluk dit toe nie so maklik nie. “Nee,” sê sy, “nie per ongeluk nie.” Nee, hy gaan haar nie daarmee laat wegkom nie. “Die geluk was wel aan my kant.” Sy dink ’n oomblik aan die moontlikhede wat dié woordspeling bied, en gaan dan voort: “Daar was wel mense wat my beïnvloed het, mense wat my gehelp het om die besluit te neem. Hulle het dit vir my, ook in ’n praktiese sin, moontlik gemaak.”

      “En nou is jy hier. Ek veronderstel dit is ook nie per ongeluk nie?” Sy kan aanvoel hy is nie heeltemal gediend met haar vaagheid nie. Versigtig nou.

      “Nee, ook nie.” Weer daardie glimlag. “Lyk my ek is nogal beïnvloedbaar … Dit was u kollega, dit was dokter Rivers. Ek het van sy werk gehoor; hy en my werkgewer in Nederland is …” – is hulle vriende? – “is in noue kontak en ek wou, namens ons praktyk, kom ondervinding opdoen in sy soort genesing.”

      Hy knik ’n paar keer ligweg. “En ek aanvaar in Nederland het julle nie juis so iets soos bomskok nie. Ek sien. Ja, dit het sin. Of weet jy wat bomskok is? Het jy dit al gesien?”

      Nie in die Nederlandse praktyk nie, nee. Sy dink aan die vrou wat begin gras eet het daar agter die sinkplate van die ooikamp in die Winburgse kamp; sy dink aan die ruk dat sy buite taal, buite rede in ’n stoet swartgeklede vroue haar verdoemenis tegemoetgeloop het. Sy antwoord gedemp: “Maar toe ek dit gesien het,” sê sy, “het die wêreld nog nie ’n naam daarvoor gehad nie.”

      Hy kyk haar ’n rukkie aandagtig aan voordat hy voortgaan. “Weet jy wat ons veronderstel is om hier te doen? Amptelik. Weet jy?”

      Sy antwoord nie; kyk hom uitdrukkingloos aan, haar gedagtes steeds by die ritseling van wye swart syrokke, soos wind wat deur ’n land bloudissels gaan. Bomskok. Is dit die naam vir wat sy in gedagte het?

      “Ons is die bewakers van die volk se moraal,” sê hy, en die manier waarop sy onderlip die woorde laat val, laat haar ’n mate van wrangheid vermoed. “Die volk se moraal in oorlogstyd. Dit kom in ’n groot mate daarop neer dat ons moet sorg dat ons soldate gesond genoeg is om te veg. Geestesgesond. Ons is dus hier om te sorg dat hierdie soldate, ons pasiënte, in die eerste instansie regtig siek is en nie net maak asof hulle siek is omdat hulle te bang is om voort te veg nie. Te bang is om dood te gaan nie. Ons eerste taak is dus om hulle so gou moontlik terug te kry in die loopgraaf.”

      Hy kyk haar uitdrukkingloos aan. Sy is nou vas oortuig van sy ironie. Hy het op ’n baie fyn manier, of met ’n baie fyn beheerde bitterheid, gespot met sy amptelike opdrag. Sy is doodseker haar afleiding is reg. Sy waag dit dus om te sê: “Ek aanvaar, dokter Hurst,” en sy sorg dat sy versigtig genoeg klink, “ek aanvaar dat julle hier in hierdie hospitaal die welstand van die pasiënt eerste stel?”

      Sy mond wys weer sy verleentheid en sy verbeel haar sy sien ’n kleurtjie op sy wange. “Ons probeer ons bes om hulle gesond te maak. En as hulle gesond is, kan hulle teruggaan na die gemeenskap.” Hy lig sy kop sodat sy die oë in hul holtes kan sien blink, en sê dan: “En ongelukkig verkeer ons gemeenskap tans in ’n staat van oorlog. ”

      Sy snap wat hy sê. Sy hoef hom nie te antwoord nie. Vir hierdie manne is oorlog tans die enigste