Francois Smith

Kamphoer


Скачать книгу

gedagte nou, maar dit is hoe dit was. Daardie dag op die Glenart Castle se boonste dek met die koel metaal van die reling in haar hande en die wind teen haar lyf, was sy jonk. Dit is die prentjie wat sy koester: Sy het haar boater afgehaal, los krulle van haar voorkop agtertoe ingewikkel en vir die eerste keer, ja, dit moet die eerste keer gewees het, was sy bewus van hoe haar bloes teen haar lyf aangewaai word, hoe haar lyf heerlik sý was, selfs nou nog kan sy net die Sotho-woord daarvoor kry, monate, lekker. Sy het die reling met albei hande vasgegryp en haar boude agtertoe gegooi, die skok van haar gewig in haar arms gevoel, en die wegtrekkende land en die see om haar het gehop-hop soos sy swaai, en het sy gesug, het sy gesnik? Nee wat, dis wat sy onthou, dít: haar lyf was wie sy was en dit was goed so, onder haar voete het die dekplate van die skip gesidder van die turbines se gepomp iewers diep in die ruim, en ver terug het die land waarvandaan sy weggegaan het vervaag.

      En nou was sy op hierdie boot, en dit is nie asof sy onbewus was van wat hulle dié keer tegemoetgevaar het nie, dit was allermins wég van ’n oorlog af, maar haar gemoed was vol van die brekende branders op die Kaapse rotse, die byna histeriese energie daarvan, hande vol meeue wat in die klam lug ingegooi word.

      In die trein deur die Britse platteland moet sy haar doelbewus inspan om die onlangse werklikheid te ervaar. Sy dwing haarself as’t ware op haar spore terug, want sy glo aan die waarde daarvan om bewus te wees van die oomblik, om oop-oë deur die lewe te gaan.

      Sy was op die posboot, daar het sy gestaan in die omhelsing van ’n oorjas. Die boot het deur ’n grys see en grys lug gestoot, en dit het sin, want daardie boot was saam met haar onderweg na ’n ánder, dieper duisternis.

      Dít het nog nie ten volle tot haar deurgedring nie. In Nederland leef hulle verskans teen die werklike fisieke geweld. Maar op daardie boot … die kleurloosheid van alles, asof alles by voorbaat reeds van alle lewe ontneem was.

      Die dek was vol grys soldate wat soos miere skarrel, want as hulle sou stilstaan, vermoed sy nou, sou die vrees vatplek kry. Sy het haar probeer voorstel wat dit is wat hulle tegemoetgaan, hoe so ’n slagveld sou lyk en wat hierdie mans daar gaan doen. Sy het een van die gesigte wat sy op die boot gesien het, ’n bleek man met die skerp gepunte neus en rukkerige kopbewegings van ’n meeu, in ’n loopgraaf probeer plaas, maar sy kon nie. Vreemd genoeg kon sy hom net sien lê met sy rug teen ’n miershoop gestut – ja, ’n miershoop van alle dinge! – met ’n lang dun sigaret in die mond en die rokie wat so luiweg opkrul.

      Sy probeer haar die angs voorstel, die gruwel, maar die naaste wat sy daaraan kom, is haar vriend Jacques se bleek, leë gesig voordat hy weer weg is front toe. As sy haar die oorlog probeer inprent, dink sy aan Jacques. Jacques la Mer, haar Dordrechtse onderwyservriend wat opsluit soldaat wou word omdat sy land, Frankryk, hom nodig het. Sy het op ’n keer sy hand vasgegryp asof sy hom wou wakker skud, sy hand teen haar bors vasgedruk, maar …

      Daar is iets verskriklik ontstellends en heeltemal onpeilbaars vir haar aan daardie toneel: Jacques se hand teen haar bors. Sy hand ónder hare. Haar hart onstuimig aan die klop. Sy gesig wat verstar, sy mond effens oop asof hy iets wil sê. Sy hand wat net stadig uit hare losgly en terugval in sy skoot.

      Sy sien haar oë vaagweg in die treinvenster. En agter die donker kolle van haar oë, agter die dowwe weerkaatsing van haar hoë voorkop waarvan haar vosblonde hare energiek wegkrul voordat dit weer teen haar wang afval na haar nek, raak sy bewus van reliëf, van ’n landskap wat, anders as in Nederland, selfs net deur sy kantelende horison, sy stygings en dalings, om aandag vra. Maar dis asof sy nie heeltemal by haar weerkaatsing verby kan sien nie, en dit is byna asof iets soms skigtig langs haar in die spieëlbeeld verskyn. Sy kyk kort-kort vinnig kant toe, maar daar is elke keer niemand nie.

      Hierdie reis het my nou heeltemal oorhoops, dink sy. Waarom? Ek gaan maar net om my werk te doen. Dis nie asof ek loopgrawe toe gaan nie.

      Sy dink weer aan Jacques; aan die soldate wat sy op die posboot gesien het. Op die boot het sy by een van die soldate verbygeskuur om op die dek te kom; eintlik was dit ’n ietwat komiese gestoei omdat albei tegelyk deur ’n deur wou kom. ’n Oomblik lank was hulle teen mekaar aangedruk in ’n metaalkosyn met ’n skerp rand waarvan die verf plek-plek afskilfer en die swart yster wys. Sy sien dit so akuut asof dit besig is om te gebeur: Haar jas wat teen sy uniform skuur, en sy kyk verby sy gesig en sien langs sy oor die afskilferende metaal van die kosyn, en hulle het niks gesê nie, net so vinnig moontlik probeer loskom uit ’n onvoorsiene, heeltemal ongevraagde intimiteit. Tog is dit asof haar lyf nou weer saamtrek van die skok van die soldatelyf teen hare, die uniform met sy leerbande en gespes, die growwe materiaal en die harde metaal, en daaronder die wit sidderende vel, die reuk van ’n mudsak vol warm koringsaad. Nadat hul lywe losgeraak het van mekaar het sy ’n tree in die klam lug gegee, gaan staan, effens ontsteld, nie deur die ongevraagde kontak nie, nee allermins, maar presies waarom kon sy ook nie sê nie.

      Dit was ook nie die einde van daardie bisarre dans nie – nou kom die gedagte aan ’n laaste wals by haar op – dit was net die voorspel tot iets anders, tot iets soveel, ja, wat sal sy dit noem, soveel somberders?

      Toe sy op die dek kom, staan daar ’n klomp mense teen die reling saamgedrom, hulle roep en beduie. Sy het by hulle gaan staan, by al daardie manne met die rukkerige oë, en gekyk na waar hulle in die grysheid in beduie, asof daar iewers in die newels ’n vlekkie kleur moet wees. Die posboot het sy horing geblaas, en toe sien sy dit ook: uit die mis doem ’n skip op, stil, leweloos, skeef in die water, ooglopend ’n wrak wat enige oomblik kon sink. Die skip het hellend in die water gehang, moeisaam in die deining gewieg, krakend, verlate, met metaalplate wat afskilfer van die boeg, die maste, skoorstene en kanonne in rigor mortis. Almal het verstar gekyk. Dit was ’n spookskip. Sy het haar kop versigtig gedraai en al die gesigte om haar was steeds verstar: dit was inderdaad ’n spookbeeld wat voor die wind aangedryf gekom het.

      Sy het tussen die lywe deurgedruk tot by die reling, gehipnotiseerd gestaan en staar na waar dit toe in die grysheid weggekwyn het.

      Wat op aarde was dit? Wat was daardie ding wat net so verskyn en verdwyn het? Sy het iemand gesoek met wie sy kon praat, vir wie sy kon vra, maar dit was asof almal besig geraak het met iets wat om die dood toe nie onderbreek kon word nie. ’n Muur van grys rûe was na haar gekeer.

      Dit is wat hierdie oorlog is, dink sy, ’n skim in die mis, niks anders nie. Dit is nie mý oorlog nie. Niks hiervan kan iets van my wegneem nie. Ek lewe, en my rol is om te sorg dat die lewe seëvier. Dit is waarom ek hierheen gekom het. Maar die beeld van die spookskip bly haar by, en op ’n vreemde manier ontstel dit haar ook nie.

      Toe die trein Newton Abbot-stasie binnery, is dit asof sy nog daardie skeepsgeluide in die mis hoor: iets soos die plonggg van doringdraad wat terugskiet nadat dit geknip is op die dek van daardie sterwende skip en hoe die geluid eggo en eggo en eggo. En sy herinner haar die soldaat wat sy op die lyf geloop het se sagte, meegewende lyf, en die skerp staalrif wat in sy rug moet ingekeep het, en sy wonder toe die trein tot stilstand ruk, of dit, daardie dans met die soldaat, die naaste is wat sy aan die oorlog sal kom.

      Sy is een van twee vroue wat hier afklim, merk sy, en ’n ent voor haar sien sy hoe ’n jong man in uniform, waarskynlik een van die hospitaal se ordonnanse, die ander vrou voorkeer, hoe sy haar kop skud en anderpad kyk. Die man lag verleë, sien haar dan raak, lig ’n arm in afwagting en begin na haar aanstryk.

      Sy loop hom tegemoet, hou haar hand uit vir die groet. Maar net voordat hulle hande raak, en die eerste keer op Britse bodem, raak sy selfbewus oor haar aksent. Vir hom behoort dit Nederlands genoeg te klink, dink sy, en haar Engels is straks beter as die meeste Nederlanders s’n.

      Hy luister ’n rukkie koponderstebo na haar, asof hy hom moet inspan om haar bo die stasielawaai te hoor, en neem dan haar grootste koffer. Jacobs, is sy naam, weerman Patrick Jacobs, met effens te prominente voortande, wat oënskynlik verantwoordelik is vir sy erg nasale stem.

      By die stasie-ingang loop Jacobs vooruit. In die straat voor die stasiegebou, onder die sagte, lae hemel, draai hy skuinsweg na haar en so in die loop maak hy ’n wye armbeweging asof hy hawer saai, en daar staan dit, soos ’n reuse-metaalspinnekop: ’n motorfiets met ’n syspan.

      Sy steek vas, sit haar koffertjie by haar voete neer, laat val dit eintlik. Dis