om die gek te skeer, daar is nou geen twyfel meer nie. Susan laat val haar skanse, en die woorde spring na haar mond. “Derduisende gevalle … Wat bedoel jy?”
“Og, dis algemeen …” begin Anne, maar dis asof Susan net so spontaan soos wat sy gereageer het deur ’n somber vermoede oorval word: Sy het iets onbedags gesê, iets onbehoorliks, sy het haar blootgestel. “Ek is jammer,” krabbel sy vervaard terug, “ek het nie jou vraag beantwoord nie.” Sy ondersoek Anne se gesig ’n wyle om die uitwerking van haar woorde te peil, maar die blou kykers met die donker rand verklap niks nie. “Ek is as psigiatriese verpleegster opgelei,” sê sy dan, haar stem sterk, die aflewering sonder huiwering.
Dié keer lig Anne ’n wenkbrou. “O, nè?” sê sy. “Kry julle dié soort spesialisasie in Nederland?” Sy verwag ooglopend nie ’n antwoord nie, want die volgende sin vloei reeds net so ongehaas soos al die ander voort: “Ysere selfbeheersing het julle wel gekry, dit kan ek sien. En dis goed genoeg vir dié plek. Wat praat ek, hier het hulle net die beste nodig, want as jy ’n fout maak met een van hierdie ouens se diagnose, kan die vuurpeloton sy voorland wees. Rattatatta. Nie juis iets wat sal gebeur as jy vrotpootjie foutief diagnoseer nie, nè? So, lig die ken en glimlag, jy is aan die spits van die oorlogsgeneeskunde.”
Ysere selfbeheersing? Dit is waaraan Susan dink waar sy langs Anne in die gang afloop. Anne gee lang, gemaklike treë, kom Susan agter, en ’n rukkie lank is dit vir haar lekker om presies in die pas te loop; daar is ’n soort militêre kameraderie in die saamval van die voete, ’n bravade selfs, maar dan voel dit vir Susan verspot en sy verander haar pas doelbewus. Tog was daar iets aan hierdie vlietende, niksseggende ervaring wat haar met ’n tinteling gelaat het, en dan waag sy dit, ook omdat Anne se onverskrokke oneerbiedigheid dit moontlik gemaak het, sy waag dit om iets van daardie gewraakte selfbeheersing prys te gee. “Skiet hulle ook dié met veneriese siektes?” vra sy.
“Wat?” blaf Anne oordrewe, maar steeds sonder ’n sweem van ’n glimlag. “Seker waar jy vandaan kom, maar hier is ons beskaafd.”
Dit ruk deur Susan. Waar sy vandaan kom? Ja! Dit is eintlik wat sy in gedagte het, besef Susan. ’n Hele ruk nou al was dít wat sy wou sê. Terwyl Anne gepraat het, hoe lank nou al, het ’n ou beeld in haar kop gekom, dit was in haar kop, hier in die gang en daar in die kombuis, en dit was iets wat Anne gesê het wat die aanleiding was vir hierdie ding, hierdie beeld uit haar jeug. Dit was in Kaapstad, ja, dit was waar sy dit gesien het, dit was een van die Engelse soldate, ’n kaptein, wat met ’n prostituut onder elke arm in Adderleystraat afgeloop het, so doodnormaal asof hy … asof hy … Maar dis ook nie dit nie, nee, nie dit nie, dit is eintlik net die doodgewone feit dat sy ’n ruk in Kaapstad gewoon het en prakties gesproke van daar af kom. Om die een of ander rede het sy dit nie vir Hurst gesê nie, wóú sy dit nie vir hom sê nie, maar nou wil sy in hierdie hospitaalgang en aan ’n vrou wat sy skaars vyf minute ken, hier wil sy wil sê waarvandaan sy kom. “In Kaapstad het ek eenmaal …” begin sy, maar trek dan haar asem in.
“Kaapstad? Was jy al daar?” vra Anne bokant die klikklak van haar skoene.
Susan blaas haar asem stadig uit. “Dis waar ek eintlik vandaan kom,” sê sy. “Voor Nederland. Dis waar ek grootgeword het.”
Sjoe, dit was maklik, dink sy. Hoekom was dit dan vroeër vir my so moeilik? Nee, seker nie moeilik nie, maar tog, met Hurst was dit ’n kwessie, ’n soort obstruksie, en dit, hierdie ding oor my herkoms, dít is wat die gesprek met Hurst daardie onderliggende krieweling gegee het, soos ’n ongewenste aanraking, soos vingers wat … Sy ril en skud haar kop om die gedagte te verdring.
Nou eers kom Susan agter dat Anne in haar spore vasgesteek het, en dat sy reeds ’n tree of vyf sonder haar vooruit geloop het. Sy stop dadelik en draai om na haar kollega, en dit tref haar dan dat Anne die ideale gesig het vir hierdie tydperk en hierdie plek, vir hierdie oorlog, met haar oë met die purper stralekranse daarin en met haar mond van pantserstaal. “Dan is jy mos ’n vrou wat ’n lang pad kom,” sê Anne. “Jy kan my meer vertel as wat ek jou kan vertel.” Sy begin weer loop, dié keer met haar blik vasgenael op Susan.
Hoofstuk 8
Lebitso la ka ke Ntauleng.
Ek het gepraat! Ek het vir Mamello gesê wat my naam is. Ntauleng. Ek kan weer praat! En sy het haar hande voor haar geklap om dankie te sê en so gebuig en gelag en lielielielielie gemaak en vinnig afgehardloop om vir Tiisetso te gaan roep. Hy het met sy knopkierie hoog voor hom hier in die grot kom staan en gesê: Kêna ka kgotso, Ntauleng. Kom in vrede binne, Ntauleng. Ek dink hy bedoel ek moet inkom van waar ek ook al was. Mamello raak met die waterkalbas doenig, maar Tiisetso staan net so vir my en kyk, sy kierie se knop net duskant sy oor. Miskien weet hy van die nag, van hoe ek in die donker wakker lê met die bangheid wat my wurg sodat ek amper nie kan asemhaal nie en dat ek die hele tyd net luister, na elke geluidjie. Partykeer hoor ek ’n perd se tande teen ’n stang, of ’n hoef wat stamp, en dan is daar iets soos vlerke wat oor my gaan, of ’n klomp vrouens met swart rokke en groot swart kappies wat stadig deur die veld loop en die rokke raak aan mekaar en maak sulke krapgeluide, en van hul lywe kom die reuk van dassiemis wat lê en gis in rotsskeure, van hul mondhoeke drup die bitterheid af teen die skurwe klip.
Hulle het begin sing, Tiisetso met so ’n hoë stem vir ’n man en Mamello s’n ook hoog maar platter, so plat en glad soos die klip waarop hulle slag. En terwyl hulle sing, het ek woorde gesê wat in my kop opgekom het, net omdat ek weer kon praat, het ek hulle gesê. Net omdat ek weer kón praat. Hoer! het ek gesê. Hoer! En weer: Hoer! Ek het myself dit hoor sê, die woord het net uitgekom. Dis eintlik al woord wat uitgekom het. Die twee swart mense het gesing, langs mekaar gestaan en gesing met hul lywe wat heen en weer swaai asof hulle deur die wind geruk word, en ek het daar gelê en dit het vir my gevoel of ek leeg bloei soos ’n skaap wat keelaf gesny is.
Nou weet ek waar die woord vandaan kom. Die man wat my soos ’n skaap tussen die tente gevang het en aan my been na die slagplek toe getrek het terwyl ek skop en skop en skop. Hy sê dit. Hy sê dit vir my. Dit is wat ek is. Kyk, ek werp haar op die bed neer, en dié wat met haar owerspel bedryf, kyk, ek is die een wat niere en harte deursoek, wat my hand in die binnegoed insteek en dit losruk van die karkas, dit uitwerp in die buitenste duisternis, vir die honde voer sodat hul kake heelnag klap van wellustigheid.
Die swartes sing, maar dit maak niks nie, dit vat niks weg nie. Hulle kan maar met my maak wat hulle wil. Ek is nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam! En uit sy mond kom ’n tweesnydende swaard en zijn aangezicht was gelijk de zon schijnt in haar kracht, gelijk de zon schijnt in haar kracht.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.