alleenheid wat gewoonlik hier te vinde is.
Terwyl hulle deur die Mediterreense See vaar, is dit nie nodig om die horison dop te hou vir seerowerskepe nie. Die skeepsverkeer hier is heeltemal te druk en hulle sal dit nie sommer hier waag nie. Sodra hulle deur die Straat van Gibraltar is, sal daar pal iemand op wag wees in die kraaines. Dan eers sal die werklike gevare begin.
Nicole bly baie lank nog by die reling staan. Om haar is die matrose bedrywig. Sy verstaan nie wat hulle doen nie, maar hulle ken skynbaar hulle werk. Die dek is vol netjiese rolle toue en ander voorwerpe wat sy glad nie ken nie. Dus bepaal sy haar aandag by die golwende see voor haar.
Majorca se onegalige kuslyn strek voor haar oor die oosterkim uit. Hulle vaar nie baie vinnig nie en sy word later moeg van die donkerblou heuwels van Majorca. Sy kyk terug oor die dek en sien die kaptein voor op die voorkasteel staan. Hy is skynbaar diep in gedagte versonke.
Nicole wens skielik dat sy nie saamgekom het nie. Daar is nou geen terugkeer meer nie. Da Silva kan haar nog by Gibraltar aan wal laat gaan, maar sy twyfel of hy dit sal doen. Hy is nie die soort man wat aan versoeke van besluitelose vroumense sal voldoen nie. Nee, sy kan maar van Gibraltar vergeet.
Sy gaan terug na haar kajuit en hou haarself besig met handwerkies wat sy vir dié doel ingepak het. Sy moet erken dat sy nie baie gelukkig voel nie. Dit is asof die matrose en hulle kaptein haar ignoreer, asof sy ’n indringer is. Dit gaan ’n dubbele lang reis wees as sy net haarself die hele tyd vir geselskap gaan hê.
Haar middagete word in haar kajuit bedien. Dit laat haar soos ’n ongewenste gevangene voel. Sy is egter honger en die heerlike gebraaide vleis en kapokaartappels lyk lekker.
Na aandete gaan sy vir die eerste keer uit op die dek. Die aandlug is koel en verfrissend. Tot nou toe het sy nog nie seesiek geword nie en sy glo nie dat dit meer sal gebeur nie. Dis ten minste iets om voor dankbaar te wees.
’n Beweging aan die oorkant van die dek trek haar aandag. ’n Meisie van min of meer haar eie ouderdom kom met ’n slenterstap oor die dek in haar rigting. In die flou lig van die lanterns kan Nicole haar nie mooi sien nie, maar sy herken die effens korterige rok wat die sigeuners dra. Die meisie is slegs twee tree van haar af toe sy gaan staan.
Nicole voel skielik koud. Dit moet Consuelo wees, dink sy ontsteld. Die meisie het ’n donker, geheimsinnige skoonheid omtrent haar. Haar swart oë gloei en haar vol, sensuele lippe het ’n trek van minagting om hulle.
“Buenas noches,” groet Consuelo op Spaans.
“Bonsoir,” groet Nicole op Frans terug.
Consuelo lag sag met ’n heserige, ryk stem.
“Wat het jy Ramirez betaal om op sy skip te kom?” wil sy astrant weet.
Nicole haal haar skouers op.
“Die gewone reisgeld, hoekom vra jy?”
Consuelo lag uitdagend, minagtend.
“Die gewone reisgeld! Daar is nie so iets vir Ramirez nie – óf jy betaal baie duur en hy laat jou met rus, óf jy ry goedkoop en betaal op ander maniere die verskil in.”
Nicole verkleur.
“Ek het nie self met hom oor die reisgeld onderhandel nie. My vader het dit gedoen terwyl ek in Frankryk was.”
Die glimlag verdwyn van Consuelo se gesig af.
“Ramirez onderhandel nie met pappas van dogtertjies nie. Hou jou net op jou plek en jy sal niks oorkom nie.”
Nicole kyk agterdogtig na haar.
“Wat is daar wat ek kan oorkom?”
Consuelo bekyk haar van kop tot tone, onbeskaamd geamuseerd.
“Baie … Jy kan byvoorbeeld oor die reling verdwyn sonder dat enigiemand dit sien. Ek hou nie daarvan dat vroue agter Ramirez aanloop nie. Hy behoort aan my en solank jy dit begryp, is jy veilig.”
’n Rilling gaan langs Nicole se ruggraat af. Consuelo bedoel dit, dink sy ontsteld. Hierdie wilde sigeunerin sal haar dreigement uitvoer as sy die idee kry dat sy, Nicole, in die kaptein belangstel.
“Jy kan maar jou planne vergeet,” sê sy ietwat bewerig. “Ek dink hy is ’n buffel.”
Consuelo lag weer sag.
“’n Tipiese Franse edellied,” sê sy smalend. “Julle kan nie werklike manlikheid waardeer wanneer julle dit sien nie.” Sonder om verder op Nicole ag te slaan, stap sy na die ingang wat na die trappe van die ruim van die skip lei.
Nicole draai ontsteld om om weer uit te kyk oor die bleekwit oseaan. Die gesprek met Consuelo het haar omgekrap. Sy sal in haar pasoppens moet bly as sy nie in die see wil beland nie. Consuelo is nie iemand wie se dreigemente ligtelik opgeneem behoort te word nie.
“Sy is nie skadeloos nie, señorita,” sê Da Silva hier agter haar en sy draai vinnig om. “Dit sal raadsaam wees om haar nie te kwaad te maak nie.”
Nicole byt op haar tande.
“Ek het nooit kon droom dat jý vir haar bang sou wees nie!”
Daar is ’n flikkering in sy donker oë.
“Ek is nie vir haar bang nie.”
“Maar sy reël nogtans jou lewe tot in die fynste besonderheid,” kap Nicole terug. “Of was jy nie daarvan bewus nie?”
Hy kyk fronsend na haar.
“Nee, ek was nie. Op watter manier reël sy nogal my lewe, as ek mag vra?” wil hy sarkasties weet.
“Toevallig was dit hierdie keer nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie, kaptein. Ek stel nie in jou as persoon belang nie en dit was skynbaar waarvoor sy bang was.”
Hy lag sag.
“Nou toe nou! Is jy ’n mannehater?”
“Nee …” antwoord Nicole, effens uit die veld geslaan.
“Maar soos die meeste Franse sien jy neer op die seelui en veral die Spanjaarde.”
Sy skud haar kop heftig.
“Ek oordeel niemand op grond van sy afkoms of roeping nie. Dis tog immers ’n mens se karakter en persoonlikheid wat hom of haar maak.”
“En jy hou nie van my nie?”
“Nie besonder baie nie, monsieur. Ek besef maar te goed dat u so moet wees om gedurig gesag te kan afdwing … Dis u werk, maar …” Sy bly skielik stil omdat sy hom nie wil beledig nie.
“Maar jy hou nie van my manier om gaste op my skip te behandel nie?”
Sy knik stadig.
“Dis seker nie vir u belangrik nie, maar vir ’n passasier wat alleen reis, kan dit nogal ongemaklik wees.”
Hy lag.
“Hierdie is nie ’n reisende teater of ’n plek waar die mense met mekaar sit en ginnegaap nie, señorita. Dis jammer dat u alleen moet reis, maar ek kan daar niks aan doen nie. Miskien moet jy vriende maak met Consuelo. Dan sal jy darem geselskap hê.”
Sy kyk vinnig na hom.
“Sy sal nie vriende met my maak nie. Sy het dit duidelik gemaak dat sy my van die skip afwens.”
Hy lig sy wenkbroue.
“Jy moet net versigtig wees dat sy nie die daad by die woord voeg nie. Sy is baie impulsief van geaardheid.”
“Dankie dat u my gewaarsku het,” sê Nicole ysig. “Dis nogal gaaf om te weet dat die passasiers op hierdie skip heeltemal aan hulleself oorgelaat word … selfs wanneer hulle gedreig word.”
“Ek sal met haar gaan praat.”
Sy skud haar kop heftig.
“Dit sal alles net vererger. Ek dink darem dat ek myself goed genoeg sal kan verdedig.” Sy steek haar hand in ’n versteekte sakkie tussen die voue van