niks van toorkuns en waartoe sulke towenaars in staat is nie, maar dit laat tog kriewelinge langs haar ruggraat afgaan. Sy hoop nie dat sy ooit van aangesig tot aangesig met die ou vrou kom nie. Sy wil nie iets met Esmara te doene hê nie.
Baie later raak sy aan die slaap. Die hondewag het pas begin en die nanag lê voor. Dit is ’n stil, onheilspellende tyd van die nag en dit neem haar lank om van Pedro te vergeet en aan die slaap te raak.
Sy skrik wakker van ’n gekrap aan haar kajuitdeur en sit vinnig regop. Haar hart bons in haar keel. Wie sou hierdie tyd van die nag voor haar deur kom snuffel? ’n Lang ruk sit sy doodstil en dan hoor sy weer die gekrap. Nou nugter wakker, staan sy op en tel die kris van die rakkie bokant haar bed op. Sy stap versigtig op haar kaal voete na die deur. Die gekrap hou skielik op en dan skraap sy al haar moed bymekaar en pluk die kajuitdeur oop.
’n Gil ontsnap haar lippe toe sy die verskrompelde ou vroutjie gebukkend voor haar in die loopgangetjie sien staan.
Die vrou kekkellag en Nicole merk dat ’n hele paar tande uit haar mond makeer. Haar hare hang in slierte oor haar blas gesig en die oë is ’n helder blou.
“Wat … wat maak jy hier!” stamel Nicole verskrik.
Die ou vroutjie lag net weer kekkelend en verdwyn dan met die donker loopgang af na die trap.
Da Silva se kajuitdeur vlieg oop en hy kyk vraend na haar. Hy is nog ten volle geklee.
“Was hier iemand gewees?” wil hy weet.
“Die ou vroutjie … Esmara.”
“Sy is skadeloos. Sy kan jou maar net ’n bietjie skrikmaak.”
Nicole haal diep asem.
“Wel, dit het sy beslis reggekry.” Dan besef sy dat sy met haar nagklere aan voor hom staan en sy gaan vinnig terug na haar kajuit.
Hy lag skielik sag oor haar verleentheid.
“Buenas noches, señorita!” roep hy haar ’n goeie nagrus toe.
Sy druk die kajuitdeur agter haar toe en leun daarteen. Daar is nou geen sprake meer van slaap nie. Haar hart klop in haar keel. Wat het die ou vrou hier so diep in die nag kom soek en hoekom is sy hoegenaamd op die skip? Daar is geen antwoord op die vrae nie en sy gaan weer op die bed lê.
’n Lang ruk daarna oorval die moegheid haar en raak sy aan die slaap.
Teen die middel van die volgende oggend begin die wind opsteek. Dit hou aan en aan met waai en bemoeilik die matrose se taak in die takelwerk. Hulle moet vasklou om nie in die see gewaai te word nie. Die meeste van die groot seile is ingetrek en die skip beur en kraak gevaarlik onder die aanslag van die groeiende golwe.
Nicole het net vlugtig na die dek gegaan om asem te skep. Onder in die ruim van die skip is dit baie benoud. Sy staan teen die voorkasteel en kyk na die wolke wat bokant hulle verbygejaag word deur die wind. Dit sny om die hoeke van die kasteel en huil in die takelwerk.
Da Silva het die matroos in die kraaines beveel om af te kom omdat dit veels te gevaarlik daar word.
Hulle vaar nou vinniger as die vorige dae met minder seile, maar Da Silva kyk kort-kort bekommerd na die wolke en die onstuimige see. Die skip is swaar gelaai en dit help met die balansering, maar as dit te erg word, sal hulle van die vrag moet afgooi. Dis belangriker om die skip te red as die vrag. Sy blik val op Nicole wat teen die voorkasteel gekoester staan.
“Dis nie nou veilig op die dek nie, señorita.”
“Ek sal nou afgaan ondertoe, monsieur. Ek het net vars lug kom skep.” Sy kyk na die matrose wat nog tussen die takelwerk doenig is. “Dis baie gevaarlike werk.”
“Dit moet gedoen word. Ons gaan almal ons lewens in die storm waag om die skip te red.”
Sy kyk op na hom.
“U ook?”
“Ek verlaat nooit die dek van die skip in ’n storm nie. Ek verwag nie van die matrose om te doen wat ek nie self sal doen nie.”
’n Golf breek oor die dek en spoel om hulle voete.
“Dis tyd dat u ingaan, señorita.”
Sy knik.
“Miskien het u gelyk, monsieur.”
Hy draai van haar af weg toe iemand na hom roep en Nicole bly nog ’n paar minute langer agter om na die groeiende storm te kyk. Die skip lyk skielik klein en nietig op die wye, vyandige oseaan. Dit lyk asof dit met elke groot golf verswelg gaan word. Die maste en die boeg kreun onder die voortdurende aanslag van die wind en die water en Nicole wonder meteens ontsteld of hulle hierdie storm gaan oorleef. Dan gaan sy af na die ruim om te wag tot die gevaar verby is.
Buite woed die storm onverpoosd voort. Al die seile is ingetrek, behalwe een van die kleineres sodat daar nog gestuur kan word. Los goed is met toue aan die dek vasgemaak of na die ruim van die skip geneem.
Da Silva staan op die voorkasteel. Die reën het intussen begin val en hy is spoedig sopnat. Hy probeer deur die reën vorentoe tuur om te sien waarheen hulle gaan, maar hy kan feitlik niks deur die water sien nie. Dan draai hy om en gaan af na die stuurkajuit om na die kompas te kyk.
“Ons word van koers af gestoot, kaptein,” sê die een matroos met die naam Juan.
“Kan julle haar nie hou nie?”
“Dis onmoontlik. Die deininge is te groot en die skip dobber rond.”
Daar is skielik ’n harde gekraak en ’n donderslag ruk deur die klein kajuit.
Da Silva kyk om hom rond. Almal se oë is na die plafon gerig.
“Dit was die hoofmas,” sê die kaptein kalm. “Ons gaan vermink uit hierdie een kom.”
“Moet ons die vrag begin afgooi?” wil Pablo weet.
“Nog nie. Ons wag nog ’n rukkie. Dis ’n kosbare vrag en ek wil dit nie graag verloor nie!”
Juan skud sy kop.
“Dis vrag bemoeilik die stuur, kaptein.”
“Ons sal ons pad weer vind.”
’n Lang ruk luister hulle na die geloei van die storm terwyl Juan natgesweet met die wiel swoeg. Dit ruk telkens uit sy hande en spin in die rondte voordat hy dit weer vasvat om die skip terug op koers te kry.
Daar is skielik ’n gekraak en die skok slinger hom van sy voete. Hy beland teen die wand van die kajuit terwyl die wiel liggies heen en weer draai.
Da Silva staar na die wiel en vloek saggies.
“Die stuurvin het gebreek …” sê hy wat almal in die kajuit reeds weet. “Ons sal nou met die seile alleen moet vaar!”
“Dis waansin!” sê Pablo, maar Da Silva hoor hom nie.
Die kaptein hardloop uit na die dek waar alles nou chaos is. Die groot voormas het dwarsoor die voorkasteel geval en die seile lê in ’n warboel oor die nat dek. Elke nou en dan spoel ’n golf daaroor en dreig om die hele massa oorboord te gooi. Die toue en seile het hard geword van die water en is dus moeilik hanteerbaar.
Da Silva se klere klou aan sy liggaam van die reën, maar hy kom dit nie agter nie. Hy baan sy weg doelgerig tussen die gemors deur na die middelmas wat nog stewig staan. Twee matrose kom uit om hom te help en saam beur hulle aan die toue om die seil te laat sak. Die skip ruk gevaarlik onder hulle met die nuwe drywing wat die seile gee. Dan skep die wind die seile skuins en beur en kraak die skip onder hulle soos wat dit stadig en moeisaam van koers verander.
Nicole waag dit tot by die boonste trap van die stel wat na die dek lei. Die water stroom by die opening in en deurdrenk haar klere. Sy sien die drie mans op die dek worstel om die seile in posisie te hou. Die een herken sy as Da Silva en sy skud haar kop verwonderd. Hy veg magteloos teen die woedende aanslag van die storm.
Dit gebeur so skielik dat sy nie kon sien wat dit veroorsaak het nie. Die seil ruk uit Da Silva se hande en slinger hom oor die