Annelize Morgan

Somer van die rooi robyn


Скачать книгу

gesig verstrak toe hy na die dodelike wapen kyk. Dan kyk hy na haar.

      “Ek dink jy moet dit liewer vir my gee. Nou-nou kry iemand seer.”

      Sy steek dit terug in die sak.

      “Dis my enigste selfverdediging, monsieur. Ek weet hoe en wanneer om dit te gebruik.”

      “Die matrose mag jou dalk lastig val.”

      “Dis onwaarskynlik dat hulle my oor die reling van die skip sal wil gooi, monsieur. Ek gebruik dit net om my eie lewe te verdedig.”

      Hy aarsel net ’n oomblik voordat hy sê: “Solank u by daardie besluit hou, is dit goed, maar enige onverantwoordelike gebruik van daardie wapen sal maak dat ek u moet opsluit vir die res van die reis.”

      “Dis heeltemal ’n redelike dreigement, monsieur.”

      “Solank ons mekaar net verstaan,” sê hy in ’n koue stem. “As u enigiets nodig het, sal u Pedro in die stuurkajuit kry. Hy sal omsien na u wense.” Hy maak net ’n ligte buiging en stap dan van haar weg.

      Nicole probeer die bonsing van haar hart stil. Dis die geheimsinnige betowering van die nag op see wat sulke dinge aan haar doen, besluit sy. Dis nie die Spanjaard se magnetiese aantrekkingskrag wat haar hart laat bokspring nie. Maar sy weet dat sy haarself om die bos lei; die wilde onstuimigheid in haar hart word deur hóm ontketen. Dis ’n magtelose gevoel, want dit sal nooit beantwoord word nie. As sy haar lewe liefhet, sal sy baie versigtig moet wees om niemand iets te laat agterkom nie.

      Eindelik gaan sy terug na haar kajuit om voor te berei vir die nag.

      Laat die volgende middag vaar hulle deur die Straat van Gibraltar sonder om iewers in ’n hawe aan te doen. Voor hulle lê die wye Atlantiese Oseaan en al die gevare wat daarmee gepaardgaan.

      Nicole klim op die voorkasteel om ’n goeie uitsig te hê oor die hawe van Gibraltar en die groot rots wat dit oorheers. Dit word vinnig donker en die son is lankal reeds onder toe hulle eindelik die wye Atlantiese Oseaan binnevaar. Nog word die siele nie ingetrek nie en stoot die wind hulle oor die egalige deining van die see. Die El Mar vaar onverpoosd voort, asof die kaptein haastig is om sy bestemming te bereik.

      Die boeg kloof die water voor haar in die donker en maak helder golwe van fosfor. Dit skuim en borrel om die boeg tot diep onder die water langs die kiel.

      Dis koel op die dek en Nicole trek haar tjalie stywer om haar skouers. In die Kaap is dit nou somer … of so het iemand haar vertel. Dis vreemd om te dink dat die winter hier in Spanje nou net begin en daar ver in die suide is dit reeds somer.

      Haar ouers en suster kan nog nie in die Kaap wees nie, dink sy. Hulle sal maar slegs ’n paar dae voor haar die Kaap bereik en dan sal hulle saam hulle nuwe lewe kan begin. Hulle sal gratis grond kry, en saad en implemente, en daarmee kan hulle baie spoedig ’n goeie bestaan maak. In Frankryk was daar nie meer ’n toekoms vir hulle nie. Haar pa het alles verloor en hulle moes van voor af begin, maar hulle kon nie. Sonder geld kan ’n mens nie van voor af begin nie en daarom het hulle besluit om na die Kaap te gaan. Dit was ’n belangrike besluit, maar hulle was dit almal eens.

      Nicole glimlag. Hulle gesin het nog altyd oor alles saamgestem. Sy kry net vir Camille, haar suster, jammer. Joseph du Toit was ’n goeie jongman en Camille moes hom ook in Frankryk agterlaat. Sy self het later vertrek omdat sy by vriende in Parys gekuier het en dít is nou die uiteinde daarvan. Sy moet alleen op ’n Spaanse skip reis.

      Sy het die persoon nie hoor nader kom nie en skrik toe ’n hand skielik om haar mond gaan. Haar eerste gedagte is aan Consuelo en haar hand gaan na die kris in haar tabberd.

      “Jy maak foute, señorita,” sê ’n growwe manstem hier by haar oor. “’n Meisie moenie snags so alleen op die dek ronddwaal nie.”

      Sy probeer uit die greep kom, maar hy is te sterk vir haar. Dan word sy skielik omgeruk en probeer die matroos haar omhels. Sy gil en keer hard voordat sy hand weer om haar mond klap. Sy knipper haar oë van pyn en toe sy weer wil gil, slaan hy haar hard deur die gesig. Dan ruk hy haar weer orent en die volgende oomblik druk hy sy mond hard oor hare.

      Nicole krap na sy gesig en hy brul van pyn toe hy haar loslaat. Hy laat hom egter nie so maklik afskud nie en kry haar weer aan haar arm beet toe sy wil weghardloop. Sy verloor haar balans en hulle val op die dek neer. Hy pen haar arms bokant haar kop vas en druk met sy knie in haar maag.

      “Nou sal ons sien wie is baas!” sis hy woedend.

      Sy staar net ’n sekonde lank na die bebaarde matroos bokant haar, sy wilde oë en mond waarin ’n paar tande makeer en dan gil sy weer hard en deurdringend.

      Hy vererg hom en klap haar weer ’n keer. Haar kop ruk eenkant toe en dan skop sy na sy maag. Hy krul van pyn, maar verslap nie sy greep op haar gewrig nie.

      “Jou vervlakste klein rissie!” sis hy toe hy orent kom en haar aan haar arm agterna trek. “Ek sal jou wys wat ek maak met meisies wat my skop!”

      Nicole gil nie meer nie. Dit lyk asof almal aan boord doof geword het en dit het geen sin om hulle aandag te probeer trek nie. Sy sal self uit hierdie ding moet probeer kom.

      Hy sleep haar na die reling van die skip en probeer haar daar oorboord gooi. Sy maak haar rug krom en laat die reling haar teen haar maag druk. Sodoende maak sy dit vir hom moeiliker om dit reg te kry. Hy is egter sterk en sy weet dat hy haar met gemak bo-oor sal kan lig as hy haar voete beetkry. Toe hy na haar voete gryp, skop sy hom teen die voorkop dat hy agteruit steier.

      Nicole draai om sodat sy met haar rug teen die reling staan en wag hom in. Hy kom brullend vorentoe om haar met een hou oor te stamp, maar sy gee rats pad en hy loop hom half disnis teen die tralies.

      Terwyl die matroos sukkel om die dronkheid uit sy kop te kry, hardloop sy na die trap wat na die kasteel lei en loop haar in Da Silva vas. Hy kyk vinnig van haar na die matroos wat intussen orent gekom het.

      “Wat gaan hier aan!” klap Da Silva se stem ysig deur die nag.

      Die matroos staar vreesbevange na sy kaptein.

      “’n Klein geskilletjie, señor,” sê hy onseker. “Dit was net ’n klein geskilletjie.”

      Twee matrose verskyn agter Da Silva en die kaptein draai na hulle.

      “Neem hom na die ruim. Ek sal later met hom afreken.”

      Hulle sleep die protesterende matroos weg en dan is Da Silva en Nicole alleen.

      “Wat het gebeur?” vra hy sonder ’n sweempie van simpatie in sy stem.

      “Hy wou my soen en toe ek weier, wou hy my oorboord gooi.”

      “Jy waag baie om snags alleen op die dek rond te dwaal,” sê hy kil.

      Sy draai woedend na hom.

      “Hoe moes ek weet dat jy ’n klomp vrou-honger wolwe aan boord het? Niemand het my gewaarsku nie!”

      Sy oë skitter.

      “Hy is ’n nuweling. Die ander matrose sou dit nie gewaag het nie!”

      “Dis geen verskoning nie! Jy kon my gewaarsku het!”

      “Ek het nie gedink dat dit nodig was nie!”

      Hulle stemme dra ver oor die soel nag en Consuelo bly met ’n vreemde glimlaggie om haar mondhoeke staan en luister.

      Nicole vee ’n haarsliert uit haar gesig weg.

      “Ek het jou niks gevra nie, Da Silva,” sê sy woedend, “en ek sal ook niks weer van jou verwag nie!”

      “Gee jy nou vir mý die skuld dat jy aangeval is?” wil hy weet.

      “Nee, ek gee niemand die skuld nie. Ek kan heeltemal goed na myself omsien, dankie! Ek het geen hulp van jou nodig nie!” Haar oë gloei. “Ek wil jou nie van jou kosbare skip en bemanning af weghou nie! Dit sou onvergeeflik van my wees om van jou te verwag om my enige beskerming te bied!”

      Hy kners op sy tande.

      “Jy