wat die kaptein kan gee?”
Hy blyk lank swyend na haar staar, sy gesig ’n geslote masker.
“Verklaar jy oorlog, señorita?”
Sy kyk vinnig na hom.
“Nee … ’n Mens kan nie ’n eenmansoorlog vir maande aaneen voer nie en dit is so lank as wat ons saam op hierdie skip gaan wees. Ek verwag net ’n mate van veiligheid. Ek wil geen oppasser hê nie, ek wil net weet wat ek mag doen en wat ek nie mag doen nie!”
Dit lyk asof hy effens ontspan.
“Dit sal beter wees as u in die vervolg nie snags alleen op die dek verskyn nie.”
Sy lag ietwat bitter.
“En ek is maar altyd alleen. Dus sal ek nooit weer vir die res van die reis alleen snags mag boontoe kom nie. Dis ’n aangename gedagte, monsieur, veral as ’n mens dink aan hoe bedompig die ruim kan word, of hoe?”
“As u dek toe wil kom, sal ek vir Pedro vra om u te vergesel.”
Sy leun skielik moeg teen die trapreling.
“Ek het nie vir moeilikheid gesoek nie, monsieur le capitaine. Ek hou net daarvan om alleen te wees. Saans, op die dek van die skip, is dit asof ek nog kontak met my vaderland het. Dit was al wat ek hier kom soek het.”
Hy is vir ’n lang ruk stil terwyl hy oor die see uitstaar. Sy wit syhemp glim bleek in die nag, die lanternlig gloei op die edelgesteentes in die hef van sy swaard. Eindelik kyk hy na haar.
“Die matroos sal gestraf word.”
Sy skud haar kop stadig.
“Dit was nie sy fout gewees nie. Ek moes van beter geweet het.”
Daar is ’n vreemde flikkering in sy oë.
“Jy is ’n vrou vol teenstrydighede, señorita.”
Sy kyk op na hom.
“Ons is maar almal vol teenstrydighede, monsieur.” Sy gaan by hom verby met die trap af na onder. Dan stap sy oor die dek waar die matrose haar nuuskierig aanstaar. Sy sien Consuelo in die skaduwees van die agterkasteel staan, maar slaan geen ag op haar nie. Sy weet dat die sigeunerin afgeluister het en dat sy niks gehoor het wat haar kon laat dink het dat daar iets tussen Nicole en Da Silva is nie.
In haar kajuit gaan sy op die bed lê. Pedro het reeds haar aandete gebring en dit staan nou net louwarm op die rak teen die muur. Sy voel egter nie honger nie en bly ingedagte na die plafon staar.
Daar is ’n ligte klop aan die kajuitdeur.
“Kom in!”
Pedro steek sy kop in en wil net weer padgee toe sy hom terugroep.
“Kom maar in, Pedro. Ek het maar net gelê en dink.”
Hy kom onseker binne.
“Ek wil nie steur nie, señorita.”
Sy skud haar kop.
“Jy steur nie. Jy is meer as welkom. Hier is vir my niemand anders om mee te gesels as met jou nie.”
Hy grinnik verleë.
“Ek is nie juis die soort geselskap waaraan u gewoond is nie, señorita.” Hy kyk na die onaangeraakte kos. “Dit was lekker skaapniertjies en wilde rys. Piesangs en papajas sal u vir ’n lang tyd nie weer sien nie.”
Nicole sit nou regop en sy kyk na hom.
“Hoe so?”
“Ons sal vir minstens twee weke op die see wees voordat ons weer by ’n hawe sal aandoen vir vars voorrade. Selfs die vleis sal ons binne ’n dag of wat van nou af nie meer kan eet nie.”
Sy kyk verbaas na hom.
“En daarna? Nadat die vleis oneetbaar geword het?”
“Dan eet ons soutvleis, aartappels, rys, vis, droë bone en sulke goed.”
Sy trek ’n gesig.
“Jy laat voorwaar my eetlus soos mis voor die son verdwyn.”
Sy gesig is skielik ernstig.
“U moet die kos eet, señorita. U sal kragte moet opbou vir later wanneer ons nie meer vars kos het nie. Ons is dit al gewoond, maar u nog nie. Dis beter dat u liewer dié bord kos ten minste opeet.”
Sy knik.
“Goed, ek sal eet.” Toe sy die bord op haar skoot neersit, kyk sy weer na Pedro. “Wie is Consuelo?” vra sy.
Hy kyk vinnig na haar.
“Bly maar liewer uit haar pad, señorita. Sy is ’n duiwelin.”
“En tog hou kaptein Da Silva van haar.”
Pedro rol sy oë dakwaarts.
“Dis Esmara wat dit gedoen het. Sy het hom getoor, die ou heks.”
Nicole verstik byna in haar kos.
“Esmara? Wie is dít?”
“Sy is ook op die skip. Sy volg Consuelo net waar sy gaan en sy het dit so bewimpel dat die kaptein net oë vir Consuelo het.”
Nicole skud haar kop.
“Jy is baie bygelowig, Pedro. Jy glo tog nie regtig in toordery nie?”
Pedro lyk nie baie gelukkig oor haar reaksie nie.
“Hierdie keer moet ek dit glo of ek wil of nie, señorita. Ons het almal gedink dat die kaptein met señorita Francesca de Cabreira gaan trou, maar toe gaan Esmara en sy begoël die señorita. Sy het van haar kop afgegaan en is later dood. Die kaptein het vir weke met niemand gepraat nie, totdat Consuelo weer gekom het. Nou is hulle oral saam.”
Nicole sluk swaar aan haar kos. Sy glo nie in toordery nie, maar Pedro is so sterk oortuig van wat hy sê, dat sy dit nie kan verhelp om ongemaklik te voel nie.
“Is Esmara ook op die skip?”
“Ja, señorita. Wees tog asseblief versigtig. Die ou heks kan dalk net dink dat u Consuelo se saak by die kaptein mag benadeel.”
“Ek sal versigtig wees, Pedro. Sê my, ken jy die kaptein baie goed?”
Sy gesig helder op.
“Al veertien jaar lank, señorita.”
“Is hy maar altyd so ongenaakbaar en afsydig?”
Hy haal sy skouers op.
“Ek het hom nog nooit anders geken nie, maar ek sal ook nooit vir ’n ander man kan werk nie. Hy is ’n prins onder die kapteins. Hy vergeet nooit sy adellike afkoms nie, maar tog meng hy met die gewone matrose en hulle is almal getroue volgelinge van hom.” Sy voorkop plooi in ’n frons. “Ek dink nie ek begryp hom self altyd nie. Hy sal selfs die moed hê om die koning van Spanje uit te lag en dan sal hy omdraai en ’n arm blommeverkopertjie ’n handvol goue munte gee. Ek het nog nooit iemand gesien wat soos hy kan lag in die aangesig van die dood nie.”
Sy kyk na hom.
“Het jý dit al gesien?”
“Geen seerower kon nog hierdie skip sink of oorneem nie, señorita. Hy veg soos tien man saam en selfs dan vind hy nog iets om oor te lag.” Pedro sidder. “Soms dink ek die duiwel self sit in hom.”
Nicole haal diep asem.
“Jy is besondere opbeurende geselskap vanaand, Pedro.”
“Ek is jammer, señorita, maar ek het gedink dat u wou weet.”
Sy lag opgewek.
“Miskien het Esmara hom ook getoor?”
Hy kyk haar geskok aan.
“Sy sal dit nooit regkry nie, señorita. Sy het hom oor Consuelo begoël, maar verder sal sy niks regkry nie. Sy het al probeer, maar dit het nie gewerk nie.”
Toe