het sy die diagnose gemaak: definitief ’n ontsteekte blindederm.
Adri-Louise is opgeneem. Die lang ondervraging van vorige kwale en operasies, huidige medikasie en mediese geskiedenis van ouers en susters het begin. Volgens Adri-Louise was haar pa se blindedermoperasie ’n belangrike punt wat aangeteken moes word. Nadat Adri-Louise deeglik en omvattend ondersoek is, en ek al die tydrowende administratiewe vorms (waarvan die mediesefondsbesonderhede die belangrikste was) ingevul het, is ek met ’n lêer vol drukstukke terug na die ongevalle-afdeling waar sy op my gewag het. Die suster het vir haar ’n plastiekbandjie met haar naam op om haar pols gesit. Uiteindelik was sy ingeboek en ’n blindedermoperasie is vir die volgende dag geskeduleer.
Die chirurg wat die operasie sou doen, het onbepland daar verbygekom en die dokter het hom aan Adri-Louise bekendgestel. Hy het sy eie ondersoek gedoen en weer het Adri-Louise van die pyn gekrul toe hy op die blindederm druk. Dieselfde gerusstellende glimlag het gevolg en hy het bevestig dat dit ’n ontsteekte blindederm is. Adri-Louise, altyd iemand wat die detail raaksien, het gevra: “Maar kan julle nie ’n X-straal neem nie?” “Nee wat, dit is onnodig,” het die chirurg haar verseker, “daar is geen twyfel dat dit ’n ontsteekte blindederm is nie.”
Ek was op pad om ’n paar goedjies vir haar in die motor te gaan haal en, soos my skoonpa sê, “daai vanity” te kry. Gelukkig was al die nodige reeds vir die naweek ingepak. Maar voordat ek kon loop, gee Adri-Louise vir my ’n benoude kyk. Die suster wou ’n drip insit. Adri-Louise en naalde kom glad nie oor die weg nie. Ek sou ook so ’n weersin in naalde gehad het as ek, soos sy, nie sigbare are het nie. Iemand het spottenderwys gesê sy het haar are by die huis vergeet. Sy het my nader gewink. Terwyl die suster op haar hand en arm soek, het sy pleitend na my met daardie mooi blou oë gekyk en haar onderlip vasgebyt. Sy het aan my hand geklou asof sy oor ’n afgrond hang. Later het ek geleer om nie my hand met my trouring aan vir haar te gee om vas te hou nie, dit was te seer. Dit was die eerste keer van tientalle kere wat ’n suster op soek gegaan het na ’n aar en ná meer as een probeerslag die naald of drip ingekry het. Wanneer ’n suster dit wel met die eerste probeerslag reggekry het, het Adri-Louise haar met soveel opregte dankbaarheid, verligting en bewondering oor en oor bedank dat die betrokke suster skoon verleë geraak het. Die dosyne naalde wat daarna in Adri-Louise gedruk is, sou sy nooit gelate aanvaar nie.
Toe ek later die aand na haar meenthuis naby die hospitaal ry, was ek tevrede dat sy in goeie hande is. Ek was moeg, maar bly dat ons vinnig opgetree het en nie tot die volgende dag gewag het nie.
Vroeg die volgende oggend was ek by die hospitaal en bly om ’n opgewekte Adri-Louise te sien. Sy het gevra dat ek haar rekenaar vir haar moet uithaal en aanskakel. Sy wil na haar e-posse kyk. Later daardie week, op die Donderdag, was daar ’n belangrike vergadering met ’n drukker, en sy wou die redaksie laat weet dat hulle moet voortgaan met die vergadering – sy sal daar wees. Ek het ’n bietjie later kantoor toe gery. Tydens die personeelbyeenkoms het ek vertel dat Adri-Louise in die hospitaal opgeneem is en later daardie middag om tweeuur vir ’n ontsteekte blindederm geopereer sou word.
Terug by die hospitaal het die chirurg gesê die operasie sal sowat 40 minute duur. Ek het ’n stoel in ’n saal gekonfiskeer en op die onderpunt van die gang met ’n goeie uitsig op die teaterdeure gaan sit en wag. Die 40 minute het ’n uur geword en die uur het 90 minute geword . . .
Het hulle later begin as geskeduleer? Was daar iewers ’n oponthoud tydens die operasie? Neem dit langer omdat daar komplikasies is? Onwillekeurig stapel hierdie vrae in ’n mens se gedagtes op, want in so ’n situasie is daar niemand wat met jou kom praat nie. Die wagkamer van die lewe is ’n onaangename plek.
Skielik het my selfoon gelui. Dit was die chirurg. Op sy vraag waar ek is en my antwoord dat ek voor die teater staan – want toe kon ek lankal nie meer op die stoel bly sit nie – het hy gesê ek moet net daar wag. Hy kom my sien. Ek het sy oproep probeer rasionaliseer: Moontlik is hy net bedagsaam en wou hy my inlig oor die afloop van die operasie. ’n Winterkoue het my egter binnegedring. Ek het aangevoel dat iets verkeerd is. Ek het net geweet – nie wat nie, maar dat . . .
Hy het nog sy blou teaterklere aangehad, beskermde skoene en kopdoek – die draer van nuus wat ek sommer geweet het ek nie wil hoor nie. Ek het ’n deernis met hom gehad. Wat hy moes doen, is nooit lekker nie. Hy het my net genoeg gesê sonder om die volle implikasies, wat hy baie goed geken het, uit te spel. Hy het met ’n laparoskopie (die sogenaamde sleutelgat-chirurgie) begin, maar toe drie gewasse, so groot soos gholfballe, op Adri-Louise se regtereierstok ontdek. Die gewasse het aan die blindederm vasgegroei, vandaar die pyn. Noodgedwonge moes hy ’n snit op haar laer buik maak om die eierstok met die gewasse en ’n deel van die netvlies te verwyder. Hy is jammer, hy sal die gewasse laat ondersoek, maar die vroeë tekens is dat dit kanker is.
Kanker. Die harde klinkers van die woord doen die naam gestand. So sonder waarskuwing. So sonder vermoede. Dit is altyd sleg wanneer jy jou trompop teen woorde vasloop wat totaal onwerklik klink. Nóg ek, nóg Adri-Louise ken kanker in ons families.
Die woord is afkomstig van die Griekse karkinos, wat krap of kreef beteken. Hippokrates het dit reeds gebruik (ongeveer 460 vC–ongeveer 370 vC) om na sekere soorte kanker te verwys. Later het Celsus (ongeveer 25 vC–50 nC) dit met die Latynse cancer vertaal, wat ook krap beteken. Galen (tweede eeu ná Christus) het kwaadaardige gewasse onkos genoem, Grieks vir swelling. Dit is waar ons woord onkologie en onkoloog vandaan kom. Later het Galen die agtervoegsel -oma bygelas wat ook swelling beteken en het toe die naam vir ’n kwaadaardige gewas, karsinoma (of karsinoom in Afrikaans), geskep.
Dit is die oudste siekte bekend aan die mens. “The emperor of all maladies” – die keiser van alle kwale – het dr Siddhartha Mukherjee dit gedoop. ’n Titel wat Adri-Louise altyd gevoel het te veel eer aan kanker laat toekom.
’n Ierse skrywer het gesê die noodlot is nie ’n arend nie – dit kruip soos ’n rot. Ek het versteen gestaan en weer en weer uitgevra oor die presiese besonderhede. In sulke omstandighede kies ’n mens dat daar ’n skrefie lig by die deur sal inskyn. Die skrefie lig was dat die chirurg met die operasie die sigbare karsinome, ’n ontdekking wat ook vir hom ’n verrassing was, verwyder het asook waar hy vermoed het daar moontlik metastase (verspreiding) kon plaasvind. Ek het verstaan dat hy met geen vooraf toetse of rigtingwysers moes opereer. Saam met die skrefie lig was daar die knaende donkerte van onsekerheid oor die omvang van die kanker. Ek het aan Johannes 1:5 gedink. Min het ek geweet hoe groot die duisternis is wat hierdie kanker vir ons gebring het.
Daardie prentjie van die skalpelridder in blou in die gang voor die teater is vir ewig in my geheue vasgelê. In daardie kort gesprek het ek geweet my en Adri-Louise se lewe het onherroeplik verander.
“Wil jy dat ek vir haar sê?” wou hy by my weet. “Nee,” het ek gesê, “ek sal vir haar sê.” Hy het gegroet en gesê hy sal reël dat ’n internis, ginekoloog en onkoloog haar die volgende dag besoek.
Ek het alleen in die gang bly staan en aan Adri-Louise gedink wat aan die ander kant van die teaterdeure besig was om te herstel. Heeltemal onbewus. Skielik het die dag ’n dimensie bygekry waarop ek totaal onvoorbereid was. Gelate het ek omgedraai en stadig in die gang af na die saal se ingang gestap. Ek het probeer dink wat ek volgende moet doen. Die beste sou wees, het ek gedink, om ’n paar oproepe te maak. Ek het haar pa en susters gebel. Die baie vriende en kollegas kon vir eers wag.
Namate ek die chirurg se weergawe in my eie woorde aan hulle oorgedra het, het die skok in my binneste kom sit. ’n Vrees wat deur die onsekerheid aangevuur is. Ek het myself probeer moed inpraat dat die kanker verwyder is en dat daar behandeling is om die reste wat dalk oorgebly het te vernietig. Normale prosedure, het ek myself oortuig, om net seker te maak dat al die kanker verwyder is – ook dít wat mikroskopies klein iewers mag skuil.
Toe hulle haar uit die teater stoot, het haar oë na my gesoek toe sy hoor die suster praat met my. Ons was bly om mekaar te sien: sy, omdat ek daar vir haar was en sy nie meer alleen was soos vroeër in haar lewe nie; en ek, omdat ek my lewe vir hierdie hartlike en opregte vrou sou gee. Ek kon sien sy het seer en ek het haar hand vasgehou tot ons in die enkelkamer in die saal aangekom het.
Die verpleegsters het haar gemaklik gemaak. Hulle het toegesien dat die drips