Here het die regte onkoloog voorsien. Toe reeds het ons respek gehad vir hierdie netjiese en bekwame man. Hy en Adri-Louise het van die begin af van mekaar gehou. Haar sterk persoonlikheid en reguit aanslag. Sy skerp intellek, humor en geloof. Dit het elke konsultasie daarna, wat nooit onder ’n uur gedraai het nie, ’n belewenis gemaak. Dikwels het ons so gelag dat ons altyd gewonder het wat die pasiënte voor in die spreekkamer gedink het. Maar daardie eerste konsultasie sou ons nooit vergeet nie.
Ons het die lywige verslae van die chirurg, patoloë en radioloë saam met hom deurgegaan. Hy het vir ons die ontleding van die uitgebreide bloedtoetse wat die vorige dag gedoen is, geïnterpreteer – ’n patroon wat met elke konsultasie daarna herhaal sou word. Hy het hierdie deel van die konsultasie afgesluit deur ons weer eens op die erns van die diagnose te wys. Ná die ontleding van die diagnose het hy gesê dat hy oor die verdere behandeling wil praat.
Sy volgende woorde het ons geruk. Hy het agteroor geleun in sy stoel en na ons gekyk. “Ek is nie God nie,” het hy gesê. Adri-Louise het my hand nog stywer vasgevat. Daar was ’n oomblik van afwagting. Hy het dit nie gesê soos iemand wat homself wou verontskuldig of distansieer nie. Ons het geweet hy sê dit as gelowige.
Wanneer ’n dokter in so ’n konteks sê dat hy nie God is nie, kan dit meer as een ding beteken. Allereers beteken dit eenvoudig: Ek kan nie wonderwerke verrig nie, maar ek sal doen wat ek kan. Tweedens kan die uitspraak beteken – en dit wou ons eerder glo – dat Adri-Louise se lewe nie in sy hande is nie. Haar lewe is alleen in God se hande.
Nietemin was dit ’n opmerking wat ons onkant gevang het. Met so ’n uitspraak weet jy intuïtief dat dit hier om lewe en dood gaan. In sulke omstandighede besef jy glashelder dat jy jou hier op een van die lewe se grenssituasies bevind. Daardie grens waar net God jou gids kan wees. En hoe het ons nie heimlik gewens dat hierdie aangename dokter vir ons God moet wees of word nie . . .
Dokter V het verduidelik dat ’n mens tot tweederdes van die lewer kan wegsny, waarna die lewer sigself kan regenereer en funksioneel werk. ’n Mens kan ook een van die twee lobbe van die lewer verwyder, maar dan moet die ander lob skoon van kanker wees. Anders is die oefening sinloos. In Adri-Louise se geval was die kanker so verspreid oor die hele lewer dat daar nêrens ’n skoon derde was nie, wat enige sodanige operasie uitgesluit het. Die enigste pad was chemoterapie wat hopelik die gewasse in haar lewer kon laat krimp en onaktief maak.
Hy het gesê dat chemoterapie die beste opsie is. In daardie stadium was dit onmoontlik om te probeer antisipeer waar daar nog, afgesien van die lewer, metastase plaasgevind het. Die chemoterapie moes dus ’n totale aanslag op die breedste front voer om verdere metastase te voorkom en dit, daar waar dit onnaspeurlik klein is, te keer en uit te roei.
Die konsultasie het einde se kant toe gestaan en dit het ’n onvermydelike punt bereik. Adri-Louise wou weet wanneer die chemoterapie sou begin, hoe lank dit sou duur, en of daar meer as een chemoterapeutiese linie sou wees. Dokter V het verduidelik dat hy eers vir haar met ’n kursus chemopille gaan behandel en dat sy oor nagenoeg ses tot agt weke die eerste chemoterapie sal ontvang. Die poort wat tydens die tweede operasie ingeplant is, is dus ook daar om die chemotoediening te vergemaklik.
Adri-Louise, pragmatis wat sy was, het ’n laaste vraag vir die onkoloog gehad. “Gegewe alles,” wou sy weet, “wat is my kanse?”
Dit is altyd ’n moeilike vraag vir enige geneesheer. Dokter V het begin deur ons te herinner aan sy opmerking dat hy nie God is nie. Ek kon sien hy het gewens dat hy nie nodig het om die vraag te antwoord nie. “As gelowiges weet ons dat ons lewe in die hand van die Here is, by Wie alles moontlik is. As onkoloog kan ek vir julle ’n statistiese riglyn gee: ’n pasiënt met jou diagnose het ’n 20 persent kans om 5 jaar te leef.”
Dit het stil geword in die spreekkamer. Die konsultasie was verby. Die dieptepunt waarop dit geëindig het, het verdere woorde oorbodig gemaak. Daar was in elk geval nie woorde oor nie.
Ek het Adri-Louise versigtig uit die spreekkamer – waarna ons nog nagenoeg 30 keer sou terugkeer – gestoot. By die afrit buite die deur het ek seker gemaak haar voete is op die flappe van die rolstoel. Toe ek haar voete so in die skaapwolpantoffels sien, het ’n groot hartseer my oorval. Haar bleek gesig, die drip wat in die lug gehou word en die nuus van kort gelede, het die onwerklikheid in my gesig gegooi. Teen die oorkantse muur het ons in die bleek sonnetjie gestop. Ek het op my een knie voor haar gaan staan en haar hande in myne geneem. Toe het ons saggies gehuil.
In die tien dae wat verby is, het ons gereeld onder ontstellende nuus gesteier, maar daardie oggend was dit die klimaks van die omvang van wat met Adri-Louise gebeur het. ’n Verpletterende terugslag.
Haar diamantring het die son gevang. Ons was 26 dae verloof.
2
Naskok
Adri-Louise was 25 nagte in die hospitaal. ’n Paar dae voor haar ontslag het sy geskryf:
............... ■ ...............
Baie dankie aan al die mense wat vir my bid. Dit beteken vir my baie. Dit gee my moed en ek ervaar die Here se sorg elke dag. Die verpleegpersoneel is wonderlik vir my. Ek is bevoorreg om in so ’n hospitaal behandel te word en om ’n mediese fonds te hê wat my kostes dek. Dankie vir al jul boodskappe en ondersteuning. Ek mis julle en is baie lief vir julle.
............... ■ ...............
Die dag voordat ek haar gaan haal het, is die laaste drips en dreineringspype uitgehaal. Sy was soos ’n jong hond in die park sonder haar halsband. Haar baldadigheid het natuurlik niks met haar beweeglikheid te doen gehad nie. Dié het maar nog bietjie vir bietjie en treetjie vir treetjie gegaan, dan was sy uitasem. Maar vir haar was die ontkoppeling van plastiekpype en drips ’n teken dat sy weer op haar eie kon funksioneer. Die meesterbrein, het sy graag gesê, die Krukenberg-tumor wat sy trawante na haar ovaria en ander dele gestuur het, is verwyder. Nou lê die stryd voor om daardie tumor se aanwas uit te roei.
Die kleur was terug in haar wange, die sprankel in haar blou oë. Sy het so goed gelyk. Moeg, ja, maar so gesond . . .
Adri-Louise het altyd alles met deeglikheid en deursigtigheid aangepak. Getrou aan haar aard het sy daarom haar pa en susters vooraf in kennis gestel dat ek tydelik by haar sou intrek om haar te versorg. Op haar kenmerkende manier het sy verduidelik dat hierdie verblyfreëling ’n versorgingsaksie was. In haar toestand – ’n woord wat sy dikwels gebruik het om ’n treurige situasie te beskryf – was sy nie in staat tot enige amoreuse gedrag nie! Maar haar oë het geblink. Vir haar was my teenwoordigheid die beloning ná die swaar. Ons wou reeds vroeër getrou het, maar daar was ’n rede of twee waarom ons dit uitgestel het. Het ons maar . . .
Die belangrikste was dat Adri-Louise moes rus en van die twee uitmergelende operasies moes herstel. Van groot belang was ook dat ons tot verhaal moes kom. Toe ons die oggend van die hospitaal af by die huis kom, het die bekendheid van die huis haar verwelkom en getroos. Ek het die eerste van baie koppies tee gaan maak, terwyl sy op die bank gaan sit en die twee katte gegroet het.
Daar sit ons toe. Albei van ons het ’n ineenstrengeling van dankbaarheid en ongeloof beleef. Die kontras kon nie skreiender gewees het nie. Hoe ons drie weke vantevore by die huis uit is op pad lughawe toe, opgewonde oor die naweek wat voorlê, en hoe ons nou ingehak en voetjie vir voetjie die voordeur genader het.
Hoe moeilik was dit tog om die huislikheid met die gebeure van die afgelope drie weke te vereenselwig. Die wêreld van die hospitaal waaruit ons toe gekom het, het onwerklik gevoel. Dit was soos ’n nare nagmerrie wat verby was. Maar dit was nie. Die nagmerrie het voortgeduur, net op ’n ander vlak. Nuwe dieet, nuwe roetine, nuwe fokus wat jou aandag daglank gevange hou. Nuwe onsekerheid. Nuwe behandeling. Operasiewonde wat moet genees. Reëlings by die kantoor. Reëlings met die mediese fonds. Dit was ’n omwenteling en ’n situasie wat aanpassing geverg het.
Die aanvanklike skok wat die diagnose gebring het, het nou plek gemaak vir ’n mengelmoes van emosies. Verslaentheid, ongeloof, teleurstelling, verdwaasheid, sprakeloosheid. Ontkenning was nie deel van ons gemoed nie – ons het te veel gesien. Adri-Louise het dit te diep in en aan haar lyf gevoel. Ons