E. Kotze

Soetloop


Скачать книгу

eerste vier babas is op De Hoop, die destydse familieplaas, gebore. Sy is soos ’n prinses behandel, agt dae in die bed, ’n dokter en vroedvrou, bediendes, sop en saggekookte eiers en braaibrood … En Malie so pragtig, ’n ware Prins van die eerste dag af, die kleur van haar oë en die wimpers skaduwees op haar wange waardeur sy skelm loer.

      So gou het dit gebeur, die eerste kinders. Ons moenie, sê sy en Claas vir mekaar, maar dan is dit reeds te laat, hulle twee ewe belustig. Sy soek die warm heuning wat hy uit die korwe sny, wat sy uitkou totdat net die spierwit was oorbly. Sy kry daar nie maagpyn van soos haar skoonma voorspel nie, sy het ’n sterk konstitusie.

      Met ’n sterk voorgevoel dat sy nooit weer die geleentheid sou kry vir so iets nie, het sy ’n ruim baba-uitset gemaak. Van Claas het sy ’n skaapvelletjie met die wolkant nog aan sag soos lap laat brei, ’n pisvelletjie om die matras te beskerm. Só goed het sy die kleertjies opgepas dat die laaste stelletjie nog feitlik splinternuut was toe Susanna uit die doeke is.

      Een van die dogters sal dit nog kan gebruik, het Ellen gedink toe sy dit wegbêre. Aan haarself het sy nie gedink nie. Die fontein het sout geword, sy en Claas albei gerus.

      “Nee!” roep sy onwillekeurig uit.

      Langs haar ruk Claas. Hy het al weggedommel, liggies begin snork.

      “Ellen?” Sy hand beweeg teen haar maag af.

      Sy druk haar elmboog in sy sy. “Nee, rol om. Lê weg van my af, het jy nie ’n konsensie nie?”

      Hy gee ’n kug en hoes tabakslym op. “Hoekom slaap jy nie?”

      “Ek bekommer my. Ek het nie meer raad nie.”

      Haar gedagtes hardloop rond soos tarentaalkuikens. Wat kan ’n vrou met so ’n oormag kinders doen? Seep kook en botter maak, beskuit bak, eiers verhandel.

      “Los dit vir my. Ek is die man, en hulle pa.”

      “Soos dit jou pas.”

      “Ek doen wat ek kan.”

      Dít moet sy erken, hy het probeer hier op Laaggelee. Manalleen geploeg met die twee donkies, saaisak oor die skouer, oor die sekel gebuk in die warm son. Vir ’n skepel broodkoring vir die huis. Tuie gemaak, en velskoene. Die velle by die klipbakke onthaar, in soutslaai laat lê, met ’n graaf skoon geskraap. Dan die langsame breiproses: vetsmeer en was en met die hand brei. Bosse rieme aan ’n paal ophang, opwen met ’n swaar klip, los dat dit slingerend afwentel. Totdat die laaste vog uitgewring is. Soms het sy gehelp, in haar vuiste gebrei, ’n dag lank, ’n week, etlike weke. Sy wat steun van die uitputting, en die reuk van vrot vel.

      Claas het Milanner by die kalkoond gehelp, dit gepak en brandgesteek. Water gesprinkel as die skulp bros is, die gebluste skulp laat afkoel en dan gesif. Nekdoek om die gesig, sy klere en voorarms vaalwit van die stof, ’n rooierige skynsel in sy oë. Soos ’n spook gelyk sodat die klein kindertjies vir hom skrik.

      “Gô!” Ellen staan op uit die kooi.

      “Wat nou?”

      “Ek gaan stryk.”

      Sy maak vuur, pak die ysters uit. Claas, wat al van beter weet, maak koffie.

      Sy tel die eerste yster op en spoeg dat die druppeltjies op die warm oppervlak ronddans. Lê dan met die yster op die mansbroek, hard soos seil. Pyn soos warm vuurstrale skiet in haar rug en agter haar bene af.

      “Wag, Ma, gee vir my.” Malie staan in die deur.

      “En waar peul jy nou skielik uit?”

      “In die buitekamer geslaap.”

      Ellen blaas deur haar neus. “En die Langbáner?”

      “Ma, hy’s Leopold. Hy het ’n rukkie by my gesit, ons het ’n bietjie gesels, maar hy’s lankal weg. Hy wou nie steur nie, hy weet Ma is nie lekker nie.”

      “Ek het nie geweet ek het ’n kwaal nie. Los, ek sal klaarmaak wat ek begin het.”

      Maar sy keer nie toe Malie en Claas die witgoed begin uitskud en die lakens strek en vou nie.

      Sy drink ’n mondjievol van die vars koffie toe Claas vir haar die beker gee. Hy probeer haar in die rigting van die kamer stuur, eers sagkens, maar met meer drang toe sy haar versit.

      “Ellen, jy kla heeldag niemand gee om nie. Jy’s kwaad vir almal, en nou stoot jy my weg …”

      “Het ek maar eerder.”

      “Jimmel, Ma, wat gaan hier aan?” sê Malie ontsteld. “Ek ken dit mos nie só nie!”

      “Dan is dit tyd dat jy jou oë oopmaak. Voor dit te laat is.”

      Claas maak asof hy nie hoor nie. Hy trek die onderdeur agter hom toe en stap weg.

      Ellen se gesig vertrek. Sy wil agter hom aan roep, hom keer. Kan hy nie sien hoe dit met haar is nie?

      Teen haar sin gaan lê sy weer. Golf op golf stoot die tamheid oor haar. Die bed van smeedyster, ’n trougeskenk van haar ouers, maak fyn tjingelgeluide as sy roer. Die matras van kapok is klonterig, deurgelê. Dit moet ’n slag uitgeskud en gepluis, gewas en in die son gedroog word. Maar tog nie nou nie.

      Om haar dein die huis, swel en sak en swel. Die voetval van die kinders klink soos ’n perdekommando toe hulle die skoolpad vat. Sal hulle die winkelgoed onthou? Anders sal Claas alsolief vanmiddag die donkies moet inspan.

      Sy moet tog weggeraak het.

      “Wil Ma ’n bietjie tee hê?” Liesie staan voor die bed.

      “Nee, wag, laat ek opkom.”

      “Ma kan maar bly lê, ons sorg vir alles.”

      Die wasgoed is gestryk, ja, maar die vuurherd moet uitgewit kom, die vloer gesmeer. Met ’n drif gooi sy die komberse van haar af. Sy ken die kinders, jy kan hulle net vertrou so ver jy hulle sien. En waar’s Claas?

      “Pa is met die vee die kliprug uit,” sê Malie. “Hy’t gesê hy maak sommer by die Milanners agtuur.”

      Eet hom daar dik aan wors en eiers, dink Ellen. Aan die ander kant bring hy dalk ’n stukkie vleis saam. Vrugte as die smouskar omgekom het.

      Sy spoel haar mond met soutwater uit. ’n Kiestand gee antwoord. Haar tande is gevoelig; elke kind vat kalk uit haar liggaam.

      In die kombuis woel Malie en Liesie. Daar is reeds gemelk, die skeier gedraai, uitmekaar gehaal en gewas. Nou maak hulle die vuurherd skoon, vee die kole en as met die bossie vere bymekaar, dra die rooster en vuurysters en swart ketel uit om te skuur met bondels strooi en as.

      “Die potterak hoef nie vanoggend afgeskrop te word nie, stof maar net af,” maak Ellen ’n toegewing aan Malie wat die res van die nag sit en krale vaswerk het. Sy moenie te straf op die kind wees nie.

      Sy stap in die oggendkoelte uit en agterom die huis, na die oorskiet van die tuintjie wat sy jare terug probeer aanlê het. Malvas en verstrengelde kappertjies en die onverwagte groen van die dillebos met sy fris anysgeur, aan die lewe gehou in die drup van die dak. ’n Aftreksel van die saad is goed vir maagkrampe en slapeloosheid by babas, en dis iets om aan te kou as daar niks anders is nie. Sy breek ’n takkie af en verbeel haar sy is dadelik verkwik.

      Die buitekamer, sien sy, is aan die kant, so na as kan kom. Die kombers oor die katel is gelyk getrek, die ysterkooi agter die deur opgemaak. Aan die muur hang die tuie en stroppe. Vel en sool en naairiempies en skoenlees op hulle plek langs die boekekas. Sommige boeke kom nog uit haar skoolhoudae, ook leesboeke van die kinders, leie en griffels.

      Die boeke moet ’n slag uitgepak en afgestof word, dink sy, as sy maar so laag kon buk. Maar eers ’n koppie tee en ’n paar krummels beskuit teen die flou gevoel. As daar is.

      Sy sukkel om kombuis toe, kyk krities na Malie wat fluks besig is om elke ding terug op sy plek te pak: koffieblik en suikerblik, blik vir sago. Droëbone en ertjies het haar pa vroeër altyd van die plaas af gestuur. Wintertyd wanneer hulle vark slag, kon sy heerlike sop kook. Ertesoep met