niks meer as ’n bywoner op sy eie grond nie, en sy seun ’n veewagter!
Hy het ’n vloek oor die Laumbaarts uitgespreek, tot in die derde en vierde geslag. Al die plae van Egipte is op hulle afgesweer.
Elisabet het albei haar hande na haar broer uitgesteek, maar Sam het reeds omgedraai en oor die werf weggestap. Dit was ongelooflik – sy eie suster! Sy het inmekaargesak en moes ingedra word.
De Hoop word ontruim op ’n dag wat die suidewind troosteloos oor die werf se gruiskors waai. ’n Suster van Claas, getroud met Milanner, gee herberg aan Nicolas en Elisabet op Kalkrug. ’n Muilwa ry hul meubels weg. Die handjievol skaap wat aan hulle toegesê is, is reeds vooruit.
Claas en Ellen was ewe oorbluf. Hulle het nie geweet waarheen om te draai nie. Na haar ouers vir seker nie, wat weet Claas van vrugte?
Ellen wat skoolhou? Met vier en ’n halwe kindertjies? In een van Patnoster se platdakhuisies gaan bly?
Feit is dat Claas gemaklik grootgeword het en dat sy pa altyd vir hom gedink het. Hy het nooit hoef te wonder waar die volgende brood vandaan sal kom as die laaste sak koring teen die soldertrap afgedra word nie. In sy oë was die huis op De Hoop onverwoesbaar.
“Wat kan ek doen, Ellen?”
Sy het hom innig jammer gekry toe hy so met hangarms voor haar staan. Sy was nog nooit liewer vir hom nie, só met die lig uit sy oë en sy geredelike glimlag van sy gesig af gevee. Sy wou hom onthou vir die manier waarop hy sy skaaptrop laat wei.
“Ek sal saam met jou Laaggelee toe trek, Claas. Ons kan dit daar ook mooi maak.”
Soos Josef en Maria vlug hulle die woestyn in op ’n donkiekar, sy met ’n baba in die arms. En ’n klompie pluimvee in ’n hok.
Hulle was toe nog ordentlik, hulle het goeie klere gehad. En trots. Ellen het die verwagting gehad van jong lammers wat in die lente op die werf rondhuppel, hanslammers wat die kinders bottels melk voer en waarvan sy die wolgeld vir haarself hou.
Laaggelee se kliphuisie waarin Claas partykeer oornag het as hy duinsiek skaap moes bymekaarmaak, was kwalik ’n onderdak, maar hulle sal dit mettertyd verbeter, het sy aanvanklik geglo. Maar tot vandag toe bly hulle nog net so, met die enigste verskil die platdakbuitekamer wat aangelap is.
Saam met die seisoene het die jare oor Ellen se kop gerol: die noordeweer wat uit die see opstaan, reën in die nag, afgewissel met sonskyn, opslag tot in die agterdeur, lente gepaard met digte mis, die suidewind wat die manatokboom skeef druk en hand-in-die-sy laat oorhel. Die barre somers wanneer die water in die bakke opdroog en sy die optog oor die duine met die span kinders en die wasbondel moet aanpak.
By die soetloop op die strand moet sy inbuk, week ná week. Inseep en vryf en bleik, en inseep en vrywe, vrywe, vrywe. Salpetergeel sweetvlekke onder die arms van Claas se onderhemde, in die mik van sy meelsakonderbroek. Oor en oor, net soos hy met die bondel osrieme by die paal in die hittige son. Opdraai en afwen en brei, opdraai en afwen en brei.
Claas reik almaardeur terug na sy kommerlose jonkmansjare. Sy gereelde aanloop is Kalkrug, waar hy bederf word deur sy suster en waar sy ouers ook nog is. Ná De Hoop sit hulle op Kalkrug en kwyn, bly hulle verknies oor dinge waaraan daar geen keer is nie. ’n Mismoedigheid wat aansteeklik is. Oupa sug en Ouma se ken bewe. Nie eens ’n oulap om in ’n kleinkind se hand te stop nie. Ouma bak nie meer koekies nie, die kleinkinders word weggestuur met ’n sakkie krummels wat hulle in koffie week en met lepels uit die skotteltjie eet.
En gereeld soos klokslag kom soek Claas troos by Ellen. En maak nog ’n kind.
Hulle word een ná die ander op Laaggelee gebore: drie dogters, Anna, Dol en Wietie, ’n seun, Antonie, en ’n dogter, Claasie. Daarmee was al die oumas en tantes vernoem én sy en Claas – Claas twee maal. Toe nog Susanna.
Ellen kon nie meer byhou nie. Sy, eens so vlytig en die planmaker, se draad het mettertyd kort geraak. Sy hol van binne uit soos ’n uitgedroogde kalbas, vroegtydig uitgeblom, aan’t verdor soos gras.
En nou, met hierdie laaste enetjie, is dit asof haar verstand gaan stilstaan het. Sy laat die naamgeëry aan Claas oor.
4
Die huwelik tussen Malie en die Taar word voltrek in die NG kerk op die dorp, ’n kort seremonie wat Ellen nie bywoon nie. Nie met die knieserige kleintjie nie. Sy het darem voorberei vir die paar mense wat die middag sal oorkom: hoenderpastei en melktert en karringmelkpoeding, tee en koffie en gemmerbier vir dié wat wil hê.
Claas het saam met die Milanners dorp toe gery en Malie by die kerk ingebring. Moontlik iets sterkers op Kalkrug gedrink voor hulle die kliprug afgekom het. Te vrolik!
Leopold Taar se ma met olierige hare en donslip is ook in gelid. Danig oor die klein kind, en guitig.
“As my man nie vroeg oorlede is nie, het ons wie weet ook …” Sy knik in Claas se rigting.
Dié is meer haar portuur as Ellen, wat soos die ouma van die bruid voel in haar verslyte swart tabberd. Haar halssenings is styf getrek van ingehoue spanning. Drink die mansmense nie te veel nie? Die vroumense sit ook elk met ’n soetetjie, Maria Jordaan inkluis. ’n Ongeërgde span op ’n Saterdagaand.
Wietie moet gaan melk om ’n kokertjie vol vir die Langbáners saam te gee, en ’n fles ingelegde perskes as geskenk van Ellen se suster. Sy en haar man het van Piketberg af gekom en sal die nag oorslaap. Gevolglik is Claas met die Milanners saam terug Kalkrug toe.
Die man slaap lankal, toe gesels die twee susters nog in die kombuis.
“Hoe vergaan is jy, Ellen, jy moet ’n slag wegkom,” huil haar suster in haar hals. “Kom vir ’n rukkie saam met ons, toe!”
Die versoeking is daar, maar om nou te gaan kuier, is om openlik toe te gee dat hierdie rampsalige sukkelbestaan vir haar te veel geword het. Sy kan dit nie aan haarself doen nie, en veral nie aan Claas nie. Dis die erkenning dat hulle misluk het wat haar nog elke maal keer as sy dink aan wegloop.
“As Piet vir Kerlientjie wegjaag, o waarnatoe dan?” sing die volkers van die Sandveld. Daarom bly Ellen maar, en stuur haar suster die volgende môre weg met die verskoning van te veel werk, lamtyd en skeertyd wat voorlê, ’n bakoond wat opgeklei moet word.
Soggens is Claas eerste in die kombuis om koffie te maak. As hy vir Ellen wil bring, keer sy.
“Ek sal self kom drink. Anders is die kinders almal wakker, en ek wil hulle nie nou al om my voete hê nie.”
“Ek het gedink jy kan ook nog ’n rukkie lê.”
“En die werk dan?”
Die verwyt bly nie agter nie, vernaam oor die ekstra bondel doeke elke oggend. Sy het aparte boerseep gekook vir die flenniekleertjies. Nadat die eerste stene uitgesny is, is dit gesmelt en weer in skoon water gekook, en nog ’n keer, tot drie maal toe en so suiwer dat ’n mens daaraan wil eet.
Hulle leef bolangs. Praat net wanneer dit nodig is.
Saterdagaand vra Claas pen en papier om ’n brief vir die skoolmeester te skryf. Hy wil verlof kry om Nieko tot ná braaktyd uit die skool te hou. Daar het ’n laat reëntjie geval en hy wil in die lande kom.
Die vetkers flakker in die blaker. Die vuur is uitgebrand. In elkeen van Ellen se oë lewe ’n vlam.
“Ek haal hom nie uit die skool nie,” keer Claas toe hy dit sien. “Dis net vir ’n paar dae. Straks is dit somer, dit sal nie sommer weer reën nie.”
“Moet jy hom vir elke motdoutjie uit die skool hou? Straks is die jaar om en Nieko steeds in standerd vier!”
Die kind is reeds te laat skool toe gestuur, en wil hulle gereeld wysmaak daar’s niks wat die meesteres hom kan leer nie. Hy kan reken en lees; hy lees Liesie se handboeke vooruit; hy kan die lande en riviere en berge opnoem. Hy’t lankal op die wêreldkaart gesien Amerika en Afrika het van mekaar af weggedryf, jy kan die eilande tussen die groot vastelande inmekaarpas om weer ’n soliede ronde bal te vorm. ’n Aarde wat uit meer bestaan as die