doek waarmee sy afgestof het ongeërg by haar voorskootband ingedruk. Dieselfde doek waarin Claas se middagkos gister toegeknoop was, waaraan hy sy vetterige mond en hande afgevee het.
“Het jy tog nie daai vuil doek wat na kos ruik en waarop die vlieë gepak het in my kombuis gebruik nie?” vra Ellen skerp. “En dan wil jy man vat? By jou eet ek nie!”
Sy haak haar kombuisvoorskoot agter die deur af en sukkel met haar ongemaklike lyf houthoop toe, antwoord nie toe Liesie by die skuurtafel vra wat aangaan nie. Sy maak asbostakke bymekaar en steek ’n vuur aan. Met omstand maak sy loog van die as, skep die skoon water af en gaan skrop eiehandig die potterak af. Én die tafelblad wat sy net gister afgewas het.
Sy stoom, haar vel klam soos die dood, maar die drif lewe nog in haar oë toe sy die aswater onder die boom uitskiet.
“Ma …” Malie en Liesie is albei in trane, skaam en kwaad oor die onregverdigheid.
Ellen se mond is toegeskroef om nie ’n geluid te laat ontsnap nie. Sy voel siek van swakte en haal ternouernood die kamer, los haar hopie klere net waar dit val. Sy vee die sweet van haar gesig af, trek ’n afgeleefde flennienaghemp aan wat eens pienk was maar nou perkamentagtig soos haar vel lyk, en sak op die bed neer.
“Hou die kinders buite,” beveel sy Liesie toe die skool die middag uitkom.
“Moet ons vir Pa laat roep?”
“Jou pa behoort self te weet.”
“Maar sê Ma …”
“Trek net die deur toe.”
Die gevoel sal netnou bedaar, laat sy net ’n rukkie rus, ’n ruk lank slaap.
Dis ’n steurnis toe ’n hoenderhen begin kekkel. Só ’n bek sit die hen op. Elke eier ’n geboorte. Die arme ding moet ook al die elke-dag-se-opklim gewoond wees, voel dit seker skaars, die leg so uitgerek, kom die gedagte deur die slaapnewels.
Dit moet ná die middag wees toe Ellen wakker word van ’n gewoel in die kombuis. Sy ruik kos, daar word gekook. Sy ruik sout en peper en kruienaeltjies en neutmuskaat.
Malie kom van buite af in. “Hoe ver is die kos?”
Die kleintjies sit plat op die vloer met hul rûe teen die muur en sing hú-hú-hú. Hulle wieg vorentoe en agtertoe en sing tot vervelens toe, tot malwordens toe.
’n Potdeksel klink. Kaplaks! val ’n hou. Daar huil een.
“Sie jy in die kos kom klou!” raas Malie.
“Toemaar, kom suig solank die beentjies af,” paai Liesie.
Die stoele word nader aan die tafel getrek. Hulle kwetter en eet, vee die sous met brood op tot die borde blinkskoon is.
Daar skiet hulle nou die skottelgoedwater oor die werf uit. Het hulle ooit die vadoeke behoorlik gewas en uitgespoel? Ellen is teen dié tyd goed opgewerk.
Iemand klop liggies. “Ma?” Dis Liesie.
“Wat lol julle met my?”
“Hier’s ’n bietjie sop.”
“Louise, waar kry julle die reg om een van my hoenders te slag?”
“Ma, die kinders is honger, en hier’s niks anders in die huis nie. Dit was een van die ou werfhane.”
“Melk en brood is ook kos.”
“Die brood is muf, Ma.”
“Dan moet daar ingesuur en gebak word.”
“Môre op die Sondag? En Pa moet nog die meel bring.”
Ellen voel hoe woede in haar opstuif. En die laaste treksel tee is gedaan, net ’n bietjie stof in die blik. Wat dink Milanner, wat tog ’n grootmens is, dat hy nie die provisie van die winkel af saamgebring het nie? ’n Kramp laat haar na die naaste ding gryp, een van haar velskoene. Sy slinger dit na die oop deur om van die opstand en ongemak ontslae te raak.
“Sie jy ophou teëpraat! En laat Malie sien waar sy ’n hoender vir haar bruilofmaal kry!”
Niemand waag dit weer in die kamer nie. Dit raak so stil dat Ellen onrustig word. Het hulle haar nou alleen gelos in die huis, sonder ’n lewende siel? En sy in barensnood.
Kan die pyne die begin van die geboorte wees? Hoekom duur dit dan so lank? Met Claasie en Susanna was dit soos ’n oogknip verby, Susanna het feitlik uitgeval. Maar dis vyf jaar gelede. Het haar bekken intussen verkalk? Hard soos klip, nie in staat om te ontsluit nie?
Voor die duiwel haar dinge begin wysmaak, moet sy uit hierdie bed opstaan, besluit sy. Vir die wis en onwis gereed maak, om nie onklaar gevang te word nie. Sy pak uit en lê op die enkelbedjie oop: handdoek en lappe, watte, Lysol, koekie lyfseep wat sy spesiaal gebêre het, ’n skêr, gare om die naelstring af te bind. Iets om die kind in toe te draai … Malie se pisvelletjie van neëntien jaar gelede sal doen.
As dit net ’n vals alarm is, hoef niemand te weet nie. So nie bring sy die kind alleen-alleen in die wêreld. Of sterf. Hoe kry Claas dan die pap babatjie groot? Op meelwater? Liesie is nie bekwaam genoeg nie, en Malie met die vetterige vadoek val nie aan te dink nie. Trek op Claas; hulle het ’n voorvatter nodig, dit het sy met die tyd agtergekom.
Waar is hy dat hy nie sy plig nakom en die ou vrou gaan haal nie? Dis ook nog ’n hele ent oor die klipperige kalkbanke met die donkiekar.
Toe dit aand word, steek Ellen ’n kers aan, die flakkerende lig ’n soort onderskraging in haar lydensuur. Sy is nou op haar voete en kuier heen en weer in die smal gangetjie tussen die beddens, verby die voetenent waar sy aan die kooistyl hang en die pynstroom van die sametrekkings deur haar bene in die grondvloer laat wegvloei.
Alleen is sy darem nie meer nie. In die kombuis het sy vroeër ’n skarreling soos dié van muise gehoor. Iemand doen tog iets. Die melk word ingebring, en emmers water.
Die geboorte het begin, sy is daarin, sy moet daardeur. Haar water het nog nie gebreek nie, maar sy sien bloed. Sy ruik koffie en wil amper bly word.
“Claas?”
“Die kinders is by die Jordaans, Ma,” praat Liesie by die deur. “Ek gaan nou vir Pa roep.”
“Dis te laat, hulle sal nie betyds wees nie. En jy los my nie alleen by Malie nie!”
Dié is in die kombuis besig, sy stook die vuur en maak die ketels vol water.
“Ek sal hardloop, Ma, ek ken die pad in die donker.”
Ellen luister hoe Liesie se voetvalle tussen die klippe en bosse deur verdwyn. Sy voel die kind in haar stu, ’n opening baan waardeur hy homself kan verlos. Nie nou al nie, verset sy haar teen die verbete klein vegter wie se wil om te lewe sterker is as die slap moersak wat dreig om hom te versmoor. Sy het alle beheer verloor, kou op haar afgestompte tande, kreun … en kry nuwe moed toe sy ’n harde voetval hoor. Dis te gou vir Claas-hulle, maar wie dit ook al is, is net betyds.
“Leopold!” hoor sy Malie uitroep. “Kom help, dis Ma!”
Die Langbáner, opgewasse teen stormsee in ’n klein bootjie, laat die natuur sy loop neem, rol die seile op, laat die mas sak, en gee hom oor aan die stroom. Hy aarsel net ’n oomblik in die deur. Sê nog “Naand, tant Ellen” en stroop dan sy moue op, was sy hande en voorarms in ’n skottel, en lig haar op die bed.
In haar nood is sy skaars bewus daarvan dat sy met oopgespalkte bene voor haar aanstaande skoonseun lê. Sy hoor hoe Malie en die Langbáner konfereer: die kind se kop is reeds daar. Sy druk, en nog ’n maal, daar is dit nou, die skouers steek vas. Breë skouers wat om die beurt uitgelig moet word.
Tussen asemtogte deur gee Ellen orders aan die twee jong mense wat soos ’n span werk, die kindjie die wêreld in help, die naelstring knip, dan retireer vir die bloed, ’n kamerpot vol bloed van die velletjie afskep. Toe die nageboorte kom, word Malie naar. Leopold het sy hande meer as vol teen die tyd dat uitkoms opdaag.
Die ou tante neem oor, gee eers aandag aan Ellen wat