onbekende plekke buite die strop waarmee Laaggelee hom wurg.
“Toe ek so oud soos hy was …” versterk Claas die onwennige seun. Hyself was veertien toe hy die Bybel uit sy kop opgesê het agter die trop bokke in die kliprug, en die Gesangboek van voor tot agter geken het.
Daar spat die vonke toe.
“Claas, wanneer sal jy dit in jou kop kry dat dit nie meer die tyd van jou oupa en pa is nie, toe julle gedink het die Prinse besit die Agterbaai! Wat het julle vandag om te wys?”
Onmiddellik kan Ellen haar tong afbyt. As die grief maar nie so lank reeds opgekrop was nie. Dis nie asof die Prinse dit destyds nie kon bekostig om Claas weg te stuur om te gaan leer nie. Die keuse het hy self gemaak: die skaaptrop in die bog, die geblêr van ooie, gulsige lammers aan uitgeswelde uiers, huppelende tweelinge, vleisskaap en wolskaap, die skeerhok en sorteertafel. Hy kan ’n uitgegroeide hamel binne twee minute skoon skeer, die vag in een stuk soos ’n kleed oopgesprei …
Jammer die regterarm is nou onbruikbaar, in die elmboog afgeslaan toe hy by die puts aan’t water trek was. Hulle kan bly wees hy het nie die arm verloor nie, het dokter Rauch gesê. Maar Claas was maande lank onkapabel. Sy en die kinders moes water vir die vee put, eers slawe van gemaak word voor Sam Laumbaart vir Napai gestuur het om hand te gee.
Claas stoot sy stoel terug en staan op. “Bring die waswater, Nieko!”
Die seun dra die badjie om na die buitekamer waar die drie mansmense soos ramme afgekamp is. Ellen en die meisiekinders maak in die kamer kooi, die kleinstes kop en punt op ’n strooimatras. Wat dink die kinders oor hulle pa en ma wat so apart slaap? Claas neem die skeiding erg ter harte. En lê sy nie ook wakker nie?
Oktobermaand is dit nog koud snags. Voordat Ellen gaan lê, maak sy seker dat die kinders toe is. Sy raak gou aan die slaap. Die wind suis deur die rietdak, sag soos ’n asemhaling, of klaend deur die splete van die vensterluik. Veraf klink die dreuning van branders wat na die lang strand toe aanrol, skuimend teen die rotse breek en teen die duine op spoel.
Sy word uit haar voorslaap wakker geskud deur ’n harde stampgeluid. ’n Trilling loop onder die kliprug deur dat die huis se bere bewe. ’n Kiewiet skree waarskuwend.
In die buitekamer kom Nieko vervaard regop. “Pa, wat’s dit?”
“Seker maar niks,” antwoord Claas. “Jy’t seker gedroom.”
Tog voel iets nie reg aan die nag nie.
Die volgende oggend lê daar ’n vreemde blou skip op Soldiers Reef, anderkant Noordwesbaai se lang wit strand. Dis net aan die lig word en in die helder baan van die son is die punt van die rif duidelik sigbaar. En daar lê die skip, blouer as die see, met drie skoorstene.
Claas sien dit eerste toe hy met die vee teen die hoogte uit trek. Dan die wit stippeltjies wat aangeseil kom wal toe, reg op Holbaai af. Hy stop in sy spore.
“’n Steemer wat vannag op die klip gekom het,” praat hy met homself. “En sy reddingsbootjies is op pad uit. Maar hulle ken nie vir Holbaai nie, die laaste een gaan daar verongeluk.”
Hy sit dadelik af huis toe, roep van ver dat Ellen ’n kooilaken moet bring. Dié maak hy aan ’n sweepstok vas om ’n vlag te vorm en sit daarmee af strand toe. Met die vlag in die lug lei hy die bootjies teen die kus op in die rigting van Noordwesbaai, waar dit veiliger is. Manalleen red hy die oggend van 23 Oktober 1910 by die driehonderd mense van ’n gewisse dood.
Ellen bly met die baba agter toe Nieko die donkies inspan en met die slee, volgepak met kinders, die pad oor die duine vat. Hulle verwonder hulle aan die klomp mense wat verlore tussen die slaaibossies op die strand rondstaan, party in nagklere, ander met komberse om, mans en vroue en kinders, verkluim in die effense son.
Iemand van De Hoop jaag te perd dorp toe met die tyding, en om die owerhede te ontbied. Toe die poelieste en dokter en predikant oplaas op die strand aankom, het die nuus lankal die plase bereik. Die boeremense, met waens en karre gelaai met kos en drinkgoed, stroom af see toe, te perd of te voet. Sam Laumbaart, wat vrederegter is, kom met die kapkar, swart hoed op die kop, blink horlosieketting oor die maag, kierie met ’n goue knop. Meester Senkiejôn, De Hoop se onderwyser, daag op met sy teleskoop-verkyker.
Eers die aand ná melktyd kom die kinders weer by die huis aan. Ellen is al goed ongeduldig, want die koei het die emmer omgeskop.
“Wag, antie, gee vir my dat ek dra.” Die druppeltjie wat oorgebly het.
Dis Miekie Laumbaart, die riethaan van De Hoop, wat altyd in gelid met die Prins-kinders is. Hy was te nuuskierig om vir die plaas se wa te wag en het self in die pad geval en die slee van agter af ingehol.
Hy is ook die een wat die beste verslag kan doen. Die skip is die Lisboa, van Lobito af op pad na Algoabaai. Dit was helder maanlig toe hulle op die rif loop. Die see was mooi, daar was nie eens mis nie. Maar glo ’n partytjie op die dek voordat hulle môre in die Kaap sou aankom. Die Lisboa het veertien knope geloop, wat ’n helse spoed is volgens Miekie.
Hy is meer begaan oor die marconis wat tot op die laaste op die skip gebly het om ’n boodskap deur te sein as oor die mense wat verdrink het. Daar was ’n begrafnis vir die dooies, ’n babatjie ook, sommer net so in die duine. Joesie Portgees van Patnoster het getolk en die mense het kruise gemaak en gehuil; die geroep van die vroue het teen die koue kalkkliprante weerklink toe die laaste hamerhoue val en die spykers ingedryf word.
“Kyk, julle was nou daar, julle het alles gesien,” kry Claas oplaas ’n woord in. “Julle gaan nie weer soontoe nie, julle gaan staan nie in die mense se pad nie. Môre is skool!”
“Maar Pa …” kla Nieko, fris en breed soos Claas, al is hy nog nie uitgegroei nie. Met dieselfde verleidelike oë en vol onderlip as sy pa.
“Wat van die bulle, Pa?” Nieko soek ’n rede om nog ’n keer skip toe te gaan. “Hoe gaan hulle die bulle afkry? ’n Mens kan hulle op die strand hoor bulk. Hulle sal versuip!”
Die mense op die strand is veilig, met warmgoed en genoeg te ete, maar daar is nog agt stiere in die Lisboa se ruim.
“Daar’s mense wat na hulle kyk, kos gee en so aan. ’n Skuit van Stephan wat renteloos in Saldanha lê, sal môre kom help. Gaan slaap julle nou, ek kom.”
Claas vertoef nog ’n rukkie in die kombuis. Hy het ’n guns om van Ellen te vra, of sy kans sien om ’n pot snysels te maak vir die kindertjies, hy voel so jammer vir hulle.
Wat sy die melk waarvandaan moet haal? blaas Ellen. Die kos uit sy eie kinders se mond neem?
Nogtans rol sy die volgende oggend deeg uit en hy staan vroeg op om die koei te melk.
Van lande braak kom daar toe niks. Claas help met die selwyts. Daar is omtrent dertig of veertig ton bagasie op die boot, agt-en-veertig sakke pos. En geld, goud en silwer.
Dit word alles wal toe gebring in Stephan se bootjies. Waarvoor hy betaal moet word. Hy kan eis.
“En Pa?” vra Nieko. “Pa het mos geroei en die skuite op die wal gesleep. Kan Pa ook eis?”
Claas lig sy skouers. “Daar’s soveel wat bakhand staan. Almal het gehelp, maar op oulaas is dit Stephan se waens en perde, sy skuite, sy werksmense …”
Ná drie dae kom hy met leë hande huis toe.
Ja, dink Ellen, Claas staan maar weer laaste in die ry. Seker nie eens ’n dankie gekry vir sy slee en donkies en rieme nie, en die wit laken met nog ’n paar jaar se gebruik daarin. Nie ’n rafel van die buit saamgebring waarvan almal praat nie, en hulle kort aan alles.
Stephan het toestemming gekry om die vrag te verwyder, vertel Claas, die skip is nie te red nie. Selfs ’n harmonium en ander musiekinstrumente diep hy uit die seebodem op, ’n salonklavier!
’n Klavier, sug die meisiekinders.
By die bokwagter hoor hulle van al die goed wat uitgespoel het, wat mense present kry of wegdra: rolle materiaal en boste uie en blikke neute. Daar spoel dosies sigare uit; by die Geut lê dit los in die klipskeure. Die