Esther wat iemand soek om te help huis skoonmaak,” omseil Claas vinnig vir Ellen.
“Daai huis waar die uile op die solder broei,” sê Ellen afkerig. “Boodskappers van die dood.”
Maar Wietie is ewe gretig. “Ek bang g’n spook nie.”
Daarby wonder sy lankal wat so danig aangaan in die wit huis bokant die kliprug, verskans agter die plantasie bloekombome. Waar die mense glo elkeen in hul eie kamer slaap en gekookte eiers vir brekfis eet, uit eierkelkies. En net een babatjie het.
“Sy’s nie meer so ’n babatjie nie,” korrigeer Ellen, “sy’s so oud soos Kattie ongeveer. Janet is haar naam, glo na Esther se pastorie-ouma van die Paarl vernoem. Die twee meisiekinders albei na haar kant, Miekie het darem die Laumbaart-naam.” Matthys Michielse.
Wietie is nog besig om planne te maak vir De Hoop toe die Taars op Laaggelee uitslaan. Malie kom wys sy’s in die ander tyd; haar rok span oor haar maag. Sy en Leopold is in hulle skik en sonder skaamte. Drie jaar lank probeer.
“Dis Ma se eerste kleinkind,” sê Malie. “Is Ma nie trots nie?”
Ellen glimlag flou. Hoe bly kan ’n mens nou oor ’n kind wees?
Malie kyk krities deur die kombuis. “En hoe gaan dit hier? Help jy darem vir Ma, Wietie? Noudat jy nie meer skoolgaan nie en renteloos by die huis sit?”
“Ek gaan vir ant Esther op De Hoop help huis skoonmaak,” sê Wietie vinnig.
Toe is die vet in die vuur. Veral voor Malie moet jy dit nie waag om die naam De Hoop te noem nie. Sy het al haar verstand gehad toe Claas en Ellen uit hul huis verjaag is. Besteel is. Die plaas ingepalm is. Van haar pa ’n minderwaardige bywoner gemaak is na wie daar neerhalend verwys word as Claas Arm, met die donkiekarretjie.
Malie sis soos ’n geelslang. “Van wanneer af is ons die Laumbaarts se diensmeisies? Ons lewe nie meer in die slawetyd nie. Hulle moet oppas dat oom Michiel hom nie ook vir ’n gat laat vang nie – van sy eie pa. En later self op die vlak sit!”
“Vlak sit! Vlak sit!” eggo Kattie onder die tafel uit.
Malie pluk haar hardhandig daar uit en plak haar buite op die stoep neer, waar sy kort, kwaai skreetjies van skrik gee. Vergeefs die arms na Wietie uitsteek en uiteindelik op Ellen se skoot beland, vasklou aan haar ma.
“Ja, toe, julle hou haar klein,” sê Malie.
Maar kan nie help om ook te lag oor die kind wat ouderwets genoeg is om te weet waarvan daar gepraat word nie.
Malie vat vir Wietie saam Langebaan toe. As sy iets wil verdien, kan sy dit daar gaan doen. Leer kook by die lagoonvroue wat sulke lekker viskosse maak, pienang en triepa, smoorvis en pêrekloutjies, kreefkoekies en vissop. Alles goed wat sy kan verkoop aan die seebadsmense ná die dorstyd; daar is volop geld te maak. Ant Esther moet maar self sien en kom klaar op De Hoop.
6
Anna en Dol het ook geeneen sin vir die boeke nie, en ná standerd ses val Dol by ant Jettie Abel se losieshuis in. Anna beland in die pastorie, waar sy onder die vlerk van Dominee en Mevrou ’n godvresende opvoeding kry.
Dominee is nie begaan oor haar nie, eerder oor die res van die Prins-gesin. Daar loop kwaadwillige stories rond dat die seun sy rug op sy ouers gekeer het. En die ouers self … Ellen gee darem nog katkisasie, maar Claas! Daar’s nie ’n stuiwer vir kollekte nie, maar altyd ’n trippens vir ’n bottel wyn.
Dominee sug. ’n Maklike lewe het die mense nie. Nog drie kinders op skool: Antonie en Claasie en Susanna. En onder die tafel met die kat in die arms klein Kattie, soos hulle haar noem. Wat hy nog daar in die huis gaan doop het. Tomasina. Buitengewone naam. Buitengewone omstandighede ook, ’n spesiale toegewing van die kerkraad. Probleem met vervoer hoofsaaklik, die Prinse is afhanklik van geleenthede dorp toe. ’n Mens verwag tog nie ’n vrou van Ellen se ouderdom moet met ’n kind in die arms so ver stap nie. En Claas se twee donkies en mankoliekerige ou karretjie op die onbegaanbare pad …
Huisbesoek aan die Prinse stel Dominee uit tot dit nie meer kan nie. Moet hy dit nou vir die arme mense nog moeiliker maak deur die skinderstories aan die lig te bring en hul privaatheid oop te vlek? Die dilemma waarin die stomme Ellen haar bevind, kon sy tog nie voorsien het nie. Watter keuse het sy destyds gehad toe sy op De Hoop voor ’n vurk in die pad te staan gekom het? Hoeveel moed kos dit nie om van dag tot dag as bywoners op Laaggelee ’n bestaan te moet maak nie?
Wat sy nodig het, besluit hy, is nie kritiek of teregwysing nie, maar bemoediging.
Met die huisbesoek laat hy sy kar en perde by Sam Laumbaart op Nuwepos, waar hy die middag geëet het. Smaaklik gestoomde hotnotsvis met ’n bottersousie en witrys, en uieslaai daarby. Die gemeentevroue doen wonderwerke met die middele tot hul beskikking. Hy is weer eens bewus van hoe geseënd hulle as pastoriepaar is met alles wat hulle uit die gemeentelede se hand ontvang, so ruimhartig dat dit soms vir hom smaak die vroue besteel hul mans. Die versoeking is groot om nie soos Sam eers ná ete ’n rukkie te rus nie, maar dis ’n taamlike distansie na Laaggelee toe en die sandpad is dik.
Ellen sien hom van ver af aankom. Eers net ’n beweging, dan ’n voorwerp, ’n gedaante op die middelman van die tweespoorpad. ’n Kind wat huis toe kom? wonder sy. Toe duideliker die swart manelpante in die wind … Satan of gesalfde?
Dan sien sy dis maar net die dominee.
Met bewende hande trek sy die waterketel oor die vuur, gaan kamer toe en kam haar hare, stap uit op die stoepie.
“Mevrou Prins …”
Dominee aarsel. Is dit nou te formeel? Maar om haar op die naam te noem weer te familiêr … Tog nie, haar dogter woon immers by hom aan huis.
“Ellen,” verbeter hy en haal sy hoed af, vee die sweet met ’n wit sakdoek van sy voorkop.
Sy steek haar hand uit. “Goeiemiddag, dominee. So in die hitte? Kom binne.”
’n Lawende koelte kom hom tegemoet deur die venster wat see se kant toe oopmaak.
Sy bied hom ’n stoel aan. “Kan ek koffie maak?”
“Net ’n bietjie water, asseblief.”
Sy maak ’n glas vol uit die wateremmer onder ’n doek. Bied dit op ’n piering aan. Te laat onthou hy hoe brak dit is.
“Die koffie smaak beter,” sê sy toe sy die uitdrukking op sy gesig sien, ’n siniese trek om haar mond. “Vir tee dra ons soet water van die see af aan as ons die slag gaan was. Of Claas bring van Kalkrug af.” Ook maar net af en toe.
“Ja, dit neem seker tyd om daaraan gewoond te raak.”
“Vir party, ja. Ander sluk swaar – Anna het net melk gedrink. Gaan dit goed met haar?”
Dominee glimlag goedkeurend. “Ja, ja, sy’s ’n flukse meisie. My vrou is baie tevrede met haar. En so ’n mooi stem, saans by die huisgodsdiens. ’n Mens hoor ook net goeie dinge van Dol. Elke biduur saam met suster Jettie in die kerk.”
Die prysrede word onderbreek toe Kattie woedend aan die skree gaan toe Kat haar oor die arm krap. Dominee kry ’n kwaai kyk toe hy probeer troos. Eindelik kry Kattie haar sit op haar ma se skoot.
Voor Dominee met die pastorale gesprek kan begin, val die skoolkinders by die deur in en is die vrede daarmee heen. Hulle sit aan by die tafel en Claasie begin vir hulle kos uit die pot by die vuurherd skep.
“Dis dan nou die laaste drietjies?” vra Dominee. “En nog hierdie enetjie,” met ’n handgebaar na Kattie.
Ellen knik. Die ander is almal uitgeplaas. ’n Vreeslike woord, klink asof dit oor weeskinders gaan. Daarom het sy by elkeen wat die huis verlaat dit ingeprent: Moenie vergeet waar jy vandaan kom nie. Jy het ’n pa en ’n ma. En jy is ’n Prins, onthou vir oupa Nicolas en ouma Elisabet.” Al was dié ’n Laumbaart.
“Jy’s so ’n moedige vrou, Ellen,” sug Dominee.
Hy sluit