toe en trek haar naghemp oor haar kop.
Toe die kers doodgeblaas word, vra sy of sy by Janet kan inkruip, by die voetenent, soos Susanna en Claasie as daar nie genoeg plek aan die kopkant is nie. Maar Janet skop haar af. Dis nie gesond om by ’n vreemde mens in dieselfde bed te slaap nie, netnou steek hulle aan, skilfers en nete en kopluise.
Die nag droom Kattie van Kat wat met sy pootjies in haar rug knie, en van haar ma se droë lippe en dowwe oë. Sy huil saggies in haar kussing. Sy is bang sy kry ’n piepie. Wie steek die kers vir haar op, en wat sal ant Esther sê as sy ’n ongeluk kry? Hulle slaap op bulsakke, nie strooimatrasse wat sommer uitgeskud kan word nie. Daarby het sy net een broek om die hele week te dra.
Soggens stap Kattie en Janet saam deur die bloekombome na meester Senkiejôn se skooltjie op Nuwepos. Hulle leer somme en tafels en A – Abel, B – Babel. Wat sy ken.
Meester speel vijool en sing ’n liedjie in Frans, en laat hulle oefen om sy van reg uit te spreek: Chaanghwaan, maar jy skryf dit Changuion. Hy leer hulle ’n gediggie: “Jantjie zag eens pruimen hangen, als eieren o zo groot. Jantjie wou dat pruimen eten, maar zyn vader had hem dat verbood …”
Daardie “Vader” assosieer Kattie met Sam Laumbaart, wat die skoolkinders van die stoep af sit en dophou en vir wie sy ’n grondige vrees het.
“Dogter!” roep hy haar waar sy eendag vir Janet staan en wag.
Kattie kyk op, maar nie reguit na hom nie.
“Wie se kind is jy?”
Sy is met stomheid geslaan.
“Hè?” skreeu hy.
“Claas,” prewel sy.
“Ha? Claas wie? O, Claas Arm! En weet jy wie’s ek? Sam Laumbaart is die baas van hierdie plaas en so ver as jy kan sien, tot onder in Patnoster.”
’n Nare ou man. Wat haar oupa-hulle se grond afgevat het. Almal sê so. Kattie gaan aan die hardloop, in die wielspoor op huis toe, waar sy in die kiel tussen die bakoond en die agterdeur gaan skuiling soek.
Daar kry Lotjie haar. “En dié, waar kom dié nou vanaf? Uit Nuwepos? En Janet?”
“Waar’s Janet, hè?” Ant Esther se skaduwee val oor Kattie. “Jy kan nie vir Janet wegloop nie, dis waarvoor jy gehuur word. Jy loop nou dadelik terug en gaan haal haar!”
Kaalkop in die hete middagson moet Kattie weer die pad terug vat. Asof Janet nie self weet om by die huis te kom nie.
Die skoolkinders is reeds almal weg, Meester ook. Kattie gaan klop sleepvoet by die opstal se agterdeur. En wag. Janet is saam met Meester binnetoe, waar sy middagkos kry.
Toe hulle oplaas besweet op De Hoop aankom, is Lotjie reeds weg. Kattie se kos staan uitgedroog in die oond. Omdat niemand kyk nie, staan en eet sy sommer by die kombuistafel, krap die oorskiet vir die hoenders.
Binne brom ant Esther iets van “gekommitteerd”.
Dis ’n woord wat Kattie diep in haar kop wegbêre, saam met “huur”. Beteken dit sy is ook nou ’n kneg soos haar pa, met haar voete ingesteek onder ander mense se tafel? Grootgemaak op brood en swart koffie, die slagskaap gedaan, die meelsak leeg, die eiers en botter verhandel vir provisie. Daar is nie ’n kers om lig te maak nie.
Op De Hoop hang daar ’n lamp bo die tafel en ly niemand ooit honger nie. Drie maal op ’n dag is daar vleis of wors op tafel, en gekerfde biltong op vieruurbrood wat hulle in die spens eet. Die koffie word warm gehou op ’n blink konfoor met kole. Partymaal het Kattie nog lus vir ’n skeppie van iets op tafel, maar is te skaam om te vra. Dis nie goeie maniere nie, het Ellen hulle geleer. Janet eet soveel sy wil en help haarself nog tussenin aan koekies en beskuit uit die spens; sy kou aan droëwors en tasaaltjies wat in die vuurherd hang.
Sommer gou span ant Esther vir Kattie in. Sy is die stuurdingetjie wat heen en weer tussen die vleis- en melkkamer en kombuis draf, ’n mes in die hand gestop word om aartappels en pampoen en patat te skil. “Dun, gehoor?”
Asof sy doof is, herhaal ant Esther alles, totdat sy “Ja, antie” antwoord.
Soggens gee sy die hoenders kos. Namiddae help sy vir Lotjie melkemmers en roosters en strykysters skuur agter die houthoop waar die wind koud waai. Sy wat tot onlangs nog met Kat in ’n sonstreep kon sit en speel, soos ’n klipspringer oor die plat klippe rondom die werf kon wip, oor die kant van die puts kon hang en haar gesig in die diep weerkaatsing spieël, word nou sitgemaak met die mandjie stopgoed. Die kouse se dun plekke word eers deurgeryg, dan oorlangs geweef. Los ’n ogie aan die kante, sodat die stopsel nie koek as die wol in die was krimp nie.
Sy word aangesê om die silwer en kopergoed blink te vryf. Met as en paraffien. Daarna word dit in warm seepwater afgewas en met droë lappe blinkgevryf.
“Ma laat ons skuurklip op die strand optel en fyn kap,” gesels sy met Lotjie.
“Krap dit nie julle goed nie?”
“Ons sif dit. En dit stink nie soos paraffien nie.”
“Ongesjineerd!” Ant Esther vat eksepsie oor die stink-woord. Asof De Hoop se kraal en varkhok nie ruik nie? En al die vlieë!
Ons koeistal het Pa ver van die huis af gebou, dink Kattie.
Sy moet die teekoppies een vir een in ’n kommetjie was sodat die porselein nie tjip nie. Dis familiegoed, erfgoed, sê ant Esther. Geërf by wie? wonder Kattie.
Hulle het net gebruikgoed, wat nie mag breek nie, want daar is nie ander nie. En familie is verweg mense soos haar ma se suster by die Piketberg van wie hulle nog net af en toe hoor, en die Milanners.
Janet oefen klavier in die voorhuis. Kattie kry ’n bloekomtak om die hoendermis voor die agterdeur houthoop se kant toe te vee.
“As daar nou een Prins is wat sal leer om sy arms uit sy moue te steek, is dit jy,” sê ant Esther. “Kom, vat die besem, stof af die stoele, vryf blink die lampglas.”
Kattie skroei goed met die strykyster, en tjip koppies. Toe ’n ornament breek, skel ant Esther: “Dis hoekom julle mense nooit iets sal hê nie!”
Al was dit die katte wat ingeglip het toe die spensdeur per abuis oopgestaan het, kry Kattie die skuld. Sy knyp haar mond styf toe. Sy sal nie sê sy’s jammer nie.
Wanneer sy binne afstof, raak sy net versigtig aan die porseleinfigure op die rakkie en streel oor die brokaatstof van die sofa. Gaan aan die droom in die vrykamer voor die portret van prinses Juliana van Nederland in ’n room-en-groen wyehalsrok, juwele om haar nek en ’n kroontjie bo-op haar opgekamde hare.
As Kattie naweke by die huis kom, kry sy nog ’n keer raas.
“Kyk hoe verbrand is jy! Het jy nie ’n kappie opgesit nie?”
“Ant Esther sê ek het ’n vaste vel.” Kattie hou haar arm teen Ellen s’n. “Wat is dit, Ma?”
“Jy aard na die Bassons, ons is van Franse afkoms. My ma was ’n Rousseau.”
Terwyl Ellen die kind insmeer met harde bokvet, vertel Kattie van die mooi pop met die kop, arms en bene van porselein en die laplyf. Dit het aan Cecilia behoort, en die fraai kleertjies het Cecilia alles self gemaak, ’n ingeplooide rok met ’n groot strik, en ’n broek met opnaaisels en kant.
“Sal Ma vir my ook so ’n broek maak, van sulke sagte lap?”
“Ai, kind, met jou ydelhede,” sug Ellen. “Wie het jou kop so versnipper? Met ’n skaapskêr bygekom?”
“Ekself. Omdat my vlegsels losspring. Ant Esther sê ek het perdestert vir hare. Toe knip ek dit af.”
Toe Kattie ná haar eerste naweek by die huis die sandpad De Hoop toe vat met die aandson agter haar, het Kat haar soos ’n hond gevolg, met ’n klaaglike gemiaau. Sy moes hom by die plaashek omjaag. Hy het nooit weer huis gehaal nie. Weke lank moes sy ’n knop wegsluk elke keer as sy aan Kat dink. As sy maar net kon weet wat van hom geword het.
Vir