het?”
“Nee, ons het mekaar raakgeloop op Kalkrug. Ek het gou kom groet.”
Groet asof hy weggaan? Waarheen? Om wanneer terug te kom? maal die vrae deur haar kop. Toe hy netnou so ewe daar in die deur staan, beeldmooi en geesdriftig, met die Prins-blos op sy gesig, kon sy breek van trots. Haar seunskind wat gereed lyk om die wêreld kaalhand aan te vat, maar terselfdertyd so weerloos jonk …
Oorlog! tref die skrikgedagte haar. Dis al geruime tyd vandat Antonie die dag uit die skool aangekom het met die nuus dat daar oorlog in Europa is. Hulle is hier so afgesny van die groot wêreld daar buite dat sy vir nuus van die skoolkinders afhanklik is.
Antonie het gretig vertel van die oorlog waarin Duitsland en Rusland, Frankryk en Brittanje aanmekaargespring het. En dat Louis Botha se Unieregering ’n veldtog begin het om die Duitsers uit Duits-Suidwes-Afrika te dryf.
Vrees vir Antonie, wat byna so oud is soos Nieko toe hy destyds weggeraak het, het haar gepak. Veral toe die kind vuur en vlam raak oor bekendes wat deel is van ’n groep soldate op pad na Lüderitzbucht, onder andere die Moore-broers van ant Ellie van Mowbray. En niemand minder nie as Miekie Laumbaart, wat hoeka sy pa se geld met ’n leerdery op Franschhoek gesit en mors het. Esther wou glo die stuipe kry.
Antonie is minderjarig, sy sal hom waaragtig nie laat gaan nie, maar Nieko!
“Wat is dit, Ma?” vra hy toe hy haar verstarde gesig sien.
“Ek wil dit nie hoor nie! Moenie vir my sê jy’s ook op pad Duits-Wes toe nie! En dit nadat die Duitsers so goed vir jou was … Het jy nie jou les geleer nie?”
Hy skud sy kuif uit sy oë en gee ’n laggie. “Meer as een, Ma.”
Onwillekeurig kry hy die reuk van vuilputte, die kuip waarin dierevuil gis, die vrot drilsel, die swart flodder waarmee die landerye bemes word, waarin sy voete wegsak. ’n Stank wat deur sy klere en vel dring, sy kooigoed en kamer. Maar dié besonderhede spaar hy haar.
“As ek wou, het ek binne die eerste maand uit Philippi gedros. Maar ek het besef dis skoolgeld, om by die Duitsers van tuinbou te leer. Op een of ander manier moet ’n mens ly, niks kom maklik of verniet nie; betaal sal jy betaal. Dit moes ek, wat nie wou skoolgaan nie, op die harde manier leer.”
“En nou? Waarheen gaan jy nou?”
“Wat dink Ma? Dat ek teen die Duitsers gaan veg? Ná vyf jaar was ek soos een van daardie familie. Herr Heine was ’n vriend, ’n vertroueling, ’n raadgewer. Wat weet ek van oorlog af? Die Boereoorlog is skaars verby, waarvoor sal ek my laat fyn skiet van mense? En dit vir die Engelse. Hulle het hierdie land kaal gemaak, vir hulle voel ek niks.”
Ellen kan maar net knik; sy is swak van verligting.
“Ek wil nader aan die huis kom, Ma, terug na my omgewing. Ek voel skaam dat ek tot dusver niks vir julle kon doen nie. En dit help nie om nou verskonings te gee nie.”
Nieko weet nie hoe om homself uit te druk nie. Maar hy moes self eers man word, homself leer ken, deurdruk. Meermale terwyl hy met ’n vurk die mis in die grond werk, gebukkend in die beddings plant en natlei, onder die son sweet totdat hy homself kan ruik, het hy aan sy pa gedink, in sy bokkniebroek waaraan die stank van gelooide velle kleef, die reuk van vaal voetwaswater en uitgeskopte velskoene. Vroeg verweer, geboë onder die houtbondels wat hy uit die duine aandra om die vuur aan die brand te hou vir die kinders om sy tafel. En nie die minste nie het hy aan sy ma gedink, sy ma in haar donker rok wat die hele boel bymekaarhou. Verlange en ’n gevoel van skuld het hom dag vir dag laat werk totdat hy wou omval, totdat daar geen gedagte meer in sy kop oorbly nie.
Wat hom opnuut nederig maak, is dat sy ma hom nie verwyt nie.
“Ek het so baie dae gewens ek hoor net jou stem,” sê Ellen sag, “dat ek ’n knoop kon aanwerk, jou voete kon toemaak … Wanneer het jy gesê kom jy weer?”
“Ek wou dit as ’n verrassing hou, julle eers kom voorberei …”
Só kom hy met die storie uit. ’n Storie met ’n ompad. Dit begin by Soutrivier se mark waar die gesketter van ’n visbeuel die vars vangste aankondig, en waens hoog gelaai met groente ingerol kom. Daar loop hy hom in ’n man vas, of liewer, die man herken hom.
“Verskoon my, maar is jy nie Claas Prins … Nee, dit kan tog nie wees nie. Maar ek kan sweer, jy lyk op ’n druppel na ’n jong man wat ek eens geken het. Hy’t winters op my plaas kom jag. Ek dag nog hy vry na my dogter, toe’s dit al die tyd die skooljuffer …”
Ellen Basson. ’n Vriendin van sy dogter wat by hulle vakansie gehou het, die jagters help onthaal het.
Nieko stel hom toe voor as die einste Ellen en Claas Prins se seun, waarop die man vra maar wat soek jy dan hier, en hy vertel dat hy groente plant in Philippi op die Kaapse Vlakte.
Die man is ’n Louw van Rietvlei aan die Bergrivier, vee- en saaiboer. En teler van renperde, wat hom gereeld Kaap toe bring. Daar is ongelukkig nie ’n seun nie, en die skoonseun is ’n predikant. Wat hom hinder, is dat die ryk tuingrond aan die rivieroewer so renteloos daar lê, verpes van die uintjies en kweek.
“Net daar gaan ons ’n ooreenkoms aan. Hy gee die grond verniet vir my, en ’n ploeg en muile as ek dit kom skoonmaak en bewerk. Eerste twee jaar betaal ek niks, hy gee die mis. Daarna gee ek ’n deel van die oes af.” Daar is ’n hartbeeshuis op die rivierwal waar hy kan bly, en hy kry kos uit die huis uit.
Vir Ellen klink dit net te bekend, te goedertrou. Sal die ou man van Rietvlei nie vir Nieko op dieselfde manier inloop as wat sy oupa Nicolas hom van Sam Laumbaart laat verneuk het nie?
“Wat sê jou pa?”
“Pa wil weet of ek kweek en uintjie ken, watter rugbrekers hulle is.”
Ellen skud haar kop. Dis tipies van Claas, hy en ’n graaf is nie maats nie, maar hy verbreek darem sy lyf met ’n bos breirieme. Van Velddrif af stoot die see met hooggety in die rivier op, dink sy vooruit. Groente en brakwater?
Dis klaar deurdink, sê Nieko. “In die winter bewerk ek die suggrond onder die wal en plant kool en wortels en beet. Somertyd patats en pampoen op die lande.”
“En intussen, waarvan lewe jy? Sal jy regkom sonder betaling? Ek bedoel, julle het nie daaroor gepraat nie, het jy darem ’n kontantgeldjie om jou deur te haal?”
“Ek sal regkom.”
Hy het genoeg om iets vir haar ook af te knyp. Geld wat sy nie wil neem nie.
“Dis regtig nie nodig nie, Nieko. Wat niemand van weet nie, nie die dogters nie, selfs nie jou pa nie, is die erfporsie wat my ou tante vir my nagelaat het. Veilig in my naam belê, as voorsorg vir wanneer Antonie wil gaan studeer. Hy praat van dokter word. Waar ons aan dié leergierige kind kom, weet ek nie. Hy aard heel weg van die ander span.”
Ellen sal dit nooit erken nie, maar sy het ’n spesiale sagte plek vir haar tweede seun met sy bleekwit vel en skraal hande. Uitgeknip vir die teater met ’n wit oorjas en donker oë agter ’n masker.
8
’n Jaar later frons Laaggelee se kliphuis onder ’n sinkdak. Weliswaar nie nuut nie, maar nog goed. Vendusiegoed waarvan Nieko te hore gekom en vir ’n appel en ’n ei opgetel het. Hy het dit haastighaastig kom vaskap oor die huis se timmerasie van dryfhout, wat verbasend goed gehou het onder die ou riet.
Tegelykertyd vat Claas vuur en bou met die hulp van ou Jordaan, en die meisiekinders wat hy in die werk steek, ’n tenkie van sementstene aangery uit Patnoster. Met die eerste reën murmel die dakwater soos musiek in die geute af en het Ellen vars water.
“Ons is ryk!” juig die kinders. Amper soos die Milanners, en die Laumbaarts.
’n Nuwe lente breek aan. Septembermaand hul hom in goud. Stinkkruid en ramnas en suring was nog nooit so gloeiend geel nie. Die melkbos bloei en die vyerank het die braaklande ingeneem. Toe Claas se gesaaides ryp is, sny ou Jordaan die laplandjie onder die duine af, bind die gerwe en pak ’n los mied naby die kliphuis.