in die koningspaleis van Israel!” sê Obed hard. “Mag die Here ons bewaar. En wie sal moet betaal vir hul vrete en drinke? Die belastingbetalers van Israel. En ons haal juis die kromme note om te betaal vir al koning Omri se bouwerke.”
Hy kom hurk vlak by Johanan asof hy met sy blote nabyheid van hom ’n uitspraak wil afdwing. Maar toe die twee steeds niks sê nie, praat hy sag, half intiem: “Sal my nie verbaas as Agab vir Baäl ’n tempel laat bou nie …”
Johanan kom vinnig orent en selfs die eenvoudige Obed gewaar die spanning in sy lyf. Maar Johanan sê niks. Obed kyk met naïewe afwagting na hom op.
“Jy staan net daar en sê niks,” kla Obed. “Jy, die seun van Nabot van Jisreël.”
“Ek glo dit nie!” bars Johanan uit. “Ek glo niks wat jy sê nie. Alles ouvroustories.”
“Ons sal sien,” antwoord Obed belangrik. “Hoe dink jy, waar gaan daardie Baälkasarm aanbid, waar gaan hulle of fer as hulle nie ’n tempel het nie? Of meen jy hulle gaan net in die paleis rondsit en met hul tone speel?”
“Ek glo dit nie!” herhaal Johanan driftig.
Obed vat ’n klipsplinter en slaan Sihon op die kneukel daarmee. “En wat sê jy, Kanaäniet?” vra hy moedswillig. “Jy bid seker dat Isebel van Sidon vir Agab om haar pinkie moet draai.”
Sihon kom ook orent. Die woorde wat hy vir hierdie ruwe, gevoellose man moet sê, stoot in hom op: Ja, ek bid dat Baäl die hele Israel sal verower soos hy al ’n deel van Agab se hart verower het; ja, ek bid dat Isebel Kanaän weer groot en vry sal maak soos dit was voor Josua en Dawid dit gevat het; ek bid dat sy so sterk en slim sal wees dat sy met Agab sal werk soos met ’n toutjiespop.
Dit is ’n gebed. Hy bid dit met oop oë daar in die bloedige son van die klipgroef. Maar sy lippe bly styf toe, want teen sy rug voel hy deurentyd die vuurstreep van die sambok.
“Praat! Ek weet wat in jou harspan omgaan, maar ek wil dit hóór.” tart Obed, want in sy frustrasie soek hy ’n slagof fer om te teister, al is dit bloot met woorde.
“Waarom moet ek praat? In dié land het ’n Kanaäniet g’n sê nie.”
Obed glimlag tevrede. “Dis reg, ’n Kanaäniet het g’n sê nie. Dink maar wat jy wil; dit is minder as ’n swaelspatsel.”
Al drie kyk verbaas op toe die ramshoring in die klipgroef opklink, want dit is nog nie middag nie. Johanan is verlig, want hy weet nie hoe lank Sihon nog sy humeur gaan beteuel nie.
Obed staan vinnig op. “En nou?” vra hy uit die veld geslaan.
Soos miere wat ’n soetigheid agtergekom het, swerm die werkers in die rigting van die wagtoring aan die kant van die klipgroef – meer as twee duisend Israeliete en Kanaäniete wat hul jaarlikse termyndwangarbeid hier moet verrig.
Johanan en Sihon volg Obed na die samedromming by die wagtoring. Hulle is van die laastes wat daar aankom, maar hulle druk en beur deur tot naby die voet van die toring.
Op die vierde trap van die wagtoring, waar almal hom goed kan sien, staan die hoofopsigter van die werkers, ’n lang en indrukwekkende Fenisiër wat koning Etbaäl aan koning Omri geleen het omdat hy alles van bouklip weet. Hy is ’n genadelose man wat gesag handhaaf deur vryelik gebruik te maak van die geselpaal.
Daarom vrees die manne hom. Daarby is hy ’n hovaardige man wat kennelik op die werkers neersien, hulle beskou as slawe wat bloot moet werk en eet en stilbly. Daarom verafsku die manne hom ook.
Die Fenisiër hou sy hande op en die skare word stil, so stil dat ’n skielike gejuig in die stad weer duidelik gehoor kan word. Hy praat hard sodat almal hom kan hoor. “So sê Omri, koning van Israel: Môre sal daar nie gewerk word nie. Dan vier Samaria die troue van prins Agab en prinses Isebel. Dan kan julle rus en eet en wyn drink …”
Die toejuiging is allermins geesdriftig. Johanan staan doodstil. Hy kan aanvoel dat hier iets verkeerd is. Die manne is gespanne en onseker. Sihon voel dit ook aan en juig halfhartig.
Die Fenisiër gebied weer stilte. “So sê Omri, koning van Israel, verder: Daar sal nie nou verder gebou word aan die vestingmuur van Samaria nie. Daar moet eers ’n tempel gebou word vir die heilige Baäl …”
’n Ruising van afkeer trek deur die skare. “Dis nie koning Omri wat so beveel nie!” roep Obed uit. “Agab sit daaragter. Dis sy trougeskenk vir daardie Baälprinses!”
In die toenemende gedruis van stemme hoor Johanan weer sy vader, Nabot, se woorde daardie dag toe hulle vir die eerste keer gehoor het dat Agab met Isebel gaan trou: “Agab sal Israel teruglei na die woestyn. Hy sal die toorn van die Here op ons neerhaal.”
“Stilte! Stilte!” skreeu die Fenisiër en strek sy hande weer uit asof hy so wil keer dat die skare nog digter om die wagtoring saamdrom. “Die bouklippe vir die tempel moet kleiner wees, fyner afgewerk as dié vir die muur. Oormôre sal julle geleer word hoe om dit te doen.”
En toe, hard en gebiedend, met die arrogante gesag van ’n vors wat nie weerspreek durf word nie: “Dit is al. Aan die werk!”
Die gemor van ’n deel van die skare word ’n kreet van verset. Hulle dring nog digter saam om die wagtoring sodat Obed, die opsigter, tot op die onderste trap gedruk word.
Obed is ’n man wat net wit en swart ken. Vreugde laat hom altyd jubel, hartseer laat hom altyd huil, en woede verblind hom soos ’n gekweste beer.
“Ek sal nie vir Baäl werk nie!” skreeu Obed.
“Ons sal nie vir Baäl werk nie!” weerklink sy kreet uit die skare.
Vir Obed voel dit of die uitroepe van die werkers ’n krag is wat hom die trap op dra. Hy klim stadig boontoe en alles wat hy al so lank opgekrop het, stroom deur hom: ’n Fenisiër wat Israeliete in die klipgroef dryf en teister, Fenisiese boumeesters, Fenisiese skrynwerkers, Fenisiese messelaars, Fenisiese goud- en silwersmede wat die paleis versier, en hý moet met ’n karwats sy eie mense aandryf net om elke dag te kan eet. Hy dink nou aan niks; nie aan die gevolge of straf of pyn nie. Al wat hy voel, is wrewel, jaloesie en haat vir alles en almal van buite wat besig is om Israel te vergiftig.
Die Fenisiër het iets in Obed se houding, in sy oë, gewaar wat hom die klompie soldate laat ontbied wat hom vergesel het. Maar die soldate is so vasgevang in die gedrang dat hulle nie eens hul swaarde kan trek nie.
“Dit is ’n bevel van die koning!” roep die opsigter uit, maar die opstandiges hoor hom nie, wil hom nie hoor nie. Hulle hou aan met raas en dreig totdat Obed sy hande uitstrek. Toe word hulle stil.
“Jy buig ook voor Baäl,” beskuldig Obed die Fenisiër. “Jy’s ’n slawedrywer … Jy behandel ons soos drek!”
Dit maak die skare waansinnig. Hulle swerm met die trap op, party probeer teen die toring opklim. Ander gooi die Fenisiër met klippe, want al die dae se swoeg in die hitte en koue, die min kos, die nagte van koud slaap, die pyn van die sweepslae, die seer hande en stywe spiere trek op hierdie oomblik saam.
Dié wat van onder af stoot, druk Obed die trap op. Die Fenisiër retireer hoër op en trek sy swaard uit wat hy altyd dra juis vir ’n geval soos dié. Nou is hy op die klein platform bo-op die wagtoring. Hy staan uitdagend daar, sy wapen gereed.
“Nog een tree en jou kop rol,” dreig hy Obed.
Maar Obed gee nie nog een tree nie. Hy slaan die hoofopsigter ’n woeste hou met die sweep deur die gesig. Die oomblik toe die man sy gesig wegruk, is Obed en sy makkers op hom. Hulle slaan hom, trap hom, skop hom in die maag, op die niere. Toe gryp hulle hom en gooi hom van die wagtoring af. Dié daar onder gee vinnig pad, en die Fenisiër breek sy rug op ’n halfklaar bouklip.
En toe hy nog kreun en roer, met bloedskuim om sy mond, tel hulle klippe op en stenig hom.
Obed is oorweldig. Hy staan triomfantelik op die wagtoring, hou sy arms omhoog om stilte te vra. Die skare kom tot bedaring. “Gaan ons vir Baäl ’n tempel bou?” vra hy met vorstelike