Agab soen haar op die kneukels en verlaat die vertrek. Sy kyk hom agterna en wonder hoe inskiklik hy werklik is. Sy vermoed dat selfs sy sy binneste nie maklik sal kan binnedring nie. As sy Agab op háár paaie wil lei, sal sy hom aan haar moet bind, met liefdebetuiging, met haar liggaam, met lis, met enigiets.
Sy loop weer na die venster en kyk met teësin op die plein af. In die dansery is daar ’n wilde wulpsheid en in die rumoerige gewoel van die menigte ’n byna barbaarse losbandigheid. ’n Eenvoudige, liggelowige, onkundige, boerse spul, dink sy. Hulle moet bloot regeer word. En terwyl sy verder oor die bruin heuwels uitkyk na waar die Groot See sy wasigheid uitstoot, besef sy opnuut haar roeping – dwingend, plegtig soos ’n offerande aan Baäl.
Isebel is heeltemal alleen met haar gedagtes en vooruitsigte, want Agab se voetstappe het weggesterf in die gang.
Agab loop die slaapkamer binne waar die dokters, die leiers van die volk, die ampsdraers en edelliede om die yslike, versierde bed byeen is.
Koning Omri lê hoog teen die kussings, sy mond oop, die vel styf gespan oor sy gesig, oor die skedel byna deurskynend, sy oë op die plafon gerig. Maar dit is in sy hande, maer en ineengekrimp, dat Agab die koms van die dood gewaar. Al sigbare lewe is die f lou op en af beweging van die koning se geliefkoosde dassievelkaros.
Agab buig laag oor die sieke. “Vader Omri,” sê hy, skielik oorstelp van hartseer.
“Agab … seun?”
“Dit is ek, Vader. Hoe gaan dit nou?”
“Die asem is min … Sorg julle goed vir koning Etbaäl, vir prinses Isebel … vir al die ander?”
“Ons sorg goed vir hulle, Vader.”
“Niks moet hulle ontbreek nie.”
“Ja, Vader.”
“Agab …”
“Hier is ek, Vader.”
“Is die leiers van Israel almal hier in die kamer?”
“Op ’n paar na is almal hier, Vader.”
“Sê hulle moet nader staan.”
Agab beduie vir almal om nader te kom. Omri praat moeisaam, sag en hees, met ’n klein roggel in sy keel.
“Leiers van Israel, ek het gedoen wat my hand gevind het om te doen. Nou is ek aan die einde van my dae. Nog net een bevel het ek vir julle. Môre trou my seun prins Agab met prinses Isebel. Van daardie oomblik af is Agab koning van Israel. So moet dit wees, so sal dit wees, want ek kan nie meer regeer nie. Ek sal die troue bywoon om toe te sien dat dit so gebeur. Dit is al. Nou wil ek rus.”
In die stilte swaar van die geur van kruie en medisyne en halfverslane wierook kyk Agab om die beurt na elkeen, probeer hul gedagtes lees, maar die gesigte is almal stil en dood soos kleimaskers. Oorweldig deur wat sy vader gesê het, draai hy om en stap uit.
Die oudiënsiekamer is stil toe hy daar instap, maar alles spreek van sy vader se teenwoordigheid: die versierde koninklike stoel, sy skild en swaard teen die muur, die klein vergulde beeld van Baäl in die een hoek. En eenkant teen die muur, op ’n klein tafel, die twee kliptablette, simbool van die Wet, waar sy vader hom elke oggend verootmoedig het voordat hy daarna voor Baäl gaan kniel het.
Agab stap rusteloos in die vertrek rond en sy voetstappe beklemtoon die stilte. In elke klipvoeg van die mure, in elke glansende plaveiteël, in elke klein karteling van die koningstoel sien hy sy vader.
Sy oë brand toe hy voor die leë stoel gaan staan. “Ek sal regeer soos koning Omri regeer het,” sê Agab sag maar vasbeslote. “Ek sal Omri se troon beskerm!” sweer hy.
Toe hy voetstappe in die gang hoor, waag hy dit om op die stoel te gaan sit.
Hy voel gesterk, gesuiwer van alle twyfel. Hy weet nou wat om te doen met die probleem wat saam met Jehu in die gang aankom. Hy, Agab, het die versoek gerig oor die tempel, maar Omri het die bevel gegee. Hy sal sorg dat sy vader se bevel dat ’n tempel vir Baäl gebou word, uitgevoer word. Geen mens, Israeliet of Kanaäniet, vry man of slaaf, sal hom teen die troon van Omri verset nie. Veral nie nou nie.
Jehu buig in die deur. “Ek het hulle gebring, prins Agab.”
“Bring hulle hier, Jehu.”
Jehu se klompie soldate bring ses man die vertrek binne tot voor Agab. Hy kyk hulle aandagtig deur, maar ken nie een van hulle nie. Doodgewone manne. Behalwe die een met die ruie baard en die woeste bos hare. Hy het die voorkoms van ’n aanhitser. Sy broeiende oë verraai dit.
“Is jy die leier van hierdie manne?”
“Ek is nie ’n leier nie, prins Agab,” antwoord Obed eerbiedig. “Ek is maar net ’n opsigter oor die klipwerkers.”
“Julle is die opstokers van hulle wat die Sidoniër vermoor het?”
Obed staan ’n tree vorentoe. “Ons is nie opstokers nie, prins Agab. As ons aan iets skuldig is, is almal wat nou voor die poort staan ook skuldig.”
Agab aarsel ’n oomblik.
Dit is waar, dink hy, maar hy praat meedoënloos verder. “En julle weier om klip te kap vir die Baältempel.” Dan hard en dreigend: “Julle weier om ’n bevel van die koning te gehoorsaam. Het ek reg gehoor dat julle julle teen koning Omri verset?”
“As ons klip kap vir Baäl, dan sondig ons teen God. Ons sal ons hande klein werk vir koning Omri, maar ons mag God nie bedroef nie.”
Obed sê dit kalm, maar met soveel oortuiging dat dit Agab van stryk bring. Weer begin hy twyfel. Hoe diep loop dié verset in Israel? Hoe ver kan hy dit waag met sy Baäldiens? Jerobeam … die hele huis van die groot Jerobeam is van die aarde weggevee net soos die profeet Agija voorspel het. Maar toe ruik hy weer die doodsweet van sy vader, hoor hy weer Isebel se woorde, en skielik weet hy wat om te doen. Pleks dat hy sterk en genadeloos is, steier hy onder die woorde van ’n klipwerker, verwyt hy homself. Waarom weifel hy oor dié beslissing?
“En as ék sê julle moet klip breek vir die tempel?” vra Agab.
Obed sak op sy knieë neer, sy saamgeklemde hande na Agab uitgestrek. “Dit moet u nie van ons vra nie,” smeek hy.
“Ek vra dit nie; ek beveel dit!” bulder Agab.
Obed staan op, skud sy kop en kyk Agab reguit in die oë. Toe hy praat, weerklink sy stem eienaardig hard in die vertrek. “As u ons dwing, sal ons draal, ons hande sal dom wees, of so nie sal ons wegloop, elkeen na sy blyplek. Ons mag die Here nie versoek nie.”
“En julle ander?”
“Ons sê soos Obed sê, prins Agab,” antwoord hulle sonder aarseling.
Agab staan op. “Jehu, lewer hulle aan die sipier uit. Sê hy moet hulle opsluit. Laat jou adjudant hulle vat. Ek wil met jou praat.”
Toe die adjudant met die gevangenes uit is, beduie Agab vir Jehu om die hoë eikedeur toe te maak. Agab het uit die stoel opgestaan en hou aan die leuning vas.
“Jehu, sorg dat die ses belhamels voor sononder opgehang word – op die rand van die klipgroef waar almal dit kan sien.”
Jehu snak. “Maar prins Agab …”
“Jehu, as ’n mens ’n sweer aan jou lyf het, laat jy dit uitsny. Ek gaan nie toelaat dat daardie ses die bloed van die hele Israel besmet nie,” sê Agab skerp. “Almal moet sien wat word as die troon van Omri uitgetart word. Verstaan jy?”
“Ek verstaan, prins Agab. Dit is net … ek is net bang dat dit die ander werkers sal aanvuur …”
“Met jou leërafdeling sal jy die klipgroef omsingel en sorg dat my bevele uitgevoer word. Dié wat voor die poort saamdrom, dryf jy terug na hul werk. Dit is al, Jehu.”
Jehu stap stadig na die toe deur, maar voordat hy uitgaan, praat Agab weer.
“Jehu …”
Toe